Hy hoor hoedat sy haar asem luid intrek en hy is voorbereid op haar woorde. Wag mos lankal daarop. “Jy gaan toelaat dat jou simpel tróts tussen ons staan?” Dis of sy stik. “Pietman, jy sal weer moet dink!”
“Nee,” sê hy opeens doodnugter, “dis jy wat weer sal moet dink. Begryp tog dat ek nie van aalmoese uit jou pa se hand kan leef nie. Dit sal my selfrespek wegneem.” Hy bly abrup stil, half geskok om die woorde uit sy eie mond te hoor. Hy wou nog nie werklik so daaraan dink nie. Tog is dit waar. Dis soos wat hy voel, en basta. Sy móét dit net verstaan. Maar toe sy praat, hoor hy dat sy wat Surita Otto is, niks móét nie. Behalwe eet, slaap en geniet, is daar niks op die liewe, wye wêreld wat haar dwing om enigiets te móét doen nie. Sy is nou in ’n heel ander liga as Pietman de Waal. Die gedagte maak hom siek. Hy voel bibberkoud op die oop balkon.
“Pietman,” sê sy skielik afgemete, “jy sal iets moet opoffer. Dit mag dalk net jou trots wees. Dink daaroor!” Daarmee druk sy verby hom en hy loop verslae agter haar die restaurant binne. Hul nagereg het al gekom, maar Saul Otto glimlag begrypend. En omdat Pietman op hierdie oomblik net glad nie vir ’n storm in ’n poedingbak kans sien nie, sit hy ’n arm om Surita se skouers en druk haar ’n oomblik teen hom aan.
“Jammer dat ons julle opgehou het!”
“Glad nie!” straal meneer Otto en sy skerp oë vee oor hulle. “Dit was seker die moeite werd, dan nie?”
“O, absoluut!” skerts Pietman nog voordat Surita iets kan inkry. Toe hy afkyk, vou daar ’n glimlag om haar mond. Sy lyk verbaas bly. Wat doen ek? wonder hy vlietend en kyk liefs nie na oupa Murray nie. Dié het sekerlik lankal snuf in die neus dat hy wat Pietman is, nie meer weet hoe en waar om fyn te trap in die lewe nie. Hy berus kwansuis by sy nuwe lewe op Potch, leë beursie en al, maar hy smag ook maar lekker na die goeie ou dae toe geld nie ’n faktor was nie. Hy skep diep asem, glimlag met almal in die rondte en hou vir die res van die koningsmaal Surita se hand onder die tafel vas sodat hul albei die smullekker sjokolademousse met een hand moet bemeester. Teen die tyd dat die allemintige rekening vereffen is en die De Waals en die Otto’s op die balkon van mekaar afskeid neem terwyl professor Murray swyend toekyk, is Surita heeltemal mak. Sy vlei haar openlik teen Pietman aan en soen hom vol op die mond voor haar pa se goedkeurende oë. Sy trek sy das en piets hom met die punt op sy ken.
“Lief vir jou! Soet wees, hoor!”
“Wanneer kom jy kuier?” wil mevrou Otto pertinent weet en draai om om Anita op die wang te piksoen.
“Volgende naweek,” antwoord Pietman sonder huiwering, maar sy hart word sommer pap. Die geel kombi suip petrol en Brits is ver. Dit beteken vier ekstra skofte by Café Fiori te midde van sy stywe klasrooster en die komende kwartaaltoetse.
“Ons sien uit daarna,” antwoord Surita betekenisvol en kom soen hom weer skrams oor sy lippe.
Terug in die kombi, wens Pietman hartgrondiglik dat die twee grootmense tog net sal stilbly. Maar verniet. Oupa Murray het iets op die hart. Pietman hoor dit aan die dikke swye wat heers tot op Krugersdorp. Toe die dorp se liggies verdwyn, sê oupa Murray in sy professorstem: “Pieta, jy sal jou dinge nou moet agtermekaar kry. Op die oomblik is jy ’n toutjiespop. Jy sal moet besluit of jy een gaan bly en of jy ooit weer Pietman de Waal wil wees.”
Pietman swyg amper net so lank voordat hy stram bely: “Ek weet nie meer wie is Pietman de Waal nie, Oupa. Dis kompleet asof ek hom nooit geken het nie.” Hy hoor hoedat sy ma haar neus hard snuit en hy weet sy het nog heelpad gesit en huil. Dit laat hom nog meer ellendig voel. Tog gee dit hom ook moed. Dis ’n oomblik vir oopmaak hierdie. Sy oupa en sy ma het hom lief en hulle voel ook maar soos hy. Sy oupa omdat hy meelewend is en sy ma omdat syself ly. Hulle sal verstaan. Die gedagte trek sy kop soos ’n sluis oop. “Ek het nog nie vir Surita van Yental gesê nie . . .” begin hy.
“Is daar iets om te sê?” wil oupa Murray weet.
“Nee, natuurlik nie, maar dis net ordentlik om darem te sê dat daar ’n meisie saam met ons in die huis woon, nie waar nie?”
