Sy kop buig laer en hy soen haar. Sy lippe ondersoek haar gelaatstrekke een vir een, eksperimenteer met haar oorskulp en verken die lyn van haar kakebeen, strelend af oor haar nek en sleutelbeen. Dan stadig, voel-voel tot by haar kuiltjie en die onderpunt van die V-nek-kraag.
Cecilia vergeet al haar logiese redenasies, wat opeens nie meer sin maak nie. Al waarvan sy bewus is, is dat Melt se eksperiment vonkelwyn deur haar are laat bruis. Haar hart tamboer in suiwer ekstase. Haar lyf word sag en soet teen syne, nie in staat om teen die proefneming te rebelleer nie.
Of te keer toe hy sy een hand om haar middel losmaak en sy vingers die boonste pêrelknopie van haar japon stadig oopknoop nie . . . Hy soen die gleufie tussen haar borste en verberg sy gesig in die stuwende rondings aan weerskante. Sy vingers vind die volgende knopie en sy kop buig laer, terwyl hy met die punt van sy tong die buitelyne van haar mond navolg.
Sy hande is koel oor haar koorsige lyf toe hy die laaste knopie oopwoel en die gordel lostrek. “Jy is mooi. Lieflik!” fluister hy gesmoord en stroop die japon van haar af sodat dit in ’n bondel by haar kaal voete val. In dieselfde beweging tel hy haar op en dra haar in die gang af.
Cecilia se mond soek na syne met ’n passie wat haar teen sy bors laat smelt. Haar arms klem om sy nek toe hy in die slaapkamer kom en haar versigtig op die bed neerlê.
“Onweerstaanbaar en begeerlik,” fluister Melt toe hy half bo-oor haar gaan lê. Hy liefkoos haar langsaam, talmend en koesterend, terwyl hy haar onderlyf onder syne inskuif . . .
Dan verstar hy skielik, kreun en rol van haar af weg. “Nee, nie só nie. Nie nóú nie . . . Dis nie hoe dit die eerste keer moet gebeur nie.”
Hy bly op sy maag langs haar lê, sy gesig in die kussing gedruk, terwyl hy veg om sy selfbeheersing te herwin.
Cecilia weet wat dit hom gekos het om weg te rol, want sy stry teen dieselfde oorweldigende drang. Elke sintuig in haar roep uit na hom, hunker om na hom te reik en hom terug te lok na haar.
Melt rol om op sy sy. Sy onstuimige blik vang hare vas, die boodskap daarin duidelik leesbaar. Oplaas streel sy vingers tot waar haar borsbeen eindig, en nog ’n entjie aan, tot net onder haar naeltjie. Maar nie verder nie. Hy rol verder weg en trek ’n hoek van die duvet oor haar. Dan staan hy op en gaan spoel sy gesig in die badkamer af.
Toe hy terugkom, bly hy in die deur staan, net buite die slaapkamer.
“Ek is jammer, Cecilia, en ek vra om verskoning. Ek is nie trots op myself nie. Ek het gedink as ek jou vashou en troos, sal dit die ervaring met Leonardo neutraliseer. Maar die situasie het handuit geruk. Ek het toegelaat dat my emosies oorneem en het van jou weerloosheid misbruik gemaak.”
Hy vryf met sy vingers deur sy hare. “Die stukkie lyn was toe korter as wat ek gedink het. Ek beter loop, voor ek ook ’n kansvatter word met net een ding in sy kop . . .”
Hy kom nader, tot langs die bed en kyk lank na haar, voor hy die punte van die duvet knus om haar invou en met sy vinger ’n strepie oor haar wang trek. Dan stap hy met besliste treë uit. Sy hoor hoe hy die voordeur agter hom toemaak.
Cecilia bly lê, bewend en gefrustreerd. Sy weet nie vir wie sy kwaad is nie: vir Melt of vir haarself. Kwaad omdat sy so maklik beskikbaar was . . . En vir hom omdat hy nie gebly het nie.
Sy is lus om hom terug te roep om te kom klaarmaak wat hy begin het. Hy het mos gesê hy is tot haar beskikking – dag of nag . . .
13
Cecilia het gehoop Melt bel, al was dit net om nag te sê of sommer net te vra hoe dit gaan . . . Maar ná hy weg is, het hy niks weer van hom laat hoor nie. Nie gisteraand nie en ook nie vanoggend nie. Laaste was die klik van die voordeur toe hy uitgestap het.
