“Ja.”
Hy kyk sydelings na haar. “Saam met my?”
Sy word ’n antwoord gespaar toe ’n pienggeluid opklink en die deure oopskuif. Die adjunkbestuurder stap uit, onberispelik soos laas, in ’n grys pak en gestreepte das. Hy knik vriendelik vir haar.
“Goed om jou hier te sien, juffie. Laat maar weet as daar iets is waarmee ek kan help.” Dan wend hy hom tot Melt. “Die bank het bevestig die kredietkaart is gesteel, glo eergister op Phalaborwa. Maar daar’s komplikasies . . . Kan ek jou ’n paar oomblikke privaat spreek?”
Melt kyk vraend na Cecilia. “Gee jy om?”
“Geensins. Sien u môre, meneer Meiring.”
“Laat weet as jy nie regkom nie,” bied hy weer aan.
“Dankie.”
Sy stap in en druk die knoppie vir die grondverdieping asof dit so maklik is soos ’n lig aanskakel. Is dít wat die motiveringspreker bedoel het? Fokus. Glo jy kan. Wéét jy kan. Sy wens dit was net so maklik om haar hartsake reg te kry. Net ’n knoppie om te druk, vir aan en af . . .
Sy is dankbaar om van haar baas se teenwoordigheid weg te kom, om alleen te wees en bestekopname te doen. Dit was ’n dol week en sy het tyd nodig om tot verhaal te kom – haarself te vind, haar voete te vind en haar nis, in hierdie nuwe opset wat op die oomblik taamlik intimiderend is.
8
Op die grondverdieping loer sy by die Induna-sigaarkamer in en soek haar kantoor, maar die deur is gesluit. Heloise sal haar môre rondwys, het Melt gesê. Blykbaar sy witkopsekretaresse. Cecilia sal verkies om self die opset te leer ken, op haar eie manier.
Sy glip by ’n sydeur uit en kies kortpad verby die hoofswembad in die rigting van ’n ry grasdak-chalets wat tussen ’n plaat soetdorings sigbaar is. ’n Blinkvlerkspreeu wip-wip in ’n rankende bougainvillea en hou haar dop met twee oranje oë wat as kind altyd vir haar soos meidoringbessies gelyk het.
Dis ’n soel middag en dit het blykbaar vroeër die dag gereën. Toe die wind draai, ruik sy die nat grond en die geur van die donsige soetdoringbloeisels. Sy was te lank weg, terwyl sy toegelaat het dat die blink verdof en die goud plastiek word . . . Dis goed om by die huis te wees. Sy is gevul met nostalgie, sonder dat sy weet waarna sy verlang – haar kinderdae, haar pa en ma, of Steve . . .
Haar siek Golf staan onder ’n rietafdak langs chalet nommer 3. Cecilia tik op sy stowwerige neus. “Toemaar, Brandertjie, hou moed! Jou ma was agtelosig, maar oom Joe sal jou gesond dokter, en ek belowe ek sal jou daarna bad en blinkvryf totdat jy mooier is as al daardie klomp snob-karre!” Sy krap ’n dooie tor onder die ruitveër uit en gaan kyk hoe haar nuwe woonplek lyk.
Die binneversierder het sy of haar storie geken. Cecilia kyk met waardering na die grofgepleisterde mure en angora-gordyne. In die sitkamer staan ’n gemaklike bank en twee leerstoele, ’n muureenheid en ’n koffietafel met ’n kleipot vol gedroogde agapante en inheemse grassade. Agter ’n halfmuur steek ’n hortjieskombuiskas uit, ’n tafel en vier riempiestoele. Deur ’n boog sien sy twee geelkoperbeddens met kerspitdekens, en teen een muur hang ’n geraamde Zakkie Eloff-skets van ’n vlakvarkgesin. So mooi, sy wil aan alles raak om dit behoorlik te waardeer.
Sy begin dadelik uitpak. Haar eie waterverf-blomstudies pas by die dekor, maar die CD-speler skree ten hemele. Sy steek dit weg in die muureenheid, langs die televisiestel en agter ’n deur wat kan toemaak. Onestetiese monstrositeite, maar onontbeerlike noodsaaklikhede.
Sy hang haar klere op en maak ’n paar boekebokse leeg. Dan trek sy ’n koel kaasdoekrok aan, rits ’n blikkie koeldrank oop en gaan sit buite op die patio met die houer toebroodjies wat Melanie vir haar ingepak het. Daar is ’n briefie by: Geniet dit. Ook jou nuwe jop. Jy gaan Mlala Lodge se sesde ster wees!
