Die volgende dag sit Lana in die Katolieke kerkie met sy houtpaneelwerk, ’n inherent waardige en vredige plek. Om haar is die sagte geruis van stemme, sy herken ’n paar mense van gister. By haar is een van die twee verpleegsters wat meneer Nicolić help verpleeg het; twee banke voor hulle sit Cornelia, opvallend in haar rooi viltbaret. Lana neem een van die gebedeboeke uit die rakkie aan die bankrug voor haar om die liturgie van die begrafnismis op te soek, en kyk eers op toe twee mense in die paadjie by haar verbykom. Sy sien eerste vir Therese, weer in pikswart geklee, ontroerend tenger in kontras met die man in die donkergrys broek en die blouerige tweedbaadjie langs haar. Dit moet dan die seun uit Londen wees. ’n Lang, benerige man, met ’n effens ongekoördineerde manier van beweeg, wat só bekend is dat sy oombliklik naar en lighoofdig van skrik raak.
Nee, dink sy, nee, wag eers, hierdie keer is dit onmoontlik. Hoe dikwels het sy nie al gedink sy herken hom iewers nie. Elke keer was sy verkeerd. Elke keer was sy skaam oor nóg ’n bewys van haar kwetsbaarheid en dwaasheid. Sy kyk die twee agterna, sien dat die man se baadjie oor sy rug span, dat die hare op sy kroontjie ’n bietjie dun begin raak. Hulle het gaan staan, hy wag dat Therese by die tweede bank van voor inskuif. Nou sien sy sy profiel: die goedgevormde kop, die donker, spikkelgrys hare wat oor sy voorkop val, sy geboë neus, die lyn van sy lippe.
Sy het ’n antwoord op die vraag waarom meneer Nicolić haar so aangegryp het. Hy het haar aan hierdie man herinner.
Dit ís Konrad Nichols. Twintig jaar later. Maar steeds Konrad.
Wat maak hy hier, asof hy ’n lid van die familie is?
Hy is ’n lid van die familie.
Nicolić. Nichols.
Sy het gedink hulle het nie vir mekaar geheime gehad nie. Sy was verkeerd.
Van die diens hoor sy niks nie. Veronica, die verpleegster wat langs haar sit, is Katoliek en sy doen kundig mee. Lana staan, sit, kniel soos die ander op een van die blou fluweelkussinkies voor haar. Die oop gebedeboek is in haar hand, maar sy word nie deel van die rafelrige spreekkoor wat op die priester se woorde antwoord nie. Sy sing nie saam nie. Sy kom eers behoorlik tuis in die werklikheid toe Konrad opstaan om een van die voorlesings te doen.
Hy staan agter die mikrofoon, steeds ’n bietjie gebukkend asof hy sy lengte wil wegsteek, sku vir ’n skare soos altyd maar. Hy praat Engels – goeie, Britse Engels. Sy pa was ’n besonderse mens, sê hy. Sy pa was iemand wie se bedoelings met ander altyd goed was, al kon jy soms sy oordeel bevraagteken. Iemand wat jy moes ag vir die manier waarop hy met verlies omgegaan het. Hy het verskeie kere in sy lewe alles verloor en weer nuut begin. Eerste gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Kroasië. Daarna toe hulle na Wes-Duitsland en toe na Engeland is. ’n Derde keer toe hy en sy vrou met skaars ’n tas klere elk na Suid-Afrika verhuis het, waar hulle na hierdie laaste reis ook van voor af moes begin. Daarom het hy sy leesstuk uit Openbaring gekies:
And I heard a great voice out of heaven saying, Behold, the tabernacle of God is with men, and he will dwell with them, and they shall be his people, and God himself shall be with them and be their God. And God shall wipe away all tears from their eyes; and there shall be no more death, neither sorrow, nor crying, neither shall there be any more pain: for the former things are passed away. And he that sat upon the throne said, Behold, I make all things new.
Toe sy voor die aftree-oord stilhou, voel Lana steeds ontsteld en half duiselig. Sy gaan direk na die kliniek, waar ’n krisis opgeduik het – ’n operasiepasiënt wat daar aansterk, het akute asemnood ontwikkel. Sy hoef dus geen verskoning uit te dink om aan die begrafnistee in die saal te ontsnap nie. Sy gaan haar gewone bekwame gang, gee bevele, laat die dokter kom en staan langs hom by die pasiënt se bed totdat hy gestabiliseer is en daar weer kleur in sy wange is. Haar eie onrus is nie sigbaar nie, maar sy voel steeds beroer, sy kom net nie tot verhaal nie. Sy het jare se oefening om Konrad uit haar gedagtes te weer. Vandag is dit onmoontlik. Sy onthou sy rug toe hy by haar verbygekom en vorentoe gestap het. Die kwesbaarste, mees ontblotende deel van ’n mens omdat jy dit nie self kan sien en jou nie kan beskerm teen wat dit van jou vertel nie. Onder die stof van sy baadjie was hý. Sy vel, waarvan sy die landkaart van spikkeltjies en klein bruin moesies eens uit haar kop geken het, die knobbeltjies van sy ruggraat, die riffels van sy ribbes. Sy asem.
