Die koshuisvrou maak die deur na die gang oop en stoot die traliehek weg sodat Vaselinetjie kan ingaan. Sy hoor ’n gefluister in die donker gang.
“Ligte uit, ligte uit!” roep die vrou soos hulle in die gang af loop terwyl Vaselinetjie met moeite haar tas agterna sleep. Die vrou het hare op haar bolip en ken, te grillerig. Vaselinetjie sien dat haar voete skeef trap in ’n paar houseslippers en dat haar hakke skurf en gebars is. Sy is besig om ’n toastbroodjie te eet en lek haar vingers af terwyl sy Vaselinetjie se vorms onder haar blad vasknyp.
“Daar’s verskillende eenhede in die gebou wat almal presies dieselfde lyk. Elkeen word ’n huis genoem en het ’n ander naam en ’n ander huistannie wat na die kinders in daardie huis omsien. Almal se voordeure loop uit in die groot gang in die middel van die gebou,” verduidelik die vrou met haar laaste korsie oor haar skouer.
By die vierde kamer beduie sy vir Vaselinetjie om in te gaan, maar bly skaars vir ’n oomblik in die deur staan om te sien of sy darem ’n oop bed kry.
“Ek’t mos gesê ligte uit,” skel sy by Vaselinetjie verby op die nuuskierige agies wat orals onder beddegoed uitloer.
Vaselinetjie wil haar oë styf toeknyp en net gil en gil tot sy wakker word uit hierdie nagmerrie. Elke bed staan ’n tree weg van die volgende een en elkeen het ’n klein bedkassie en ’n hangkas, maar party van die kaste is sonder deure.
Die vrou skakel die lig af en haar voetstappe verdwyn in die gang af.
“Moenie worry oor haar nie. Jy’s eintlik lucky jy’s in hierdie huis, want sy’s een van die gaafste tannies,” fluister ’n stem uit die bed langs Vaselinetjie s’n.
Vaselinetjie kan nie die persoon se gesig uitmaak nie en sy’s te verskrik om te antwoord. Sy haal haastig haar nighty uit haar tas en trek dit onder die duvet aan sonder om ’n geluid te maak.
Waar is ouma Kitta om haar te kom toemaak? Waar is haar eie groot, sagte bed met die vrolike bedspread en springs wat skiet as sy op hom val? Die bed waarop sy nou lê se matras is so dun dat sy duidelik kan voel waar daar spasies tussen die planke is.
Sy wil gaan piepie en sy wil huil, maar sy’s te bang om te roer of dat iemand haar dalk hoor snuif. Sy druk haar kop diep in haar kussing in om haar bang en haar huil te probeer keer.
2
Die volgende oggend word sy wakker van ’n geraas. Dis ’n malle lawaai van stemme wat tussen die kamers heen en weer skree en gesels en lag. Tussendeur probeer die tannie die klomp aanjaag.
By die bed aan Vaselinetjie se ander kant staan ’n tingerige meisie met versnipperde vaal haartjies wat Vaselinetjie aan ’n toiletborsel laat dink. Haar voortande is afgebreekte stompies en bruin gevlek. Toe sy in Vaselinetjie se rigting kyk, kyk Vaselinetjie vinnig weg.
Twee bruin meisies is besig om Vaselinetjie se tas om te dop en haar klere deur te kyk. “Lossit!” Sy spring onder die duvet uit en probeer haar goed teruggryp.
“Aikôna,” hou die een meisie dit buite haar bereik, “dit moet alles afgaan waskamer toe voor jy dit kan merk en wegpak.” Toe lag sy. “Is jy in ’n apteek gebore?” Sy wys die naamlappies wat ouma Kitta netjies in die nek van elke kledingstuk vasgewerk het vir die ander een. “Jy sal als moet aftorring, hier kry jy net ’n nommer.”
’n Groot meisie met die langste swart vlegsel wat Vaselinetjie nog gesien het, kom by die kamer in. Sy maak vinnig al die kaste se deure oop en begin klere uitgooi. Dan loer sy onder die beddens in en pluk die kussing van die bed langs Vaselinetjie s’n weg. Onder die kussing lê ’n pantie, vuil skoolsokkies en ’n eenbeenpop.
Die meisie vat die pop en draai die kop met een besliste beweging af. “Ek dog so,” sê sy toe ’n botteltjie uitval. “Jy’s gehok vanmiddag, Albie!” sê sy streng.
Vaselinetjie sien hoe die kind met die toiletborselhaartjies die grond tref asof iemand haar in die kop geskiet het. Sy slaan met haar vuiste en skop met haar bene asof sy op die vloer probeer roei. Die ander meisies lag, maar Vaselinetjie staar haar oopmond aan. Sy’t in haar lewe nog nooit ’n uitgegroeide kind só sien aangaan nie.
