Pietman se gemoed raak skoon omge-ellie. Die een melodramatiese gedagte volg die ander seepglad op totdat hy snaargespanne en wawyd wakker lê en wag dat die ure moet verbykruip. Dis toe hy later vir die soveelste maal op die ander sy draai, dat iets teen die vensterruit tik. Hy kom stadig orent, tuur die donkerte in. Hy maak net ’n figuur teen die halflig uit. Keppie, weet hy sonder dat hy eens hoef te wonder. Hy loop skuif die raam op en steek ’n hand uit om hom in te help.
“Wat de hel soek jy dié tyd van die nag op straat?” wil hy boos weet. “Nou kan ek ook maar van slaap vergeet!”
“Nee wat,” sê Keppie en maak hom op die stoel by die lessenaar tuis, “slaap is vir kinders. Kom maak vir my koffie, dan vertel ek jou maar die lewensgeskiedenis van ene Karolus Engelbert Paulus Fourie.”
“Karolus . . . Engelbert . . .?” Pietman begin lag, skoon verby woorde. Hierdie nag lewer baie dinge op, dis seker. Hy lag so hard dat Keppie begin gebare maak om hom stil te kry. Net toe gaan die stoepdeur oop en daar staan oupa Murray, flits in die hand. Verby sy skouer loer Anita de Waal en Yental Niklaus.
“Skuus, Oupa,” maak Pietman gou verskoning, “maar dis . . . dis ’n anderste soort nag hierdie!”
Maar professor Murray het nie verniet meer as dertig jaar lank met studente te doene gehad nie. Hy skud net kop, lag skewerig en wil omdraai om te loop toe Keppie darem ook ’n woord inkry. “Jammer, prof, maar ek moes net gou vir Pietman kom sien.”
Pietman vee ’n slag oor sy gesig en stel toe maar die mense aan mekaar voor. “Dis nou Yental . . . ’n skoolvriendin van Surita,” verduidelik hy aan Keppie.
“O nee,” help sy hom dadelik reg, “ek en Surita is nie vriende nie. Jy kan maar sê die noodlot het van ons verlangse kennisse gemaak.”
Die grootmense groet laggend en loop weer gangaf. Toe Pietman hom kom kry, sit Yental en Keppie by die kombuistafel en gesels dik stukke terwyl hy moet koffie maak. By verstomming verby, hoor hy hoe sy smaaklik vertel dat sy en Surita Otto in ’n stadium op dieselfde outjie verlief was. Hulle het selfs een pouse vuis geswaai oor hom.
“Hoe oud was jy toe?” skater Keppie dit uit.
“O, so vyf of ses, as ek reg onthou. Die belangrike ding is dat ons van toe af ontdek het dat ons baie dieselfde smaak het wat mansmense betref. In matriek was daar weer hierdie mooi blonde ou. Ene Gysbert Stadler. ’n Regte harmansdrup in die winter – maar toe was hy vir ons oulik. Ewenwel, hy het my matriekafskeid toe gevra en Surita moes saam met een van die amptelike ‘nerds’ gaan. Sy’t my nou nog nie vergewe nie.”
“Ek glo jou,” glimlag Keppie en loer skalks na Pietman se kant toe. “Weet sy al dat jy en Pietman nou saamwoon?”
“Skei uit, swaerie!” sê Pietman vies. “Ek het genoeg probleme!”
“Nou kom sit dan,” nooi Yental met ’n moederlike tuitmond, “en vertel ons. Gedeelde leed is mos naderhand amper lekker!”
“Nee,” sê Pietman ferm en plak haar beker voor haar neer dat bietjies-bietjies koffie uitspat. “Ek het nou genoeg gehad. Jy gaan nou slaap en ek en Keppie gaan gesels.”
“Ag wat,” sê Keppie doodbedaard. “Laat haar bly. Almal sal tog binnekort weet wat ek te sê het, as hulle nie alreeds weet nie.”
“Dankie, Keppie,” antwoord Yental met ’n glimlag en klad die spatsels netjies met ’n sneesdoekie op. “En as jy jou storie klaar vertel het, sal ek weer vir jou myne vertel. Dis nogal ’n riller, hoor!”
“Nie erger as myne nie, ou poppie,” sê Keppie met oortuiging. “Terloops, Pietman, jy moet maar daaraan gewoond raak om my van nou af Karolus te noem. Niemand gaan na ’n onnie luister as sy naam Keppie is nie.”
“Hoe so?” kry Pietman uit, suf van moegheid en loutere verbystering. Hy is so stadigaan besig om sat te raak vir verrassings, dis seker.