Cecilia laat haarself ’n rustige halfuur van retrospeksie toe terwyl sy eet. Sy voer die oorskietkrummels vir die spreeus, voor sy haarself dwing om nog ’n noodsaaklike euwel se bestaan te erken. Met ’n sug skakel sy haar selfoon aan en kry die verwagte skermvol stemboodskappe. Almal van Steve af.
Sy luister na die eerste en die laaste een. Albei is in dieselfde trant: ontsteld, verwytend en eisend. Wat de joos soek sy op Nelspruit? Hoekom is haar sel af? Sy moet hom dringend terugbel.
Sy stuur ’n SMS om te sê sy het veilig gery en skakel weer die foon af. Sy sit agteroor en luister of sy nie dalk van die rivier se kant af ’n visarend kan hoor roep nie.
“Goeiemiddag,” groet ’n manstem.
Sy is nie lus vir geselskap nie, maar hy is waarskynlik ’n hotelgas en sy kan nie onbeleef wees nie. Sy sit die koeldrankblikkie neer en kyk om.
’n Man in ’n oorpak staan by die afdak. “Joe,” sê hy. “Ek kom jou kar haal.”
Hy lig die enjinkap op; krap hier en snuif daar, druk-druk en voel-voel, soos ’n hond wat ’n been begrawe. Loop om die motor en hurk by die uitlaatpyp.
“Groot skade?” vra Cecilia bekommerd.
Hy skop teen een van die afgeloopte bande en skud sy kop. “Laat ek dit só stel: as hy ’n perd was, het ek hom geskiet.”
Cecilia is geskok. Hy oordryf. Dit kan nie só erg wees nie. “My kêrel het altyd na alles gekyk. Hy sou opgelet het as iets stukkend was.”
Joe snuif minagtend. “Kon hy nie sien die punte is gebrand nie?”
“Hy was baie besig en dikwels weg van die huis af,” verdedig sy Steve. En dink dan: Hoekom? Hy het haar motor afgeskeep. Háár afgeskeep. Net aan homself gedink en sy heilige Porsche – op dié mog nie ’n stoffie lê nie, terwyl haar motor uitmekaargeval het.
Joe bring die insleepvoertuig nader: metaalblou, met gechroomde magnesiumwiele en lekkende vlamme teen die deure geverf. Hy tru ’n U-draai en kom staan buffer teen buffer teen die Golf.
Haar Brandertjie het nog nooit só ’n gevaarte gesien nie en Cecilia kan maar net hoop hy skrik nie sy laaste bietjie olie weg nie.
Sy slaan haar hande saam. “Wat ’n vurige wa!”
“Self gebou,” spog Joe. “Reg so as ek die siek perd wegsleep?”
“Slagpale of skrootwerf toe?”
“Moenie worrie nie, meneer Meiring het gesê ek moet hom vir jou tiptop regmaak.”
Sy kan maar net gelate knik. Hy haak die Golf en sleep hom weg.
Dit word skemer en sy staan ’n rukkie op die patio en luister na die patryse wat slaapplek soek. Dan gaan sy in en pak die res van haar boeke uit.
Toe sy teen slaaptyd weer die foon aanskakel, lui en vibreer hy – amper verwytend, asof hy te lank te veel oproepe moes opkrop.
“Hallo,” antwoord sy.
“Is dit jy, of weer jou flippen voice mail?” bars Steve los.
Sy hou die foon ’n ent van haar oor af. “Dis ek. Hoe gaan dit?”
“Hoe dink jy? Ek kom by die huis en jy’t die pad gevat. ’n Simpel brief gelos en –”
“Dit was nie simpel nie.”
“Wat de joos gee ek om oor Pavarotti en ’n vervlakste optelkat?”
“Sy het kleintjies, en ek het nie die maalvleis met jóú geld gekoop nie. As dit te veel moeite is om soggens ’n skeppie daarvan in ’n piering uit te sit, vra die bure. Hulle is meer meelewend as jy. Het jy dalk my swart trui gekry?”
“Hou op om oor bog te praat! Ek sal vir jou ’n ander trui koop. Wat nou van ons? Ons troue en ons lewe saam?”
“Ek het vir jou duidelik gemaak hoe ek voel oor wat in Rome gebeur het. Maar jy gee voor dis niks as jy rondslaap en bed hopping doen nie – jy maak asof ek outyds en verkramp is. Ek ís nie. Ek is oopkop en modern. Maar ek glo aan eerlikheid en