Terug na die Ou Testament. Adrio König. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Adrio König
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318855
Скачать книгу
terug na die Ou Testament het ons ’n hele lys van sake wat nie destyds ter sprake was nie. Die meeste daarvan lyk eintlik veel onskuldiger. Allerlei sake kom in die gedrang, soos

      •Kersfees en ander Christelike feeste;

      •verjaarsdae;

      •die name van die dae en die maande;

      •die name van God en van Jesus; en

      •die ramshoring.

      Terloops, is dit nie onvermydelik dat ook die jaartelling en die berekening van jare ter sprake sou moes kom nie? Die Ou Testament het immers nie net ander name vir die maande gehad en ook die dae anders genoem nie. Hulle het maanmaande gehad wat nie met ons s’n saamval nie, en hulle het ook nie ’n jaar van 365 dae geken nie.

      Verder kry ’n mens ook ’n aantal sake wat skynbaar nie direk uit die Ou Testament voortvloei nie soos

      •drome en droomuitleg;

      •die wederkoms nou;

      •die doop; en

      •“huisskoonmaak”, feetjies en kaboutertjies.

      Maar intussen is sommige van die ou sake ook terug op die agenda, en miskien is hulle in die huidige situasie die sake wat selfs die deurslag gee:

      •die Sabbat;

      •die feeste; en

      •die wet.

      Hoe nou?

      Paulus en veral ook die Brief aan die Hebreërs was skerp in hulle veroordeling van hierdie rigting. Paulus skryf: As julle dit of dat doen of glo, “sal Christus vir julle geen betekenis hê nie,” dan het “julle julle band met Christus verbreek”, dan het julle “die genade van God verbeur” (Gal 5:2,4). Kan ’n mens regtig vandag dieselfde van hierdie beweging sê? Dis duidelik dat baie van die Christene wat hierdie rigtings inslaan, ernstig en toegewyd is. Dit gaan eerder in baie gevalle oor gelowiges wat die Here met hart en siel dien, wat die verlossing deur Christus ten volle ernstig neem.

      Maar dit neem nie weg dat ons moet vra wat ons in die Bybel kry oor die dinge waarmee hulle besig is nie.

      In die hoofstukke wat volg, sal ons die hoofsake van hierdie beweging probeer verstaan in die lig van die Nuwe Testament.

      2

      DIE SABBAT

twril.jpg

      Die Sabbat is sekerlik een van die belangrikste gebruike waaroor dit gaan. Dit het nie nou eers tussen Christene ’n probleem geword nie, maar alreeds ver terug in die geskiedenis. Daar was waarskynlik deur al die eeue sedert Christus se koms Christene wat geglo het die Sabbat moet nog net soos in die tyd van die Ou Testament onderhou word.

      Wat beweeg hulle tot hierdie oortuiging?

      Kom ons kyk eers wat ons oor die Sabbat in die Bybel het.

      2.1 DIE OU TESTAMENT

      Die Sabbat is ’n belangrike saak in die verhouding van die Here met Israel. Dit word in die eerste skeppingsverhaal vermeld (Gen 2:2-3) en kom dan tydens die uittog na vore as een van die tien gebooie. Interessant genoeg is daar geen teken dat dit vroeër deur die aartsvaders onderhou is nie. Eers tydens die uittog uit Egipte (Eksodus en Levitikus) kom die Sabbat na vore.

      Ons kry die eerste verwysing na die Sabbat tydens die uittog, toe die Here vir die volk manna gegee het. Hulle is verbied om dit op die Sabbat op te tel. Hulle moes rus en só die dag aan die Here wy (Eks 16:22-30). Daarna kom die tien gebooie. Ook hier is daar net die verpligting om op die Sabbat te rus (Eks 20:8-10). Dit word dan ook ’n “rusdag” genoem. Die laaste deel van die opdragte van die Here op die berg aan Moses handel ook oor die Sabbat, en lê nog eens net die verpligting op om te rus en só die dag aan die Here te wy (Eks 31:12-17). In hierdie deel word dit selfs ’n teken tussen die Here en die Israeliete genoem.

