Skilpoppe. Barrie Hough. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Barrie Hough
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624068532
Скачать книгу
though life is constantly surprising you. I would, however, like you to be a little svelter.” Met dié woorde het sy haar benerige hande oor haar eie skraal lyf laat gly. “Hips and cheekbones protruding,” het sy gesê met haar hees stem, wat soms soos ’n man s’n klink, en my vet wang geknyp.

      Brody praat met haar hande en ’n sigaret. Dit lyk al soos ’n elfde, gebreklike vinger. Ek wonder of sy sal kan praat as haar hande vasgebind is.

      Die ander onderwysers dink sy’s snaaks. Nie snaaks-ha-ha nie. Snaaks-vreemd. Party van die kinders ook. Nie dat dit haar in die minste phase nie. Ek dink sy voel net mooi swiet blou ôl vir hulle opinies.

      Brody dra meestal swart sweetpakke. Sy’s lief om te demonstreer watter soort bewegings sy van ons wil hê. Aan die begin van ’n repetisie lyk sy nog heel netjies, maar later is haar hare deurmekaar en haar swart klere vaal van die asstrepe.

      Ek moes “svelte” in die woordeboek naslaan. “Lenig, soepel, slank,” sê Bosman, Van der Merwe en Hiemstra. Dis eintlik maar net deftige woorde vir blêddie maer.

      Brody is reg oor my dik agterent. Die spek gaan waai! Genuine. Wanneer Marcel – hy’s Romeo – my vashou in die liefdestonele, gaan ek die ene ribbes en heupbene wees. Hy’s gewoond aan Therese se “lenige” lyf. Sy het glo verskriklik gemoan en gebitch omdat ’n standerd agt-pokkel Juliet speel teenoor die skool se eie Arnold Vosloo. Die storie loop blykbaar dat Brody my jammer gekry het oor Sebast.

      Ek sal hulle wys!

      Dis seker lelik van my, maar ek kry lekker omdat Therese die rol van Lady Capulet, Juliet se ma, gekry het. Sy’s ook vies oor haar kostuumontwerpe. Sy kla die rokke is te wyd. Nie sexy genoeg om haar lyf af te show nie. Sy kan in elk geval nie toneelspeel om haar lewe te red nie. Haai sies, nou’s ek weer ’n ou bitch.

      Die maan is los. Hy dryf weer. Baie mense sien hom seker vanaand. Baie mense kyk deesdae na die naghemel. Met die draai van die eeu en die millennium wat op pad is, is dit asof hulle iets verwag. Daar is ook so baie voorspellings van fortuinvertellers en astroloë. En ek voel dit self. Dinge is onrustig. In die land, by die skool. Selfs in ons familie. Veral vandat Sebast weg is.

      Pa sê dié millennium-goed is tjol. Hy dink alles wat new age is, is uit die bose.

      Meneer Van Wyk het vandag vir die klas verduidelik dat die aarde gedurig in gevaar is, dat dit enige tyd getref kan word deur meteoriete, helse groot stukke ruimterubbish wat in space rondfloat. Tref een wat groot genoeg is die aarde, kan dit die lewe soos ons dit op aarde ken, verander. Of selfs die mensdom uitwis. Hy’t ook vir ons verduidelik wat ligjare is. Hy sê die lig van sterre wat baie ver van die aarde af is, kan miljoene jare neem om by die aarde uit te kom. Ons kan blykbaar nog die lig sien van sterre wat al lankal uitgebrand het. Hulle is dood. Maar vir ons blink hulle nog. Ek probeer nog uitfigure hoe dit moontlik is.

      Ek wonder of Sebast dieselfde maan en sterre as ek kan sien. Waar hy ook al is. En Ma-hulle? Seker nie. Europa is aan die ander kant van die aardbol.

      2

      Wierook

      Ma wou alleen gegaan het. Toe Pa hoor sy wil ook Rusland toe, was daar moeilikheid. “Oor my dooie liggaam begewe ’n vrou van my haar op haar eie tussen die donnerse Kommuniste!”

      Hoe meer Ma en Elise probeer verduidelik het dat Kommunisme, soos die Berlynmuur, eintlik iets van die verlede is, hoe harder het hy op en af gespring. Elise het sy siel uitgetrek met ’n grappie van Pieter-Dirk Uys.

      “Suid-Afrika is die enigste land in die wêreld wat ’n Kommuniste-party het met ’n toekoms,” het sy gesê. “In elk geval, Pa, is daar Kommuniste in ons regering. Party van hulle is rêrig nie só bad nie. Pa moet bykom.”

      “Die enigste goeie Kommunis is ’n dooie Kommunis,” was sy ontstoke reaksie.

      Ma het hom net so gekyk, haar blou oë twee helder skilderytjies agter die glase van haar bril.