Is hy skaam? Spyt omdat hy te gou gepraat het en van mening verander het?
Hoe gaan sy hom in die oë kyk? Sal hy dalk dink sy het hom uitgelok? Dat sy dalk met Leo ook geflirt en gekry het wat sy gesoek het? Ai, sy wens Vera was hier om haar gerus te stel dat gisteraand nie ’n droom was nie . . .
Wat maak sy as Melt haar ignoreer – koel en afsydig sy gang gaan en haar behandel soos die vreemdeling wat sy volgehou het sy is? Sy sal nie saam met hom kan werk en hom elke dag sien nie. Dit sal te vernederend wees. Sy sal haar tasse moet pak en ander werk soek, dalk selfs teruggaan Lugdiens toe. Of na Steve toe . . .
Mits Steve haar nog wil hê. Ná ’n lang tyd het hy gisteraand weer gebel, nie in ’n goeie bui nie. Sy het gewens die verbinding was dof en vol eggo’s, soos dikwels in die verlede. Maar hy was in die Kaap, en sy kon elke woord van die beskuldigings en verwyte asof in stereoklank hoor.
Sy was darem bly om te hoor dat hy in Madrid by haar pa-hulle gekuier het.
“Wanneer kom hy en my ma kuier?” wou sy weet. “Ek moet vroegtydig ’n datum hê, sodat ek ’n suite kan bespreek. Vanaf November tot einde Januarie is hoogseisoen, dan is die Lodge gewoonlik vol.”
“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie,” het hy stroef geantwoord. “Jou ryk baas kan seker ’n plan maak om sy minnares se ouers te akkommodeer.”
Sy het eers koud geword, en toe warm. “Wat bedoel jy?”
Hy het spottend gelag. “Ag, kom nou . . . Jy en ek is nie kinders nie, Cilla. Ons is albei mos al mooi groot. Jy weet goed wat ek bedoel.”
“Nee, ek weet nie,” het sy uitdagend geantwoord. “Jy maak insinuasies sonder dat jy die feite ken.”
“Daar is genoeg bewyse.”
“Bewyse? Watse bewyse?”
“Die man het tog sekerlik nie daardie lang slap sportmotor vir jou gegee omdat jy sulke lekker koffie maak nie?”
Dekselse kaptein Doep, het sy met ’n sinkende gevoel gedink. Hy en Steve het mekaar seker in die Kaap raakgeloop, en natuurlik sou Doep hom vertel het dat hy haar op die lughawe gesien het.
“Sê vir jou kastige boesemvriend hy moet minder skinder!” het sy teruggekap. “Ek het uitdruklik vir hom gesê die motor is nie myne nie, net geleen omdat my Golf in die garage is. Omdat jy nie na die punte gekyk het nie en die enjin by Waterval-Boven oorverhit het.”
“Die punte makeer niks. Ek het nuwe vonkproppe vyfduisend kilometer gelede ingesit.”
“Dan was die olie vuil.”
“Nonsens! Ek het laas ’n nuwe oliefilter ingesit en die olie vervang.”
“Die man van die werkswinkel sê as Brandertjie ’n perd was, het hy hom geskiet.”
“Die man praat snert!”
Steve was gegrief oor die onregverdige aantygings, en sy draad was net so kort soos Melt se stukkie lyn. “Jy het ’n gawe, Cilla, om ’n man só van sy wysie af te sit dat hy vergeet hoekom hy gebel het.”
Sy wou nie die rede vir die oproep weet nie en het hom voorgespring. “Het jy jou ma se verjaarsdag eergister onthou?”
Steve het hom nie weer op ’n ander spoor laat rangeer nie. “Daardie nuwe kêrel na wie Vera laas verwys het, wat glo meer integriteit het as ek – is dit daardie kastige ryk baas van jou? Die Meiring-vent van die hotel?”
“Daar is nie ’n nuwe kêrel nie. Vera het sommer net so gesê om jou jaloers te maak.”
“Wat het hy wat ek nie het nie?”
“Hoor jy nie wat ek sê nie? Hy is nie my kêrel nie!”
Steve het aanhou karring. “Hoekom is jy dan agter hom aan Nelspruit toe?”
“Ek is nie, dit was ter wille van die werk.”
“Bly julle saam? Deel julle ’n kamer?” het hy reguit gevra.
Haar bloeddruk het ook begin opstoot.
“Genugtig,