Terug na die Ou Testament. Adrio König. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Adrio König
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318855
Скачать книгу

      •Die konfrontasie oor die dissipels wat op die Sabbat koringare pluk – ’n insident wat in al drie die sinoptiese Evangelies opgeteken is (Matt 12:1-8; Mark 2:23-28; Luk 6:1-5).

      •Dan is daar die verwysings na die Sabbat in verband met Jesus se kruisiging, begrafnis en opwekking (Matt 28:1; Mark 15:42; 16:1; Luk 23:56; 24:1).

      •En uiteindelik ook die verwysing na die toekoms wanneer sy volgelinge sal moet vlug vir die verdrukkers en moet bid dat hulle nie in die winter of op die Sabbat sal moet vlug nie (Matt 24:20).

      Handelinge In Handelinge is daar nege verwysings na die Sabbat. Drie hou nie verband met wat mense in Handelinge op die Sabbat doen nie (Hand 1:12: ’n sabbatsreis, en 13:27 en 15:21 waar eers Paulus en dan Jakobus verwys na die profete en die wet van Moses wat elke Sabbatdag voorgelees word).

      In die ander ses gaan dit almal oor dieselfde saak: Paulus se sendingreise (Hand 13:14,42,44; 16:13; 17:3; 18:4). Paulus was oortuig dat die evangelie eers vir die Jode, en dan vir die heidene bedoel was (Rom 1:16). Daarom het hy in elke stad waar hy gekom het en waar daar ’n sinagoge was, eers sinagoge toe gegaan om die Jode te probeer oortuig dat Jesus die Messias is (Hand 17:3; 18:4). En natuurlik was hulle net op die Sabbat by die sinagoge. Daarom is daar al die verwysings na die Sabbat tydens sy sendingreise.

      En dan die enkele verwysing na die Sabbat in die Briewe. Dis ’n negatiewe verwysing waar ons lees dat gelowiges hulle nie moet laat voorskryf dat hulle die Sabbatdag moet vier nie (Kol 2:16).

      Uiteindelik kry ons dan die een merkwaardige verwysing na die “sabbatsrus” wat oorbly vir die volk van God (Heb 4:9). Dit alles is ’n oorsig oor die verwysings na die Sabbat in die Bybel.

      As ’n mens so vinnig hierna kyk, lyk dit asof die Sabbat in die Bybel baie belangrik is tot op ’n sekere punt: die kruisiging en opwekking van Jesus. Daarna kom dit eintlik nog net voor tydens Paulus se sendingreise wanneer hy Jode probeer oortuig dat Jesus die Messias is.

      Maar daar is nooit sprake van Christene wat op die Sabbat vergader nie.

      In Handelinge gaan dit oor Paulus wat Jode op die Sabbat in die sinagoge probeer oortuig dat Jesus die verwagte Messias is. Hierdie byeenkomste op die Sabbat was nie Christene wat bymekaar gekom het om die Here te aanbid nie, maar sendingsituasies waar Paulus met die Jode geredeneer het om hulle van Jesus te oortuig (Hand 17:1-2,17; 18:4). Die Sabbat was natuurlik die enigste dag waarop hy die groot groepe Jode bymekaar kon kry.

      Ons lees eintlik selde in Handelinge van Christene se byeenkomste. Daar is wel die een keer waar ons spesifiek lees dat hulle op die eerste dag van die week (Sondag) bymekaar is wanneer Paulus preek (Hand 20:7).

      In die Briewe, waar dit oor die lewe van die Christene gaan, verdwyn die Sabbat eenvoudig, behalwe die een keer waar daar negatief na die Sabbat verwys word (Kol 2:16).

      Skynbaar het die Sabbatdag eenvoudig uit hulle lewe verdwyn.

      Onder 2.4 sal ons breedvoerig daarna kyk hoe belangrik dit is dat daar geen verwysings in die Briewe is dat Christene die Sabbat gevier het nie. Dis nie maar net “toevallig” dat dit nie vermeld word nie. Dit beteken eenvoudig dat hulle nie die Sabbat gevier het nie.

      2.3 TERUGKEER NA DIE SABBAT?

      Waarom is daar dan die terugkeer na die Sabbat? Is dit nie duidelik nie dat, alhoewel die Sabbat nog uitdruklik gegeld het in die Ou Testament en tydens Jesus se aardse bediening, dit verdwyn het ná sy opwekking? En is dit nie hoe dit gegaan het met baie ander uiters belangrike dinge in die Ou Testament soos die tempel, die offers, die priesters, die besnydenis en die feeste nie? (hfst 3 en 4)

      Die Christene wat wil terugkeer na sekere Ou-Testamentiese gebruike, is oortuig dat daar voldoende rede is, selfs dwingende redes, waarom die Sabbat tog nog net so onderhou moet word as in die tyd van die Ou Testament.

