Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316363
Скачать книгу
op toe hy vaagweg vioolklanke van die kant van die Tiferet Yisra’el-steeg af hoor. En, ja, daar kom die ou Chassid aan, al spelend op sy viool. Sy dun grys baard en oorkrulle wip ligweg om sy gesig. Hy beweeg met langsame danspassies asof hy sy ledemate in die koue met groot moeite in beweging gekry het. Toe Moshe en Dov waarderend begin hande klap, buig die ou stram in hul rigting, maar dans dan stadig voort asof hy nie heeltemal bewus is van sy omgewing nie.

      Marc skets die ou man met passie terwyl hy sonder dat hy dit agterkom saam met die rukkerige klank van die ou viool neurie. Lank nadat die maer gryse in sy verweerde manel en met sy mankolieke viool al agter die bouwerk van die Hurvah-sinagoge verdwyn het, werk Marc nog aan die skets en bly hy saggies sing.

      Eers toe hy sy seuntjie skril oor die plein “Abba!” hoor roep, kyk hy op. Rivkah kom met die kinders aangestap. Sy het Natan op die arm en Yhoshi hardloop voor haar uit met Shmu’el op sy hakke. Marc se gesig verhelder. Nou nog as hy sy vrou onverwags sien, jeuk sy vingers om haar te teken: die tenger figuurtjie, die wilde krulhare wat met ’n doek so blou soos die besonderse kleur van haar oë agtertoe gebind is. Sy dra ’n nousluitende donkerbruin jas en stewels. Hy skud sy kop effens. Wanneer ’n mens so na haar kyk, sal jy geen spoor merk van haar vuur en wilskrag nie. Sy lyk so mooi en sag dat hy die drang om haar sonder meer in sy arms te neem met moeite weerstaan. Hy sit vinnig sy tekenapparaat opsy om die aanstormende Yhoshi in sy arms te vang.

      Teen Vrydag klaar die weer verder op, maar dis nog bitter koud en donker reënwolke hang bokant Jerusalem. Die twee kleintjies is albei verkouerig en dit is te koud om met hulle uit te gaan. Dus stap Marc teen sononder, kort voor die begin van die Shabbat, alleen af na die Klaagmuur. In die Tiferet Yisra’el-steeg is alles al opgepak en gesluit, en die salige rus en stilte van Shabbat begin langsamerhand oor die stad daal. Op die plein staan die bome strak en kaal teen donker wolke. In die laaste lig van die dag begin die Jerusalemstene van die geboue rondom rosig verkleur. Die Ortodokse figure wat oor die plein haas, is vlietende swart skadu’s.

      Wanneer hy met die trap na die Kotel afloop, kleur die oeroue muur ook bruinerig goud. Yeshiva-studente – swart-en-wit pikkewyne – hardloop ligvoets met die trap af by hom verby, hul breërandhoede dobberend in die vaart. Onder op die plein voor die muur meng ou rabbi’s en huppelende seuntjies met duiwe wat op die stene na broodkrummels pik, en katte wat soos skadu’s oor die plein glip. Aan die vroue se kant van die Klaagmuur is daar net ’n handjie vol wat in diepe gebed die koue middag trotseer.

      Marc druk sy kippah vaster op sy donker hare en beweeg behendig tussen die menigte mans deur totdat hy voor teen die muur ’n plekkie vind. Die stene is koud onder sy vingers. In ’n klipgroef bokant hom skuil twee duiwe teen mekaar aangekruip teen die bytende wind. Hy leun sy voorkop teen die muur en algaande word hy omhul deur die geruis van baie gebede. Hy raak so diep bewus van die teenwoordigheid van die Heilige van Israel by hom dat hy sug en spontaan begin bid: “Baruch Atah Adonai, Eloheinu Melech ha’olam … Geseënd is U, o Adonai ons Elohim, Koning van die heelal, U wat ons deur u Woord geheilig het en ons Yeshua, die Messias, gegee en ons beveel het om ’n lig vir die wêreld te wees. U het vir ons verlossing bewerkstellig in u geliefde Seun, Yeshua, ons Messias.”

      Voordat hy omdraai om weg te gaan, prewel hy nog een maal: “Sh’ma Yisra’el Adonai Eloheinu, Adonai Echad … Hoor, o Israel, die Here ons God is die enigste Here.”

      19 Februarie 2008

      “Saba!” roep die seuntjie onmiddellik toe die voordeur ná ’n ligte kloppie oopgaan. Hy los die Legoboustel waarmee hy op die grond besig was en hardloop na sy oupa toe.