      Brom-brom en teen sy sin het hy toe besluit hy gaan saam. Maar toe hy hoor dat hulle eers Wenen en Praag toe gaan, het hy ’n tantrum gegooi. Hy was besig om die eerste van sy laatmiddagdrankies, sy “skemerkelkies”, in die sitkamer te skink toe Ma hom betrek.

      “Net nog ’n rede om geld uit te gee, Helena!” het hy ontplof. “Dis nou weer ’n nuwe koors wat losgetrek het onder jou en jou vriende. Eers het julle die paadjie na die gimnasium toe deur gedraf, voete laat masseer en vegetariërs geword. Toe’t julle opnaaisels agter julle ore laat insit en vet laat uitsuig. Dis onwaardig om op julle ouderdom soos tieners te wil lyk. Maar ’n nuwe gril of gier dié moet daar wees. Nou flenter almal oorsee. Plaas dat julle al die mooi plekke in ons eie land besoek. Nee, maar dit moet oor die water! En hierdie alewige vakansies kos geld. Lyk ek miskien soos ’n Oppenheimer?”

      Dít moes Pa nie gesê het nie. Ma haal toe wat Sebast haar “Yskoningin” genoem het uit die hoed.

      “Marius,” het sy gesis. “Dis nie asof ek bloot vir plesier oorsee wil gaan jakker nie. Vandat ons weer deel is van die res van die wêreld, is daar ’n groter aanvraag vir buitelandse kuns en tapyte hier, spesifiek vir volkskuns uit die Oosblok-lande. Die ander winkels het al begin invoer. Dis nie soos by julle in die motorbedryf waar jy goed uit ’n katalogus vir die garage kan invoer nie. Ek moet self sien wat ek kry. As jy dink ek gaan my deur ’n kortsigtige man laat kniehalter, maak jy ’n fout. Ek het my eie geld – van die winkel. En in elk geval het my ma my nie flentergat in die wêreld nagelaat nie.”

      Ek kon my ore nie glo met “flentergat” nie. Vir Ma is dit ’n vloekwoord. En Ma vloek nie sommer nie. Plek-plek het haar ys ’n bietjie begin smelt.

      Dit het gelyk of Ma klaar gepraat het, want sy het opgestaan uit haar stoel en tot by die deur geloop. Daar het sy gaan staan en weer teruggedraai, haar hande geklem. “Dink jy nie jy het hierdie gesin al genoeg skade berokken nie? Ons is nie jou honde nie. Ek het nodig om weg te kom van hierdie plek af. Weg. Om te probeer vrede maak met myself ná wat gebeur het. Die afgelope drie maande sonder my kind was hel. Miskien help …”

      Ma het die sin nek omgedraai en is gang af.

      Pa het net so in die skemer sitkamer bly sit. Ek dink nie hy of Ma het eens agtergekom ek was daar gedurende die rusie nie.

      Elise was skoonveld. Sy kan nie sulke scenes lekker hanteer nie. Sy skrik maklik.

      Niemand eet daardie aand nie. Die tafel bly staan net soos Florence hom gedek het.

      In die middel van die nag was ek skielik skreeuhonger. Die kos in die oond was koud en droog.

      Ek het ’n blik kondensmelk in die koskas gaan kry, twee gaatjies daarin gesny en daaraan in my bed gaan suig.

      Toe ek die volgende dag van die skool af kom, was die huis vol blomme. Soos ná Sebast. Maar dié keer was dit Pa se manier van gatkruip. Vase vol verskonings. Hel, maar die oukêrel kan charm as dit nodig is. Met daai looks is dit seker nie moeilik nie. Nou nog laat hy die koppe draai. Al is hy grys teen die slape en ’n bietjie verweer in sy gesig. Ek dink Ma het vir die looks geval.

      Die geur van die blomme was swaar in die huis. Ma was nie daar nie.

      Ek het in my kamer by die lessenaar voor die venster gaan sit en werk. Algebra. Ek verstaan niks nie. Dis ’n vreemde taal waarmee Sebast my altyd gehelp het. In wiskunde is daar altyd antwoorde, al is dit soms vrek moeilik om by hulle uit te kom, het hy altyd gesê.

      Die vrae in my eie lewe het nie altyd antwoorde nie. Ons lewens is so deurmekaar, al glo Ching-kung aan “the mathematics of life”.

      “Hoekom kry ons dan nie altyd antwoorde nie?” wou ek op ’n keer by hom weet terwyl hy vir my verduidelik het hoe hulle gesinsaltaar werk.

      In ’n spesiale hoek van hulle sitkamer staan ’n tafel vol kerse, wierookhouertjies, ’n standbeeld van die Chinese godin van genade – Kuan-yin – en foto’s van Ching-kung se dooie familielede.

      Hy het die hangertjie om sy nek afgehaal en dit oopgemaak. Binne-in was ’n foto’tjie van Sebast. Hy het die vierkantige hangertjie