Ek en jy verskil hemelsbreed. Louise van Coller. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Louise van Coller
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796319067
Скачать книгу
on>

      

      Ek en jy

      VERSKIL

      hemelsbreed

      Louise van Coller

1489.jpg

      Bedankings

      Groot dank aan my ouers wat my ’n uitstekende opvoeding gegee het, vermeng met daaglikse grappies en ’n allesoorheersende liefde. Jul onvoorwaardelike aanvaarding en geduld het my ’n sterk selfbeeld gegee en my nog altyd laat glo dat ek tot alles in staat is deur Christus wat my krag gee. Dit is die grootste bemagtiging wat enige ouer ’n kind kan bied en dit het van my die vrou gemaak wat ek vandag is. Ek is vir julle baie, baie lief!

      Aan my liewe gesin wat daagliks vreugde en lewe vir my siel bring: Julle het my soveel lesse geleer. Alleen deur ouers te word leer ’n mens van kinders en ouerskap – ’n wonderlike, dog uitputtende reis! Dankie aan my man wat deur moeilike tye in ons huwelik gebly het, wat geweet het dat daar vir ons meer wag en dat gesinsgebondenheid vir ouers en kinders lewensbelang­rik is, en so sy huweliksverbond gestand gedoen het. Jou aandeel en liefde is ingebou in my karakter. Ek het jou innig lief! Ten spyte van ons hemelsbreë verskille is ons verseker pasmaats.

      Aan elke mens wat my oor jare genoeg vertrou het om my ’n kykie in hul huwelik te gun en om so lewensondervinding oor huwelike op te doen. Dankie, ek leer nog steeds. Mag ons by die wil van God uitkom en leer om weer vrede en vreugde in ons huwelike te vind.

      Groot dank ook aan Danny Fourie vir die keurige taal­ver­sorging.

      Aan God die Vader wat my deur sy Drie-eenheid van myself leer en om oor myself te kom en soveel geduld en genade open­baar. U plan is altyd soveel groter as myne.

      Alle eer aan God!

      A research project is rarely the work of only one author. It is more accurately the end product of a personal journey, and the distillation of many influences and valuable contributions of others along the way.

      – Onbekend

      Wie moet hierdie boek lees?

      •As julle in ’n stadium wonderlik gelukkig getroud was en deesdae voel of julle mekaar nie meer verstaan nie, mekaar heeltyd irriteer en niemand die saamwees geniet of die ewige frustrasies kan hanteer nie.

      •As jy dalk as kind uit ’n gesin kom waar daar ewige konflik tussen jou ma en pa was, of jou ouers moontlik geskei is en jy nie goeie rolmodelle gehad het nie.

      •As jy self getroud is en nie “lewe in oorvloed” in jou huwelik ervaar nie, en al egskeiding of selfs moord oorweeg het.

      •As jy weet julle verskil hemelsbreed en aan jul huwelik wil werk en nie altyd weet waar om te begin en waar om ant­woorde te kry nie.

      •As julle dalk klein kinders het en bang is dat jul huweliks­lewe gaan nooit weer na sorgeloos en sexy terugkeer nie.

      •As jy kinders het wat dalk reeds getroud is of op trou staan, en nou reeds sien dat hulle ’n goeie boek met die “waarheid” oor die huwelik nodig het.

      •As jy dalk reeds geskei is en jouself op ’n volgende huwelik wil voorberei en dit hierdie keer verseker reg wil doen.

      •As jy dalk vriende het wat op skei staan en ’n boek soek wat kan help.

      •As jy beplan om eersdaags te trou en die realiteite van die huwelik wil leer ken om jul huwelik nou al teen egskeiding in die toekoms te beskerm.

      •As jy onlangs getroud is en nooit saam voorhuwelikse be­rading gedoen het nie.

      Dan is hierdie boek vir jou geskryf!

      Voorwoord

      Ek groet jou vriendelik en wil vandag aan elke persoon in ’n huwelik hoop gee. Dit wat jy nou in jou huwelik beleef, kan verbeter en indien jou huwelik dit vra, kan dit selfs gered word. Waar mense die verskille duidelik verstaan en bereid is om te leer hóé om dit beter te hanteer, is wonderwerke waarlik moontlik! Ek sien dit daagliks.

