Ettie Bierman
Die tuiskoms lê ver
Jasmyn
1
Toe die hooflyntrein op Nelspruit-stasie tot stilstand ruk, tel Ila haar tas op, maar sy is teësinnig om die bekende veiligheid van die kompartement te verlaat. Verlede nag, terwyl sy slapeloos by die venster gestaan het, was sy oortuig dis die regte besluit wat sy geneem het – om Nelspruit toe te kom. Noudat sy egter hier is, twyfel sy opnuut aan die wysheid van haar besluit. Moes sy nie liewer in Johannesburg gebly het nie? Daar het sy beskerm gevoel. Maar op hierdie oomblik voel sy baie verlore, onseker en bang – bang vir wat die toekoms mag inhou en baie lus om weer aan boord te wees wanneer hierdie trein netnou uit die stasie trek.
Haar hand klem stywer om die tas en sy haal diep asem om haar senuwees te kalmeer. Dan stap sy met die gang af en maak die deur aan die einde van die wa oop. Die oomblik toe sy op die perron afklim, weet Ila dis finaal. Nou kan sy nie meer omdraai nie.
“Kan ek help dra, juffie?” vra ’n vriendelike man. “Daardie tas is byna twee keer so groot soos jy – veels te swaar vir ’n fyn dametjie?”
Ila skud haar kop skamerig. “Dankie, meneer, ek sal regkom.”
Johan Retief aarsel. Dit lyk of die geringste windjie die skraal blondekoppie sal omwaai en die hartseer trek om die mooi mond raak onverwags ’n tere snaar in sy binneste aan. Dit lyk nie of hier iemand op die stasie is wat die meisie kom haal nie, en sy lyk onseker van haarself. Hy sou graag aanbied om haar op te laai, maar hy is bang dit klink voorbarig. Hy dring nie verder aan nie, knik net en volg die stroom mense na die uitgang aan die bopunt van die perron.
Ila kyk die hulpvaardige vreemdeling agterna, skielik jammer dat sy nie die aanbod van hulp aanvaar het nie. Haar tas is amper te swaar dat sy dit alleen kan dra. Sy het nog nie vas besluit wat sy gaan doen nie en …
“Daniela!”
Die geskokte uitroep kom van skuins agter haar. Ila ruk soos sy skrik. Die tas se handvatsel glip uit haar vingers en sy kyk verskrik om.
Dis ’n jong man wat na haar geroep het. Hy het breë skouers, donker hare en ’n paar half deurskynende blou oë. Onder normale omstandighede seker ’n aantreklike ou, behalwe dat hy op hierdie tydstip vyandiggesind en aggressief lyk, omtrent so vriendelik soos ’n groen mamba.
Ila se eerste gedagte is om aan te stap en voor te gee dat sy die uitroep nie gehoor het nie, dog die man pyl reguit op haar af. Sy het geen ander keuse as om te bly staan nie.
Hy steek twee tree van haar af vas, ’n eienaardige flikkering in die blou oë, en ’n gespanne spiertjie pluk aan sy mondhoek onderwyl hy haar ongelowig aanstaar. Dan trek hy sy asem skerp in.
“Daniela …” herhaal hy, hierdie keer sagter en met ’n vreemde ondertoon in sy stem. “So, ek het nie ’n fout gemaak nie. Dit is jy!”
Dis helder oordag en daar is ander mense om hulle op die stasie. Ila weet dis verspot om bang te wees, dog die onheilspellende klank in sy stem stuur ’n koue prikkeling langs haar ruggraat af en haar keel is meteens droog. Sy maak haar mond oop, dog sy kan geen woord uitkry nie.
Die man gee haar in elk geval nie kans om te praat nie. “Toe die trein ingetrek het, het ek jou by een van die vensters sien staan. In vyf jaar het jy nie veel verander nie, skatlam. Ek kon my oë nie glo nie, al het ek jou dadelik herken. Ek het jou gevolg om te sien wat jou plan is, maar toe jy met Johan praat, het ek eers gewag, want ek wou jou … alléén kry.”
Sy gesig is bleek en hy klink uitasem. Dis egter sy beklemtoning van die woord alléén wat Ila opnuut onrustig stem. Sy is skielik daarvan bewus dat hulle gevaarlik naby aan die rand van die perron staan en dat die trein besig is om uit te trek … Sy gee onwillekeurig ’n tree dieper in, weg van die treinwiele af wat al vinniger begin draai.
Die jong man moes die senuweeagtige beweging bemerk het. Daar is ’n flits van tevredenheid op sy gesig en sy mond vertrek in ’n glimlag.