“Hoekom is jou bed nog nie opgemaak nie?” vra die vlegselmeisie skielik.
Vaselinetjie is so paniekerig dat sy nie weet wat om te sê nie. Sy het nog net ’n paar keer met ’n blanke meisie gepraat en dit maak haar ekstra bang omdat sy weet die meisie is al in die hoërskool, want sy’s langer as almal en het borste. Haar naam moet Kitcat wees, dink Vaselinetjie, want Albie is besig om haar kliphard uit te vloek.
“Gaan jy jou net natpis of kan jy praat ook?” Kitcat tree nader en Vaselinetjie wil koes, maar toe sien sy Kitcat hou ’n roll-on na haar toe uit. “Is dit joune?”
“Uh,” knik Vaselinetjie haar kop, “is myne. It was las nog in my se kys gewies.” Sy herken nou eers die botteltjie. Roosgeur met ’n pienk doppie. Ouma Kitta het dit nog nuut vir haar gekoop saam met haar Johnson’s baby powder en cream.
Almal kyk vir haar. Albie hou skielik op met skree en staar ook na haar.
“Jy’s dan wit soos ek, vir wat praat jy soos ’n hotnot?” sê Kitcat, en die ander skater van die lag.
Vaselinetjie se gesig brand van skaamte. Sê nou die blankes slaan haar? “Wat ek gebore is, is ek maa’ altyd so lig,” mompel sy net.
Gaan dit nou hier ook wees soos by haar ou skool waar hulle altyd gesê het sy lieg? Sy voel die opgooi in haar keel. Het die antie haar nie per ongeluk in die donker in die verkeerde kamer gesit nie?
Die volgende oomblik klap dit soos Albie reguit agteroor val en haar kop die vloer tref. “Néééé!” gil sy dat die are in haar nek uitstaan. “Ek gaan nie my kas regpak as daar ’n houtkop in my kamer is nie!”
“Ag, hou jou bek, Albie. Ek vat liewer ’n hottie as ’n dief en ’n skrougat any time,” sê die meisie by die bed aan Vaselinetjie se ander kant. Haar stem is eentonig, asof sy verveeld is. Vaselinetjie herken dit dadelik as die stem van die vorige aand. Die meisie het ’n bleek gesig en spierwit hare wat in twee dik boksterte vasgemaak is.
“My naam is Killer,” groet sy bo-oor die lawaai terwyl sy die slot aan haar kas toeklik en Albie se bondel skoene voor die bed eenkant toe skop. “Ek het my stiefpa se klere met my lighter aan die brand gesteek toe hy dronk was. Toe moes hy ’n skin transplant kry. Nou mag ek nie meer by my huis kom nie, maar dis ok fine.”
Aan haar manier van praat kan Vaselinetjie nie agterkom of Killer vriendelik, kwaad of hartseer is nie. Sy klink eintlik ’n bietjie brêgherig oor wat sy vertel.
Vaselinetjie begin haar bed opmaak en probeer om niks verder te sê nie, maar terselfdertyd is sy bang dat as sy net stilbly, die ander kinders met haar gaan baklei.
“… net twee hande en twee voete, dis wat ek het, maar nee, die government traak mos nie daaroor nie. Stop vyftien kinders in een huis vir een huisma om na te kyk. Waar is reg en geregtigheid, vra ek jou?” hoor Vaselinetjie die huistannie buite in die gang kla.
Sy loop agter die ander kinders aan na die sitkamer waar die meisies by hulle studiebanke gaan sit om ontbyt te eet. Elkeen kry ’n bakkie pap en daar staan brood in die middel van elke tafel. Die koffiebekers staan klaar gedek.
Vaselinetjie kyk nie links of regs nie, maar dit klink vir haar of dit The Bold and the Beautiful is wat op die TV speel. Dit laat haar van voor af hartseer voel, want sy en haar ouma het dit altyd saam gekyk.
“Gaan jy eet of gaan jy net maak of jy onsigbaar is?” vra Killer.
Selfs al was haar keel nie so toegetrek nie, sou Vaselinetjie nie kans gesien het vir die blerts pap voor haar nie.
“Die velle is gross, maar jy moet dit net laat afgly en maak asof dit vla is,” sit Albie in. Sy wag aspris tot Vaselinetjie na haar kant toe kyk en trek dan tydsaam die gestolde vel van haar pap af. Sy laat dit in haar mond afsak soos iemand wat ’n erdwurm sluk.