“Jy sal ten minste minder bankrot wees!” het sy ergerlik gesê, maar haar hande opgehou ter wille van die vrede. Die gebaartjie het Pietman laat bedaar voordat hy weer wou lostrek, maar hy het tog geweet – alles moes vanaand gesê word. En hy het die kans gevat.
“Ons De Waals het ander maniere om minder bankrot te word. Ons werk en ons neem loseerders in. Terloops, die ander een wat by ons bly, is ene Yental Niklaus.”
Daar was ’n bom van stilte. En toe het hy gehoor hoe sy haar asem deur haar tande insuig. “Terlóóps, sê jy? Hoe de joos het dit gebeur?” Hy het nog verduidelik dat sy nie plek gehad het elders nie en nou is dit tog werklik nie nodig dat sy ánder plek moet kry nie, toe vlieg Surita op en bly snaargespanne voor hom staan: “Yental Niklaus? Die grootste flerrie op die dorp wat tegelyk drie ouens aan ’n lyntjie gehou het en jy kom sê vir my sy woon saam met jou onder een dak?”
“Ek sien haar skaars!” het Pietman probeer keer. “Sy swot en ek werk én swot en . . . Ag my magtig, Surita, moenie belaglik wees nie!”
Sy het haar hare met albei hande uit haar gesig gevee, haar mond saamgepers. “Wel, dis immers nou duidelik waarom ék nie juis in tel is nie! Yental, wat ’n dokter en twee jong boere agter haar laat aandraf het, het nou ook vir jou aan ’n leiband beet!”
Dit was die heel laaste strooi.
“Jy is nie net belaglik nie, jy is heeltemal buite perke,” het Pietman kil gesê en toe, asof daar nie reeds dinge gesê is wat kontinente kon laat skeur nie, het die een woord op die ander gevolg. Hittige, ondeurdagte dinge is in koel, afgemete stemtone gesê totdat hulle opeens stom van skrik na mekaar bly staar het. Toe het Surita omgevlieg en die deur vir hom oopgehou.
“Loop liewer,” het sy sag gesnou en hy het verby haar gedruk, sy goed in die gastekamer loop haal en in die kombi geklim. Halfpad terug Potch toe het die slegvoel hom ingehaal. Hy wou-wou omdraai, maar hy was net te moeg vir nog so ’n sessie. Dit was al byna groudag voordat hy by die huis in Tomstraat ingedraai en al met die stoep langs kamer toe gesluip het. Tot sy verstomming het Keppie met ’n hopie boeke aan sy kant van die studeertafel gesit.
“Wat maak jy?” het Pietman gevra omdat hy sweerlik op daardie oomblik nie kon uitmaak wat aan die gang is nie. Keppie het gesteurd opgekyk.
“Ek swot. Hulle sê as ek ’n meneer wil word, moet ek hierdie goetertjies in my kop kry – en dit lyk vir my gevaarlik baie na somme en sulke dinge! Sjarrap nou – want ek het dit so ampertjies verstaan en toe kom lol jy!”
“Ek sal jou môre help daarmee,” het Pietman beloof en op die bed neergeplof, toegelaat dat ’n swart sufheid hom skoon wegspoel.
Hy moes ure geslaap het, want toe hy wakker word, lê die son in ’n blinkgeel strook op die vloer. Hy staar daarna, knip-knip sy oë en toe onthou hy. Surita het hom uit die Otto-huis gejaag. Hy spel dit vir homself uit. En hy voel so sleg soos wat hy nie gedink het hy sal voel nie. ’n Soort bittersoet sleg van iets wat goed was, maar nie goed genoeg nie. Nee, dink hy wrang, dit wou goed wees, maar dit kón nie. Nie as Surita nie wil verstáán nie. Maar dis moeilik om so daaraan te dink en toe hy opstaan om te gaan stort, is sy hart swaar in hom. Hulle het lank uitgegaan. Meer as twee jaar en hulle is nie meer kinders nie. Hy gaan haar mis. Baie ook. Haar spontane sagtheid, haar skoonheid en haar dáár wees.
In die gang loop hy Yental teë, haar klam hare ’n bos klein krulletjies om haar bloesende gesig. “Jy’s gou terug!” sê sy verbaas. “Was die kuiertjie nie lekker nie?”
Hy steek doodvas in sy spore en ’n onverhoedse woede pak hom. Gisteraand was hierdie meisiekind een van die hoofoorsake van hul twis. Yental dit en Yental dát . . . Drie kêrels nogal. Hy kyk haar stip uit die hoogte aan sodat sy haar kop effens agteroor gooi om mooi in sy gesig op te kyk. Hy kry die fyn, mistieksoete geur van rose en sy asem stol in sy bors, bars weer in woorde uit: “As dit nie lekker was nie, het dit net mooi niks met jou te doen nie, gehoor?”
