Ila voel baie sleg omdat hy so kortaf was en so haastig weg is. Vanoggend op die stasie het sy gedink hy is ’n baie aangename persoon, maar sy het haar blykbaar met die jong man misgis. Dit lyk vir haar hy het ’n haastige humeur, en dis duidelik dat hy ’n renons in haar gekry het. Sy kan hom seker nie kwalik neem ná die moeite en beslommernis wat hy hom aangedoen het nie.
Eers noudat sy alleen is, sink dit behoorlik by Ila in dat sy deur ’n motor omgery is. Sy besef sy het lig daarvan afgekom. Sy beweeg haar ledemate een vir een en baie versigtig. Daardie kortgebakerde dokter met die swart hare was reg. Dit voel nie of daar gebreekte bene is nie. Sy trek die laken en komberse weg om na haar been en skouer te kyk. Die been is blou en opgehewe, maar daar is geen pyn nie. Dis seker die insluiting wat sy gekry het wat haar so lomerig laat voel, asof sy sweef en asof die bed nie op vaste grond staan nie. Sy is nog half deurmekaar. Sy wou vir die dokter gesê het haar naam is nie Elizabeth nie en gevra het of sy met ’n ambulans gebring is en hoe lank sy in die hospitaal moet bly. Daar was allerhande dinge wat sy wou weet, maar op daardie oomblik was dit vir haar belangriker om vas te stel waarom die man so briesend vir haar was en hom weer vriendelik te kry …
“Liewe land, Ila,” betig sy haarself hardop, “jy ken die man skaars. Jy weet nie eers wat sy naam is nie. Hoekom is dit so belangrik dat hy van jou moet hou?”
Ila moes ingesluimer het. Toe sy wakker skrik, is dit skemer buite en brand daar ’n nagliggie by haar bed. Sy voel nog steeds suf, en sy onthou die nare droom wat sy gehad het van ’n groot, swart motor wat haar wou omry terwyl sy op die rand van ’n steil afgrond gestaan het – ’n swart motor, nie ’n donkergroen Mercedes met daardie aantreklike dokter agter die stuurwiel nie. En daar was ’n slang ook iewers – ’n slang en ’n voetpaadjie en kranse. Dit het koue angssweet op haar hele lyf laat uitslaan. En terwyl sy vasgenael gestaan het tussen die aanstormende motor en die swart mamba, het sy duidelikheid gekry. Sy het geweet sy moes nie Nelspruit toe gekom het nie. Selfs noudat sy wakker is, is daardie besef nog steeds in haar onderbewussyn.
“A, ek sien ons is wakker.” ’n Verpleegster kom die kamer met ’n skinkbord tee en roosterbrood binne. “Voel jy beter, Elizabeth?”
As die bed net wou stilstaan … Is dit hoe dit voel om op ’n skip te wees – asof die vloer onder jou voete nooit horisontaal is nie, maar altyd kantel en draai?
“My naam is nie Elizabeth nie,” mompel Ila met ’n sleeptong en ’n kurkdroë keel.
“Dis die naam wat op jou tas gestaan het,” antwoord verpleegster Nel rustig, asof sy met ’n klein kindjie praat. “Op ’n brief en ’n boek ook wat in jou handsak was.” Sy sit die skinkbord op die bedkassie neer. “Wat is jou naam dan? Lizzie? Elize? Bettie?”
Die lomerigheid vervaag. Dit voel nie meer vir Ila asof haar brein uit watte bestaan nie, en sy kan weer logies dink.
“Ila,” sê sy met ’n helder stem, “my naam is Ila.”
“Elizabeth is so ’n mooi naam. Dis ’n sonde om dit met ’n bynaam af te kort. Kom, sit regop, dan drink jy jou tee.”
In ’n sittende posisie teen die kussings, en nadat sy tee gedrink en ’n halwe snytjie roosterbrood geëet het, voel Ila baie beter.
“Wanneer word ek uit die hospitaal ontslaan?” wil sy weet.
“Dokter Retief het gesê hopelik môreoggend, mits daar nie ander simptome opduik of jy aan vertraagde skokreaksie ly nie. Dokter het ook beveel ek moet ’n rukkie by jou sit. Jy sal nie omgee as ek my breiwerk uithaal nie, Ila?”
Retief … dink Ila. Dit pas by hom. Sy wonder wat sy voornaam is? Gerhard? Pieter? Wynand? In die skool het sy ’n Gerhard-ou geken wat ook so ’n mooi, wye mond met ’n kuiltjie in die sterk, vierkantige ken gehad het. Sy wonder of dokter Retief se naam dalk ook Gerhard of Gerrie of so iets is.
“Nee, brei gerus. Dis gaaf van jou om my geselskap te hou. Hoe laat is dit? My horlosie staan en dit voel vir my asof daar nie meer so iets soos tyd is nie.”
