Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316363
Скачать книгу
dink om vandag vir jou ’n vlieër te koop.”

      Yhoshi vly sy kop ingenome teen die ouer man aan. “Is dit ’n storie?” vra hy.

      “Dis ’n wáár storie. Onthou jy dat ek jou vertel het van daardie mense in die ander land wat so baie van ons Joodse mense doodgemaak het?”

      “Die mense met die swart kruishaak?”

      ’n Droewige laggie raak aan die rabbi se mond. “Hakekruis. Dis reg. In die tyd van daardie mense, het daar in die groot stad Warskou ’n man gewoon wat ook vir vlieërs lief was, en vir kinders. Sy naam was Janusz Korczak.”

      “Was hy ’n goeie man?” vra die kind angstig.

      Chaim stryk gerusstellend oor sy kleinseun se neusie. “Ja, hy was ’n baie goeie man, Yhosh. Hy was ’n kinderdokter en hy het boeke vir kinders geskryf, en in Warskou het hy ’n huis spesiaal vir weeskindertjies gebou …”

      “Dis kindertjies wat nie mammas en pappas het nie,” val Yhoshi hom in die rede.

      Chaim kyk verbaas in die groot donkerblou oë. “Hoe weet jy dit?”

      “Abba sê so.”

      Chaim frons vraend en kyk na Rivkah wat net haar kop skud.

      “Wat het die haakkruis-mense met Janusz gedoen, Saba?”

      Die rabbi sug. “Hulle het op ’n dag na hom toe gekom en gesê hy moet vir hulle wys watter kindertjies in die weeshuis Joodse kinders is …”

      “Hoekom wou hulle dit geweet het, Saba?”

      Chaim en Rivkah kyk na mekaar en sy trek haar skouers op, skud haar kop.

      “Hulle wou die kindertjies wegneem …”

      “Om hulle dood te maak?”

      Chaim kan nie wegkyk voor die kind se oë nie. “Dis reg,” sê hy sag.

      “Wat het Janusz toe gedoen?”

      “Hy kon niks teen daardie slegte mense doen nie. Maar toe hulle vir hom sê hý hoef nie saam met die kinders weg te gaan nie, hy kan vry kom, het hy nee gesê, hy gaan saam met hulle sodat hulle nie bang sal wees nie.”

      “Daardie slegte kruishaak-mense het mos die Jode geslaan en gevloek, nè, Saba? Het hulle dit met die kindertjies ook gedoen?”

      Chaim vryf sy kleinseun se skouertjies. “Hulle het, Yhoshi. Maar omdat Janusz saam met die kindertjies gegaan het, was hulle nie bang nie en hulle het stil saam met hom na die plek geloop waar hulle op die trein moes klim.”

      “Het Janusz teruggekom?”

      “Nee, Yhoshi, hy het nie.”

      “En die kindertjies?”

      “Hulle ook nie.”

      “Die haakkruise het hulle almal doodgemaak.”

      “Dis reg, my lief.”

      Yhoshi sê niks, maar hy druk sy beertjie styf vas.

      “Maar, Abba, vertel nou vir hom hoekom die vlieër jou aan Janusz se storie laat dink het,” sê Rivkah na ’n rukkie sag.

      “O ja, natuurlik. Yhosh, ek het jou van Janusz vertel omdat hy die man was wat altyd gesê het daar’s min dinge wat vir ’n kind, en vir grootmense, so mooi is soos om ’n vlieër te laat vlieg. Toe ek vandag langs die pad ’n man sien wat in Jaffastraat vlieërs verkoop, het ek weer aan Janusz gedink, en toe koop ek vir jou die mooiste een.”

      “Todah rabah, Saba. Het Janusz met sy weeskinders vlieërs laat vlieg?” vra Yhoshi.

      Die rabbi soen een klein handjie. “Ek is seker hy het, my skat.”

      “Dit sneeu weer,” sê Rivkah wat deur die venster staan en uitkyk – bly vir iets om te sê wat die somber atmosfeer kan verbreek.

      “Wil jy op die plein na die sneeu gaan kyk, Yhoshi?” vra sy oupa.

      Hy knik dadelik.

      “Neem jy hom dan, Abba, ek bly hier by Natan. Imma en Marc sal ook nou-nou kom. Yhosh,” wend sy haar tot haar oudste, “gaan haal jou sneeujekker en jou stewels in jou kamer.”