Die feit dat hy sien sy is bang en dit blykbaar geniet, laat Ila haar regruk. Wie is hý om dreigend te wees en haar soos ’n lafaard te laat voel? dink sy wrewelrig. Dis die afgelope paar weke se gebeure wat haar moeg en oorspanne gelaat het – dit en die feit dat sy nie verlede nag kon slaap nie. Dis omdat sy omgekrap voel dat hierdie man haar so maklik ontsenu het.
Ila stoot haar skouers agteroor en haar ken lig uitdagend. “Iewers is ’n misverstand, meneer. Ek ken u van geen kant nie.” Sy is bly dat haar stem so kalm klink en dat sy haar hande in haar jassakke gesteek het sodat hy nie kan sien sy bewe nie.
“Hoekom het jy na vyf jaar eensklaps besluit om huis toe te kom?” gaan die man onaangenaam voort, asof hy haar nie gehoor het nie. “Sonder ’n woord, sonder om my of jou pa te laat weet … en wat is jou plan, skatlam? Doodluiters op die plaas aankom, jou tas uitpak en voortgaan asof daar geen onderbreking was nie? Wel, as dit jou plan is, kan ek hier en nou vir jou sê: Jy kan maar omdraai, weer op ’n trein klim en teruggaan na waar jy ook al vandaan gekom het. Die situasie het nie verander nie. Jou geheue is blykbaar kort, liefste. Het jy vergeet ek wil jou nie op Rietendal hê nie?”
“Dis gaaf. Want ék wil óók nie op Rietendal – waar of wat dit ook al is – wees nie. Het jy nie gehoor wat ek sê nie, meneer? Jy maak ’n fout. Jy sien my vir iemand anders aan. Dis ’n misverstand.”
“ ’n Fout? Ek sien jou vir iemand anders aan …” herhaal hy sarkasties. “Jy onderskat my, sussie. Jy het tog nie regtig gedink ek sal dié verskoning glo nie?”
Die skok en die hartseer van die afgelope twee weke, asook die omwenteling wat die tragiese dood van haar werkgeefster in haar lewe teweeggebring het, het ’n hoë tol van Ila se senuwees geëis. Sy is moeg en oorspanne en vererg haar vir die man se houding.
“Vir die tweede keer, ek is nié hierdie Daniela-meisie vir wie jy my blykbaar aansien nie. Ek ken jou van geen kant nie.”
Dis asof Ila se woorde nou eers tot die jong man deurdring. Hy frons. Sy oë vernou en hy kyk vinnig na haar. Hy antwoord nie dadelik nie, maar Ila sien die vlugtige trek van onsekerheid op sy gesig. Toe hy egter praat, is hy nog net so aggressief soos voorheen.
“Wie probeer jy mislei? Wil jy voorgee jy herken my nie? Of het ék dalk in vyf jaar baie verander? Om jou geheue te verfris – ek is Martin Niehaus, jou stiefbroer vir wie jy … e … so besonder lief was, saam met wie jy altyd so graag gaan … bergklim het.”
Ila het tyd gehad om haar selfvertroue te herwin. Daardie vlugtige flits van onsekerheid op sy gesig het haar gevoel van senuweeagtigheid laat verdwyn. Sy voel dat sy op hierdie oomblik die hef in die hand het en haar moet laat geld.
“Ek sal nie sê aangename kennis nie, meneer Niehaus,” sê sy koel, “want die ontmoeting was beslis nie aangenaam nie. Ek hoop ook dit word nie in die nabye toekoms herhaal nie. As u my sal verskoon …?”
“Nee . . wag net ’n oomblik. Luister, as jy … as jy reg is, is ek vreeslik jammer oor die misverstand. As ek ’n fout gemaak het, skuld ek jou ’n verskoning. Maar … maar eerlikwaar … jy is die ewebeeld van my stiefsuster. Jy is Daniela uitgeknip …”
Martin Niehaus klink oorbluf. Sy gestamelde verskoning klink nie oortuigend nie. Hy staan ook nie opsy om Ila verby te laat gaan nie. Hy steek sy hand uit om te keer dat sy wegstap.
“Blote toeval,” sê Ila kortaf en skud sy hand van haar af. Die arm sak stadig tot langs Martin se sy. Dan steek hy vinnig sy hand uit en haal die donkerbril van haar oë af.
Van die min slaap verlede nag is Ila se oë branderig. Die lig is skerp, maar sy draai nie haar gesig weg nie. Sy hou haar kop regop en staar Martin Niehaus kalm aan.
“Tevrede?”
Dis duidelik dat die jong man die kluts kwyt is. Die spiertjie pluk nog steeds aan sy mondhoek en ondanks die verskoning staar hy Ila onseker aan, asof hy nog steeds dink sy probeer bluf.
“Dis ongelooflik. Selfs jou oë … Daniela s’n was ook groen – groen met bruin kolletjies aan die binnekant van die iris.”
“Dis nie ’n