“Ditsem,” is die ou man se kommentaar. “Dan weet jy nog goed wat reg is, Pieta. Jy weet wat sê die Woord van ons verhouding met ander mense, nè. In Filippense staan daar dat ons moet toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons sal kan onderskei wat werklik saak maak en wat nié. En solank jy dit toepas, kan jy nie ver verkeerd gaan nie. Vertel dan vir Surita die waarheid en kry klaar.”
“Goed, ek sal dit dié naweek doen as ek Brits toe gaan. Maar sy gaan verskriklik kwaad wees en ek haat dit as daar onmin tussen ons is. Ek . . . ek kry soms die gevoel dat die Otto’s nie mal is oor die waarheid as dit hulle nie pas nie. En Oupa, dit pas hulle nie dat ons bankrot gespeel het nie. Hulle wil maak asof dit nie gebeur het nie. Dié Saul Otto wil my studies vir my betaal en ek weet nou al hy sal wil hê ek moet Juliemaand weer saam met Surita na die Druets gaan!”
“Se voet!” trek sy ma los en hy sien dat sy haar feitlik tussen die twee voorste sitplekke ingewurm het om alles te kan hoor. “Mondig of nie mondig nie – ek verbied jou om oorsee te gaan met daai man se geld!”
Hy steek sy linkerhand na agter uit, vat haar voorarm sag vas. “Liewe Ma, ek sal nooit nie!” beloof hy. “Ek vertel julle maar net wat wát is!”
“Ons het gesien en geproe wat wát is,” kom oupa Murray drogies tussenbeide. “Otto is nes jy hom beskryf: ’n aartsmaterialis. Geld en goed is sy god. Hy het vanaand oor amper niks anders as sy bankbalans en sy besittings gesels nie. Die enkele keer dat hy oor politiek wou praat, was dit ook net om te kla oor alles wat die belastinggaarder van hom vat.”
Pietman sug luid en hulle ry in stilte verder. Toe hulle eindelik by die huis in Tomstraat indraai en die ou kombi met ’n hik voor die agterdeur tot stilstand kom, sê hy net: “Ek weet nie wat om te doen nie. Ek weet nie eens of ek wil hê dat alles weer moet wees soos dit was nie. En dit maak my deurmekaar . . . Hoekom weet ek nie wat ek wil hê nie?”
Hulle drie sit ’n hele ruk lank so in stilte. Toe sê oupa Murray: “Gaan lees Psalm 37. Daar waar dit staan ‘Laat jou lewe aan die Here oor . . . Hy sal sorg.’ Dit het my al dikwels deur die weet-nie-wát-nie-tye gehelp. Verder moet jy net jou werk doen, Pieta.”
Dis toe hulle oplaas die huis binnestap, dat die stoep en kombuisligte meteens aangaan. ’n Skaar begroet hulle. En daar word dreunend gesing. Van “Veels geluk liewe maatjie” tot “Gaudeamus Igitur” en “Vat hom, Pieta, vát die graad . . .!” Toe Pietman tot verhaal kom, sien hy Keppie en Yental voor in die ry staan met ’n hele swerm ouens en meisies wat saam met hom klas loop en ook ’n paar kollegas by Café Fiori. Hy kyk half vraend om na sy ma en oupa, sien dat hulle breed glimlag. Anita druk verby hom en groet almal met ’n hartlike “Maak julle tuis, hoor!” voordat sy gangaf loop om haar rooigehuilde gesig te gaan was. Ook oupa Murray kom skud eers luiters blad met die singendes en gaps ’n paar tjips uit ’n bak voordat hy uitstap.
“Nou toe nou!” roep Yental hande in die sye uit. “Die graadman is sprakeloos!”
“Hy’s natuurlik nou te slim vir ons!” lag Keppie en kom nader om Pietman se hand te pomp.
“Sjoe, julle ouens!” is al wat Pietman uitkry. Hy weet net een ding: die sware bedruktheid wat hierdie hele aand nog kenmerk, het verwaai soos dons in die wind. Hy glimlag sy skewe wit glimlag. “Wie se blink idee was dit?”
“Myne!” antwoord Yental en kom staan digby hom. Sy gooi haar wilde krulle agtertoe en tuit haar mond vir ’n soen, haar oë toe. Die ander por laggend aan. Hoera vir groepsdruk, dink Pietman en soen die vol, pienk lippe. Sy loer op in sy gesig. “Baie geluk met die graadjie! Mag daar nog vele wees!” Daarmee gryp sy na ’n blikkie Coke, skud dit ’n slag en knip dit oop om Pietman van bo tot onder te bespuit. Hy koes onder luide gelag. Toe eers merk hy die volgepakte kombuistafel. Bottels koeldrank, blikkies bier, bakke tjips en ’n hele skinkbord vol van daardie taaipienk toffies wat heelnag hou. Hy is opeens rasend honger en dooddors. Dis asof hy eergister laas iets oor sy lippe gehad het.
“Dankie, julle!” lag hy en vat ’n hand vol krakerige skyfies.