      Die rabbi skud die reëndruppels van sy swart hoed af en hang dit aan die kapstok by die deur. Toe vang hy die kind in sy arms en swaai hom deur die lug voordat hy hom soen.

      Met die rondswaai het Yhoshi se kippah op die grond geval. Toe sy oupa hom neersit, gryp hy dit haastig en druk dit weer op sy lang donker krulhare terug.

      “Waar’s Savta?” vra Yhoshi toe hy sy asem terugkry. Chaim trek sy lang swart jas uit en hang dit weg. “Jou ouma kom nou-nou, seun,” sê hy. Hy kyk na sy dogter wat die ontmoeting glimlaggend staan en dophou, en verduidelik: “Jou ma is nog eers die shuks in om iets wat sy glo nêrens anders kan kry nie vir Natan te koop.”

      Rivkah knik. “Natuurlik.”

      Yhoshi trek dringend aan sy oupa se mou. “Saba! Dis Natan se verjaardag vandag!”

      Die rabbi tik Yhoshi op sy kippah. “Dit weet ek, Yehoshua. Jou broer is een jaar oud.”

      “En ek is amper soveel.” Hy hou drie vingertjies op.

      Chaim vat die handjie in syne, buk af en soen die taai vingertjies. “Dit weet ek ook. Gee my net kans om jou imma te groet, dan praat ek weer met jou.”

      Yhoshi tel sy ietwat verweerde bruin beertjie op. Dan soen hy die speelding en swaai dié deur die lug presies soos wat sy oupa met hom gedoen het. Die twee volwassenes moet lag.

      “Waar’s ons verjaardagkind dan?” vra Chaim nadat hy sy dogter gegroet het.

      “Middagslapie,” sê Rivkah. “Hy sal binnekort van hom laat hoor.”

      “Sy verkoue beter?”

      “Soort van.”

      “Marc is seker nog by die universiteit?”

      Rivkah knik. “Hy behoort ook enige tyd te kom.” Sy ril. “Dis verskriklik koud, nè?”

      Haar pa knik. “Hulle het nou net oor die nuus gesê dit sneeu weer kwaai oor die noordelike Golan. Galilea is ook onder ’n dik laag. Dit gaan hier ook sneeu …”

      “Wat het Saba vir my saamgebring?” onderbreek Yhoshi hulle. Hy het weer, beertjie onder die arm, by Chaim kom staan. “Yhosh!” keer sy ma.

      Chaim lag. “Moet jy dan iets kry?”

      Die kleintjie knik met nadruk.

      “Eers moet jy sê wat jou broer se regte naam is.”

      “Nathan’el!” roep hy ongeduldig.

      “En dit beteken?”

      “Hy’s ’n present van HaShem, beteken dit.”

      Sy oupa neem albei die kind se handjies in syne om hom te laat bedaar. “Luister, Yehoshua, jy’s reg, ‘nathan’ beteken geskenk, maar wat beteken ‘el’?”

      “El is HaShem se naam, Saba.”

      “En jóú naam?”

      “Ek het Yeshua se selfde naam.”

      “Dis reg, liefling. Jy moet dit nooit vergeet nie.”

      Yhoshi knik heftig. “Wat het Saba vir my gebring?”

      Chaim glimlag. “Kom ons kyk wat het ek voor die deur laat staan.”

      Yhoshi gryp sy hand en rem hom in die rigting van die voordeur. Oomblikke later hoor Rivkah die kind se opgewonde kreet. Die twee kom terug met ’n helderkleurige vlieër wat Chaim dra. Yhoshi trippel opgewonde om hom.

      “Kan ons hom nou laat vlieg, Saba?”

      “Daar’s ongelukkig nie nou wind nie, Yhoshi. Ons moet wag vir wind, dan gaan ons dit hier onder op die plein laat vlieg. Maar ek dink dit gaan nou eers sneeu.”

      “Wéér?” vra die kind teleurgesteld. Hy stryk met eerbiedige vingertjies oor die vlieër se gloeiende blou en wit kleure, dié van Israel se vlag.

      “Ja, jong, ek ruik dit in die lug,” sê sy oupa. “Binne ’n uur sneeu dit.”

      “Dis koud genoeg.” Rivkah bring die varsgemaakte koffie na haar pa wat sy hande koulik om die warm koppie vou.

      “Kan ons hom nou laat vlieg?” vra Yhoshi ’n paar minute later, terwyl hy steeds liefkosend oor die sagte sy van die vlieër streel.

      “Nog nie, lief. Maar as die weer beter word en die wind goed waai, gaan ons hom hoog laat vlieg, Yehoshua, dit belowe ek jou.”

      “Kan