Maar as hy gedink het sy gaan kwaad met kwaad beveg, het hy dit mis. Haar hoë voorkop trek saam in ’n klein plooitjie en haar oë word jammersag. “Haai foei tog,” sê sy en raak veerlig aan sy arm voordat sy verby hom glip om in haar kamer te verdwyn. Hy staan ’n hele rukkie om tot verhaal te kom, en toe sy ma ook uit haar kamer kom en hom vraend bekyk, sê hy net: “Moenie nou vrae vra nie, Mams.” Maar Anita druk net haar seun se skouer. “Toe maar, ek het jou laasnag hoor inkom en toe het ek maar vroeg skons gebak. Kom eet saam met my en Oupa op die stoep as jy klaar gestort het.”
Later die middag kom Keppie hom roep waar hy saam met oupa Murray (wat nog nie ’n dooie woord uitgevra het nie) sit en skaak speel. Pietman kyk verbaas na hom. Hy is uitgevat soos ’n wafferse model in ’n bont hemp en ’n stylvolle denim. Maar hy lyk diep ongelukkig, baie soos ’n seuntjie wat moet tandarts toe gaan. “Kom saam,” smeek hy, “my stiefma verjaar enne . . .”
“Ag so?” adem Pietman met onderdrukte laggie, “en eindelik word die Fourie-paleis vir ouens soos ek oopgegooi! Wonders vind nog plaas, lyk dit my!”
“Spot maar,” brom Keppie, maar kyk hom smekend aan. “Toe nou,” por oupa Murray ook, “moenie dat die man jou lek nie!” Dat dié twee alreeds kopstukke gesels het en mekaar baie goed verstaan, is vir Pietman skielik baie duidelik. Hy sug net en staan op om hom te gaan mooimaak vir die paartie. Dis toe hy by Keppie in sy kewertjie klim dat hy Yental muisstil agterin sien sit. En vir die heel eerste maal dink hy weer daaraan hoe mislik hy vanoggend met haar was. Spyt swiep deur hom. So maak ’n man darem nou nie met ’n vroumens nie. Al is sy ook watse flerrie. Skielik klink die woord ook sommer lelik in sy gedagtes. Dis seker ook nie heeltemal waar nie. Toe hulle al aan die bopunt van Tomstraat trek op pad na Mooivallei, kyk hy skuins om en sê duidelik: “Ek is jammer dat ek so goor was met jou vanoggend, hoor. Dit was onvergeeflik.”
“Ja,” antwoord sy gaaf, “dit was, nè.”
“Ken jou nie so nie,” grom Keppie ook, sy kneukels bleek om die stuurwiel gespan.
“Oukei, ’skuus dan,” sê Pietman sugtend. “Ek sal nie weer nie.”
Maar die gesprek droog totaal op toe hulle by yslike hekke van gegote yster inry. Voor hulle doem ’n hoë wit huis met Gotiese vensters. Yental snak na asem. “Haai, ek het al van so iets gelees . . . in ’n feëverhaal, dink ek.”
“Nee,” antwoord Keppie hard en laat die kewertjie tot stilstand knor voor die breë stoeptrappe, “dit was seker in die Guinness Book of Records, want dis die grootste wit olifant op aarde!”
Hulle wil nog lag toe kom Engelie en haar metgesel by die groot voordeur uit. Pietman ken die man van sien en Keppie se bot gesig vertel dat hy ook die voorreg het. ’n Kêrel met bultende spiere wat dikwels in die kafeteria te sien is in sy knap T-hempies en kort klasdrafbroekies, aktetassie onder die arm en donker ontwerpersbril op die neus. Vandag dra hy ’n roomkleurige pak met ’n rooi das. Pietman proes en Keppie se lippe roer in ’n laggie toe hy onderlangs brom: “Ek hoor dié ou is so dig hy dink Sherlock Holmes is ’n blok woonstelle!” Maar sy glimlag verdwyn toe Engelie by hulle kom om te groet. Sy lyk asemrowend in ’n perskepienk mini wat ophou waar ’n man se verbeelding begin. Sy piksoen Keppie en toe sommer vir Pietman en Yental ook.
“Ek is so bly julle kon kom!” Sy loer na Keppie, knyp sy wang: “Altans, ek is bly julle het hóm gebring anders sien ons hom mos nooit!” Sy neem Ryswyk van Tonder aan die hand en stel hom voor, deel hulle ook sommer mee dat hy aan sy meestersgraad in sielkunde werk.
“Wraggies, nè,” lewer Keppie kommentaar en draf die trappe op om sy pa in die deur te groet. Pietman hou dadelik van die man. Hy is bonkig en joviaal soos sy seun en dis met ’n oogopslag duidelik dat hulle ’n lekker verhouding het. Selfs Bertien Fourie verras hom nogal. Sy is fyn soos Engelie en kwetter soos ’n voëltjie al om hulle toe hulle haar gelukwens.
“Jy moet sommer baie kom kuier, Pietman, want