Skuins oorkant die skoenmaker was ’n ryk man se huis. Skatryk, maar ongelukkig. Aand ná aand sit hy voor sy venster wanneer die skemer val en kyk verlangend na die vrolikheid by die skoenmaker se huisie. A, dink die ryk man, dit moet die kitaar wees. As ek ’n kitaar kan hê, sal my lewe ook vrolik wees. En die ryk man loop na die skoenmaker en bied hom ’n sak vol goue munte aan vir sy kitaar.
Die skoenmaker streel oor sy kitaar se gladde geel hout. Sy oë word klam, maar hy dink aan die baie dinge wat hy met die goue munte sal kan koop, en hy sê ja.
Nog dieselfde aand sit die skoenmaker en sy vrou en tel die goue geldstukke, oor en oor. Hulle stry later met mekaar, want dan kry die een honderd en twee, dan kry die ander honderd en drie.
Moedeloos hou hulle later op tel en begin dink wat hulle met al die geld sal maak.
“Kantgordyne vir die huis en klere vir die kinders en fyn oorbelle van silwerdraad vir my en ... en ...” sê die vrou.
“Nee,” keer die man, “volstrek nie. Ek wil nuwe teëls koop, en ’n melkkoei en ’n paar bale leer om nuwe skoene van te maak en … en …” So stry hulle tot al twee rooi in die gesig is, en woedend vir mekaar, en liefde en vrede soos verskrikte voëls by die deur uitvlieg.
Die kinders kom met lang gesigte van buite af ingedrentel. “Dis niks meer lekker nie,” kla hulle. “Sonder die kitaar wil niemand dans en sing nie.” En hulle gaan sit vies op ’n ry. Hulle donker hare hang in hul oë en hulle lyk kompleet soos weggooikinders.
Só gaan dit aand vir aand.
Toe sê die vrou vir die skoenmaker: “Dis die geld. Ons moet dit teruggee. Dit bring vir ons geen geluk nie.”
Die kinders sê niks nie, maar die skoenmaker voel hul oë op hom. Toe knik hy en neem die swaar sak goue munte. Hy stap daarmee uit in die someraand en toe hy voor die ryk man se venster verbyloop, sien hy hom treurig sit met die glimmende geel kitaar stil langs hom.
“My vriend,” sê die ryk man vir hom, “dis goed so. Neem jou kitaar terug. Dit het my geen vrolikheid gebring nie, want ek kan nie daarop speel soos jy nie. Speel weer saans soos vroeër en wees vrolik.”
Daardie aand pluk die man sy kitaar se snare soos nog nooit tevore nie. Plieng-plieng-plieng, klink dit in die skemer straat. En dan slaan hy die akkoorde dat dit dreun. Die kinders storm uit buitentoe en dans en sing saam met hul maats. In die voorkamer sit die skoenmaker se vrou by lamplig en lap en borduur, en sy neurie saggies saam. Almal is vry en gelukkig soos vroeër, en liefde en vrede woon weer onder hulle dak.
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Herlees die eerste paragraaf en die inligting in “prelees”. Waaroor dink jy het die skoenmaker gesing? Hoekom sê jy so? |
2. | Wat wou die skoenmaker se vrou met die goue muntstukke koop? |
3. | Kry mens in die omgewing waarin hierdie verhaal afspeel spogwoonbuurte? Waarom sê jy so? |
4. | Wat is weggooikinders? |
5. | Is die kinders in hierdie verhaal weggooikinders? Waarom sê jy so? |
6. | Waarom het die kitaar nie vir die ryk man geluk gebring nie? |
7. | Die arm man verkoop nie net sy kitaar nie maar ook iets wat nie verkoop kan word nie. Verduidelik dit in drie sinne. |
8. | Dink die kinders ook geld kan geluk bring? Waarom sê jy so? |
9. | Beskryf die lewensles in hierdie verhaal in jou eie woorde, twee tot drie sinne. |
10. | Noem een ander kenmerk van die volksverhaal in hierdie verhaal, buiten dat dit ’n lewensles bevat. |
Postaktiwiteit (verryking)
Skryf ’n paragraaf (120 tot 140 woorde) waarin jy vertel van iets wat vir jou so kosbaar is dat jy dit nooit sal verkoop nie. Sê hoekom dit vir jou kosbaar is.