      Hierdie boek is geskryf om mense te laat glo dat ’n gelukkige huwelik nog moontlik is en presies hoe ons dit moet benader. So baie van ons sukkel met ons huwelike en het ons vertroue in die huwelik totaal verloor. Ons sien elke dag die skade wat egskeiding aan mense se lewe en kinderharte aanrig, en hoe dit ’n mens se lewe amper kan ruïneer of uitmergel. Veral waar jy dalk self as kind uit ’n agtergrond van egskeiding kom of erger nog, ewige aanhoudende konflik ervaar, is dit noodsaaklik dat jy die huwelik verstaan en duidelik sien wat kan skeefloop, en hoe om dit te voorkom.

      My naam is Louise. Ek is ’n huweliksberader en persoon­likheidsanalis en help daagliks mense met huweliks­probleme en persoonlikheidsverskille. In my leeftyd sal ek nooit genoeg mense persoonlik kan help wat met hul huwelik sukkel nie. Juis daarom glo ek dat hierdie boek ver meer kan doen en meer mense se lewe met genesing kan aanraak, as wat ek in ’n leeftyd kan vermag.

      Ek wil alle eer aan God gee wat vooraf bepaal het dat my eie huwelik ook deur diep waters sal gaan. Hiermee kon ek die uitmergelende belewenis van huwelikstrauma in elke sin van die woord deurmaak om dit te verstaan. Genadiglik was ons by professionele mense wat kon help en leef ons vandag in ’n gelukkige huwelik. Let egter daarop dat dit nie elke dag sonder konflik is nie, maar wel regtig gelukkig.

      Inleiding

      The greatest waste in marriage is the difference between what you have and what you could have.

      – Ben Herbster

      By huweliksberading is die enkele grootste probleem die verskynsel dat twee mense in ’n huwelik so drasties verskil. Ironies genoeg is dit juis hierdie verskille wat mense aanvanklik na mekaar toe aantrek. Hierdie magnetisme kan paartjies nagte om laat gesels – juis omdat hulle hierdie wonderlike andersheid wil ontdek en geniet. Ná sewe jaar se getroude lewe en dikwels ná kinders, weet hulle nie meer wat om met die verskille te maak nie. Hulle vind dit meestal glad nie meer aantreklik of magneties nie en sal mekaar veel eerder wil verander (vermoor) of opgradeer soos met ’n nuwe selfoon.

      In die mens se wese is daar vier kernkonsepte waarna ons elkeen diep in onsself hunker: vrede, liefde, aanvaarding en erkenning. In ’n ongelukkige huwelik beleef ’n mens presies die teenoorgestelde. In ’n ongesonde huwelik ervaar ’n mens daagliks verwerping, juis omdat jy nie aanvaar word vir wie jy is nie. Dit bring dan onderliggende konflik wat in elke argument of bespreking sluimer, en eindelik die totale afwesigheid om geliefd te voel. Hierdie emosies dra by om ’n mens elke dag stelselmatig af te breek en te dreineer. So kom jy op ’n punt waar al die liefde vir jou maat stadig maar seker uit jou wese gewurg word, totdat daar net mooi niks van oorbly nie. Dan is dit net verwyte, beskuldigings en die allesoorheersende begeerte om vry te wees. Klink dit dalk bekend?

      Die huidige statistieke wys daarop dat ongeveer 50% van alle eerste huwelike in ons samelewing in die skeihof eindig, en naastenby twee keer soveel by tweede en derde huwelike. Skokkend, nè!

      Hierdie voorbeeld wat aan ons kinders voorgehou word, is twyfelagtig om die minste te sê. Baie jong mense sien vandag nie regtig meer die nut van die huwelik in nie. Dit is net makliker om saam te bly.

      Ongelukkig is die realiteit of die skadukant van die meeste huwelike hol beloftes wat meestal op hartseer en pyn uitloop. As ons onsself en die volgende generasie wil help, is dit ons plig om te leer hoe om aan ons huwelike te werk. Dit is tyd dat ons nou ’n oplossing vir hierdie probleem soek.

      My mikpunt met hierdie boek is dus om aan jou die toerusting te gee om die “werk aan jou huwelik” te doen waarvan die ou mense altyd gepraat het (niemand het egter presies gesê wat bedoel word nie.) Daarby wil ek jou verseker dat waar twee mense bereid is om te leer en in hul karakters te groei, daar altyd ’n kans op ’n gelukkige huwelik is. Jy mag dalk voel dit is nou so onherbergsaam soos ’n maanlandskap met versteekte landmyne, wat net wag om te ontplof! Ek hoor jou hart en kan jou verseker, met professionele hulp kan ’n mens dit nog laat werk.

      People become really remarkable