Sy oë is met finaliteit toe, sy mond effens oop. Sy bene is reguit gestrek, sy hande lê oorkruis op sy bors asof hy ander die moeite wou spaar om hom uit te lê.
Sy leun oor die opgeklapte tralies van die hoë hospitaalbed om heeltemal seker te maak. Sy luister. Lig die skeletagtige arm van sy bors om ’n polsslag te probeer kry. Sy hand is nog warm, maar heeltemal passief, die mou van sy bruin-en-wit gestreepte pajamas gly terug. Teen sy keel vind haar vingers geen klopping nie. Sy trek saggies die laken oor die gebeitelde gesig waar die grouheid van die dood reeds begin oorneem het. Sy gaan uit en maak die kamerdeur agter haar toe, bly ’n rukkie met haar rug daarteen staan.
Heel eerste moet Cornelia, die matrone van die aftree-oord, weet wat gebeur het sodat sy die nuus aan mevrou Nicolić kan oordra. Lana sal in die lêer kyk en die aangewese dokter en begrafnisondernemer bel. Daarna moet hy gewas en gereed gemaak word om weggeneem te word.
Sy wonder oor sy familie. Sy verstaan hy het kinders, maar sy het hulle nog nooit gesien nie en hul telefoonnommers is nie in sy lêer nie. Mevrou N woon nog – Lana, wat nie vir die dood bang is nie, skram nie weg van wat die woordjie “nog” omtrent verganklikheid sê nie – mevrou N lewe nog en woon in die tweekamerwoonstel op die grondverdieping, langs die hysbak waar sy ingetrek het nadat haar man se tweede beroerte hulle agt maande gelede gedwing het om hul huis te verkoop en hom te laat opneem in die kliniek. Meestal is dit die onuitroeibare vrouens wat alleen stokoud word nadat hulle in hul sestig- of sewentigerjare hul mans begrawe het. Dis selde die man wat oorbly. Maar af en toe haak ’n egpaar by mekaar in en durf saam die gryse vertes aan. John Anderson, my jo, John, we clamb the hill thegither …
Mevrou N het klokslag tienuur soggens by die kliniek aangemeld en die grootste deel van die dag by haar man deurgebring. Geklee in toeryg-loopskoene en kouse, ’n donkerblou baadjiepak met die opgestopte skouers van jare gelede en ’n markasietborsspeldjie op die lapel, ’n wit of roomkleurige bloese. Altyd dieselfde swaar silwerketting met die medaljon daaraan om haar nek, ringe aan haar geknotte vingers. Haar hare onberispelik gekam en vasgevat in ’n vals bolla ’n paar skakerings donkerder as haar witgrys hare, die vlekkies op haar gesig met onderlaag bedek, die oë omlyn, die mond ingekleur. Jaar na jaar moet die regmaakproses langer geduur het.
Waarmee sou haar gedagtes deur die lang ure in sy kamer besig gewees het? Sy het nie sit en lees nie. Hulle kon nie praat nie. Lana het soms haar stem gehoor, maar hoe bevredigend kan ’n monoloog wees? Dis onseker hoeveel meneer N verstaan het van wat vir hom gesê is. Selfs wanneer die verpleegsters hom in sy stoel laat sit het, vasgemaak sodat hy nie vorentoe kon gly of omval nie, het hy ingesluimer. Tienuur het sy vrou hom sy tee uit ’n tuitbekertjie laat drink voordat sy haar eie in ’n koppie geskink het. Middagete het sy hom self gevoer. Haar bord kos het op ’n skinkbord van die aftree-oord se kombuis gekom en koud geword terwyl hy klaar geëet het. Smiddags het sy ’n uur of wat in haar woonstel gaan rus, maar voor sy aandete om vyfuur aangekom het, was sy terug om weer te help, en sy het gebly tot die verpleegster twee uur later aan die deur geklop het vir sy slaaptyd-rituele.
En daarna? Lana het ’n roman van Muriel Spark gelees waarin ’n karakter eenvoudig ophou bestaan wanneer haar deur toegaan. Maar mevrou N moet ’n bestaan en ’n eie denkwêreld hê. Dit word gewaarborg deur die skerpheid van haar blik, haar vasberadenheid wanneer dit af en toe by kritiek op die kliniek se versorging van haar man kom, die beleefdheid en sekerheid waarmee sy die afstand tussen haar en ander bewaar. Formeel en privaat, so dink Lana aan haar. Intelligent. ’n Bietjie eksoties.
