“Die volgende oggend het sy ’n potjie pap en heuning bos toe geneem. Sy het saggies geloop, maar die bosdier het haar gesien en haar ingewag. En sy was ook skaars in die bos, toe gryp hy haar. Hy wou haar sommer net daar opvreet, maar die meisie pluk haar een arm los en gooi ’n hand vol pap en heuning in die bosdier se bek en toe hy dit proe, toe kwyl hy van die lus en die lekkerte.
“Die meisie hardloop terug na die dorpie toe en so ver soos sy hardloop, laat sy stukkies pap en heuning val. Die bosdier is toe agter die heuning en pap aan die bos uit en daar op die vlakte het die meisie se broers die bosdier doodgesteek. Dit was die heel laaste keer dat iemand te bang was om deur die bos te gaan.”
Hlaulu het oor die storie nagedink. Toe het sy die leë potjie op haar kop gesit, die ou vrou gegroet en sy is daar weg.
Langs die pad het Hlaulu met haarself loop en praat. “Ek kan soos die meisie maak en vir Kwobu Khuni heuning en pap gooi.” Maar dan dink sy weer: “Nee, dit was tog net ’n storie. Wie sê Kwobu Khuni hou van heuning en pap?” Sy loop nog ’n entjie en sê toe vir haarself: “Ek kan ook sag soos ’n blouduiker loop en ek kan ook in die bos wegkruip en die bosdier dophou.”
Sy besluit om dit te doen.
Sy loop baie, baie sag die bos in. Sy trap nie op takke nie, sy skraap nie teen takke nie en sy haal skaars asem.
En toe hoor sy iets kreun en sy kruip onder ’n bos in en loer uit. Toe sien sy dis die bosdier. Dis Kwobu Khuni. En sy sien Kwobu Khuni lyk soos die storiedier. Hy het selfs die regop stertjie van ’n vlakvark.
Maar Kwobu Khuni vreet nie vleis en vrugte soos die storiedier nie. Nee, Kwobu Khuni hardloop al in die rondte. Hy kreun. Toe begin hy skielik die wortels van ’n plant uitgrawe. Hy kou daaraan en kreun nog harder. En harder. Hy kreun so hard dat die geluid op Hlaulu aanstorm soos donderweer, soos die skreeustemme van al die mense van ’n dorpie wat gelyk skreeu, soos die trompetter van baie olifante.
Toe storm Kwobu Khuni na ’n boom. Hy pluk die bas af en stop dit in sy bek, kou en spuug en kou en spuug. Hy sit sy poot teen sy gevreet en skreeu: “Hau! Hau! Hau!” En toe druk hy sy kop in ’n gat en skreeu in die grond in.
Hlaulu wonder nie meer oor Kwobu Khuni nie. Sy wonder nie waarom hy so skreeu nie – in die dag maar veral in die nag. Sy weet. Het sy dan nie self een nag so rondgekruip en gehuil en haar kies vasgehou nie? Sy weet ook wat om te doen.
Sy hardloop die bos uit. Hardloop na die klein sekelbos wat naby haar hut groei. Sy haal die potjie van haar kop af, pluk die blare af en maak die hele potjie vol. Toe sit sy weer die pot op haar kop en gaan terug bos toe.
By die sekelbos en ook op pad bos toe hoor sy vir Kwobu Khuni skreeu. Maar sy is nie meer bang vir sy krete nie, want sy weet mos hoekom hy so tekere gaan.
Kwobu Khuni skreeu so hard en hy soek so rond vir iets om die pyn weg te neem, dat Hlaulu by hom is voordat hy haar sien. En toe skrik hy so groot dat hy reg agteroor tussen die bosse in val en net so bly lê met sy groot oop oë en sy groot oop bek.
Hlaulu prop gou ’n blaar in sy bek en toe nog een en nog een. En toe prop sy hande vol blare in sy groot oop bek.
“Kou,” sê sy.
En die bosdier, ou groot Kwobu Khuni, ou lelike Kwobu Khuni, ou seertand Kwobu Khuni sit regop en kou die blare. Hy kou dat jy net blare en spoeg sien spat. Hy kou en hy kou.
Ná ’n ruk is sy seer tand baie beter. En toe steek hy sy groot poot uit en vat aan die krale om Hlaulu se nek en hy vat aan die krale om Hlaulu se middel en hy vat aan die krale om Hlaulu se enkel en toe maak hy geluidjies, amper soos ’n baba maak as hy vir sy ma iets vra.
