Die moderne era het die voorgrond sterker na vore laat tree, wat maak dat ons al meer keuses doelbewus moet maak, maar dat ons ook al meer angs as gevolg daarvan beleef. Ek weet ek moet klere aanhê as ek die oggend uit die huis gaan, maar o, die baie moontlikhede! Sal ek ’n das aansit of nie? Moet ek my bruin of swart skoene dra? Watter baadjie pas die beste? Dit wat vanselfsprekend is, naamlik dat ek klere moet dra, is nog steeds daar, maar die hoeveelheid keuses op die voorgrond het vertiendubbel. Dit geld vir elke terrein van ons lewe.
Politieke en godsdienstige keuses het in ons tyd ook veel meer deel van die voorgrondbesluite geword en minder van die agtergrond. Om die oorgang van ’n apartheidsamelewing na ’n postapartheidera te kon meemaak, het onder andere ingehou dat ons die agtergrondkeuses moes leer ontgroei. Die besluite wat vir ons en namens ons geneem is en wat ons sommer as vanselfsprekend aanvaar het, het eenvoudig voor die groot keusemoontlikhede van ons dag verdwyn.
Toe ek ’n kind was, was die bank, die skool en die kerk grootliks gegewe. Dit het ook in ’n groot mate vir die politieke party gegeld. In my leeftyd het ’n hele aantal keuses van die agtergrond na die voorgrond geskuif. Dit het die pyn van afskeid van ou sekerhede maar ook die blydskap van nuutgevonde insigte moontlik gemaak.
God was altyd deel van die agtergrondkeuses. Dit was eintlik nie ’n keuse nie, daarom was twyfel oor God onaanvaarbaar. Ek onthou goed hoe prof. Johan Heyns, wat in die laaste jare voor sy aftrede my kollega by die fakulteit was, met ontsteltenis gepraat het oor ’n student wat oor God se bestaan getwyfel het. Ek sien hom nog op sy entoesiastiese manier betoog dat dit aanvaarbaar sou wees om oor aspekte van God se werk of oor jou geloof te twyfel, “maar oor God! Jy kan tog nie oor God twyfel nie”. In die twee dekades wat intussen verloop het, het God inderdaad as ’n voorgrondkeuse na vore getree. Alhoewel die keuse om nie in God te glo nie, niks nuuts is nie, het dit tog, veral in ons Afrikaanse samelewing, ’n veel meer vrye en bewuste keuse geword. Dit is nie meer vanselfsprekend dat alle selfrespekterende Afrikaners in God glo nie.
In hierdie keuses op die voorgrond bestaan die moontlikheid om jouself van iets los te maak en te distansieer. Ek kon deur ’n proses van losmaking gaan wat kerk en volk betref. Dit kon natuurlik nie gebeur sonder dat ek my ook van “God” losgemaak het nie. Om daaroor te skryf, is gevaarliker as enigiets anders. Tog moet ek dit waag.
Op ’n dag moes ek bid: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Want “my God” – die een wat ek tot in daardie stadium geken het – het agter die horison verdwyn. Die ou God het hom in bekende begrippe en gerusstellende taal laat vasvang. Daarmee kon ek ’n greep op God ervaar. As jy die regte woorde, soos “erfsonde”, “verkiesing”, “geloofsekerheid”, genoeg en in die regte volgorde herhaal, word dit ’n vaste sisteem (dogma) wat veiligheid gee. Met sulke evangelies-teïstiese taal en die gerusstellende taal van die kerklike belydenis kan ’n mens God as’t ware beheer, of Hom “op die solder hou” soos in George Weideman se gedig “Die God op die solder”:
byderhand: tussen wakiste, voorsate
se portrette, ’n afdruk van Bloedrivier
en allerlei feesrelieke, so digby
soos ’n PC woon hy hier.
soms voel ek sy nabyheid: hoe sy bestier
en my bedryf met welgevalle kruis:
hoe skrander ek my ryk verdeel en heers, hoe
juis my wil geskied as huis-
en landheer. gul, soos die kasteelheer van ouds,
gelas ek of brug moet neerkom oor grag;
opklim kan ek en bo, oor kantele, kyk
hoe dig onderdaantjies wag.