’n Paar uur later praat sy oor die foon toe iemand aanklop. Sy kyk op, en Konrad staan in die halfoop deur. Omdat haar gedagtes nog sonder ophou met hom besig is, duur dit ’n oomblik voordat sy besef dat dit inderdaad hyself is, en sy skrik amper so groot soos in die kerk. Sy sit die gehoorbuis neer en kom onwillekeurig op haar voete. Hy het ingestap, hier is hy voor haar tafel. Daar is geen formules vir só ’n herontmoeting nie. Wat is die prosedure? ’n Handdruk? ’n Klein sosiale omhelsing, selfs? Maar hulle staan stil, som mekaar op, sien van naby wat die jare aan die ander een gedoen het. Sy is nou vyftig, hy ’n bietjie ouer. Hulle is aan aparte geskiedenisse onderwerp. Aan die verlies van illusies. Pyn, ja seker. Na haar ma se dood het Lana gedink sy is nou verskans teen die laaste ding wat haar nog kon kwets. Wat sy nooit weer wou hê nie, was om stom en weerloos voor Konrad te staan.
“Hallo, Lana.”
Sy gryp na ewe banale woorde: “Middag, Konrad. My simpatie met jou pa se dood.”
“Ek het jou in die kerk gesien. Toe ek inkom en verbyloop, dag ek daardie vrou sit soos jy. Jou skouers, jou kop. En toe ek voor staan, sien ek ek was reg. Kan jy dit glo dat ons mekaar só raakloop? Na al die tyd?”
Dat hy so normaal optree, ontsenu haar. Miskien is destyds se gebeure vir haar met te veel emosie beklee omdat sy ’n vrou is. Miskien kon hy dit soos ’n kort episode in sy lewe behandel. Twintig jaar is ’n lang tyd, hy het vergeet hoe dit tóé tussen hulle was, besluit sy. Dalk omdat hy wóú, dalk omdat hy móés. Terwyl sy nie vergeet het nie. En nie kan waag om dit te wys nie. Sy voel kwaad omdat hy haar dwing om oneerlik te wees. Dit bring ’n klein, afwysende frons tussen haar wenkbroue. Onbewus vou sy haar arms, baken sy haar persoonlike ruimte af. Daar val ’n stilte tussen hulle. Die ongemak daarvan is veiliger en ook eerliker as sy hartlikheid van netnou. Sy wag dat hy eerste praat, en dié keer struikel hy tog ’n bietjie oor sy woorde.
“Ek wou jou kom bedank vir … vir wat jy vir my ouers beteken het. Ek kom nou van my ma af en sy’t my vertel hoe goed jy vir my pa was. Net die beste aandag aan hom, altyd, sê sy. Ook aan haarself, na hy dood is. Sy waardeer dit baie. Het jy geweet dat …?”
Dat meneer N sy pa was, bedoel hy. Sy hou haar stem neutraal, sy wil nie hê hy moet énige emosie daarin lees nie, veral nie verwyt nie: “Nee, ek het nie. Jy’t nooit oor jou ouers gepraat nie. Jy’t my nie vertel wat jou eintlike van was nie.”
“My oorspronklike van. Ek sou daarby uitgekom het, Lana. As daar tyd was. En kans was. Ook by hoekom ek dit verander het. Die vreemde spelling en die uitspraak maak dit moeilik in Suid-Afrika …”
“Dit was die rede?”
“Hoofsaaklik.”
Sy wag.
“Ek wou nie uitstaan nie.” Hy verander die onderwerp. “Ek het nie net gekom om jou te bedank nie, daar is nog iets. Ek wil jou ’n groot guns vra.”
Hy het te vinnig beweeg van die weersien tot die vra van ’n guns. Sy dink hy voel dit self aan: “As jy dink dis aanmatigend, moet jy sê. Ek weet nie heeltemal hoe om dit aan te roer nie.”
Hulle staan nog altyd, sy vra hom nie om te sit nie. Sy hoor die dreuning van haar bloed in haar ore. “Sê maar reguit.”
“Ek verstaan van my ma jy kry binnekort verlof, maar jy’t nie planne om weg te gaan nie.”
“Ek het twee weke verpligte verlof. Ek bly hier, ja. Daar’s goed wat ek by my huis moet doen.”
“Die ding is … Luister, ek wil oop kaarte met jou speel. My ma wil my suster gaan opsoek. Sy woon op ’n plaas naby Clanwilliam. Hulle het lankal min kontak. Ek kan nie dink dat dit goed sal afloop nie, but I can’t stop her. Sy’s oud. Sy hou nie van vlieg nie, en dit pas haar ook nie. Sy wil vir ’n week soontoe, en sy wil per motor gaan, sy laat haar nie daarvan afbring nie.