Haar nuwe huismoeder is mevrou Claerhout. Sy hou nie daarvan om tannie genoem te word nie. “Ek en jy is nie familie van mekaar nie, het jy my?” Sy is baie streng en het ’n hoërskoolseun van haar eie, Colin, wat baie stink winde los.
“Erg genoeg dat hy mens se hele perm kan uitpoep,” waarsku Killer terwyl Vaselinetjie inpak.
“En dan sweer hy nog voor sy ma dis die meisies,” sê Albie. “Sy naam is Colin Prop, oorlat hy een nodig het.”
Mevrou Claerhout is ’n baie besliste tannie en baie netjies. Vaselinetjie is eers opgewonde om in haar huis te wees, want sy is ’n bruin tannie wat nogal ’n bietjie soos ouma Kitta klink. Al praat Ouma nie met sulke stywe strepies-lipstick-lippe nie.
Snags dra mevrou Claerhout ’n haarnet oor haar hare, want dis ge-relax, het die ander kinders al vir Vaselinetjie vertel. En as meneer Hefner vir mevrou Claerhout kantoor toe roep, draai Colin Prop sommer woes uit. Hy jaag die meisies met sy ma se haarnet oor sy gesig getrek en laat hulle gril vir sy tong wat deur die blokkies kriewel.
Buite mevrou Claerhout se voordeur, wat in die gang van die hoofgebou uitloop nes al die ander binnevoordeure, is ’n kennisgewing opgeplak: Klop en wag tot jy ingenooi word. As ’n mens nie wag tot sy self kom oopmaak nie, jaag sy jou sommer weer uit.
Die eerste aand toe Vaselinetjie by mevrou Claerhout se huis aanmeld, gaan die deur vanself oop nog voor sy kan klop. Mevrou Claerhout kom uitgestap, maar kyk Vaselinetjie eers vir ’n lang oomblik op en af. “Gaan wag solank binne vir my, jy’s in kamer 2. Moet aan niks vat nie en moenie dat ek jou vang geselsies maak met my seun nie,” sê sy en stap tiek-tak-tiek-tak met haar halfmashakkies in die gang af.
Vaselinetjie staan ongemaklik net binne die voordeur en rondkyk. Elke huiseenheid is dieselfde, maar die tannies versier hulle eenhede verskillend. Party maak dit mooi en ander los dit net soos hulle dit gekry het.
Aan die een kant is ’n oopplankombuisarea met ’n stoorkamertjie wat daaruit lei. Vas aan die oopplankombuis is die langwerpige sitkamer waar die kinders se rye opslaan-studeertafels staan. In die verste hoek van die vertrek is ’n ou televisiestel, ’n bank en ’n ekstra bed. Die meeste huise se TV’s werk lankal nie meer nie, want die kinders wat orig en niks gewoond is nie, druk aanhoudend die knoppies tot dit blaas. Saans moet elke huismoeder godsdiens op die bank en ekstra bed hou, of sy nou glo die Liewe Heiland kan haar uit dié hel vol sondige kinders red of nie, kla tannie Snorre altyd.
Die stuk mat by die TV is die dikste en dis die plek waar ’n mens moet duik as jy sien iemand gaan jou gesig in die vloer instamp, het Killer vir Vaselinetjie geleer.
Mevrou Claerhout is ’n lady, dink sy in haar skik, want sy sien al die studeertafels het tafeldoeke oor wat by mekaar pas. Ook die gordyne is nie die gewone kinderhuismateriaal nie, dit het groot, vrolike blomme op. Daar is boonop portrette teen die muur en die skoolfoto’tjies van vorige jare se kinders is in rye op die stoorkamertjie se deur geplak.
Een foto is van ’n skare mense wat toi-toi en tussen die hordes overalls kan sy vir mevrou Claerhout en iemand wat baie na tannie S’laki lyk, uitmaak. Sy buk net af om dit van naby te bekyk toe ’n verskriklike lawaai skielik agter haar uitbars.
“Nou is die heilige hel los!” skree ’n ouer meisie met hare wat skrou-oranje gekleur is. Sy kom ingestorm, stamp vir Vaselinetjie uit die pad en probeer by die kombuisarea invlug, maar dan is ’n hele klomp groot meisies op haar. Dié wat nie deel van die geveg is nie, skree en moedig die bakleiers aan.
Ander drom in die sitkamer saam en kyk benoud toe. “Julle, néé! Hou op voor die tannie terugkom en ons almal gehok word,” kerm iemand.
Vaselinetjie kyk verstar hoe die oranjekop uit die groep losbreek. Sy storm by Vaselinetjie verby en pluk ’n laai in die kombuis oop. “Vrek, julle werfetters!” skree sy broodmes in die hand terwyl sy oor die toonbank terug in die aksie in spring.