      Toe hy uit is, sê sy gedemp vir haar pa: “Ek verstom my oor die kind se vermoë om al die dinge wat ons met en voor hom praat in te neem en te onthou. Ek meen … ’n mens kan byna nie glo wat hy alles onthou van die Tora en die dinge wat Marc hom so speels leer nie!”

      “Rivkah,” die rabbi stryk oor sy baard. “Jy het blykbaar nog nie die verduideliking daarvan gehoor nie. Die storie van babas en die Tora?”

      “Bábas en die Tora?”

      Hy glimlag. “Ja! Die tradisie vertel dit so: Voor ’n kind se geboorte word hy met kennis van die volle Tora gevoed. Maar by die geboorte lê ’n engel sy vinger hier op die bolippie waar die duikie is.” Hy druk met sy vinger op sy eie lip. “En hulle vergeet dit. Dan is dit die plig van die ouers – veral van die pa – om, soos in D’varim geskryf staan, die Tora dag na dag vir hulle te leer. So word daar dan lagie vir lagie van die vergeet afgeskil totdat die volheid van wat hulle voor geboorte al geleer het, uiteindelik weer vir hulle oopgemaak word.”

      “Wonderlik,” fluister sy en buk oor en soen haar pa op sy kippah, “ek sal onthou.”

      “En, Rivkah,” sê hy en vang haar hand in syne toe sy wil wegdraai, “julle het ’n ver bo die gemiddelde intelligente seuntjie. Wees versigtig waarmee julle hom voed en vir wat hy uit jul Tora-getrouheid, of gebrek daaraan, leer.”

      Toe is Yhoshi terug met sy jassie en steweltjies, en sy ma trek dit vir hom aan terwyl Chaim opstaan en weer sy jas neem en sy hoed opsit.

      Buite sif nat sneeu in dun vlae oor die plein. Toe die eerste vlokkies sag teen hul gesigte val, ril die kleintjie sigbaar. Hy hou sy handjie uit en kyk verwonderd hoe die donsige wit vlokkies op sy handskoen smelt.

      “Saba?” vra hy so sag dat Chaim hom byna nie hoor nie.

      Hy hurk by die figuurtjie in die rooi sneeupakkie. “Ja, Yhoshi?”

      “Sal daardie haakkruise ook Yerushalayim toe kom?”

      Chaim trek die kind styf teen hom aan, druk sy koppie teen sy bors. ’n Oomblik knyp hy sy oë toe en byt op sy onderlip. Maar toe sê hy rustig: “Nee, liefsteling, nooit nie. Jy moenie bang wees nie. HaShem het Eretz Ysra’el vir ons gegee.”

      Twee

      Jerusalem

      Donderdag 6 Maart 2008

      Vir vroeg Maart is die aand onverwags soel. Ná weke van reën en koue besluit Marc en Rivkah om met die kinders stad toe te gaan en iewers te gaan eet. Yhoshi, wat nie die dubbele stootkarretjie met sy boetie wou deel nie, hardloop voor hulle uit deur die Jaffa-poort en al met die paadjie langs na Jaffastraat. Dis eers toe hulle by die Ben Yehudastraat kom dat hy moeg word en Marc hom op sy nek tel sodat hy bo-oor die mense heen kan sien.

      Hierdie Donderdagaand is die laaste dag van die vorige maand. Omdat Shabbat op Vrydagaand met sononder begin, word Rosh hodesh, die viering van die nuwe maand, vanaand, ’n aand vroeër as gewoonlik, gevier. Oral is feestelike byeenkomste, want dié maand is die begin van Purim – die herdenking van die tyd toe koningin Ester se dapper optrede die Jode in die Persiese Ryk van gewisse uitwissing deur die bose Haman gered het. Vir dié vrolike viering trek mense allerhande kostuums aan en bak mekaar poetse. In Ben Yehudastraat heers ’n ontspanne, vrolike atmosfeer onder die skare mense wat die geur van die naderende voorjaar in die lug opgetel en die straat ingevaar het om die begin van die Hebreeuse maand Adar te vier. Oral is mense in die raarste kostuums te siene.

      By hul geliefkoosde Café Rimon haal Marc-hulle nog net-net die laaste leë tafeltjie voordat daar ’n ry wagtendes buite begin vorm. Ná die ete stap hulle met die kinders na die roomysstalletjie aan die bopunt van die straat en koop vir albei ’n horinkie. Hulle moet eers op een van