Veearts-vriende: Tania en die towerfluitjie. Helen Brain, Nicky Webb, Rico Schacherl. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helen Brain, Nicky Webb, Rico Schacherl
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798167611
Скачать книгу
>

      

title.jpg

      Helen Brain & Nicky Webb

      Illustrasies deur Rico Schacherl

      Human & Rousseau

      1

      Ilona is ’n pyn

illo-01.jpg

      Dis na skool. Tania wil gaan hallo sê vir haar ma, veearts Arabella Winterbach. Maar sy moet eers verby die ontvangsdame, Ilona, kom.

      “Kry daai brak hier uit!” gil Ilona toe Tania se hond, Vlooie, blaffend agter haar ingehardloop kom. “Dis ’n veearts se spreekkamer hierdie, nie ’n sirkus nie.”

      Vlooie spring op die bank in die wagkamer en gryp ’n pakkie biltong van die rak lekkernye af.

      “Uit, UIT, UIT!” bulder Ilona en slaan na hom met haar breinaald.

      Tania probeer haar hond gryp, maar hy skiet uit tuin toe met sy stert wat soos ’n helikopter se lem woer.

      “’Skuus,” sê sy. “Ek is nog besig om hom te leer.”

      “Gmmmmfff,” snork Ilona. “Daai brak sal nooit maniere leer nie. Ek kan verstaan hoekom sy vorige eienaars van hom ontslae geraak het.”

      Tania voel hoe haar bloed begin kook. Arme Vlooie het ’n hondelewe gehad toe hy klein was. Sy en haar ma het op die snelweg gery en gesien hoe ’n hondjie by ’n kar se venster uitgegooi word. Hulle het stilgehou en hom gered. Gelukkig het hy nie seergekry nie.

      “Julle moes hom DBV toe gevat het. Ek weet nie wat jou ma besiel het om hom te hou nie,” sê Ilona neus in die lug.

      Ek sal ’n Beter Mens wees, besluit Tania, en dink aan haar geliefde skoolhoof, mevrou Fourie. Ek gaan nie my humeur verloor nie. Ek gaan nie vir haar sê sy lyk soos ’n sweterige walrus, maar net nie so mooi nie.

      Dit gaan nog ’n rukkie wees voor haar ma klaar is met die laaste pasiënt. Sy moet dink aan iets om oor te gesels.

      “Wat’s daai om jou nek, Ilona?” vra Tania en wys na die klein silwer pypie wat aan ’n rooi koord hang.

      “Dis dokter Katzenellenbogen se Towerfluitjie,” sê Ilona.

      “Wat maak dit ’n towerfluitjie?” vra Tania.

      Ilona snork vererg en plak haar breiwerk op die lessenaar neer. Sy brei ’n dik kabeltrui. Dit lyk baie warm en ruik na hond. Sy brei dit van haar St. Bernard, Julius, se hare.

      “Eerstens,” sê Ilona asof sy met ’n simpel driejarige praat, “dis ontwerp deur dié dokter Katzenellenbogen. Jy weet … die beroemde TV-veearts. Die een vir wie ek gewerk het.”

      Tania knik. Natuurlik weet sy van hom. Ilona praat aanhoudend van hom. Arabella haat hom. Sy noem hom ’n “selfingenome, selfbevorderende windlawaai”.

      “Wel,” gaan Ilona verder en streel trots oor die fluitjie, “dis ’n opleidingsfluitjie wat hy vir my Julius gemaak het. Hiermee kan ’n mens ’n hond ENIGIETS leer doen.”

      Tania se gesig verhelder. “Kan ek dit leen?” vra sy. “Om Vlooie mee te leer?”

      “Natuurlik nie,” sis Ilona en draai haar breiwerk om om met die volgende ry te begin. “Jy sal spoeg daarin laat kom. Dan sal dit roes. En daar is net twee in die hele wêreld.”

      “Hoe so?”

      “Dis dokter Katzenellenbogen se eie, unieke uitvinding. Dit is die prototipe hierdie. Hy het my gevra om Julius daarmee op te lei.” Sy kyk stralend na die foto van haar jong St. Bernard wat in ’n silwer raam op haar lessenaar staan. “As enigiets met die fluitjie gebeur – ek sidder om daaraan te dink!” Sy maak moesiemond en sê: “Skoert nou. Ons probeer werk hier.”

      2

      Vlooie is terug

illo-02.jpg

      ’n Oomblik later gaan die voordeur oop.

      “Mevrou Fourie!” snak Tania.