Hy wil my krale hê, dink Hlaulu, ek gaan dit nie vir hom gee nie. En toe dink sy: Hy is nogal ’n oulike dierasie, maar ek gaan vir hom net een stringetjie gee. Net een.
En Kwobu Khuni spring rond dat die bos daarvan dreun en die voëltjies verskrik uit die bome opvlieg. En toe wil hy natuurlik nog krale hê.
Maar Hlaulu het klaar die potjie op haar kop gesit en die bos uit gestap.
Dis nou stil in die bos. So stil dat die mense van die dorpie die voëls kan hoor tjirp, so stil dat hulle die sonbesies hoor sing, so stil dat jy Kwobu Khuni kan hoor loop.
Maar soms as die maan boepens maak in die lug, of as dit baie koud is, hoor hulle weer die vreeslike geskreeu uit die bos opklink.
Wanneer dit dan klink asof die hele bos van die pyn bewe, maak nie saak of dit nag of dag is nie, loop Hlaulu bos toe met die kleipot op haar kop. Die kleipot waarin sy die blare van die sekelbos het om die bosdier, Kwobu Khuni, se seer tand te dokter.
Nou neem Hlaulu ook elke keer die kortpad deur die bos na die ou vrou wat aan die ander kant van die bos woon. As Kwobu Khuni haar sien, pluk hy vir haar vrugte in die hoogste takke van die bome. Vrugte wat sy vir die ou tante neem wat aan die ander kant van die bos woon.
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Wat is die bosdier se naam? |
2. | Waarmee maak Hlaulu die bosdier gesond? |
3. | Wat is die ooreenkoms tussen die storie wat die ou vrou vir Hlaulu vertel en dit wat Hlaulu doen? Skryf twee sinne. |
4. | Bestaan die blouduiker in die werklike lewe of is dit ’n towerdier? Hoekom sê jy so? Raadpleeg ’n woordeboek as jy nie seker is nie. |
5. | Kan sekelbos regtig help vir pyn of is dit een van die “onmoontlike” dinge wat in volksverhale voorkom? Gebruik die internet om ’n antwoord te vind. Sleutelwoorde: sekelbos / Dichrostachys cinerea. |
6. | Skryf die lewensles neer wat ons in hierdie verhaal leer. |
7. | Skryf die sin neer waarin Hlaulu die bosdier soos ’n kind behandel. |
8. | Beskryf in jou eie woorde hoe lyk die bosdier. |
9. | In watter land speel hierdie verhaal af en hoekom sê jy so? |
10. | Lees weer in die inleiding oor volksverhale die paragraaf waarin verduidelik word daar bestaan verskillende weergawes van dieselfde storie en mens herken ’n storie aan die basiese storielyn daarvan. Lys die basiese storielyn in hierdie verhaal puntsgewys. |
Postaktiwiteit (verryking)
Vertel ’n ander weergawe van hierdie verhaal waarin jy die basiese storielyn behou. Verander dus name, diere, omgewing, selfs voorwerpe, maar onthou, die basiese storielyn moet so herkenbaar bly dat ons nog weet dit is net ’n ander weergawe van dieselfde verhaal. Jou verhaal moet nie langer as drie (3) bladsye wees nie.
Ganekwane en die groen draak
Corlia Fourie
Prelees – groepbespreking
Mense noem vandag soms diere wat miljoene jare gelede uitgesterf het ook drake. Dit is natuurlik nie korrek nie want dit is dinosourusse. Is die draak in die illustrasie ’n dinosourus of ’n draak in ’n fiktiewe verhaal? Hoekom sê jy so?
’n Sangoma en ’n moetiedokter (ook gespel muthi/muti) is nie dieselfde nie. Die sangoma (gewoonlik 'n vrou) is ’n gerespekteerde, tradisionele geneser en iemand wat allerlei dinge kan sien wat ander mense nie kan sien nie. Sy kan ook die toekoms voorspel. Die moetiedokter is ’n kruiedokter. Hy ken die veldmedisyne goed en hy sal nooit iemand toor nie. Dikwels is hy/sy ook die een wat baie volksverhale ken en dit vir die kinders oorvertel.
Die verhaal
Eendag het mense hulle dorp hoog teen die berg op gebou sodat hulle hul vyande van ver af kon sien aankom. Vyande soos mense van ander stamme, en wilde diere soos leeus en luiperds, olifante en renosters.
Maar toe klim ’n groen draak van die ander kant af oor die berg en gaan woon in ’n grot hoër op teen dieselfde berg. Die groen draak blaas rook en vuur en die mense raak bang.
Toe stuur die hoofman ’n boodskapper met