“Of wil jy eers daaroor nadink en my môre laat weet?” stel Melt rustig voor.
Soos sy tydens die onderhoud gesê het, is lugwaardin-wees ’n limbo-stadium en nie ’n loopbaan nie. Dis tyd om nuwe horisonne te ontdek, en Mlala Lodge is die kans van ’n leeftyd . . .
Elke afskeid is ’n kleine dood, het ’n wyse eenkeer gesê. Iewers, êrens sal daar altyd ’n stukkie van Steve agterbly. In die stuurkajuit van ’n 747 waar hy omgekyk en vir haar geknipoog het . . . Op Las Palmas toe hulle in die branders gestaan en roomys eet het en hy haar ’n koue, nat soen gegee het sodat sy die vanieljegeur op sy tong kon proe. Agterop ’n bromponie in Rome, met haar arms styf om sy lyf en haar wang teen sy breë rug. En in die sneeu bo-op die Jungfrau, toe hy ’n geel skibaadjie aangehad het en haar gevra het om met hom te trou.
Sy het hom so lief gehad . . .
“Bespreek dit met jou ouers en hoor wat jou pa dink,” stel Melt voor toe die stilte te lank rek.
“Asseblief, ja,” antwoord sy. “Ek sal, en u vroeg môreoggend laat weet.”
Aan sy stem kan sy hoor hy glimlag. “In die haak.”
As uitvoerende bestuurder by ’n internasionale hotelgroep beskik hy sekerlik oor ervaring en mensekennis, redeneer Cecilia toe sy die gehoorstuk neersit. As hy reken sy kan die werk doen, dan kán sy. Melt Meiring is nie ’n draak en ’n monster nie. Die meisie by die gastehuis het hom verkeerd opgevryf, of dalk was dit ’n geval van suur druiwe omdat sy geweet het sy sal nie die werk kry nie.
Steve self is immers ook geen engel nie. Al kon hy haar die vorige aand die maan en die sterre belowe, sou hy maklik die volgende dag op die vliegtuig in haar keel afklim as daar te veel handbagasie op die rakke was, of as passasiers se sitplekgordels nie vas was nie, of selfs as daar net ’n halflepel suiker te min in sy koffie was.
Miskien ís Melt soms moeilik, soos enige baas maar is wanneer sy vrou met hom baklei het, sy kop seer is of as hy met die verkeerde voet uit die bed geklim het. Maar haar intuïsie sê vir haar hy sal nie dwars en moedswillig of onredelik wees nie. Hulle sal goed saamwerk, en selfs later goeie vriende kan word. Die gedagte maak haar vreemd opgewonde, sonder dat sy weet hoekom.
“Wie was dit wat gebel het?” roep Melanie vanuit haar kamer.
Cecilia gaan sit by haar op die voetenent van die bed. “Wens my geluk: ek het ’n jop!”
Melanie verf haar laaste pinkie en beweeg haar vingers op en af soos ’n dwergie wat klavier speel. “Die Vrystaat is te koud in die winter, jy gaan verkluim.”
“Ek gaan nie Bloemfontein toe nie.”
“En Amerikaanse kinders is horribaal. Jy is nie net kinderoppasser nie, jy moet ook was en stryk, teen ’n hongerloon, met een dag ’n maand af.”
Cecilia lag. “Ek gaan ook nie au pair nie. Ek gaan skakel!”
“Telefoniste op ’n skakelbord?”
“Kom by! Mlala Lodge!”
Die bolaag op haar vingers is winddroog en Melanie begin haar toonnaels verf. “Ek weet die sitkamerbank is vol hobbels, maar ons kan ’n uitskopbed koop, dan het ons beter slaapplek vir jou. Jy is regtig welkom om te bly so lank soos jy wil. Dis nie nodig dat jy uit desperaatheid jouself tot doer in die bekveld gaan begewe en malaria kry nie.”
“Dis nie in die bekveld nie! Die Lodge is net buite Nelspruit, naby Kruger Mpumalanga Lughawe, en ’n uur se ry van die Wildtuin af. Dis ’n enorme vyfsterhotel met restaurante, swembaddens, winkels, ’n casino en sy eie gholfbaan.”
“Hoekom praat jy dan van ’n lodge? ’n Lodge is ’n herberg, soos in kinderverhale – in ’n woud, met ’n herbergier en donkies en ganse.”
