Toe Cecilia verby die kombuis stap, is sy net betyds om die kastrol spaghetti te red voor dit weer ’n gitswart offerande word. Die bolognaise-sous prut vreedsaam en lyk soos die prentjie by die resep. ’n Teken dat haar sterre ophou bots het en dat die gode haar goedgesind is? Sy voel sommer minder angstig.
Terwyl die wasmasjien sy jop doen, maak sy ’n vinnige groenslaai.
“Ons eet so teen agtuur!” roep sy in die gang af. “Ek moet nog my pa in Madrid bel, en my ouma op Brandfort. Daar is hordes goeters om te doen, maar eers gaan ek bad. Ek belowe ek sal nie al die warm water vat nie.”
“Vat wat jy wil, en vat jou tyd,” bied Melanie vrygewig aan. “En skryf neer wat alles in Steve se brief moet staan, sodat jy nie driekwart vergeet nie. Sorg dat hy die boodskap kry – hard en duidelik.”
In die daaropvolgende paar dae – van Woensdag tot Sondag – het Cecilia Melanie se raad gevolg, al was haar vriendin se voorskrifte hoofsaaklik selfgesentreerd en op haar erfporsie gefokus. Sy het lyste gemaak van wat om te onthou en wat om te doen, doodgetrek wat afgehandel is en onderstreep wat belangrik is.
Bo-aan die lys was: Bel Melt Meiring en Skryf lang brief vir Steve.
Sondagoggend, op die N4-snelweg verby Middelburg met haar ongedienste, oorlaaide motor, tik sy die items wat afgehandel is op haar vingers af: Vervoerkontrakteur en stoorplek vir die Bechstein. Rekeninge, bankbestuurder en droogskoonmakers. CD’s, boeke en skilderye. Sleutels, ring en brief vir Steve, duiwekos vir Vera, sjokolade vir Melanie omdat sy ongeduldig met haar was toe Melanie haar kort-kort met skimpe aan die brief herinner het.
Cecilia sou graag Woensdag toe sy teruggebel het met Melt Meiring self wou praat, maar hy was in ’n vergadering. Sy witkopsekretaresse het nie opgeklits geklink met die idee dat hulle kollegas gaan word nie, maar het darem onderneem om die boodskap vir haar baas te gee.
Daar was nie tyd om haar motor te laat versien nie, en sy is boonop reeds te diep in die rooi met haar oortrekkingsfasiliteit. Oom Lotz by die garage op Witrivier is ’n ou vriend van haar pa, en sy sal haar tjor na hom toe neem sodra sy haar eerste salaris en ’n oop dag het.
Haar pa was positief oor die nuwe werksvooruitsigte, en haar ma verlig omdat haar dogter weer koers kry. Ouma Klara wou weet wat nou van die aanvallige kapteintjie. Is dit nou vir ewig verby tussen hulle? So ’n aansienlike en innemende jongman . . . En haar trourok? Sal sy dié kan afknip en kerk toe dra, of gaan sy hom bêre?
Vir wat? het Cecilia sinies gewonder. Daar is geen manier waarop sy ooit in kant en satyn voor ’n kansel gaan staan nie. Nie langs Steve de Villiers of enige ander mansmens nie.
Tot by Waterval-Boven herleef sy die brief wat haar Vrydagaand tot ná middernag geneem het om te skryf. Eerstens ’n paragraaf vol dankies vir die mooi en goeie tye, en dat hy met haar wou trou. Dis ’n eer en ’n kompliment as ’n man bereid is om die res van sy lewe saam met jou deur te bring.
Tweedens ’n paragraaf vol jammers omdat sy nie kans sien om met die troue voort te gaan nie. ’n Huwelik is ’n vennootskap wat op respek en wedersydse vertroue berus, en as die vertroue geskend is, is daar geen fondament om ’n gesonde verhouding tussen ’n man en vrou op te bou nie. Indien die lewenswaardes en prioriteite te radikaal verskil, verg die geestelike aanpassing te veel van die onderskeie huweliksmaats, en uiteindelik ly die verhouding skipbreuk. Soos in hulle twee se geval gebeur het . . .
Ook ’n jammer omdat sy hom nie van die werk op Nelspruit vertel het nie, maar sy het nie verwag haar aansoek sal slaag nie. Sy sou hom graag persoonlik wou groet, maar dis miskien makliker só, eerder as ’n uitgerekte afskeid wat tot rusies en verwyte kon lei en afbreuk kon doen aan die mooi herinneringe tussen hulle.
