“En jy?”
“Miskien tog.”
“Hoekom los jy nie permanent ’n foto van Sebast op die altaar nie?”
Hy het geskok na my gekyk. “Wil jy hê my ouers moet my onterf? Al was hulle baie lief vir Sebast, is dit net aangetroudes en bloedfamilie wat op die altaar vereer mag word.”
Hy het die ketting opgetel en dit teruggesit om sy nek.
Sy ouers was uit en ons het lank in die sitkamer met sy donker meubels, syskerms en groot vase gesit.
“Hoekom kry ons nie altyd verduidelikings vir die goed wat skeefloop in die lewe nie?” het ek weer gevra.
Ching-kung het sy vingers deur sy dik swart hare gekam. “Party mense sê die antwoorde is in die sterre.”
Waar ek by my lessenaar met die algebraprobleem stoei, maak die herinnering aan Ching-kung se woorde iets in my los. “Anna Meyer, jou slêm dêng!” prys ek myself toe ek skielik agterkom hoe om die probleem op te los.
Toe ek opkyk, sien ek aan die ander kant van die tuin in een van die winkel se vensters met sy diamantvormige loodraampies ’n verbrokkelde figuur. Dit was stukkies van Ma.
Ek het gewonder of sy stukkies van my ook kan sien.
Dit was een helse ding om Ma-hulle gepak en op die lughawe te kry. Feit is, hulle het amper nie gegaan nie.
“Ek weet dit was my besluit om te gaan, maar ek kan julle nie so alleen hier los nie,” het Ma gewroeg en gevryf aan die Griekse kommerkrale wat Melina, haar assistent by die winkel, vir haar gegee het.
“Ons is nie twee Dresden-poppe nie, Ma,” het Elise haar probeer gerusstel. “Tussen Florence en Melina sal ons regkom.”
Ma het senuweeagtig geglimlag. “Moet Florence nie te veel pla nie. Laat sy ook ’n bietjie vakansie hou. Die vrieskas is vol kos wat julle net in die mikrogolf hoef te steek.”
“Dis nou nie asof ek gebreklik is voor die stoof nie, Ma,” het Elise gesug.
Sy het na my gekyk net toe ek my oë rol en my hande in genadegebed saamklem.
“Spot maar,” het sy met haar perfekte neus in die lug gesê. “Die mense gaan nog praat oor my kos.”
“Hulle praat al klaar,” het ek gehap. “Veral jou ekse. Hoekom dink jy maak hulle so gou spore? Jy kook te graag vir hulle. Wat het tant Lizz nou weer gesê van die pad na ’n man se hart?”
“Oppas, jou lippe,” het sy teruggekap. “Jou tong gaan hulle sny.”
“Eina! Okay, dié ronde is joune,” het ek gelag.
Ons het palms geklap.
“Jy’s ’n wonderlike fotograaf, El. Rêrig. Maar ’n kok? No ways!”
“Gaan bars!”
“Meisies,” het Ma gekeer. En weer gekarring.
“Anna, jou afsprake met dokter Snyman is in Melina se dagboek. Ek meen dis Maandae en Donderdae. Terloops, Elise, die dokter vertel my dat jy hom nie meer gaan sien nie.”
“Ek het nie ’n kopdokter nodig nie, Ma.”
“Dis nie wat hy dink nie.”
“Weet Ma wat dink hy rêrig? Dat ons almal, die hele ou sous, ons koppe gelees moet kry. Nie net ek en An nie. Wat help dit, Ma, dat ek en An met die shrink oor Sebast praat en snot en trane huil? Hel, Ma, ons moet met Má-hulle kan praat. Sebast was júlle seun,” het Elise op ’n smekende toon gesê.
Ma het haar arms om haarself gesit asof sy koud kry. “Nie nou nie, Elise. Ek het nog goed om te pak.” Toe is sy uit by die kamer.
Elise het haar onderlip vasgebyt en met haar oë vol trane na my gekyk. “Ek wens hulle wil nie so weghardloop nie! As hulle net meer oor hom wil praat, oor alles wat gebeur het. Wil huil. Wil iets! Al is dit nou borde breek soos Melina-hulle op paarties. Ag, ek weet nie, An. Gaan dinge ooit weer dieselfde wees? Hulle sê nie eers sy naam nie!”
