Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316363
Скачать книгу
vrygelaat te kry.”

      “Dít het ek nie geweet nie.”

      “Dit was voor jou tyd.”

      “Met so ’n agtergrond is dit dus nie ’n ‘gewone’ terroristeaanval nie?”

      “Beslis nie! Gewoonlik maak selfmoordbomplanters almal voor die voet dood en sterf dan self. Maar hierdie aanvaller het duidelik sekere studente gejag en geskiet. Jy’t mos gehoor die TV-aanbieder sê hy het boonop elk van sy slagoffers ’n ekstra kopskoot gegee om seker te maak hulle is dood …” Haar stem breek en sy laat haar gesig in haar hande sak. “Ek kan nie daarna kyk nie.”

      “Dis verskriklik!”

      Tog bly hulle tot laatnag vasgevang voor die televisie sit. Al meer besonderhede kom in die nagtelike ure aan die lig. Dis die ernstigste terroristeaanval in Jerusalem die afgelope vier jaar. Die afgelope twee jaar het Shin Bet ’n besonder effektiewe verdedigingstelsel ingestel en daarin geslaag om elke Palestynse terroristeaanval in Israel te dwarsboom.

      TV-kommentators wys daarop dat daar egter met hierdie episode ’n bres geslaan is in Shin Bet se verdedigingstelsel deur ’n Arabier wat nie “van buite af” ingekom het nie, maar wat ín suidoos-Jerusalem gewoon en Israeliese persoonsdokumente gehad het. Hy het voorheen as ’n busbestuurder by die betrokke yeshiva gewerk. Hy het dus die hele veiligheidstelsel goed geken. Die yeshiva self het ook die reëls oortree, want daar was nie ’n veiligheidswag by die ingang aan diens nie. ’n Paar studente het skote gehoor, maar aanvanklik gedink dit is klappers van ’n partytjie in die omgewing. “Dis immers Purim en daar’s oral vrolikheid aan die gang,” verduidelik een kommentator. Dit blyk dat daar gewoonlik honderde studente in die studiesaal studeer, maar dat daar net tagtig van hulle vir dié Donderdagaand se viering van Rosh hodesh was. Tien persent van hulle het gesterf.

      Avrahami Sheinberger, een van die eerste reddingswerkers op die toneel, kom op die televisie in beeld. “Daar was aaklige krete van ‘Help ons! Help ons!’ ” vertel hy. “Liggame het by die ingang na die yeshiva, in verskeie ander vertrekke, en in die biblioteek oor die vloer gestrooi gelê. Die aanvaller het daarin geslaag om ongeveer ses honderd rondtes met sy Kalatsjnikof te vuur terwyl studente oral in die biblioteek en ander vertrekke probeer skuil het. Daar was groot verwarring omdat die polisie eers na ’n tweede en ’n derde gewapende gesoek het. Hulle het ook die enkele terroris se dik ammunisiegordel aanvanklik vir ’n selfmoordbom aangesien,” vertel die kennelik geskokte man.

      Op Vrydag 7 Maart, ’n perfekte Jerusalemse voorjaarsdag, word agt van Mercaz HaRav se jong studente oor die lengte en breedte van Israel begrawe. Op TV- en radioberigte bevestig ’n woordvoerder van die polisie dat die aanvaller uit Jabel Mukaber kom, ’n Arabiese buurt in Jerusalem. Die inwoners van dié woonbuurt het Israeliese persoonskaarte wat aan hulle vryheid van beweging in Israel bied. Israel se veiligheidsmagte is al ’n tyd lank daarvan bewus dat die sogenaamde “Familieverenigingprogram” wat die Palestyne van suidoos-Jerusalem toegelaat is om te stig, gebruik word om ook talle aktiewe terroriste Judea, Samaria sowel as Jerusalem ongehinderd te laat binnekom vir toekomstige bedrywighede. Hulle woon tussen Jode, dié Palestyne, wat hul kinders van hul jongste jare af leer om Israeli’s te haat. Hulle doen tussen Jode inkopies; ry saam met Jode op busse; beskik oor geldige werkpermitte. Een Joodse deelnemer aan ’n radioprogram sê bitter: “Hulle bestuur die taxi’s waarin ons ry; hulle sny ons hare; hulle berei vir ons etes in restaurante voor. Hulle is in ’n gunstige posisie om op die regte oomblik toe te slaan.”

      Marc en Rivkah lees in persberigte dat verskeie inwoners van Jabel Mukaber bevestig dat hulle die aanvaller as die twintigjarige Abu Dhein ken. Daar is ook koerantfoto’s van die begrafnistent, waaraan groen Hamasvlae wapper, wat buite sy ouers se huis opgerig is.