Hlaulu en die bosdier
Corlia Fourie
Prelees – groepbespreking
Kan julle nog die verhaal van “Rooikappie en die wolf” onthou? Vertel kortliks in julle eie woorde waaroor die sprokie gaan. Stem julle weergawes ooreen?
Dink julle nie die storie maak klein kindertjies bang nie? Hoekom sê julle so?
Die verhaal
Eendag was daar ’n meisie met die naam Rooikrale Hlaulu, want sy het graag rooi krale om haar nek, haar middel en haar enkels gedra.
Elke oggend gee Hlaulu se ma vir haar ’n potjie pap om vir ’n siek ou vrou te neem. Die ou vrou woon aan die ander kant van die bos.
Hlaulu se ma sê nooit vir haar om nie die kortpad deur die bos te neem nie, want sy weet Hlaulu sal nie deur die bos stap nie. Niemand in die dorpie stap deur die bos nie. Nie die groot sterk manne nie, nog minder die vroue en kinders.
Want almal in die dorpie weet daar bly ’n vreeslike dier in die bos. Hy het ’n naam ook – Kwobu Khuni. Hoewel niemand al ooit vir Kwobu Khuni gesien het nie, kan almal hom hoor. Hy skreeu in die dag, maar hy skreeu veral in die nag. Hy skreeu so aaklig dat die leeus in die veld aan die brul gaan en die honde in die dorpie tjank.
Dan sê die mense: “Kwobu Khuni is weer baie kwaad vanaand. Pas op vir Kwobu Khuni.”
En die mans bly in hul hutte. En die vrouens sit naby hulle mans. En die kinders klim op hulle mammas se skote.
Almal is stil. Almal wag. ’n Mens weet mos nooit wanneer storm Kwobu Khuni uit die bos en val die dorpie aan nie.
Bedags is dit nie so erg nie. Jy sal Kwobu Khuni kan sien aankom as hy sou besluit om te storm. Jy sal iets kan doen. Iets soos onder ’n bos gaan wegkruip of in ’n boom klim, of die mans kan hul assegaaie gryp en hom almal saam aanval.
Dis oor sy bang is vir Kwobu Khuni dat Hlaulu die ver pad om die bos stap met die potjie pap op haar kop.
Dis baie ver om te stap. Ver met die son op jou rug as jy gaan en die son in jou oë as jy terugkom. En met elke tree word die vol pot swaarder en swaarder sodat dit later vir Hlaulu voel asof daar ’n klip in die pot is. Op pad terug is dit nie die pot wat pla nie, maar die paadjie wat net aanhou en aanhou.
Maar die ou vrou is baie bly oor die pap. So bly dat sy elke dag nadat sy eers ’n paar happe pap geëet het, vir Hlaulu ’n storie vertel.
Op ’n dag vertel die ou vrou vir Hlaulu die storie van die meisie en die bosdier.
“Eendag was daar ’n meisie wat altyd om die bos moes loop omdat daar ’n bosdier in die bos woon. Op ’n dag word die meisie moeg daarvan om so ’n ver pad te moet loop. En sy is ook nuuskierig om te sien hoe die bosdier lyk.
“Toe gaan die meisie stil soos ’n blouduiker die bos in en sy wag totdat sy die bosdier sien aankom.”
“Hoe lyk hy?” vra Hlaulu met groot oë.
“Lelik. Baie lelik. Hy’s amper so groot soos ’n olifant en hy’t ’n pels soos ’n hiëna en ’n gesig en pote soos ’n bobbejaan en ’n regop stert soos ’n vlakvark.”
“En toe?” vra Hlaulu met ’n dun stemmetjie asof sy die bosdier nou net buite die hut hoor skreeu het. “Wat het die bosdier toe met die meisie gedoen?”
Die ou vrou laat Hlaulu so ’n rukkie wag, toe sê sy: “Niks nie. Die bosdier het haar eers niks gedoen nie, want hy het haar nie gesien nie. Soos ’n blouduikertjie het sy onder die bosse weggekruip en die bosdier dopgehou.
“Toe sien sy hoe die bosdier ’n bok uitmekaar skeur en opvreet sodat daar niks van die bok oorbly nie, nie eens die horings nie. En toe sien sy die bosdier hou ook baie van wildevye en ander soet vrugte en toe kry sy ’n slim plan.”
“Watse slim plan?” vra Hlaulu.