Pas na die sterftesertifikaat geteken is, kom mevrou N aan die arm van die matrone daar aan. Lana het haar nog nooit so gesien nie. Sy dra ’n lang blou kamerjas en skaapvelpantoffels, haar gesig is naak, vol ouderdomsvlekke, die hare sonder die vals bolla is yl en verslaap. Sy sou haar nie vrywillig só aan die buitewêreld blootgestel het nie, die matrone moet verduidelik het daar is nie tyd as sy haar man nog wou sien voor die ondernemers hom kom weghaal nie. Want so is die kliniek se reëling. Die afhandelproses moet voortgaan, die beleid is om nie te wag op familie wat ’n bietjie ver woon nie. Selfs nie eens as hulle van Johannesburg of Bronkhorstspruit moet kom nie.
Al moet mevrou N noodwendig besef het dat ’n bedlêende man van in die negentig nie vir altyd kon lewe nie, ly sy sigbaar aan skok. Maar waar hulle drie vroue nou langs meneer Nicolić se bed staan, het sy haar arm van dié van die matrone losgemaak: “Ek wil hom sien.”
Lana vou die laken terug. “Hoe stil is ’n dooie,” het die seun van ’n gestorwe pasiënt eendag saggies gesê. “Stiller as ’n vloer.”
Mevrou N het op die stoel langs die bed gaan sit. Sy kyk op en knik haar kop. “Dankie,” sê sy. Die ander twee is ontslaan.
Vanaf die dienstoonbank hou Lana die toe deur dop. Na ’n ruk vra sy ’n hulpverpleegster om tee te maak. Sy neem dit by haar, gaan klop aan, sit die skinkbordjie op die dienstrollie in die hoek van die kamer neer, skink. “Suiker?” vra sy die vrou wat steeds roerloos en met droë oë langs haar man se liggaam sit. “Melk?” En toe, troostend: “Kom, drink dit maar. Dis lekker warm.”
Die koppie bewe in mevrou N se hande, die tee stort oor die rand. Mondjievol vir mondjievol sluk sy dit. “Wat nou?” vra sy toe. “Wat gebeur nou?”
Soos altyd ruk die vraag Lana aan die hart. Die “wat nou?” na ’n dood.
“Ek gaan Mevrou terugneem woonstel toe. Ons moet nog ’n paar goed doen voor die ondernemers u man se liggaam kom haal.”
“Ek sal hom nie weer sien nie?”
“Nie hier nie, nee. Miskien later, by die ondernemers, as u sou wil.”
“Ek sal bly.”
“Liewer nie …”
“Hoekom mag ek nie? Ek moet jou vertel dat dit nie vir my ’n vreemde taak is. Ek self het lyke uitgelê.”
Lana stry nie verder nie. Sy gaan haal ’n verpleegster, en saam met haar doen sy nou wat sy meestal aan ander oorlaat. Terwyl mevrou Nicolić sit en kyk, was hulle haar man, vervang sy nagklere, lê sy lang bene reguit neer, sit sy gebit in sy mond, stut sy kaak, neem eindelik sy twee hande, lig sy arms met ’n geoefende gebaar en laat hulle sak sodat sy hande weer oor sy bors gevou is. Nie te lank gelede nie was Lana ontroer deur dié klein handeling in ’n Japanse kunsfilm oor die seremoniële gereedmaak van gestorwenes vir hul laaste reis. Dis met dieselfde sensitiwiteit en respek waarmee sy meneer Nicolić vandag vir oulaas aanraak.
Eers nadat die begrafnisondernemers gekom het, neem sy mevrou N terug na haar woonstel toe. Hulle stap ingehaak verby oop deure en toe deure, stadig met die blinkgepoleerde gang langs tot by die hysbak. Lana voel die ontoeskietlike strakheid in die ander vrou se lyf, ook die trilling van haar spanning. By haar voordeur laat sy Lana se arm los, maar die sleutel kletter teen die sleutelgat; Lana moet dit by haar neem en oopsluit.
Lana ken die uitleg van die eenderse woonstelletjies op die grondverdieping goed. Die slaapkamer en klein badkamer, die beknopte woonvertrek met ’n traliedeur na die tuin, die kombuistoonbankie teen ’n muur. Elkeen gee ’n eie kleur daaraan. Dit interesseer haar altyd wát dit is wat mense in die aflêproses van “kleiner gaan” nie kon verdra om agter te laat nie. Die woonkamer word oorheers deur ’n swaar Europese kas en ’n groot boekrak. Die onderste rak is styf gepak met langspeelplate, op die boonste gloei ’n klein versameling handgemaakte glaswerk granaatrooi en smaraggroen en kobaltblou. Onbekende kunswerke verdring mekaar teen die muur. Die plek trek Lana aan, maar tog ontsenu ’n andersheid haar, dit verteenwoordig ’n binnelewe wat sy nie herken nie. Sy sou graag voor die skilderye en etse wou staan en probeer ontsyfer wie regtig hier woon. Sy sou wou weet watter musiek in die rak is en sy sou die rûe