      Later kyk die Kriges ook na ’n omvattende TV-onderhoud wat die gesoute joernalis Ilana Dayan met rabbi Yerachmiel Weiss voer. Ses van sy studente by die yeshiva het in die bloedbad gesterf. Die rabbi antwoord onomwonde op haar indringende vrae oor sy verhouding met HaShem in die aangesig van die dood. Sy stem wissel tussen gesmoorde hartseer en ferm oortuiging wanneer hy oor homself, sy studente en HaShem praat. Dayan se eerste vraag aan die rabbi is watter van die Donderdagaand se gebeure die diepste in sy geheue gegraveer is.

      “Ek dink dit was toe ek hulle moes identifiseer. Ek moes die lakens waarmee hulle toegemaak was een vir een oplig. Op party van hulle was ek voorbereid omdat ek geweet het daar kon nie rekenskap van hulle gegee word nie. Maar toe ek onder die eerste bedekking inkyk, was dit Yonadav.” ’n Paar sekondes sukkel hy om sy emosies onder beheer te kry. “Hy was een van my studente van verlede jaar … Dit was ’n ontsettende skok om sý liggaam daar te sien … Ek het bly hoop dat dié wat ek ken en van wie ek geweet het dat hulle vermis word, in die hospitaal sou wees. Maar toe ek die liggame begin uitken, sien ek die een na die ander is my studente! Dit was … moeilik!”

      “Het jy gevoel asof jou krag jou verlaat?”

      “Nee, nee. Maar ek is diep getref deur ’n gevoel van onbeskryflike verlies …” Hy verduidelik hoe hulle besluit het om die oorlewende studente te laat huis toe gaan vir Shabbat sodat hulle saam met hul ouers kon huil en dan weer vernuwe kon terugkeer.

      “U dink dis goed om te huil?” vra Dayan.

      Die rabbi bly ’n rukkie stil voordat hy antwoord: “Om te huil is ’n gesonde noodsaaklikheid van die lewe. Iemand wat nie huil nie, kan nie voel nie. Hoe is dit moontlik om ses studente te verloor,” sy stem breek weer, “en nie te huil nie? Ek het vir die oorlewende studente gesê ek sal saam met hulle huil; dit was nie eens nodig om vir hulle te sê dis in orde om te huil nie. Hulle het dit instinktief geweet.”

      “Wat is die moeilikste vraag wat hulle jou gevra het?”

      Die rabbi dink ’n oomblik na. “Hulle wou weet wát presies gebeur het en hoé dit gebeur het. Dit was intens belangrik vir hulle om al die besonderhede te hoor. Toe het ek met hulle gaan sit om met hulle te praat oor wat gebeur het. Daar was baie verwarring, en pyn … Die verlies van lewe is die verlies van geloof.”

      “Dis ’n baie betekenisvolle sin daardie, Rabbi. Ek wil dit graag saam met jou probeer verstaan. As ons daar ’n deurbraak kan maak – en ek is nie seker ons sal kan nie – dan het ons iets geleer. Wat jy nou net gesê het – ‘die verlies van ’n lewe is die verlies van geloof’ – laat my dink aan wat jy by die roudiens hier in Jerusalem gesê het voordat die oorledenes in hul tuisdorpe begrawe is. Daar op die terrein voor die yeshiva met duisende studente en oudstudente wat luister, en met die agt liggame in talliyot gehul voor jou, was dit kompleet asof jy self êrens anders was. Asof jy in ’n totaal private diskussie gewikkel was met die Heilige, baruch Hu. Is ek reg?”

      “Ja. Ja en nee. Ek was nie op ’n heeltemal ander plek nie, maar ek was op die plek van daardie komplekse vraag: Hoekom?” Sy stem breek. “Hoekom het U my verlaat?”

      “Is so ’n vraag dan toelaatbaar, Rabbi?”

      “Dis noodsaaklik! Ek was op die plek tussen daardie vraag en die seker wete dat alles waar en reg is.”

      “Verduidelik daardie kompleksiteit vir my, Rabbi. Vir my het dit geklink asof u HaShem aanspreek toe u praat oor die ‘groot vreugde’ wat Hy vir Hom toegeëien het deur daardie vroom jong Torastudente tot Homself te neem …”

      “Nee, nee. Ek wás inderdaad bly dat hulle by Hom is. Ek sal dit probeer verduidelik in ’n taal wat … ’n buitestander kan verstaan. Stop my as ek nie duidelik is nie.”

      “Ek sal. Baie van ons joernaliste het die afgelope twee dae gevoel asof ons van buite af binnetoe kyk en nie regtig verstaan wat aangaan nie. Ek sal veral graag wil verstaan waarom u so sterk standpunt ingeneem het teenoor HaShem – en dit skaars ’n paar minute nadat u vir die ouers gesê het: ‘HaShem gee en HaShem neem.’ Hoe gaan dié twee dinge saam?”

      “Hulle móét saamgaan. Om te vra, om uit te roep, om te huil kom nie van ’n plek waar ’n mens jou losgemaak en afstand geneem het van die gebeure nie. Dis eerder soos ’n kind wat vir sy ma vra: ‘Waarom gaan jy nou van my af weg?’ Ek het vir HaShem gesê: ‘Kyk, u Tora sê Adar is die maand van vreugde – en