Tiek lyk tevrede met homself. “Die hoofbestanddeel is maklik. Het jy al daai rooi knoppe op my ma se rose gesien?”
Chanza knik. “Roosbottels?”
“Wel, as jy hulle oopmaak, het hulle klein haartjies binne-in, en dis die jeukpoeier. So eenvoudig soos dit.”
Chanza lyk beïndruk. “So al wat ons moet doen, is om vyfhonderd roosbottels te kry?”
“Jip,” sê Tiek. Hy hys Bieber op sy skouer en mik na die roosbedding. “Kom ons begin in die tuin.”
6
Waterpokkies te koop
Tobias, die oudste van die drie Winterbach-kinders, kyk ingedagte by sy venster op die boonste vloer uit. Sy vingers voel-voel aan ’n yslike puisie op sy ken. In sy hand is daar ’n glasbotteltjie met 37 vars waterpokkierowe wat hy vir R20 by Rudi Raubenheimer in graad 8 gekoop het.
Hy sien Tiek en Chanza verby die wasgoeddraad hardloop en om die huis se voorkant verdwyn. Hy weet sommer dadelik hulle is weer besig met kattekwaad.
Tania is ook in die agtertuin. Sy probeer vir Vlooie leer om op haar bevel te sit en te bly. Sy het ’n sak vol hondelekkernye wat sy by die veeartswinkel “geleen” het. Tobias wonder of hy haar vir haar sakgeld moet probeer afpers. Hulle ma raak baie kwaad as Tania goed uit die winkel vat sonder om te vra.
“Jy sal daai hond nooit leer nie!” roep hy by die venster uit. Vlooie is ’n kruis tussen ’n Maltese poedel en ’n Deense hond. Hy het ’n lang lyf, kort bene, wollerige hare en ’n verspotte uitdrukking op sy gesig.
“Ja, ek sal,” roep Tania. “En hou op om jou puisies uit te druk. Jy gaan die hele planeet met jou giftige etter besmet.”
Die puisie skiet uit. Tobias hou sy vinger uit sodat sy die groen blerts kan sien.
“Ek gaan dit op jou kussing afvee!” roep hy.
Maar toe sien hy een van die waterpokkierowe begin uitdroog. Hy moet hulle in sy pa se kriogeniese vrieskas kry voor hulle heeltemal onbruikbaar is.
Tobias druk die botteltjie onder sy hemp in en kruip by die trap op na die professor se laboratorium. Hy luister by die deur of daar enige kraakgeluide is, wat sal beteken die professor is besig om aan sy Van der Graaf-opwekker te peuter.
Niks. So sy pa het uitgegaan.
Hy glip by die deur in.
Tobias maak die kriogeniese vrieskas oop. ’n Koue mis van vloeibare stikstof vorm wolkies in die lug. Hy steek sy botteltjie agter ’n ander monster weg en maak die deur toe. “So ja, julle rofies,” prewel hy. “Julle is elkeen R50 werd.”
Hy kan nie help om te grinnik terwyl hy by die houttrap afsluip nie. Tania gaan probeer geld maak deur ’n kompetisie by ’n hondeskou met daardie onnosel hond van haar te wen. Sy plan is baie meer waterdig. Hy gaan sy droogbevrore rowe verkoop aan ouens in die skaak- en rekenaarklubs. As hulle die rowe oor ’n oop wond vryf, is hy doodseker sal hulle waterpokkies kry. Dis die perfekte manier om die sportdag vry te spring.
Tobias beplan om self ook ’n roof te gebruik sodat hy nie op die skoolkamp hoef te gaan nie. Hy glimlag tevrede en gaan terug na sy kamer om ’n advertensie vir sy produk in sy gunsteling-geselskamer te plaas. Dis nie meer lank nie, dan is hy ryk.
7
Fifi kom kuier
Dié middag lê Tania op die rusbank met Vlooie in haar arms. Hy lê met sy kop op haar maag en staar liefdevol na haar. Wanneer hy hom gedra, is hy die perfekste hond wat nog ooit gelewe het.