“Pasop!” gil Vaselinetjie voor sy kan dink om nie betrokke te raak nie. Die ander kinders storm soos een man van die oranjekop af weg, die gang af, maar die agterdeur is gesluit en die groep word voor die sekuriteitshek vasgekeer.
Iemand kom agter die oranjekop uit die badkamer en kap haar teen die kant van haar gesig met die skerp hak van ’n skoen. Sy val skuins teen die oorkantste gangmuur dat haar bloed ’n streep oor die muur trek. Vaselinetjie voel die naar in haar opstoot.
Die oranjekop het nog nie behoorlik die grond getref nie, toe is die groep op haar. Hulle hou aan om haar te skop al roer sy nie eens meer nie.
Vaselinetjie moet hard sluk om nie op te gooi nie. Sy druk haar hand oor haar mond en sak agter die kombuistoonbank in. Sy huil sonder om ’n geluid te maak en voel net hoe haar pie nat teen haar bene afloop.
In haar kop maal dieselfde sin oor en oor: Hier moet ek wegkom. Ek móét net!
Van die jonger meisies wat nie deel van die bakleiery was nie, probeer by die voordeur uitkom. ’n Swart meisie, Denise Toolo, van wie Vaselinetjie al gehoor het dat die ander haar ’n mannetjieswyfie noem, het ’n belt om haar vuis gedraai. Sy blokkeer die voordeur sodat niemand kan uit nie. Die lawaai is so erg dat hulle nie eens agterkom dat meneer Hefner se stem aanhoudend oor die interkomstelsel af kondig nie.
“… die leerlinge verantwoordelik vir die insident in mevrou Claerhout se eenheid …” dring die stem uiteindelik tot haar deur, “… dit is julle laaste waarskuwing. Indien julle nie al julle voorregte wil verbeur nie …”
Sy is verbaas dat die stem nie juis omgekrap of kwaad klink nie. Eerder soos iemand wat verveeld is met die situasie.
“Hefner!” sis die mannetjieswyfie en gee van die voordeur af pad. Die ander skarrel in die gang af om by hulle kamerdeure te staan en loer, sodat hulle kan sê hulle was nie naby die baklei gewees nie.
Vaselinetjie wil huil van verligting toe mevrou Claerhout en meneer Hefner ingestap kom. Nou sal als uitgesorteer en weer rustig gemaak word, dink sy bewerig.
Al die meisies se oë is vasgenael op die hoof. Hy stap stadig in die gang af. Die meisie met die oranje hare lê nog net waar hulle haar gelos het. Vaselinetjie kan haar broekie sien uitsteek, want haar romp het oor haar bobene opgeskuif. Niemand bodder om dit reg te trek nie.
Die hoof draai na mevrou Claerhout. “Is dit die tipe beheer wat jy oor jou huis het, mevrou?” vra hy smalend.
Vaselinetjie sien hoe die tannie se oë tranerig word en haar hand vroetel met die bossie sleutels aan haar belt. “Jammer, meneer, ek het nie besef wat hier gaan gebeur nie. Daar was nie ’n teken van onraad toe ek uit die huis is nie,” probeer sy haarself verdedig.
Die hoof loop verder in die gang af om die badkamer ook te inspekteer. Hy krap met ’n tandestokkie in sy mond en dan weer teen die mure waar die verf in blase afdop. Hy loop reg verby die meisie wat kreunend in die gang lê sonder om eens een keer na haar te kyk. Vir ’n oomblik vang Vaselinetjie sy oë op die meisies se gewaste onderklere wat aan die badkamerhakies hang.
Hy sê niks oor die geveg nie. Haal net sy sakdoek uit sy broeksak, snuif, vou die sakdoek ’n paar maal en sit dit terug sonder om sy neus te blaas. “Julle sal hierdie muur skoon kry en die bloed afwas, mevrou, voor enigiemand weer oor daardie drumpel tree. Ek betaal nie nog ’n maal om dit te laat oorverf nie.”
En met dié stap hy by die voordeur uit. Vaselinetjie hoor hoe hy dit met sy loper van buite af sluit. Nou’s almal ingehok, mevrou Claerhout ook.
“Hok” is een van die woorde wat deel geword het van Vaselinetjie se kinderhuislewe. “Om gehok te wees, beteken jy mag nie uitgaan nie, al voel jy ook of jy jou trollie self by die afgrond gaan afdrywe,” het Killer haar in haar eerste week al touwys gemaak.
Huishok beteken jy mag in die huis rond beweeg, net nie by die deur uit nie. Kamerhok beteken jy moet in jou kamer sit, en bedhok is wanneer jy nie eens ’n toon van jou bed af mag beweeg nie. Alle straf word in jou straflêer opgeskryf en jy moet daarvoor teken.
“Vat