Ek sê, Nee, dis nog te seer.
Man, voel net, sê sy.
Ek sê, Nee, ek sal by die huis.
Hoeveel in die bottel? vra die vrou.
Ek sê, Tot bo!
Jy jok, sê sy.
Toe sien ek, hier langs die till staan ’n helse bottel, driekwart vol boontjies, voorop staan, Help ons bejaardes: R1,00.
Ek sit een rand neer. Ek sê, Ek haat kompetisies, maar ek dink dis 837.
Dis reg! skree sy, Hier’s jou prys. Twee kaartjies, Vrydagaand, Madame Butterfly.
Ek sê, Gaan sy my fortuin vertel?
Nee, sê die vrou, Dis ’n opera. Die een wat dit geskryf het is al lankal dood, maar blykbaar voer hulle die ding nog steeds op. Shame, sit seker nou maar met die kostuums. Sy self was nou nog nie daar nie, maar dit gaan blykbaar oor ’n Japannese meisie, Suzuki, wat verlief raak op ’n Amerikaanse matroos. Dié neuk op ’n kol weer terug huis toe, los haar net daar, sy raak so mal, sy hou nooit weer op met sing nie.
Ja, sê die vrou, My vriendin was die ander aand daar, g’n mens kon haar stilkry nie.
Nou kyk, ek het nog nooit ’n opera gesien nie, kan my ook nie indink mens wil dit op ’n Vrydagaand doen nie, maar ek’s mal vir ’n matroos, now’s as good as ever. En ek gaan alleen, mens weet mos nie, netnou vang jy die oog.
Vrydagaand kom ek by die Staatsteater aan. En dis grand, met kandelare en matte, die mure slaat jou ’n bietjie, maar daar’s duisende mense. Ek kan nie glo daar’s soveel mense sonder TV’s nie. Ek gee my kaartjie, dis heel voor. Maar daai matroos moet verskriklik mooi wees, daar’s soveel mense, ’n klomp moet hier voor my in ’n gat sit. En toe die musiek begin, het die een ou daar ’n stok beet, maar hy werk daai stok. Ek dink, Hierdie man gaan homself seermaak, nie dat ek hom kwalik neem nie, g’n mens kan iets sien uit daai gat uit nie. Ek staan op, tik hom op die skouer, ek sê, Verskoon my, maar ek het nog ’n leë seat langs my. Man kyk vir my asof ek van Mars af kom. Ek dink, Nou maar bly in jou fokken gat. En ek loop sit.
Gordyn is op, ons wag vir Suzuki. Maar ek moes seker ’n program gekoop het, dan sou ek geweet het daar’s iets op pad, want toe Suzuki opstap, toe’s sy pikswart.
Sien jy, sê die vrou agter my, Waar vlug ons heen? Kyk hoe lyk dit al in Japan!
En toe maak daai pikswart Suzuki haar mond oop, en toe weet ek hy gaan vir haar los. Sy sing daar dat ’n polisiehond sy hele training sal vergeet voor sy die noot los. Maar dalk is dit oor sy agter by die gordyn kon insien, want op daai oomblik kom die Matroos op die verhoog en hy is dik. En hy is horingoud. En hy begin sing. En die pienk padda in Paul McCartney se video is ’n mooi moer.
Daar sit ons toe op ’n Vrydagaand met ’n dik matroos en ’n swart Suzuki. Ek begin net dink miskien is dit dalk beter om ’n tydjie in die gat te loop sit, toe kom ’n klompie van die bemanning op die verhoog en hulle is mooi. Hulle het sulke broeke aan wat sê, Naand, ek’s ’n jong tenoor.
Ek skree, Suzuki, fok die padda, kyk die koor!
Maar tipies, luister glad nie, draai net om en roep haar diensmeisies. Hulle kom opgeskuifel en hulle is spierwit.
Ek sê, Verskoon my, maar het ek nog ’n verkiesing gemis?
En dis op daai oomblik dat die ou pienke toe vir haar vertel hy gaan terug. Ek wil nog skree, Los net die koor hier! Maar daai motorfiets slaan ’n noot dat twee van die foyerpersoneel die vrou agter my se hare met ’n brandblusser moet kom platmaak. En toe daai noot sy laaste draai maak, toe kraak my bril se glase van oor tot oor en toe ek opkyk, staan daar tweeduisend swart Suzuki’s voor my. Ek sê, Vat alles, los net my floss.
