Armoede kring net wyer uit. Wat sal die statistiek vandag wees?
Ek dink die tyd het aangebreek dat ons wat het, bietjie meer moet insit om te help om hierdie armoedekring nouer te maak.
Moenie die kop wegdraai nie. Kyk in daardie leë, honger ogies. Jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie, maar die arme s’n ook nie. Dit sal meer betekenis hê.
Groepbespreking
Lees die toespraak weer hardop in julle groepe en kry antwoorde op die volgende vrae. Elke groep moet terugvoering gee:
Skryf woorde neer wat julle nie verstaan nie. Gebruik ’n woordeboek en slaan die betekenis na.
Wat is die onderwerp van hierdie toespraak?
Die spreker doen ’n beroep op die gehoor. Wat vra sy en wat is haar boodskap?
Is hierdie taal formeel of informeel? Skryf gedeeltes uit die toespraak neer as bewys van julle anwoord.
Hoe verskil die trant van hierdie toespraak van ’n gewone inligtingsteks? Dink aan die volgende:Wat maak hierdie toespraak meer persoonlik van aard as ’n gewone koerantberig?’n Koerantberig moet objektief wees – is hierdie toespraak objektief of subjektief? Gee bewyse uit die toespraak.
Uit hoeveel hoofpunte bestaan hierdie toespraak? Skryf hulle neer.
Maak die spreker van feite gebruik om haar stellings te staaf of raai sy sommer? Gee voorbeelde.
Watter rol speel die vrae wat kort-kort gevra word? Is dit vrae waarop direkte antwoorde gegee kan word? Wat noem ’n mens sulke vrae?
Gee voorbeelde waar die spreker op die gehoor se emosies werk. Is dit suksesvol?
Bespreek die inleiding en die slot. Is dit geslaagd en vang dit die gehoor se aandag vas? Laat dit die gehoor nadink? Motiveer julle antwoord.
Vorm hierdie toespraak ’n eenheid, met ander woorde, sluit die inleiding en slot by mekaar aan? Verduidelik julle antwoord.
In In ’n neutedop word verduidelik hoe woorde in Afrikaans gevorm word. Gaan dit deeglik saam met jou onderwyser deur. Raadpleeg ook die Taalgids agter in die boek.
Woordvorming
Deur middel van woordvorming word nuwe woorde gevorm. Jy moet die volgende terminologie omtrent woordvorming ken en verstaan:
Stam (basisvorm) van ’n woord: Dit is die kleinste deeltjie van ’n woord wat betekenis het. Die betekenis moet ooreenstem met die betekenis van die nuwe woord, byvoorbeeld: die stam van speler is speel.
’n Simpleks bestaan slegs uit die stam van ’n woord. Dit is ’n woord wat nie in kleiner betekenisvolle dele verdeel kan word nie, byvoorbeeld: motor; pampoen; tafel; stoel.
Affikse sluit die volgende in:’n Premorfeem (voorvoegsel of prefiks) staan voor die stam, byvoorbeeld: versoek, misverstand.’n Postmorfeem (agtervoegsel of suffiks) staan agter die stam, byvoorbeeld: sukkelaar, ontwikkeling.’n Metamorfeem kom voor wanneer sommige woorde gevorm word deur die klinker (vokaal) van die stam/basis te verander. Dit staan ook as klinkerwisseling bekend. Die twee woorde moet met mekaar verband hou, byvoorbeeld: bid – gebede, bedelaar; skiet – skoot, skut, uitskot; sny – snit, gesnede; byt – gebit, beitel; gryp – greep; meet – maat; wreek – wraak, wrok.
Voor- en agtervoegsels het ’n betekenisfunksie
aarts- (eerste, vernaamste): aartsvader, aartsengel
ant- (teen): antwoord
anti- (teen): antirookveldtog, antigeweld
on- (sleg/nie): onding, onmenslik
mis- (sleg): misdaad, misstap
tele- (ver): telefoon, telegram, televisie
her- (weer): herstel, herwin
ver- (oor): verguld, versilwer
be- (voorsien van): bevlek, bekroon
Die woord ongelukkig het dus soos volg tot stand gekom:
on- – voorvoegsel/premorfeem/prefiks
geluk – basisvorm/stam
(k) – hier het die konsonant as gevolg van die spelling verdubbel
-ig – agtervoegsel/postmorfeem/suffiks
’n Kompleks bestaan uit een of meer as een stam plus morfeme. Voorbeelde van komplekse is:Afleiding: Stam plus ’n pre- en/of postmorfeem (voor- en/of agtervoegsel), byvoorbeeld: pampoene; motors; tafeltjie; stoeltjie; vroue. Die woord dwing is deur klinkerverandering na dwang verander; dus is dit ook ’n afleiding.Samestelling: Dit bestaan uit twee of meer stamme, byvoorbeeld: skoolhemp; hempsmou. Kern en bepaler: Elke samestelling het ’n kern (belangrikste deel van die woord wat gewoonlik laaste in die woord staan) en die bepaler wat gewoonlik eerste staan, bv. in die woord speelbal is bal die kern en speel die bepaler.Samestellende afleiding: Dit bestaan uit twee of meer stamme plus voor- en/of agtervoegsels, byvoorbeeld: dikvellig; dakligte; hempsmoue.’n Voegsel of verbindingsklank kom slegs in komplekse voor of tussen bepaalde stamme. Hierdie verbindingsklanke het geen betekeniswaarde nie. Dit verbind slegs woorddele. Byvoorbeeld: arbeidsgeskil, heldedaad, kinderboek.
Beantwoord die taalvrae.
1. Vorm samestellings van die stamme tussen hakies.
a. Die (vy + boom) staan net buite sy (kamer + venster).
b. Aan die (wes + grens) van Johannesburg is Randburg.
c. Die spreker se (lewe + skets) is vooraf gegee.
d. Die burgemeester se (nooi + van) is Ngwenya.
e. ’n Burgemeester moet ook maar ’n (lewe + polis) uitneem indien hy/sy dalk in ’n ongeluk beland.
2. Skryf of die volgende woorde ’n afleiding, samestelling of samestellende afleiding is:
a. soeksessie
b. stukkende
c. selfoon
d. kinderarbeid
e. wêreldwyd
3. Skryf die stam van die skuinsgedrukte woorde neer:
a.Die situasie is onveranderlik.
b.Kenners sê die probleem is baie groot.
c.Kinderarbeid is onwettig.
d.Dit kring al wyer uit.
e.Dit is emosioneel uitputtend.
4. Watter van die volgende woorde is simplekse of komplekse?
a. emosioneel
b. honger
c. wegdraai
5. Skryf die regte vorm van die woord tussen hakies neer.
a. Die (ry) na Mpumalanga was uitputtend.
b. Die polisie ry te perd en staan dus bekend as die (ry) polisie.
c. Die (skiet) het ’n (skiet) met sy geweer geskiet.
6. Watter betekenisfunksie vervul die skuinsgedrukte voor- en agtervoegsels in die volgende woorde?
a.Die kinders in die myne werk in onmenslike omstandighede.
b.Ons moet die kwessie van armoede herdink en die mense bemagtig om hulleself te help.
7. Die woord “armoedekring” is ’n samestelling. Watter deel is die kern en watter die bepaler?
In hierdie aktiwiteit gaan jy
navorsing