      •Die Sabbat is ’n ewige instelling.

      •Jesus het self die Sabbat gevier. Daarom sou ons volgens hulle nie daaraan kon twyfel dat die Christene ná Jesus se opwekking daarmee aangehou het nie, al word daar nie spesifiek daarna verwys nie.

      •Die Sabbat is deel van die tien gebooie, en Jesus verklaar self dat niks daarvan sal verander nie (Matt 5:17-20).

      •Die Here sê self dat almal op die nuwe aarde elke Sabbat voor Hom sal buig (Jes 66:23), en Jesus sou impliseer dat die Sabbat nog tot by sy wederkoms gevier sal word (Matt 24:20).

      Kom ons kyk een vir een na hierdie argumente.

      2.3.1 DIE SABBAT IS ’N EWIGE INSTELLING

      Hier word verwys na Eksodus 31:16-17 waar ons uitdruklik in die 1953-vertaling lees dat “die kinders van Israel” die Sabbat moet vier “as ’n ewige verbond”, en weer: die Sabbat moet vir hulle “vir ewig ’n teken wees”. Moet die Sabbat dan nie vir altyd gevier word nie?

      Dis opvallend dat die 1983-vertaling nie meer die woord “ewig” hier gebruik nie. Daar lees ons van ’n blywende verpligting wat altyd ’n teken sal wees. Maar is dit nie in elk geval ook nog duidelik nie? “Altyd” is tog altyd.

      Kom ons doen twee dinge: Ons kyk na die Hebreeuse woord wat met “ewig” of “altyd” vertaal word, en ons kyk na ander sake wat ook vir “ewig” of “altyd” moet geld.

      Die Hebreeuse woord wat hier in die 1953-vertaling met “ewig” vertaal is, word nogal dikwels gebruik. Maar dis opvallend hoe selde die 1953-vertaling dit regtig met “ewig” vertaal het. Hier volg net ’n paar voorbeelde waar selfs hierdie ou vertaling nie “ewig” gebruik nie:

      •“… Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon …” (Jos 24:2);

      •“Want van ouds af het jy jou juk verbreek …” (Jer 2:20);

      •“… kyk en vra na die ou paaie …” (Jer 6:16);

      •“Die profete wat ... van ouds af …” (Jer 28:8);

      •“… die mense van die voortyd; …” (Eseg 26:20);

      •“… ’n eeue-oue nasie is dit …” (Jer 5:15).

      In al hierdie gevalle is dit dieselfde Hebreeuse woord wat in Eksodus 31:16-17 met “ewig” vertaal is. En dis duidelik dat dit sinloos sou wees om dit in hierdie gevalle ook met “ewig” te vertaal. Trouens die een ander keer wat die 1953-vertaling dit wel met “ewig” vertaal het, lui dat die tempel “ewige” deure het (Ps 24:7,9). Maar die deure was tog net baie oud, nie ewig nie.

      Hierdie Hebreeuse woord word dus eerder gebruik vir ’n lang tyd.

      Maar iemand sou natuurlik tog nog daarop kon aandring dat juis wanneer dit vir die Sabbat gebruik word, dit werklik “ewig” moet beteken.

      Maar wat dan van die besnydenis? Net soos die Sabbat, is die besnydenis ook ’n “ewige verbond” (Gen 17:13 – 1953-vertaling). Maar ons weet dat Paulus baie sterk daarop aangedring het dat die besnydenis ná Christus nie kan voortgaan nie (Gal 5:2).

      Maar kom ons kyk ook na die “tent van samekoms”, die tent wat tydens die uittog as ontmoetingsplek met die Here gedien het. Die ou mense het dit nog geken as die “tabernakel”, wat die Hebreeuse woord is wat net in ons letters oorgeskryf is, soos “halleluja”. Hierdie tent was natuurlik net ’n tydelike ontmoetingsplek solank Israel in die woestyn was tydens die uittog. Maar omtrent elke bepaling en reëling oor hoe die priesters en die volk in hierdie tent moes optree, word ’n “ewige instelling” genoem (1953-vertaling). Hier volg net ’n paar van die talle voorbeelde (Lev 6:18,22; 7:34,36; 10:9,15; 16:29,31; 17:7; 23:14,21,31,41; 24:3). Trouens in een geval het selfs hierdie vertaling nie “ewig” gebruik nie, maar “vir altyd”, eenvoudig omdat “ewig” geen sin sou maak nie (Lev 25:30).

      In nie een van hierdie voorbeelde kan die Hebreeuse woord “ewig” beteken nie omdat die tent net vir ’n bepaalde tyd gebruik is. Daarom vertaal die 1983-vertaling dit met “’n vaste