“Het iemand al vir jóú gesê dat jy die grootste klomp onsin kan praat, Martin Niehaus?”
“Ek is ernstig. Regtigwaar, ek het al die hotelle op en om Nelspruit geskakel. Nie een het ’n mejuffrou Verster in hulle register gehad nie. Waar was jy?”
“In die hospitaal. Ek was in ’n ongeluk.”
“ ’n Wát?” vra Martin verbaas.
“Ek is deur ’n motor omgery.”
Martin se gesig is ’n studie van teenstrydige emosies. Dit lyk eers of hy Ila nie glo nie. Hy frons en lag effens, dog dit klink gedwonge en daar is ’n vreemd waaksame uitdrukking in sy oë.
“Ek hoop nie jy blameer mý daarvoor nie?”
“Hoe bedoel jy?”
“Ek is bang jy dink ek het iemand gehuur om jou om te ry.”
“Hoekom op aarde sou ek só dink?” vra Ila fronsend. Dit was mos bloot ’n ongeluk, te wyte aan die feit dat sy teen ’n rooi verkeerslig oor die straat gestap het. Of … of was dit nie?
Ila kyk ondersoekend na Martin se gesig om agter te kom of hy dalk ’n grap gemaak het.
“Vergeet dit,” sê Martin. “Ons kan nie die hele dag in die voorportaal staan nie. Kan ons op die stoep gaan sit?”
Martin steur hom nie aan Ila se teëstribbeling dat sy nie honger is nie. Hy lei haar na ’n hoektafeltjie op die stoep, plaas hulle bestelling by die kelner en wil dan weet: “Moet ek sjampanje ook bestel? Vier ons jou aanstelling as toerleidster by Panorama?”
“Ek het nie die werk gekry nie. Daar is nie op die oomblik ’n vakature nie en die volgende kursus vir toerleidsters word eers oor ses maande aangebied. Selfs aan tiksters en ontvangsdames het Panorama-toere ’n oorvloed.”
“Simpatie, astertjie. My medelye is egter nie opreg nie. Die feit dat jy werkloos sit, mag dalk ’n invloed hê op die voorstel wat ek aan jou wil doen.”
“Watse voorstel?”
Dit wil Martin egter nie sê nie. Later, belowe hy. Eers moet hulle rustig klaar eet. Hy wil ook eers vir Ila die geskiedenis van Rietendal, van Daniela en van oom Daniel Niehaus vertel, sodat sy hom nie dalk verkeerd verstaan en ’n ongunstige indruk van hom kry nie.
“Hoekom sal ek dalk nie van jou voorstel hou nie?” wil Ila weet.
“Jy mag dink ek is ongevoelig – of inhalig en geldgierig, selfs agterbaks en oneerlik. Maar na ek jou die hele storie vertel het, sal jy insien dat ons niemand daardeur skade sal aandoen nie. Inteendeel. Jy trek voordeel, ek trek voordeel. En so ’n toedrag van sake sal aan my stiefpa gemoedsrus verskaf gedurende sy laaste tydjie op aarde.”
“Ja ek het verneem jou vader is baie sieklik. Hoe gaan dit met hom?”
“Waar het jy gehoor die oukêrel is siek?”
Ila skrik. Versigtig, Elizabeth Verster, maan sy haarself. Jy was ingedagte en jy moes hom nie laat agterkom het dat jy navraag oor die Niehaus-gesin gedoen het nie.
“Ek kan nie onthou nie,” antwoord Ila ongeërg. “Ek dink dokter Retief het dit terloops gemeld.”
“Johan Retief? Ken jy hom?”
“Dis hy wat my omgery het en ek was sy pasiënt.”
Terwyl hulle eet, kom Ila agter dat Martin haar ongemerk dophou, asof hy hom nog steeds daarvan wil vergewis dat sy nie sy stiefsuster is wat ’n paar jaar ouer geword het en haar hare kort geknip het nie. Hy hou elke beweging van haar dop terwyl hy oor die weer gesels, oor haar eerste indrukke van Nelspruit en hoe dit met Johannesburg vergelyk.
“Jy kan dit nog steeds nie glo nie, nè?” vra Ila.
“Wat?”
“Die feit dat daar so ’n sterk ooreenkoms tussen my en jou suster is.”