Paragraaf drie was praktiese sake en dus makliker. Sy het dominee Bothma ingelig dat die troue afgestel is, en het die spyseniers laat weet dat die onthaal gekanselleer is. Dieselfde geld ten opsigte van die blomme en troukoek. Vir haar rok was dit te laat, sy sal dit maar adverteer en verkoop. Hy kan die gordyne en linnegoed hou, sy het geen nut daarvoor nie. Die skilderye, boeke en CD’s wat sy gevat het, is hare. Behalwe die Pavarotti – daarvan is sy nie seker nie. As dit syne is, moet hy laat weet, sy sal dit terugstuur. Hy moet onthou van komende Vrydag se tandartsafspraak, sy ma se verjaarsdag die dertigste en om Vera-hulle se voordeurslot te vervang. Daar is maalvleis in die vrieskas vir die rondloperkat. En sy kry nie haar swart rolnektrui nie – weet hy dalk waar dit is? As hy daarop afkom, sal hy dit asseblief vir Vera gee om saam te bring as sy kom kuier?
Sy het niks van Nadine gerep nie. Sy het afgesluit met beste wense vorentoe; sy hoop hy vind die geluk in die lewe wat hy verdien. Lomp en onbeholpe . . .
Langs die brief het sy sy denimhemp neergesit wat per ongeluk in haar tas beland het die aand van die uitbarsting, toe sy halsoorkop haar klere in ’n tas gegooi het en by Vera-hulle ingetrek het. Bo-op die hemp het sy haar voordeursleutel neergesit en haar verloofring, met ’n nota: Dankie vir die leen daarvan. Ek het groot vreugde uit albei gekry in die tyd toe hulle myne was.
Die sentimentele uitweg van ’n lafaard? vra sy haarself nou af. Nee, dis beter as ’n konfrontasie en moddergooiery. Steve gaan sy top blaas, en dis veiliger om dan vyfhonderd kilometer ver op Nelspruit te wees.
Op die lang duur sal hy saamstem dit was ten beste; hulle is teenoorgesteldes wat nie pas nie, twee harde klippe wat mekaar sal fynmaal en uiteindelik sal vernietig.
7
Toe Cecilia laatmiddag by Mlala Lodge se parkeerterrein indraai, rook die Golf soos ’n dieseltrekker, en die temperatuurnaald is dieper in die rooi as haar kredietkaart. Sy kan maar net hoop oom Lotz het ’n billike insleepdiens, en dat die skade niks erger is as ’n gebarste waterpyp nie. Of het ’n Volkswagen Golf nie waterpype nie? As sy geëmansipeer wil wees, sal sy dié soort dinge moet leer; vir haar ’n hamer en ’n skroewedraaier koop en leer om hulle te gebruik.
As die marmerpilare en kristalkandelare van die foyer laas keer in haar swart Armani-pakkie intimiderend was, is dit veelvuldiger nou in haar gekreukelde denims en tekkies.
Dit help dat die inligtingsklerk haar herken. “Cecilia Louw? Haai! Ek is Sue Bernard. Welkom hier by ons. Jy is in chalet 3, naby die hoofgebou. As jy jou motorsleutels vir my gee, sal ek reël dat jou bagasie afgelaai word.”
Cecilia beduie waar die pakesel van ’n rookbom staan, vuil en stowwerig en verskonend in die agterste ry. “Dankie, Sue. Kan ek help?”
“Dis nie nodig nie. Meneer Meiring het gevra dat jy dadelik opgaan na sy kantoor op die vyfde verdieping.”
Dít het Cecilia nie verwag nie. Sy sou verkies het om eers te stort en vars klere aan te trek. Die hysbakke teen die oorkantste muur lyk soos gapende haaikake wat vir haar wag. Kan sy nie maar net hierdie een keer swak wees en haarself jammer kry nie?
Nee, keer die stemmetjie in haar wat aan die nuwe Cecilia behoort – die onafhanklike en loopbaangerigte een, die een wat die brief neergesit het, die uitgekerfde houtvoordeur van Steve se huis agter haar toegetrek het en dapper weggestap het sonder om vir oulaas om te kyk. Selfbejammering is ’n afdraande pad, en sy is op die teenoorgestelde roete – berg-op.
Die wynrooi mat wat voor haar uitstrek, is erger as Kilimandjaro. Links van die motorhuurtoonbank is ’n deur wat na die brandtrap lei, onthou sy. Niemand kyk vir haar nie. Niemand sal sien as sy by die deur uitglip en met die brandtrap opklim na die vyfde verdieping nie.
Nee! herhaal sy. Sy kyk nie links of regs nie en hou aan loop, in die haai se bek in; steek haar vinger uit na die wit knoppies wat soos tande lyk en druk nommer vyf. Die deure gly geruisloos toe. Die kabels ruk nie. Die neonlig teen die dak flikker nie en die hysbak beweeg gladweg in die skag op boontoe.
Sy blaas haar asem rukkerig uit. Haar hande verslap hul krampagtige greep op haar skouersak. Sy sluit haar oë en laat haar kop teen die geëmbosseerde muurpapier rus. Sy het dit gedoen! Die keer ná die onderhoud was nie ’n vloekskoot nie. Hierdie is die tweede maal, en dis reeds