Ongelukkig het hy ’n voorliefde vir onderklere. Tania dink haar ma s’n is erg genoeg. Maar eintlik verkies Vlooie mans se onderbroeke, veral as hulle vuil is. Hy steel gereeld haar pa s’n uit die wasgoedmandjie, en gister het sy hom gevang dat hy aan Tobias se allesbehalwe cool gryses lê en kou. Hy sal van Tiek s’n ook hou, maar haar kleinboet dra altyd dieselfde onderbroek.
“Hoekom is jy so walglik?” vra sy en krap agter sy wollerige ore. “Jy’s so erg soos Tobias. Ons gaan vir jou mooi maniere leer, oukei? Jy gaan die Kompetisie vir die Gehoorsaamste Hond wen. Mevrou Fourie gaan ons al twee se hande skud – teen dan sal jy op bevel kan hand skud – en sy sal sê: ‘Enige meisie wat ’n hond so goed kan leer, is ’n Gebore Leier en verdien om die hoofmeisie te wees. Knap gedaan, Tania Winterbach. Jy is ’n voorbeeld vir ander’.”
“A, hier is jy,” sê Arabella, wat by die sitkamer inkom. Dit lyk of Arabella iets het om te sê. Tania se hart sink in haar skoene.
“Tania-lief, ek wil nie hê jy moet jou opwerk nie,” sê sy en lig haar hande soos ’n verkeerskonstabel wat ’n kar voorkeer, “maar tannie Sylvia het nou net gebel …”
“Agge nee, Ma!” skree Tania. “Moenie vir my sê Foefie kom kuier nie! Agge neee!”
“Wag nou, Tania,” sê Arabella en probeer haar paai, maar klink eintlik half histeries. “Ek het mooi gevra jy moenie jou opwerk nie. En moenie dit waag om haar Foefie te noem wanneer sy hier is nie. Dis Felicity of Fifi. En sy kom net vir ’n week terwyl haar ma by ’n poësiekonferensie is.”
“’n Week!” roep Tania uit. “Dis aaklig, dit kan net sowel ’n leeftyd wees! Ek wens iemand wil my skiet en my dit spaar!”
Sy loop woedend na haar kamer en klap die deur toe.
Haar irriterende, kermende niggie, Foefie, kom kuier vir ’n HELE week.
Sy moet DRINGEND met Pandora praat. Dis ’n noodgeval. Hulle moet ’n plan maak om van haar niggie ontslae te raak.
8
Fifi daag op
Die volgende middag na skool verf Tania en Pandora hulle naels in die sitkamer en eet kolwyntjies. Pandora het hulle gemaak – sy’s ’n bobaasbakster en het dubbeld soveel sjokolade as in die resep gebruik en dik sjokoladeversiersuiker bo-op gesmeer.
’n Skerp skuurgeluid in die oprit onderbreek hulle. Tania kyk by die venster uit en sien tannie Sylvia se Passat by hulle erf inry. Die uitlaatpyp sleep op die plaveisel.
“Ag nee!” kreun Tania. “Dis Felicity! Aargh!”
Pandora loer oor haar skouer by die venster uit. “Dis jammer die hele kar blaas nie net op nie,” sê sy en wys na die vonke wat agter uitslaan.
“PAN!” lag Tania en probeer geskok lyk.
Die kar stop en tannie Sylvia maak die deur oop sodat Felicity kan uitklim. Sy hou haar miniatuur Yorkie, Snoopy, in haar arms vas en selfs van die venster af kan Tania sien haar niggie se neus is rooi en daar is watte in een oorgat.
Tannie Sylvia maak die kattebak oop en haal ’n sak kruideniersware en ’n boks medisyne uit, en dan die R7 000-menger wat sy gekoop het om Fifi se spesiale smoothies mee te maak.
“Jig,” kerm Tania. “Sy bring al haar organiese, suikervrye, koringvrye kos saam met haar. Ek haat dit – my ma dwing my om al daai walglike goed te eet wanneer sy hier is.”
Pandora vat simpatiek aan Tania se skouer. “Jammer vir jou. Moet ek die cupcakes huis toe vat?”
Tania gee haar ’n vuil kyk. “Ha-ha, baie snaaks.”
Teen hierdie tyd gee Arabella al vir tannie Sylvia en Felicity soentjies en drukkies in die oprit. “Tania!” roep sy. “Jou niggie is hier.”
Tania en Pandora kyk vir mekaar en bly waar hulle is. Maar dit keer nie vir Felicity