“Ja, jy is reg. Sê my, Ila, het jy dalk Niehaus-familie?”
“Nie sover ek weet nie.”
“Wat was jou ma se nooiensvan?”
“Conradie.”
“En jou ouma s’n?”
“Lourens.”
“Oumagrootjie?”
“Ek weet nie. Al hierdie baie vrae … Wat probeer jy bewys?”
“Ek probeer vasstel of jy dalk verlangs familie van die Niehause is, om hierdie ongelooflike ooreenkoms te verklaar. Maar nee, ek weet nie van Conradie- of Lourens-familie nie. Wat is jou pa se doopname?”
“My pa is oorlede. Hy was Abraham – net die een naam. My oupa was Jan Petrus en ek dink my oupagrootjies was Abraham Christoffel.”
“En jou ouma en ma se doopname?”
“My arme ouma was met multilettergrepige name opgesaal. Gelukkig is ek nie na haar vernoem nie. Elizabeth Maria is al erg genoeg, maar kan jy glo dat ek amper Constantia Salmina geheet het? Ek sou tien dode gesterf het.”
“Constantia Salmina?” Martin sit effens vooroor op die stoel. “Is jy seker?”
“Natuurlik is ek seker. My hele lewe lank was ek dankbaar dat ek daardie pyniging gespaar is.”
“Ek dink ons het die oplossing.” Vir die eerste keer is dit asof Martin ontspan. Hy sit agteroor en steek ’n sigaret aan. “Constantia Salmina is tradisionele ou familiename. Eintlik Constant Salmon Daniel. Dis Daniela se pa se name, en dit kan ’n hele paar geslagte terug nagespoor word. Dit lyk my jy is ’n afstammeling van die oorspronklike ou Niehaus-stamvader, dié dat jy so sterk op die Niehause trek. Die vroumense is almal blond en tingerig gebou – soos jy. En soos Daniela en ’n paar niggies van haar.”
“Daniela … Die vroulike vorm van Daniel. Is sy ook met die res van die ellendige rits opgesaal?”
“Bitter teen haar sin, ja. Haar ma is met haar geboorte oorlede en sy kry toe die familiename omdat haar pa geglo het hy sou nooit ’n seun hê nie. Die oukêrel was destyds al so fanaties oor die kastige tradisie wat tot elke prys voortgedra moet word. Reeds geslagte lank boer daar ’n Constant Salmon Daniel Niehaus op Rietendal, en die ketting mag nie verbreek word nie.”
“Dis interessant. Ons Versters is nie familievas nie. Ek glo nie iemand het genoeg belangstelling gehad om ons oorspronklike stamvader na te vors nie. Ek glo ook nie iemand het juis gewonder waar daardie gruwels van Constantia Salmina vandaan kom nie.” Ila glimlag effens. “Dus is jy en ek eintlik ook verlangs familie.”
“Aangetroud. Ek is ’n Keller gebore. En dis waar die moeilikheid lê – by my uitlandse naam en van. Is jy klaar met jou koffie? Sal ek nou vir jou die hele lang geskiedenis vertel?”
“As dit so ’n lang storie gaan wees, sal jy my ’n oomblik moet verskoon,” sê Ila verleë. “Ek is binne vyf minute terug …”
Toe Ila van die kleedkamer af terugkom, sit Martin met ’n sigaret, roerloos en blykbaar diep ingedagte. Die slaai en broodrolletjie waarvoor sy nie kans gesien het nie, lê nog onaangeraak, en ook haar leë koffiekoppie en die halfvol asbakkie in die middel van die tafel. Maar Ila merk dadelik dat haar handsak nie meer in presies dieselfde posisie op die stoel tussen hare en Martin s’n lê nie. Dit lê nou meer dwars – asof dit opgetel en haastig weer neergesit is.
Ek is slimmer as jy, meneer Martin Niehaus, dink Ila. Ek het vir jou ’n strik gestel en jy het vierkantig daarin getrap. Terwyl ek in die kleedkamer voor die spieël rondgedrentel het, het jy in my handsak gekyk. Voel jy meer tevrede noudat jy daardie boek met Elizabeth Verster se naam op die titelbladsy gesien het, asook die beursie en die sigaretaansteker met die voorletters E.V. daarop?