Ek het my suster omhels. Ons het mekaar lank vasgehou.
Pa was nooit een vir tasse pak nie. Ek het hom in sy kamer gaan help.
“Hierdie koffer van my gaan so swaar wees,” het hy gekla terwyl hy die bultende tas probeer toezip het. “Sal seker vir die oorgewig moet betaal.”
“Kom ons kyk gou, Pa,” het ek aangebied.
Die tas was vol truie, ferweelbroeke, serpe en jasse. “Pa? Pa het dan wintersklere ingepak.”
“Nou ja. Dis mos Junie. Ek wil nie klere daar anderkant gaan koop nie. Dit los ek vir jou ma.”
Ek het geprobeer om nie hardop te lag nie, my hand op sy arm gesit. “Pa van my, dis lente daar, amper somer.” Pa staan altyd regop, fier, “amper soos ’n opblaaspop met te veel lug in”, het Elise op ’n keer gesê toe sy vir hom woedend was.
Hy het sy ken laat sak en na my gekyk. Skielik het sy hele lyf net gehang. Asof daardie opblaaspop ’n puncture gekry het. “Hoe ’n gat maak ek nou van my,” het hy gesê. “Natuurlik weet ek dis somer daar. Ek … het net nie gedink nie. Te veel ander dinge op my brein.”
Ons het die wintersklere teruggepak in die kaste. Toe sy tas vol somersklere met etiket en al regstaan en ek amper by die deur uit is, het hy my teruggeroep: “Dankie, Anna …”
Ek het teruggedraai en met my hand op die kosyn na hom gekyk. Hy het vir my soos ’n vreemdeling op een van Elise se foto’s gelyk. Een van daardie moeë, grys, hartseer mense wat sy so graag op stasies en in parke fotografeer.
Ek het in my kamer gaan huil. Presies waaroor het ek nie geweet nie.
Toe ons in die kar klim, het Ma na my rooi oë gekyk en my probeer troos met: “Anna, ons gaan nie só lank weg wees nie.”
Nadat ons Ma-hulle op die lughawe gegroet het, het Elise my speels op die arm geslaan. “Kom ons gaan steek ’n dop, my suster.” Ons was ontspanne, dalk selfs pap – twee poppe met punctures.
By die Milky Lane in Eastgate het ek ’n dik milk shake deur ’n strooitjie geslurp terwyl Elise haar Diet Coke met klein slukkies soos ’n dame gedrink het.
Ons het gelag oor Pa, wat net voor hy by paspoortbeheer in is, vir die derde keer gesê het: “Anna, moenie vergeet om my visse te voer nie.”
Op die stoep is dit donker. Die maan is seker bokant die huis. Ek gooi die kombers af en gaan in. Daar is die reuk van wierook in die sitkamer. Dis weird. Ek frons. En dink aan Ching-kung.
Hy was nog nie weer hier by die huis vandat Sebast weg is nie. Maar elke keer as ek en hy koek-en-tee by die Mixer in Melville, vra hy oor die tuin wat hy en Sebast tussen die huis en die winkel uitgelê het. Hulle was veral baie trots op die visdam. Die tuin was ’n projek waarvoor hulle by die Tech punte gekry het.
Ek het nie die hart om vir hom te vertel dat selfs die winterplante nie te goed lyk sonder Sebast se groen vingers nie. Wanneer ek dink aan Sebast se “groen vingers”, glimlag ek binnetoe.
Toe ek klein was, het ek altyd gewonder hoekom ek nie, soos Ma, die groen aan Sebast se vingers kon sien nie. Later kon ek dit nie meer hou nie. Toe vra ek hom: “Sebast, waar’s die verf aan jou vingers?”
“Wát?”
“Ma sê jy’t groen vingers.”
Hy het gelag en my hare deurmekaar gekrap. Met ’n “shhh” het hy sy voorvinger op sy lippe gesit en sag gesê: “Dis ’n groot geheim. Dis nie verf nie. Dis die murg aan die binnekant van my vingerbeentjies wat groen is. Net spesiale mense weet daarvan.”
“Is Ma spesiaal, Sebast?”
“Baie.”
“En ek?”