“My ma sê sy wil ‘grondlangs ry’, sy wil veld en berge om haar sien, sy was jare lank net in kamers ingehok saam met my pa. Sy wil gaan, maar sy wil ook selfstandig wees. Sy’s nie een wat op vreemde mense wil staatmaak om haar te karwei nie. Ek kan haar nie self vat nie. Ek moet terug Londen toe. Buitendien, ek bestuur deesdae nie ver nie. Ek het probleme met my periferiese visie.”
“Ag nee!” Dis te laat om die sorgsaamheid in haar stemtoon te keer, dit het verby die versperrings van tyd en versigtigheid gewel. “Wie kyk daarna?”
“Ek’s by ’n goeie spesialis in Londen.”
“Dis goed. Wat wil jy my eintlik vra? Dat ek jou ma Kaap toe neem?”
“Ja, maar nie met jou motor nie, met hare. Dis ’n vyftien jaar oud Mercedes, maar dit makeer niks, dis min gebruik, it’s as dependable as a tank. Dit staan by hul vorige bure, my ma huur ’n garage by hulle. Die buurman kyk so nou en dan of die kar nog vat en so aan. Dalk doen hy nou en dan ’n bietjie meer daarmee as om net om die blok te ry, who knows. Ek sal dit natuurlik eers ordentlik laat diens.”
“Jou ma wil nie hê ander mense moet haar rondry nie, nou vra jy mý? Wat sal sy daarvan sê?”
“Op ’n manier was dit haar idee. Sy wás van plan om op eie houtjie te gaan. Sy’s oud, sy’t hartversaking, sy moes al jare gelede ophou bestuur het, maar sy glo vas sy kan nog daardie motor gaan uittrek en Kaap toe ry. Ek het rede by haar probeer inpraat, en op die ou end het sy besef sy kan dit nie alleen doen nie. Toe kom sy daarmee …”
“As jy rondvra, sal jy vir haar ’n bestuurder kan kry.”
“As dit net was vir in Pretoria rondry, ja. Dis nie die antwoord op wat sy nou wil doen nie. Sy’t pas haar man verloor, sy moet dít nog verteer. Eintlik hoort sy eers net te bly waar sy is, maar as sy nou wíl wat sy wil, moet sy ondersteuning hê. My ma het iemand nodig wat ’n oog op haar medikasie en gesondheid kan hou.”
Lana luister na sy oorredende stem. Hy het strenger geword as vroeër, ’n bietjie formeler. Moeër. Sy soek sy droë humor wat haar destyds so maklik laat lag het. Tog het sy presies dieselfde ervaring as toe sy hom die dag ontmoet het. Ewe sterk; na twee dekades as ’t ware opgewek uit die dood.
Toe Vlok hom op daardie winteraand saamgebring het huis toe, het sy hulle by die kombuis hoor inkom en van die stoof af omgedraai. “Lana, dis Konrad Nichols,” het Vlok gesê en sy het outomaties haar hand aan haar voorskoot afgevee voor sy dit na hom uitgesteek het, en toe Konrad dit vat, was die gewaarwording reeds daar, amper oorweldigend: Ek kén jou.
Wát bepaal dié soort affiniteit tussen mense? Dis sekerlik tog nie net verbeelding nie. Waaruit bestaan die seine wat die een uitstuur, hoe vang die ander dit op? Is dit ’n gekondisioneerde reaksie wat deur hormone bepaal word? Of deur geur – feromone? Is dit die produk van klank, van reuk, van temperatuur, van elektrisiteit – breingolwe dus? En is dit altyd tweerigtingverkeer? Sy het al iets vergelykbaars met vroue ervaar: van jou sou ek meer wou sien; as daar die geleentheid was, sou ons vriendinne kon wees.
Hoe vreemd, dink sy, dat sy hierdie instinktiewe aanvoeling nie net vir Konrad gehad het nie, maar vir sowel Ribar as Therese Nicolić. In Ribar se geval sonder dat ’n enkele gesprek met hom ooit moontlik was. Is dit net voorkoms? Sou erflike eienskappe ’n rol speel in dié soort herkenning? Is ’n mens geneties bestem vir sekere verhoudings?
“Sal jy dit oorweeg?” vra Konrad.
Haar gedagtes het so ver geloop dat sy ’n oomblik lank nie weet waarvan hy praat nie.
“My ma dink baie van jou, sy vertrou jou. Jy sal dalk ook kan help sorg dat sy nie daar by my suster-hulle in ’n emosionele draaikolk beland nie. Daarvoor is ’n kalm mens soos jy nodig, een met insig en common sense.”
Hy laat haar so prosaïes klink. “Ek dink nie ek moet my daarvoor inlaat nie, Konrad.”
