Veearts-vriende: Tania en die towerfluitjie. Helen Brain, Nicky Webb, Rico Schacherl. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helen Brain, Nicky Webb, Rico Schacherl
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798167611
Скачать книгу

      Aboo, die Bokserhondjie

illo-03.jpg

      Tania het haar ma se onderklere net gered en Vlooie in die agterplaas toegemaak toe ’n wit motor by die parkeerplek inry.

      “Hallo, meneer Kumar,” groet Tania. Die bejaarde man is een van Arabella se gunstelingkliënte, en die eienaar van Aboo, ’n jong, spelerige bruin en wit bokser.

      Meneer Kumar is na aan trane toe Tania die motor se deur vir hom oopmaak. “Daar’s iets verkeerd met Aboo,” sê hy. “Hy lê net heeldag. Hy staan glad nie op nie. Ek weet nie of hy dalk raakgery is of iets nie – maar ek verstaan nie hoe hy oor die hoë muur kon gekom het nie. Hy’s hier agter in die kar, maar ek kan hom nie alleen optel nie. Hy’s te swaar.”

      “Ek roep vir Unathi,” sê Tania.

      Tania hou die deur oop en Arabella se assistent, Unathi, dra die bokser binnetoe. Sy is geskok om te sien hoe anders hy lyk. Hy lê net slap in Unathi se arms.

      Arabella kom dadelik by haar spreekkamer uit. “Kom in, kom in,” sê sy. Sy streel Aboo sag terwyl Unathi hom versigtig op die tafel neersit.

      Unathi maak die deur toe en gaan terug na die hokke. Tania weet sy moet haar huiswerk doen, maar sy hou haar by die kennisgewingbord besig. Sy wil eers hoor of Aboo oukei sal wees.

      ’n Paar minute later gaan die spreekkamer se deur weer oop. “Ek sal die bloedmonsters wegstuur,” sê Arabella vir die ou man. “Ons sal die resultate oor ’n paar dae kry. Ek bel jou sodra ek dit het.”

      Meneer Kumar se oë is weer vol trane. “En as hy iets ernstigs makeer, wat dan? Sal ons hom moet uitsit?”

      Tania snak na asem. Nie Aboo nie!

      “Ons steek daardie brug oor wanneer ons daarby kom,” sê Arabella. “Hou hom voorlopig warm en gemaklik. Maak seker jy voer hom die pille wat ek vir jou gegee het. En bel my enige tyd, dag of nag, as jy bekommerd is.”

      Tania wil huil toe Unathi vir Aboo terug motor toe dra. Dis aaklig om te dink so ’n pragtige jong hond se lewe gaan dalk kortgeknip word omdat hy nie meer kan loop nie.

      4

      ’n Gesinsete

illo-04b.jpg

      Dis ’n week later. Die gesin eet saam aandete. Tania trek haar neus op vir die droë herderspastei en pap, verrimpelde groente.

      “So wat gebeur met die kompetisie?” vra sy vir haar ma terwyl sy haar Brusselse spruitjies onder die skorsie se dop wegsteek. “Gaan dokter Katzenellenbogen die beoordelaar wees?”

      Arabella frons vir Tania se broer, die negejarige Tiek. Sy apie, Bieber, sit op sy skouer en terg vir Vlooie wat wild blaf.

      “Stil, Vlooie!” beveel sy. “Tiek, jy ken die reël. Geen apies aan die etenstafel nie.”

      “Dis onregverdig,” kla Tiek. “Tania se troeteldier mag hier wees. Hoekom nie myne ook nie?”

      “Want joune is ’n ongedierte,” sê professor Winterbach, wat uit sy dagdroom wakker word. Hy stop ’n groot hap herderspastei in sy mond. Die meeste daarvan val op sy baard, maar hy kom dit nie agter nie. “Ape is nare diere. Ek verstaan nie wat jy in hom sien nie.”

      Bieber klou aan Tiek se hare en brabbel kwaad vir die professor. Vlooie blaf nog harder. Onder die tafel los die stokou labrador, Roberto, nog ’n dodelike stink wind.

      Die apie skud sy vuis vir die professor en wys sy tande.

      “Sjoe, Pa, die aapgevreetjie haat jou met ’n passie,” sê Tania se ouer broer, Tobias.

      “Ek verseker jou die gevoel is absoluut wederkerig,” sê die professor.