“Dis as gevolg van die inspuiting en omdat jy jou eers moet heroriënteer na die ongeluk. Dis amper sesuur.”
Ila gesels oor die een en ander, verneem of sy met ’n ambulans hospitaal toe gebring is en min of meer hoe lank dit sal duur voordat die onooglike persblou kneusmerke aan haar been en skouer sal begin weggaan. Dan wil sy weet: “Woon jy al lank op Nelspruit?”
“Net van die begin van die jaar af. Ek was eers op Witbank, maar my kêrel is in November hierheen verplaas. Ek moes agterna kom om ’n ogie oor hom te hou en hom daaraan te herinner om vir my verloofring te spaar.”
“Ken jy baie mense in die distrik?”
“Redelik.”
“Weet jy dalk van ’n meneer Niehaus wat op ’n plaas in hierdie omgewing boer?”
“Op Rietendal? Ja, almal ken ou oom Daniel Niehaus. Hy is glo skatryk, amper ’n miljoenêr. Rietendal is die spogplaas van die distrik. Maar oubaas Niehaus is ’n regte ou korrelkop – outokraties en seker een van die moeilikste pasiënte wat ek nog ooit gehad het. Hy is ook dokter Retief se pasiënt, maar die oubaas luister mos g’n na doktersbevele nie. Dis ’n ewige stryd om hom ’n pil te laat sluk, en dit kos mooipraat om hom ’n inspuiting te gee. Hy jaag gereeld die susters en verpleegsters uit sy kamer. Sê hy wil nie ’n spul vroumense om sy bed hê nie, ons is nes ’n klomp kloekende henne en hy makeer niks. Maar dis valse bravade. Die arme ou oom se gesondheid is in ’n treurige toestand.”
“Wat makeer hom?”
“Hart en hoë bloeddruk. Hy het koronêre trombose gehad en verlede jaar ’n tweede hartaanval. Dokter Retief sê ’n derde sal noodlottig wees. Hy is oud en sy gestel is uitgeput. Maar briek aandraai? Aikôna, nie daardie oubaas nie. Hy weier om die lewe gemakliker te neem, en as dokter Retief hom vermaan, sê hy hý weet beter wat sy toestand is – beter as ’n jong snuiter van ’n doktertjie wat nog op die skoolbanke hoort.” Verpleegster Ansie Nel giggel geamuseerd. “Om dit vir dokter Retief te sê … Johan Retief is seker so sewe- of agt-en-twintig – glad nie meer so ’n snuiter nie en ’n uitstekende chirurg, die beste wat hierdie hospitaal nog gehad het. Dink jy ook hy is absoluut beeldskoon?”
Ila het nie met aandag geluister nie. “Wie?” vra sy afgetrokke.
“Dokter Johan Retief. Hy kan enige tyd sy voete onder mý ontbyttafel instoot. Ek dink hy is die mooiste mansmens op die hele aarde. As hy net sy vingers klap, gooi ek my ou Sias oorboord, verloofring en al. Al die verpleegsters is dol oor dokter Retief, maar dit lyk nie of hy veel in meisies belangstel nie. Hy het nie eers ’n vaste nooi nie. Dink jy ook hy is ’n fantastiese ou, Ila?”
“Ek het nie juis opgelet nie,” ontwyk Ila die vraag.
Ansie is ongelowig. “Nie opgelet na daardie paar breë voorspelerskouers en die kuiltjie in sy ken nie? Jy is sieker as wat jy dink, of anders het jy ’n bril nodig.”
“Dis wat dokter Retief ook gesê het.” Ila glimlag effens. “Nee, nie omdat ek sy kuiltjie en sy ander deugde misgekyk het nie. Hy het na die rooi verkeerslig verwys wat ek nie raakgesien het nie. Hy wou weet of ek kleurblind is en hy was bitter kwaad.”
“Ja, hy is al van vanoggend af in ’n omgekrapte bui. Vanmôre, toe hy jou gebring het, moes ons net bontspring en regstaan met suurstof en die x-straalapparaat. Snaaks, dokter Johan is gewoonlik baie gemoedelik, altyd vrolik en nooit so onredelik nie. Hy het seker vanoggend met die verkeerde voet uit die bed geklim. Ek moet ook nie te lank by jou sit en gesels nie, anders sê hy dalk ek vermoei die pasiënt. Hy is baie besorg oor jou toestand. Hoe voel jy?”
“Moeg en nog effens lighoofdig.”
“Jy sal môre beter voel nadat jy rus gehad het. Suster sal jou ’n slaappilletjie gee.”
“Hoe laat sal ek ontslaan word?”
“As alles goed gaan en mits dokter Retief met jou vordering tevrede is, net na ontbyt. In die omgewing van nege-uur.”