“Ek weet dis baie gevra. Jy’t heeldag met verswakte oumense te doen. As jy vakansie hou, het jy seker nodig om jongmense soos jyself te sien.”
Don’t sweet talk me, dink sy. Tog glimlag sy skewerig vir die “jong”. Haar glimlag word nog wranger, want sy sien haarself asof van buite, besig met die vakansietaak wat sy eintlik beplan het. Sy staan in haar garage tussen swartsakke. Na watter liefdadigheid met die nagrokke, handsakke, skoene, klerehangers, ekstragroot wit bra’s, frokkies, die wye, geblomde oorhemde?
Dis of Konrad aanvoel sy kan moontlik toegee, hy raak meer oorredend. “Ek verwag nie jy moet dit verniet doen nie. Ek sal jou vergoed. Ek weet ek verdien nie ’n guns nie.”
Dalk kom haar antwoord te vinnig: “As ek dit doen, is dit as ’n guns vir háár.”
Hy raak stil, sy weet sy het hom te na gekom. “Daar’s net nog iets,” sê hy toe. Hy huiwer, druk toe deur. “Wat jy ook al besluit. Dis dalk beter om haar nie te sê ons ken mekaar van vroeër nie.”
“Ek kan nie dink hoekom ek sou wil nie, maar dis nie die punt nie. Hoekom nie?”
“Dis net … dat sy nogal partydig vir Phine was toe ons destyds geskei is. Dit kan jou en haar verhouding beïnvloed. Maar ek moes nie eens gevra het nie. Jy van alle mense verstaan die verskil tussen wat oop kan wees en …” hy soek die woord “… en privacy.”
Lana wil stilbly, maar sy kan nie, sy word deur welsprekendheid getref. “Ja, ek verstaan die verskil. Maar weet jy wat, daar’s nóg ’n verskil ter sprake. Privaatheid en dinge geheim hou is ook weer twee verskillende goed. Secrecy … Daar was so ’n fliek van Mike Leigh – het jy dit gesien? Secrets and lies. Dis oor wat geheimhouding aan mense doen. Aan families doen. Natuurlik het mense die reg op privaatheid! Daar’s biljoene van ons in die wêreld, ons klim oor mekaar soos sywurms in ’n boks, elkeen móét ’n plek hê waar ander nie kan inkyk nie. ’n Stukkie skaduwee oor jou kop sodat jy nie vergaan van al die lig wat op jou skyn nie. Maar geheimhouding is iets anders. Ek het swaar gekry daaronder, ek het nie baie geduld daarmee nie.”
“Dreig jy om haar juis te vertel?”
“Natuurlik dreig ek nie! Ek sal nie vir die grap my of jou of énigiemand se geheime uitlap nie. Ek’s juis ’n privaat soort mens. Maar partykeer is geheime soos swere wat maar liewer oopgesteek moet word.”
“En party is rowe wat eers moet droog word en afval. ’n Mens moet nie te gou daaraan begin krap nie.”
Is twintig jaar dan te gou? dink sy.
Daar is ’n stilte. Toe sê hy: “Dit voel asof daar geen tyd verbygegaan het nie.”
Nee, daar het baie dinge gebeur. Tog verstaan sy presies wat hy bedoel. Sonder dat ’n ratjie geknars het, seepglad, kommunikeer hulle soos tóé. Hulle wissel nie net woorde nie. Hulle voer ’n gesprek.
Hoe het sy hom nie gemis nie. Hoe wens sy hy het nie weer oor haar pad gekom nie.
“Hoe gaan dit met Vlok?” wil hy weet. Die onvermydelike, sosiaal verpligte vraag.
“Goed, dankie.” Beskerm sy haar privaatheid of is dit uit geheimhouding dat sy niks meer as dit sê nie? Dis oneerlikheid, weet sy. Dus dwing sy haarself ’n entjie verder: “Sover ek weet. Ek sien hom nie. Ons is nie meer by mekaar nie.”
“Hoe lank al?”
Sy hoef ook nie alles te vertel nie. “Lankal.”
Sy merk dat hy nie noem dat hy ook geskei is nie. “Weer geskei,” het Therese gesê toe sy daarna verwys het. Weerskante van hulle strek ’n niemandsland. Moerasgebied en woestyne. Die lokvalle van ongevoerde en onvoerbare gesprekke. Sover dan ook wat eerlikheid en openlikheid betref, dink sy.
Sy weet wat sy volgende vraag sal wees. En hier kom dit: “Jy het ’n gesin?”
Sy weet hy dink aan die laaste keer dat hulle mekaar gesien het. “Ons het ’n kind verloor.”
Hy