      “As jy ophou om jou hond etenstye by die huis te laat inkom, sal sulke goed nie gebeur nie,” sug Arabella. “En eet jou groente. Moenie dit vir Roberto voer nie.”

      “Goeie hemel, Tania, het jy jou Brusselse spruitjies vir Roberto gegee?” grom die professor en gluur vir die ou hond onder die tafel. “Hy gaan nou nog stinker winde los.”

      “Uit met al die honde,” sê Arabella. “Tania, vat hulle buitentoe, asseblief.”

      “Dis onregverdig! Hy blaf net omdat daai simpel aap op Tiek se kop sit. En arme Roberto is oud,” maak Tania beswaar.

      “Nou dadelik, asseblief,” sê Arabella ferm.

      Ek wens ek kon by Pan bly, dink Tania terwyl sy die honde by die kombuisdeur uitvat. Haar beste vriendin, Pandora, is ’n enigste kind. Sy bly in ’n beeldskone huis met leermeubels en niks gemors wat oral rondlê nie, en hulle huishoudster is ’n baaskok.

      “So het hy toe ja gesê?” vra Tiek vir Arabella toe Tania terug is by die tafel. “Het die beroemde dokter Katzenellenbogen gesê hy sal die hondekompetisie doen?”

      “Ilona het eers vir dokter Katzenellenbogen gewerk,” grinnik Tobias. “Het sy dit al genoem?”

      Arabella gooi hom met haar servet. “Moenie lelik wees nie, Tobias. Ongelukkig,” sê sy vir Tania, “het dokter Katzenellenbogen ja gesê. Ons gaan nou nooit die einde daarvan hoor nie.”

      Deur die kombuisvenster sien Tania hoe krap Vlooie gate in die groentetuin. Wortels waai in alle rigtings. Vlooie is ’n wonderlike hond, maar hy moet regtig gedissiplineer word. Hy luister nie na ’n woord wat enigiemand sê nie. Hy is soos Tiek, maar erger.

      “Ek gaan vir Vlooie inskryf,” sê sy. “Hy gaan die eerste prys van R1 000 wen.”

      “Ja, vir seker,” grinnik Tobias. “Ek wil nog sien hoe leer jy daai hond maniere.”

      “Moenie so lelik met jou suster wees nie,” raas Arabella. “Tania, ek dink dis ’n wonderlike idee. Kyk gerus wat jy hom kan leer. Die geld sal welkom wees.”

      “Ek gaan van hom ’n kampioen maak,” sê Tania. “Julle sal sien.”

      5

      ’n Geheime resep

illo-05.jpg

      Die volgende dag is Saterdag, en Tiek gaan na ontbyt dadelik af na Chanza toe. Chanza bly in die woonstel onder hulle huis saam met Arabella se assistent, Unathi.

      “Tania gaan vir Vlooie leer sodat hy die prys kan wen vir die Gehoorsaamste Hond by die skool se kermis,” vertel Tiek vir Chanza terwyl hulle na die tuinhuisie toe loop.

      “Ek wens ons kan R1 000 wen,” sê Chanza.

      “Ons kan vir Bieber inskryf.” Tiek krap die apie se kop. Bieber klou aan sy skouer vas en klappertand sag.

      “Daar’s net een klein probleempie. Hy’s nie ’n hond nie,” sê Chanza. “En die tweede probleem is hy’s die ongehoorsaamste aap wat ek ken.”

      “Ja, hy sal ’n kompetisie vir die Slegste Maniere maklik wen …” sê Tiek terwyl die apie op die wasgoeddraad spring en onderstebo aan een van Tobias se T-hemde hang. “Dink jy hulle gaan so ’n kompetisie ook hê?”

      “Ek twyfel,” sê Chanza. “Hoe gaan ons genoeg geld vir die Superslim Wetenskapstel bymekaar maak? Ons het nog R130 nodig.”

      Tiek gryp sy arm. “Raai wat! Jy gaan dit nie glo nie – ek het die formule vir jeukpoeier gekry!”

      “Fokus, Tiek, fokus!” Chanza klap Tiek teen die kop. “Hoe maak ons R130 bymekaar vir die Superslim Wetenskapstel?”

      Tiek klap hom terug. “Maklik, DOOFUS, ons maak jeukpoeier en ons verkoop dit. Duh! Daar’s ’n ou wat dit op eBay verkoop. Mense betaal honderde dollars vir die goed. Ons kan dit by die skoolkermis