Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316363
Скачать книгу

      

      Marzanne Leroux-Van der Boon

      TIFERET YISRA’EL

      Die Roem van Israel

      Lux Verbi

      Een

      Jerusalem

      Dinsdagaand 29 Januarie 2008

      Eers is dit nie vir Marc duidelik wat dit is wat hom laat wakker word het nie. Maar toe begryp hy dis die lug wat deur die oop venster langs die bed binnekom. Dit het skielik verskriklik koud geword. Eers toe hy opstaan om die venster toe te maak, sien hy dit sneeu.

      Hy staan vir ’n oomblik en kyk verwonderd. Dit moet reeds ’n geruime tyd gesneeu het, want in die lig van die lampe om die plein onder hom lê dit al ’n sentimeter of wat diep. Soos ’n prentjie in ’n sprokiesboek staan die yl winter-iepe afgeteken teen die vallende wit sneeuvlae.

      Toe eers onthou hy dat daar die vorige aand al tonele van sneeu uit die noordelike en ver suidelike dele van die land op die televisienuus te siene was. Asook voorspellings dat daar nog meer te wagte was oor die res van Israel.

      Hy gaan terug bed toe en skakel die nagliggie aan. “Rivkah,” roep hy saggies sodat die kinders in die kamer langsaan nie wakker word nie.

      Sy is onmiddellik wakker. “Hmm?”

      “Dit sneeu.”

      Sy lig haarself op haar elmboog, vee die string donker krulhare uit haar gesig. “Is jy seker?”

      Hy lag en raak met sy koue hand aan haar wang.

      Sy ril. “Nee, man!”

      Marc kruip terug in die bed en lê koulik teen haar slaapwarm lyf aan. “Dit moet lankal begin val het. Daar lê al ’n laag onder op die plein.”

      Sy maak haar uit sy arms los, klim vinnig uit die bed en gaan staan voor die venster. “Dis so-o-o mooi!” Sy draai na hom toe. Haar donkerblou oë is skielik helder asof sy nie oomblikke tevore nog vas geslaap het nie. “Kom ons gaan gou vinnig af plein toe! Ek was lanklaas in die sneeu!”

      Marc kyk ’n bietjie onseker na haar. “Die kinders …?”

      Sy skud haar kop, pluk haar dik sweetpak sonder seremonie uit die muurkas en begin dit oor haar slaapklere aantrek. “Hulle sal nie nou wakker word nie, man. Kom! Net vyf minute dan’s ons terug,” fluister sy.

      Haar geesdrif is aansteeklik en binne oomblikke is hy ook in sy warm sweetpak en besig om sy sneeustewels en jekker aan te trek. Hulle gaan muisstil by die kinderkamer in, trek die venster toe en vou die beddegoed warm om die kleintjies in. Marc beduie vir die opgewonde wolhaarhondjie om tjoepstil te wees as hy dié avontuur wil meemaak. Toe glip hulle steels by die voordeur uit en sluit dit agter hulle.

      In albei se gedagtes lê die herinnering van meer as ’n jaar tevore nog skrikwekkend helder. Rivkah het toe ook gedurende die dag uitgeglip na die groentewinkel onder op die plein terwyl sy gedink het Yhoshi slaap in sy kamer. Toe sy kort daarna terugkom, was die voordeur oop en het hy, vyftien maande oud, verdwyn. Die voordeur se knip het toe nie goed gewerk nie en hy het wakker geword, uit sy kinderbedjie geklim en die pad gevat. Hy is gelukkig ure later veilig teruggevind, maar daardie doodsbenoude tyd is beslis nie iets wat hulle sal vergeet nie.

      Onder op die plein is dit yskoud. Marc slaan sy arm om haar en hulle hardloop om die hoek totdat hulle weer onder die venster van hul eie woonstel is en die kinders sou kon hoor indien hulle wakker word. Ten spyte van die stilswye wat hom opgelê is, blaf Shmu’el opgewonde en hardloop voor hulle uit, glyend in die nat sneeu.

      Die wind waai vlaag op vlaag sneeu teen hulle aan. Toe hulle uitasem gaan staan, kyk Marc af na Rivkah. Stringe hare val onder haar wolmus uit en waai oor haar gesig, gloeiend van die koue. Hy trek haar styf teen hom aan.

      “Rivkah …”

      Sy druk haar hande onder sy jekker in en vou haar arms bibberend om sy lyf.

      “Hmm?”

      “Weet jy waaraan dink ek?”

      Sy knik so effens dat hy dit skaars merk.