ek kan beslis oor skure: of daar daagliks
meel sal wees, en brood; rantsoene en soetwyn;
ek begroot versigtig, hou deeglik boek van dit
wat wins is, dit wat verdwyn.
maar dis nuttig dat jy so naby is
noudat almal my isoleer; ek sal besluit
wanneer jy mag afkom; ek presideer steeds
oor kneg en hoef en kluit –
wie anders om te raadpleeg? Die werings om
my heen is verordineer; my jakobsleer
het ek nog, my lidmaatskap. En jóú het ek.
gepromoveer tot kamerheer.
Met ’n sekere godsbegrip skep jy vir jouself ’n jakobsleer. Die dogmas en vaste formules word soos “werings om my heen” – dit skep veiligheid en geborgenheid. Die konsepte is duidelik: bo en onder; reg en verkeerd; van God óf van die Bose; absoluut óf vals; vír God of téén God.
As ’n mens God iewers lokaliseer, of dit nou op die solder of in die hemel daarbo is, of in enige onbeweeglike filosofiese konsep, dan het jy beheer oor God. Só ’n God, ’n God wat iewers elders woon en met wie ek van hier af kan kommunikeer, is ’n teïstiese God. Ek kom later, veral in hoofstuk 8, terug na die konsepte “deïsme”, “teïsme”, “panteïsme” en “panenteïsme”.
Daar is ’n spanning tussen om enersyds van die teïstiese Godskonsep bevry te raak, maar aan die ander kant die verlies te ervaar wanneer God nie meer in vaste verordeninge en formulering herkenbaar is nie.
Die God wat ek verloor het, is die teïstiese God. Ek het Hom agtergelaat en ek voel verlig, maar tog is ek ook ambivalent daaroor. Enersyds juig ek, want dit is ’n bevryding om nie meer daardie God te hê nie. Andersyds voel ek om soos Julian Barnes aan die begin van sy boek Nothing to be Frightened of te sê: “I don’t believe in God, but I miss him.”[4] Ek glo nie meer in die God wat van ver, van anderkant, los van my en van buite my vir my loer nie. Intussen het ek God op ’n nuwe manier ontdek soos deur Paul Tillich[5] beskryf in sy konsep van “the God beyond God”. Daardie God anderkant die teïstiese God het vir my meer troos gebring en alhoewel ek nou omtrent geen woorde het waarmee ek God kan beskryf nie, voel ek nie meer van God verlate nie.
Die God wat nou my lewe betree het, is nie meer so maklik om in woorde vas te vang nie. Die bekende begrippemateriaal van “Vader”, “Almagtig”, “Bo”, “Hoër Hand”, “Beskikker”, “God se wil”, “Voorsienigheid” en nog heelwat meer wil net nie meer inpas by die God wat ek leer ken het nie, want God is nie meer daar bo en buite en manlik en sterk en in beheer nie. God is nou vir my veel meer die Moontlike, die Onverwagte, die Vreemdeling, die Gemarginaliseerde, die Gedagte, die Werklikheid, die Beweging, die Lewe. Dis vloeiende en sagte metafore vir God wat God meer ontwykend en minder vasgevang voorstel. Uiteindelik het die konsepte postteïsme en panenteïsme aan my die nodige woordeskat en verwysingsraamwerk verskaf om in nuwe kategorieë oor God te dink, te praat en te skryf.
Dit is ’n verlies en tog ook so ’n wonderlike verlossing. Ek hoef God nie meer met behulp van komplekse dogmatiese teorieë te verdedig en verstaanbaar te maak nie. Toe ek daarmee vrede gemaak het, kon ek weer stadig begin om God te herontdek.
[3] Berger, Peter & Zijderveld, Anton. In Praise of Doubt. HarperCollins e-books, 2009.
[4] Barnes, Julian. Nothing to be Frightened of. New York: Vintage International, 2008.