      Later kom daar dan ’n paar bepalings by van dit wat gedoen mag word, en dit wat nie gedoen mag word nie:

      •geen vuur maak (Eks 35:3);

      •’n gewyde byeenkoms hou (Lev 23:3);

      •priesters moes elke Sabbat nuwe brood “in die heiligdom” voor die Here neersit (Lev 24:8); en

      •elke Sabbat moes daar ekstra offers aan die Here gebring word (Num 28:9-10).

      Die eerste oortreding op die Sabbat wat vermeld word, waar iemand hout bymekaar gemaak het, is met die dood gestraf (Num 15:32-36).

      In die historiese boeke (Josua tot Kronieke) is daar min verwysings na die Sabbat, eintlik net ’n paar in 2 Konings en in Kronieke.

      Ook in die profete het ons min verwysings na die Sabbat.

      Jesaja In Jesaja is daar drie verwysings.

      •Eers is daar ’n seënspreuk oor almal wat die Sabbat hou, en dan spesifiek oor alle ontmandes en mense uit ander volke wat hulle bekeer en die Sabbat getrou hou (Jes 56:2-7).

      •Dan is daar nog ’n seënspreuk oor almal wat die Sabbat getrou hou (Jes 58:13-14). Soos later in Nehemia word veral verwys na die sonde van handeldryf op die Sabbat.

      •En in Jesaja 66:23 sê die Here dat alle mense op die nuwe aarde elke nuwemaansfees en elke Sabbat in aanbidding voor Hom sal buig.

      Jeremia In Jeremia is daar net een verwysing na die Sabbat. Dis ’n baie sterk seënspreuk oor almal wat die Sabbat getrou hou deur geen werk te doen nie, en ook ’n erge vloek oor almal wat nie die Sabbat hou nie (Jer 17:19-27).

      Esegiël Ook in Esegiël is daar net een verwysing. Wanneer die toekomstige tempel na die ballingskap herbou is, moet die Oos-poort net op die Sabbat en op die nuwemaansfeeste oop wees. Verder word die offer voorgeskryf wat “die regeerder” op die Sabbat vir die Here moet aanbied, en voorskrifte word gegee vir vrywillige offers wat hy moet bring soos dié wat hy op die Sabbat bring (Eseg 46:2,4,12).

      Amos Onder die klein profete is daar net in Amos 8:5 ’n verwysing na die Sabbat wat skynbaar net uit dwang gehou is.

      Eers ná die terugtog uit die ballingskap kom die Sabbat weer onder Nehemia sterker na vore. Tydens ’n dag van berou deur die hele volk verwys die Leviete na die Sabbat wat die Here deur Moses aan hulle gegee het (Neh 9:14). Nehemia verbied kort daarna alle handel in Jerusalem op die Sabbat, en neem sterk maatreëls om die verbod af te dwing (Neh 13:15-22).

      Dis wat ons oor die Sabbat in die Ou Testament kry. Wat beteken dit?

      Volgens die Ou Testament is die Sabbat dus ‘n dag:

      •van rus;

      •wat aan die Here gewy moet word;

      •waarop bepaalde offers gebring moet word;

      •waarop ’n gewyde byeenkoms gehou moet word; en

      •waarop die priesters sekere verantwoordelikhede het.

      In die geheel is daar dus opvallend min verwysings na die Sabbat in die Ou Testament, maar dié wat daar wel is, beklemtoon die feit dat dit ’n baie belangrike saak was.

      2.2 DIE NUWE TESTAMENT

      Daar is baie meer verwysings na die Sabbat in die Nuwe Testament as in die Ou Testament. Hierdie verwysings is beperk tot die Evangelies en Handelinge met net een uitsondering: die negatiewe verwysing in Kolossense 2:16.

      Die Evangelies Die meeste verwysings in die Evangelies is oor Jesus se optrede.

      •Daar is “onskuldige” insidente soos wanneer Jesus wonderwerke doen met positiewe reaksie by die skare (Mark 1:21-28 en Luk 4:31-37).

      •Daar is ander insidente waar die skare negatief reageer, maar sonder dat die negatiwiteit