“Dis ter wille van oorsese besoekers, en Mlala is ’n Afrika-woord, soos ‘boma’ en ‘lapa’. Die hotel is ingestel op toeriste wat invlieg om te dobbel, in die son te lê of dagritte wildtuin toe te doen om die Groot Vyf te sien.”
Melanie begin belangstel. “Vera het gepraat van ’n ou daar vir wie jy glo die hots het. ’n Ryk Amerikaner of iets?”
“Ek het g’n die hots vir hom nie!” sê Cecilia verontwaardig. Melanie is ’n gawe vriendin, maar sy is net op mans en geld ingestel.
“Dankie vir die aanbod van die uitskopbed, hoor, maar dis tyd om aan te skuif,” sê sy. “Ek het lekker gebly en sal julle mis. Jy en Vera moet kom kuier – kom detox met ’n sitrusdieet in die skoon Laeveldse lug, ontstres met ’n sauna, aromaterapie, velmasserings, ensovoorts.”
“Klink salig . . . Wat van Steve?”
“Wat van hom?” vra Cecilia op die verdediging.
“Moet jou nie deur Vera laat breinspoel nie. Jy is baie preuts. Wat hy gedoen het, was verkeerd. Maar een misstap is nie die einde van die wêreld nie. Steve is ’n super ou. Gaan jy nie later besluit dit was ’n fout en jy wil hom terughê nie?”
“Ek weet hy is ’n super ou. Maar ek wil nie met hom trou nie.”
“Is jy seker?”
“Ja.”
“Wat gebeur as jy besluit om hom te vergewe?”
“Hoe bedoel jy: wat gebeur?”
“Gaan julle opmaak?”
Cecilia kyk hoe Melanie die botteltjie naellak versigtig toedraai en haar tone op en af wikkel terwyl sy haar onderlangs dophou.
Sy begin lag. “Hoekom vra jy, Mel? Wil jy hom graag erf?”
Melanie hou haar onskuldig. “Ek krap nie in my vriendinne se slaai nie. Maar as jy seker is jy gaan nie terugkrabbel en arseen in my koffie gooi nie . . .”
“Jy kan hom kry. Vat hom,” bied Cecilia aan. “Jy het my toestemming. Dop hom om, druk hom plat en vry hom uit sy sokkies uit. Hy sal dit geniet, en ek sal nie ’n oog knip nie.”
Melanie se babablou oë is wydgerek. “Genuine?”
Cecilia ignoreer die slangetjie in haar binneste wat sy kop oplig en ’n vurktong uitsteek. Jaloesie? Is dit die besitlikheid waarna Melanie verwys het, wat Nadine wou vermorsel het en nou vir Melanie ’n giftige antwoord wil gee? Wil sy dan haar brood aan albei kante gebotter hê?
Sy vryf ’n kreukel in die beddeken glad, tel ’n stukkie rafel van die mat af op en frommel dit tussen haar vingers. Toe sy opkyk, het sy haar gevoelens onder beheer.
“Genuine, ja,” bevestig sy.
Melanie wil doodseker maak. “Het jy dit duidelik aan Steve uitgespel dat dit geskiedenis is tussen julle?”
“Honderd keer, maar hy weier om dit te aanvaar. Om dit behoorlik te laat deurdring, gaan ek vir hom ’n amptelike brief skryf waarin ek verduidelik presies hoe ek voel, en hoekom ek so voel. Ná alles wat tussen ons was, skuld ek hom dit. Ek kan nie sommer net oppak en padgee nie.”
“Wil jy hê ek moet die brief vir hom gee?”
Nie baie subtiel nie . . . “Nee dankie,” keer Cecilia. “Ek gaan Saterdag die res van my goed haal, dan sal ek die brief neersit op ’n plek waar hy dit sal sien.”
Saam met haar verloofring, besluit sy. Dis die ordentlike ding om te doen – om die juwele wat hy vir haar gekoop het terug te gee.
“Weet hy jy het in Nelspruit aansoek gedoen vir werk?”
“Nee,” erken Cecilia kortaf.
“Die nuus gaan vir hom ’n skok wees. Hoekom het jy hom nie gesê nie?”
Cecilia sug. “ ’n Lang lys redes . . . Omdat ek te kwaad was vir hom. Omdat ek weke lank nie met hom gepraat het nie. En omdat hy oudergewoonte weer sou geflip het en my gestoomroller het. Laas toe ek hom gesien het en