Ek wil net duik, toe sê ’n stem dis pouse en ek loop soek die kroeg. Maar niemand sê vir my ek is gekraak nie, so ek klim 8000 trappe deur 600 foyers, kom aan by 1200 gespieëlde kroeë, sit my geld neer en kry 7,5 miljoen whiskeys. Een sluk toe’s ek dronk.
Nou loop soek ek weer my seat. Maar nou’s daar miljoene. Rye en rye. Langs mekaar, bo-op mekaar. In daai gat is ’n massa doenig met stokke, op die verhoog is ’n leërskare dik matrose en swart Suzuki’s aan die sing.
Sit! skree die mense.
Ek sê, Julle’s lelik met my.
Stil! skree die mense.
Ek sê, Hoekom teel julle so vinnig? Waar’s my plek?!
En toe klim duisende matrose van die verhoog af en ek sien hoe hulle hulle arms na my toe uitstrek en ek voel hoe haal hulle my bril af en toe staan daar net een. En dis die ou dikke. Maar dis die mooiste matroos wat ek nog ooit gesien het.
En voor almal vat hy my twee hande vas en hy sing vir my ’n aria uit Madame Butterfly van Puccini.
Jellie
Eendag was daar ’n groot konsternasie in die land. Die koning se kop was moeg. En al die ministers gryp die koning. Hulle jaag af na die hospitaal en hulle skree, Dokter! Dokter! Help ons! Die koning se kop is op en wie gaan nou al die besluite neem? En die dokter sê, Moenie worry nie, Ministers, ek het ’n splinternuwe brein op ys.
Maar dieselfde oggend het die kok in die hospitaal se kombuis ’n groot bloedrooi jellie gemaak en toe hy die ding wil bêre, is die hele yskas vol. Hy stap toe die lang gang af, en daar onder in die groot koelkamer sit hy die jellie neer.
En daar sit die jellie en word vreeslik hartseer. Ek meen, hoe gaan jy voel as jy weet lunchtyd word jy opgeslurp deur een of ander ou vrou met ’n swak blaas? En die jellie sê vir homself, Ek wil iets beteken. Ek wil my plek vol staan in vandag se samelewing.
Net toe kom die dokter uitasem daar ingehardloop om die koning se nuwe brein te gryp, en die jellie spring met ’n hartstogtelike boog tot in sy arms. Die dokter kyk nie twee keer nie, hy skree, Ek het hom! En hy hardloop die gang af en opereer en hy opereer en die volk hou hul asems op.
Vir dae en nagte het die koning in die hospitaal gebly en toe op ’n sonskyndag is die koning mooi gesond. Die ministers reël ’n groot Parlementsopening met orkeste en optogte en kanonne en vreeslik baie balloons. En daar staan die koning en hy salueer al die goeters wat by hom verbygaan. Maar van al die staan in die son begin die jellie in sy kop toe nou ’n bietjie smelt, en toe hulle uiteindelik in die Parlement kom, kan die koning aan niks dink om te sê nie. Daar sit almal en wag, en hy kry nie ’n woord uit nie.
En die ministers sê, O Koning, die mense in ons land baklei al ’n bietjie onder mekaar. Sê nou iets. En plrrt! skiet ’n stuk bloedrooi jellie by die koning se oor uit.
Die Minister van Verdediging is nou heeltemal uptight. Hy sê, O Koning, hier gaan ’n oorlog kom en ons gaan dit nie kan keer nie. En plrrt! kry hy ’n stuk jellie teen die voorkop.
Nou is die ministers heeltemal histeries. Hulle skree, Meneer die Speaker! Meneer die Speaker! Help ons! Wat het ons nou nodig?
En toe Meneer die Speaker opkyk, kry hy ’n blop jellie op sy bolip. En hy’t so ’n tydjie gesit, toe sê hy, Ek dink, nè, ons kan doen met bietjie custard.
Mailbox
On Tuesday nights at quarter to seven Mr Fazakas rubs himself against the mailbox. It’s a thick pole with a huge golf ball on top and out of the golf ball comes another pole and on top of that is a piece of cardboard with birdseeds.
Mr Fazakas holds on to the pole at the top and crosses his legs round the bottom one. Then he throws his head back and wiggles against the golf ball. Sometimes he makes noises and calls the golf ball Vanessa.
Mr Fazakas is Greek and very attractive. The ones that were born overseas get ugly at about thirty, but the local ones stay nice till fifty. But Mr Fazakas doesn’t know he’s still nice, so he’s with