      Hy sluk aan die emosie wat sy keel toedruk. “Die nag toe jou lewe aan daardie garedraadjie gehang het, het dit ook gesneeu …”

      “Ek weet,” fluister sy. “Ek weet ook hoe dit was in die dae toe ek nie geweet het wat van jou in Libanon geword het nie, verlede jaar met die oorlog.”

      Hulle is ’n paar oomblikke stil.

      “Ek het jou lief, Rivki …”

      “Ná vyf jaar getroude lewe steeds?” vra sy speels, om die emosie van haar eie herinnering te smoor.

      Hy trek haar wolmus verder oor haar oë en soen haar. “Jy word eenvoudig mooier.”

      Sy woel haar gesig in die warmte van sy pelskraag: “Ma van twee?”

      “Ma van twee,” knik hy, sy mond teen haar voorkop.

      ’n Rukkie bly hulle so staan terwyl die sneeu in vlae oor hulle sif.

      Hy vryf met sy ken oor haar mus. “Adonai is goed vir ons.”

      Toe vra sy: “Is dit vir jou moeilik dat ons nie meer kinders kan hê nie?”

      Hy wieg haar ligweg in sy arms. “Nee. Ek weet dat dit in HaShem se hand is. Dat jy by my is, is genoeg vir my.”

      Sy maak haar een hand los en vee die sneeu wat teen sy gesig geval het met die punte van haar vingers weg. “Ons moet meer tyd maak om alleen met mekaar te wees, Marc. Die kinders hoef nie alles wat ons het in beslag te neem nie.”

      “Ek weet …”

      In die boom bokant hulle word die sneeu op ’n tak te swaar en die hele yskoue vrag stort oor hulle. Gillend van skrik en plesier hardloop hulle terug huis toe: Marc met Shmu’el onder een arm. Daar slaap die kinders nog onverstoord.

      Die volgende twee dae sneeu dit by tye steeds hewig. Busdienste ná en van Jerusalem word tydelik gestaak. Stede in die noorde van Israel, die Golanhoogland en Safed, sowel as Arad in die suide loop kwaai deur. Teen Woensdag lê die hele Jerusalem onder ’n digte sneeukombers. Skole, howe en die meeste sakeondernemings sluit. Die plaaslike regering doen ’n beroep op mense om sover moontlik met hul motors van die pad af te bly. By tye is daar stormsterk winde, donderweer, swaar buie, ysreën en sneeu.

      Ook aan die universiteit is daar geen klasse nie. Op die dae wanneer die weer dit toelaat, gaan stap Marc en Rivkah met die kinders in Onafhanklikheidspark waar daar slee gery en sneeumanne gebou word. Yhoshi is buite homself van opgewondenheid. Maar vir klein Natan, nog geen jaar nie, is dit alles bietjie skrikaanjaend. Wanneer Marc dit raaksien en hom uit sy karretjie optel, klem die kleintjie se handskoenvingertjies styf om sy pappa se jaskraag.

      Een middag kom Rivkah se ouers, Chaim en Hadassah, midde-in ’n sneeustorm by hulle kuier. Terwyl rabbi Chaim koulik sy hande voor die gesellige kaggel vryf, sê hy: “In die boek Iyov lees ons: ‘Hy beveel die sneeu om op die aarde te val; die reëns val, stortreëns wat getuig van sy krag. Hy laat alle mensewerk tot stilstand kom sodat alle mense sy werk kan leer ken.’” Hy grinnik: “Israel het van toe af nog nie verander nie. Die psalmis het duidelik ook hier oorwinter, want in Tehillim 148 skryf hy hoe die weerlig en hael, die sneeu, die miswolke en die stormwind vir HaShem gehoorsaam.”

      Toe die sonnetjie teen Donderdagmiddag skigtig sy verskyning maak, neem Marc sy skildertas en verdwyn plein toe. Sy twee vriende Moshe en Dov, wat uit hul winkel gekom het om in die skraal son te staan, wuif vrolik vir hom.

      “Shalom, shalom!” kom hul stemme op die ysige lug na hom toe aan.

      “Shalom rav!” roep hy uitgelate terug.

      Op een van die nat bankies kry hy sy sit en binne oomblikke vlieg die houtskool oor die wit bladsye. In die yl takkies van die plein se bome, swart van dae se reën, hang nog laaste flarde sneeu. Bokant dryf haelwit wolke aan die hemel. Die lig vang net-net die vensters van Moshe Kempinski se winkel, Shorashim, en flits ’n paar oomblikke verblindend in die glas. Van oral kom kinders te voorskyn, dikgewol in jasse