“As jy so sê . . .” Hy roer sy skouers. “Al wat ek vra, is dat jy weer sal dink. Steve is dit werd, nooi. Hy is een in ’n duisend. Moenie dit agterna uitvind nie – wanneer dit te laat is.”
Cecilia se keel brand. “Ek weet, ja . . . Eers was ek kwaad vir hom, maar daardie stadium is nou verby. Ek is steeds erg oor Steve, en ek sal graag met hom vriende wil bly. Ek wil hê dit moet goed gaan met hom. Sê asseblief vir hom groete, kaptein, as jy hom weer sien.”
“Ek sal so maak, vir wat dit werd is.”
Cecilia sou graag nog wou gesels het, oor Lugdiens en al haar vriende wat sy agtergelaat het. Maar vlug JA 806 se vertrek word aangekondig en die passasiers begin tou oor die laaiblad om aan boord te gaan.
“Ongelukkig al weer op pad . . .” Kaptein Doep druk sy sigaret dood en steek sy hand na haar uit. “Alles wat goed is, Cilla. Dink oor wat ek gesê het, en laat my weet as daar enigiets is wat ek kan doen.”
“Ek sal, dankie,” antwoord sy sag. “Veilig vlieg.”
Sy bly staan tot die 747-makrostraler aan die onderpunt van die aanloopbaan gaan draai het en dan met ’n stukrag van 209 kN en vier brullende Rolls Royce-motore verbydreun en die lug in klief. Sy kyk totdat die silwer spikkel al kleiner word en uiteindelik in die bloute verdwyn.
Dan draai sy weg om in die kleedkamer te gaan kyk of haar maskara strepe oor haar nat wange gelaat het. Daar is nog tien minute voor Leonardo se vlug land. Vlug SA 331, van Kaapstad af, waar hy by een of ander kunstefees opgetree het.
11
Vlug 331 is laat. Amptelik word die vertraging toegeskryf aan ongunstige weerstoestande, maar toe Cecilia ná haar tweede koppie koffie in die kafeteria ’n grondwaardin sien wat sy ken, gaan doen sy navraag.
Jolandie trek ’n gesig. “Alles nog steeds ’n nadraai van Twin Towers. Verskerpte sekuriteit en addisionele veiligheidsmaatreëls, wat tydrowend is. Ek weet nie wanneer laas ons ’n dag sonder vertragings gehad het nie. Wees maar geduldig, gaan eet ’n toebroodjie.”
“Ek kan nie, ek het ’n ete-afspraak.”
“Iets romanties?”
“Soort van.”
“Wie?”
Maar Cecilia wil nie sê nie. “Dalk kry ek op die laaste tippie koue voete, of luister na my kop in plaas van my hart.”
“Gelukkige jy. Mlala Lodge wemel van sexy gholfspelers, en ek kry net altyd ma’s met kroepbabas, rolstoelgevalle en potensiële bomplanters.”
“Hoekom dink jy het ek as lugwaardin bedank?” terg Cecilia.
Sy glimlag ’n groet, maar haar gemoed is somber. Kaptein Doep het wonde oopgekrap wat sy gehoop het al rowe het. Steve is soos ’n verslawing, ’n gewoonte wat sy nie kan verbreek nie.
Sy voel opnuut skuldig oor hom. Daar was iets soos verlatenheid in sy stem toe hy laas gebel het – van die lughawe af, pas nadat hulle in Johannesburg geland het. Net om te sê hy is veilig tuis. En te vra hoe dit met haar gaan.
Netnou teenoor Jolandie het dit so maklik geklink om te onderskei tussen ’n mens se hart wat voel en jou kop wat dink. Emosie teenoor logika. Maar haar binneste is ’n warboel van instink, sensasies, gedagtes en waarskuwings. Sy voel vasgevang in ’n maalkolk waaroor sy nie beheer het nie.
As dit net Steve was, was dit makliker om te onderskei tussen swart en wit. Maar nou het Melt Meiring bygekom. Dit help nie sy ontken dit nie: sy het ’n gevoel vir hom. ’n Baie sterk gevoel. Só sterk, sy weet sy is besig om halsoorkop, malverlief op die man te raak. Soos al die ander meisies . . . En sy skaam haar daaroor. Haar lewe het ’n grys gebied geword waarin sy nie meer haar eie oordeel kan vertrou nie.
Sy het Nelspruit toe gekom om ’n nuwe loopbaan te begin, nie om by ’n man betrokke te raak nie. Sy wil eers weer haar voete vind en haar selfvertroue herwin, leer om objektief te oordeel. Miskien moes sy Alaska toe gegaan het, of ’n rugsak gepak en ’n paar maande deur Kanada geryloop het – geboemel het, om die rafels in haar kop los te torring en uitsluitsel te kry oor wat sy met haar lewe wil maak.