“Wel,” begin Keppie, “’n naam is ’n sekere manifestasie van waardigheid of onwaardigheid. Keppie klink na pret en Karolus klink outoritêr. Ewenwel, dis nie wat ek eintlik wil sê nie.”
“Begin by die begin, Karolus,” raai Yental hom aan en stut albei haar elmboë op die kombuistafel.
“Goeie plan,” begin Keppie en glimlag met haar. “Wel . . . eendag was daar ’n man. Hy het met niks begin nie. Toe trou hy met ’n ryk man se dogter en hulle het ’n seuntjie. Saam-saam begin hulle toe daaraan dink om die erfgeld goed te bestee. Dit iewers in te steek waar dit meer sal word. Maak bakstene, raai die mooi vrou die man aan. En vervaardig staalgoedere, stem die man toe saam. Hulle word toe skatryk. Ryker as wat hulle ooit kon gedroom het. Hulle woon in ’n paleis en hou vakansie in ’n kasteel by die see. Hulle gaan oorsee en koop vir die kleintjie als wat sy ogies sien. Die lekker lewe raak net lekkerder . . .” Keppie bly stil, tuur diep in die koffiebeker in en sluk stadig.
“En toe?” por Yental, maar haar stem is net ’n yl fluistering.
Toe weet Pietman. Hy weet sommer alles sonder dat ou Keppie dit hoef te sê. Sy binneste draai en krimp ineen van jammerte en hy moet op sy lip byt toe Keppie eindelik skor sê: “Toe breek alles stukkend . . . Die vrou sterf aan ’n vreemde virussiekte en die man en die seuntjie bly alleen agter. Die man werk soos ’n bewer om die hartseer weg te kry. Hy maak oral bakstene en hy ry die paaie plat. En hy neem die kind oral saam. Eers . . . probeer hulle hard om maar alleen te bly. Maar dit wou nie werk nie. Toe trou die man weer. Met ’n vrou wat ’n dogtertjie het. Die allermooiste, vrekstoutste blonde dogtertjie.”
“Engelie van Wijden,” sug Pietman skaars hoorbaar en Keppie knik.
“Einste. Ergste is dat die seuntjie toe sy hart verloor. Sommer op die prille ouderdom van sewe.”
Yental trek haar asem stadig in en Pietman ys opeens dat sy dalk sal lag. Maar nee, haar mond is saamgepers en haar oë is baie blink. Toe skud sy haar kop simpatiek en sug: “Ek was bang dat jy dit gaan sê.”
“Waarom sê jy so?” vra Keppie met vernoude oë.
Sy vou haar arms voor haar bors en in die elektriese lig lyk sy meteens bleek en broos asof sy baie, baie moeg is. “Omdat dit die gevaarlikste soort liefde is,” sê sy opeens sag. “Daardie ryp emosie wat soms in ’n kind se borskas begin blom. Niks kan dit laat verwelk nie. Nie ontrou nie, nie verguising nie. Nie eens die dood nie.”
Dis ’n ruk lank so stil in die kombuis dat Pietman die gegorrel van die waterpype bo in die plafon kan hoor. Hy kyk na Yental Niklaus en sien ’n heel ander mens. Iemand wat vir ’n oomblik die mantel van tergende speelsheid afgegooi het en weerloos in die wrede kollig van die wêreld sit. Sonder dat hy kan keer, raak hy lig aan haar vingers wat nou slap op die tafelblad lê.
“Hoe weet jy . . . sulke goed?” vra hy en ook Keppie betrag haar speurend met sy skerp blik. Haar vol onderlip roer effens en toe glimlag sy net.
“Ek het gesien hoedat my ma oud en jonk en weer oud word van liefde. Sy en my pa het op laerskool ontmoet. Verlief, verloof, vir altyd en ewig – so het sy gedink. Maar hy het haar gelos. Vir ’n ryk vrou met ’n string haarsalonne. Ek onthou dat daar ’n tyd was dat ek gebid het die vrou se hare moet alles, alles uitval . . . Maar dit het nie.” Sy staan skielik op, maak die leë koffiebekers bymekaar en tap dit vol water. Toe sê sy oor haar skouer: “Ek weet van Engelie van Wijden. Sy was in die koerant. Joolkoningin of iets. Lyk na ’n filmster. Oppas vir haar, Karolus.” Toe blaas sy vir hulle elkeen ’n soen en verdwyn die gang in.
Oomblikke lank sit Pietman en Keppie net na mekaar en kyk. Toe skud Keppie sy kop. “Vreemde meisie . . . maar ek hou van haar.”
Pietman pers sy lippe saam. “Te wysneusig na my smaak, ou swaerie. Maar vergeet haar nou eers. Sê my net een ding: waarom het jy al die jare voorgegee om brandarm te wees?”
Keppie gee ’n