      Die persoon wat instap, is die mens wat sy die meeste in die wêreld bewonder – ’n lang, waardige vrou met ’n perfekte liggaamshouding en blonde hare wat sy in ’n netjiese bolla dra. Sy vat-vat aan haar string pêrels en glimlag vriendelik toe sy vir Tania sien.

      “O, hallo, Tania. Ilona, goeiedag. Ek het ’n sak van Prinses se hondekos nodig.”

      Mevrou Fourie is Tania se skoolhoof, en Prinses is haar klein mopshond. Die een wat sy elke dag saam skool toe neem.

      “Sekerlik, mevrou Fourie,” sê Ilona en sukkel steunend agter die lessenaar uit. Haar dik dye skuur teen mekaar terwyl sy na die sakke hondekos toe waggel. Haar sweetpakbroek is vol hondehare.

      Mevrou Fourie plooi haar neus effens. Tania weet sommer, as Ilona een van haar leerders was, sou mevrou Fourie vir haar gesê het sy moet haar klere mooi skoon en netjies hou.

      Terwyl sy kyk hoe Ilona ’n 25kg-sak hondekos op haar skouer hys, besluit Tania sy gaan ook eendag so goed versorg soos mevrou Fourie wees. Sy maak haar rug reguit en probeer soos mevrou Fourie glimlag, met haar ken in die lug.

      “Wat makeer jou?” vra Ilona toe sy verbyloop. Sy laat val die sak by mevrou Fourie se voete en tik die bedrag in die rekenaar.

      Mevrou Fourie haal ’n stapel pamflette uit haar handsak. “Ilona, ek wil jou graag ’n guns vra.”

      Ilona lyk tevrede (sy hou daarvan om te voel ander het haar nodig), maar sy sê ongeërg: “Wel, mevrou Fourie, dit hang af wat dit is. Ek is geweldig besig met my werk hier, sowel as my werk vir dokter Katzenellenbogen, die TV-veearts. Daar’s nou ’n dokter wat weet hoe om ’n praktyk glad te laat verloop. Ek weet nie wat Arabella sonder my sal doen nie.”

      Tania vervies haar. As daar iemand is wat weet hoe om ’n praktyk glad te laat verloop, is dit Arabella se assistent, Unathi. Sy wil net opspring en dit vir Ilona sê toe mevrou Fourie haar hand sag op die vrou se skouer sit.

      “Ek weet hoe toegewyd jy is, liewe Ilona,” paai mevrou Fourie. “Jy sal die gemeenskap ’n groot guns bewys as jy die Kompetisie vir die Gehoorsaamste Hond, wat by die skool se kermis gehou word, sal beoordeel,” en sy gee vir haar ’n pamflet.

      Ilona is vir ’n oomblik in die wolke. Sy tel die pamflet op. “Goeiste, die eerste prys is ’n hele R1 000!” Toe val haar gesig. “Wat van Julius? Hy sal ook graag aan die kompetisie wil deelneem. Ek kan hom nie inskryf as ek die beoordelaar is nie.”

      “O genade,” sê mevrou Fourie en streel oor haar hare. “Ek veronderstel … dis vreeslik baie gevra, liewe Ilona, maar … kan jy dalk vir dokter Katzenellenbogen vra of hy die beoordelaar sal wees? Dit sal so ’n eer wees om hom daar te hê.”

      “O, absoluut!” roep Ilona uit. “Ek maak dadelik werk daarvan.”

      Mevrou Fourie betaal vir haar hondekos.

      “Ek sal dit kar toe dra,” bied Tania aan en tel die sak op, al knak haar knieë amper onder die gewig.

      “Dis baie gaaf van jou, Tania,” sê mevrou Fourie en glimlag goedig. “Ek sal die deur vir jou oopmaak.”

      Toe sy die deur oopmaak, storm ’n huppelende deurmekaarspul van bruin en wit hare nader met iets wat hy in die modder agter hom aansleep. Tania steek in haar spore vas.

      “Los dit, Vlooie, LOS DIT!” skree sy.

      “Wat het hy in sy mond?” vra mevrou Fourie.

      Tania laat val die hondekos en gryp Vlooie se halsband. “Los dit, los dit!” herhaal sy. Hy kyk na haar en rol sy mal oë. Sy weet sommer hy lag vir haar.

      “Los dit!” brul Ilona en blaas op die Towerfluitjie.

      Vlooie maak sy mond oop. ’n Groot geblomde granny panty val op die vloer by mevrou Fourie se voete.