Cecilia is rusteloos en gespanne, en sy is verlig toe ’n aankondiging uiteindelik opklink om te sê Vlug 331 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens het pas geland. Sy smeer lipstiffie aan en gaan wag by die glasdeure vir Mlala Lodge se BBP.
Leonardo is ’n replika van sy konsertplakkate. Hy is groot, na aan twee meter, met ’n bruingebrande voorspelerlyf bedek deur ’n kakiebroek en -hemp, luiperdvelonderbaadjie en ’n bosveldhoed. ’n Tipiese Crocodile Dundee, oorweldigend macho en oorbewus van sy manlike beeld. Die soort vleispaleis wat Cecilia maklik weerstaanbaar vind.
Hy vertoef aan die bopunt van die vliegtuigtrap om te wuif en te poseer indien daar bewonderaars of fotograwe is. Op pad na die aankomsaal deel hy handtekeninge aan ’n paar skoolmeisies uit en kyk dan soekend om hom rond.
Cecilia staan nader. “Leonardo? Hallo, en welkom! Ek is Cecilia.”
’n Lonkende glimlag speel om sy mond terwyl hy haar van kop tot tone met sy oë uittrek. “My Suzy vir die naweek?”
Hy is so blatant, Cecilia wil eerder giggel as kwaad word. Sy wens Vera was hier – dié sou histeries gewees het. “Mlala Lodge se skakelbeampte,” antwoord sy koel en saaklik.
“Selfde ding,” grynslag hy en drapeer ’n dik arm om haar skouers. “Sal ons my bagasie gaan kry, Suzy?”
“My naam is Cecilia,” korrigeer sy ferm en wikkel haar onder die beer-greep uit. Sy wiel ’n trollie nader en gebruik dit as ’n skans tussen haar en die orige mansmens.
Hy het ’n wavrag bagasie, maar gelukkig geniet hy dit om sy spiere te wys en verwag hy nie sy moet met die tasse, kleresakke en ekstra luidsprekers help nie. Sy kan maar net hoop al die goed sal in Melt se kar pas. Ongelukkig sal daar nie vir die trollie plek wees nie, wat ’n jammerte is. Sy het die gevoel sy gaan ’n verskansingsapparaat nodig kry.
’n Rooikopmeisietjie kom met ’n pen aangedraf. “Leo . . . Die Laeveld Leo?” hyg sy uitasem. “Ons hele klas kom môreaand na jou konsert toe!”
“Dis goed, poppiedol,” glimlag hy sjarmant. “Ek sal vir jou plek hou in die voorste ry, want ek wil ‘Bosveldnooi’ spesiaal vir jou sing. Net vir jóú alleen . . .”
“Oe . . . Oe, ja, seblief!” kreun die meisie in ekstase en begin haar skoolbaadjie losknoop.
Haar ouma Klara mor gedurig oor vandag se losbandige jeug, maar dis die eerste keer dat Cecilia hul losse sedes eerstehands ervaar. Haar mond hang oop terwyl sy die tienermeisie dophou.
Die baadjie word sonder seremonie uitgepluk en beland in ’n bondel op die bagasietrollie. Sy kom staan reg voor Leo en staar bewonderend op in sy gesig. Dan swaai sy om en buig vooroor dat haar kort skoolrokkie opwip. “Sal jy asseblief jou naam agterop my hemp teken?” vra sy en gee vir hom die koki-pen.
Dis niks nuuts vir Leo nie. Hy teken ’n hartjie op die rugkant van die wit skoolhemp, trek ’n Cupido-pyltjie daardeur, maak ’n paar kruisies onderaan en voeg sy handtekening by.
“Jippie!” jubel die sproetgesiggie. “Ek gaan dit vir al my maats wys. Ek gaan die hemp nooit was nie, hom raam en vir altyd teen my muur hang!”
“Maak so!” Leo knipoog. “En onthou, poplap, môreaand sing ek spesiaal net vir jou.”
Die meisietjie is skoon in ’n beswyming. “Dankie . . . oom,” stamel sy, gryp haar baadjie en laat spaander.
Leo grynslag lui. “Oulik. Maar ek verkies my Suzies ’n bietjie ouer en blond.”
“Ek is eintlik ’n brunet,” lig Cecilia hom in. “Hierdie blonde kleur kom uit ’n bottel.”
Haar taktiek werk nie. Sy