In dié sin is hierdie ’n bonte outobiografiese refleksie op my geloofsreis en op my teologiese insigte en beslis nie ’n gesistematiseerde outobiografie nie. Ek vertel eintlik maar net grepe uit my lewensverhaal en ek gaan ook nie eens probeer om die keuses vir hierdie grepe te motiveer nie. Sulke keuses gebeur eerder as wat dit gemaak word. Dit was en is ’n baie subjektiewe proses, maar ek het tog probeer om integriteit in die maak van die keuses aan die dag te lê. Ek het ook al in ander publikasies outobiografies gewerk (veral in Reis-geselskap van 2000 en Passie en spasie van 2009) en daarom sal daar hier en daar herhalings wees, maar die aard van hierdie boek het my meestal na ander herinneringsplekke gelei.
Miskien die grootste waagstuk het daarmee te doen dat enige outobiografie noodwendig ook ander persone betrek. As ek oor myself skryf, skryf ek ook oor ander. Dit is gevaarlik. Ek het probeer om so eties moontlik met enige verwysing na ander mense om te gaan. Ek het die mense naaste aan my wat dalk direk of sydelings ter sprake kom, gevra om hul goedkeuring te gee. Waar dit om teologiese debatte gaan en ander persone se name genoem is, was my benadering om saaklik en respekvol na ander te verwys.
Die Universiteit van Pretoria asook die Vrije Universiteit van Amsterdam se bydrae tot hierdie boek word met dankbaarheid erken. Tydens navorsingsverlof wat ek van die UP ontvang het, kon ek die uitnodiging van die Vrije Universiteit aanvaar en twee maande lank as inwonende navorser daar werk. Dit het my die geleentheid gebied om onder meer aan hierdie manuskrip te werk.
Die gebede waarmee ek die boek afsluit gee uitdrukking aan die teologiese oortuigings waarby my geloofspad my uitgebring het.
Julian Müller, Pretoria
1
Drie krale op 'n soektog na heuning
’n Seun het vertrek met die doel om heuning te gaan soek. Saam met hom was sy vier honde waarvan een lam was. Toe hy by ’n kraal met bokke kom, het ’n voëltjie uitgeroep: “Moenie hier stop nie, daar lê beter dinge voor!”
Die seun het die voëltjie gehoorsaam en verder gegaan totdat hy by ’n kraal met skape gekom het. Die voëltjie het hom weer gewaarsku om nie stil te staan nie, maar aan te hou. Hy het so gemaak en by ’n kraal vol beeste aangekom waar die voëltjie hom weer aangemoedig het om verder te gaan, want “daar is beter dinge vorentoe”.
Die seun het aangehou stap en by die volgende kraal ’n hut se deur oopgestoot. ’n Ou vrou met net vier tande het daaruit te voorskyn gekom en gedreig om hom dood te maak. Die seun het weggehardloop en tot hoog in ’n boom geklim, maar die ou vrou met die vier tande het begin om die stam van die boom af te kou. Die seun se drie gesonde honde het haar aangeval, maar sy het hul velle afgeskeur en al drie doodgemaak.
Toe kry die lam hond die vrou egter aan die nek beet en byt vas totdat sy dood neerslaan. Die seun het uit die boom geklim en alles wat hy in die kraal gesien het, vir homself gevat.[1]
Dié Venda-volksverhaal oor die seun wat op soek was na heuning is die soort mitiese storie wat in die folklore van verskeie kulture gevind kan word en wat iets universeels oor die lewe oordra. In dié geval is dit oor die lewe as ’n reis. Dit gaan oor die ideale, begeertes en verrassings, maar ook die versoekings, uitdagings en teleurstellings wat die lewe bring.
Ek gebruik hierdie storie om my deur my eie lewensverhaal te lei. Ek het nie spesifiek na ’n Afrika-storie gesoek nie, maar omdat ek diep in die kontinent gewortel is, is dit waarskynlik ’n gepaste keuse. Daar word nie gesê wat tot die seun se vertrek aanleiding gegee het nie. Dit word eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar dat ’n kind een of ander tyd sal vertrek op soek na die heuning van die lewe. Dit is presies hoe ek ook my jeug onthou – my eie najaag van die “heuning” was altyd deel van my lewe. Dit is waarskynlik ’n belangrike aspek van die meeste jong mense se lewe: die op-pad-wees en die gedrewe soeke na iets wat sin aan ons bestaan gee. Ek was eens ook daar en die vraag oor wat ek eendag gaan word, het van baie jongs af altyd dieselfde antwoord gehad. Ek was nog ’n klein seuntjie toe ds. Grové, ons predikant, op huisbesoek gekom het en my daardie einste vraag gevra het. My antwoord? “’n Dominee, dominee.”
Só was dit skynbaar bestem.
As teologiedosent het ek dikwels vir jong studente gevra om hul roepingsverhaal te vertel sonder om die woord “roeping” te gebruik. Dan het hulle soms kwaad geword omdat dit meestal makliker is om die misterie van jou eie lewe aan die hand van ’n onaanvegbare woord soos “roeping” te verduidelik. Gewoonlik het hulle aan die einde van die proses tog verstaan dit gee vir ’n mens ’n veel beter greep op jou eie identiteit as jy in gewone menslike terme kan verduidelik wat tot groot lewensbesluite gelei het.
Die verhale van teologiestudente het dikwels na geboorteverhale teruggegaan. Myne het ook. Ons ouers bring ons nie net in die lewe nie, hulle lei ons ook daarin en bewustelik of onbewustelik word ons ook deel van hul verhale. Lank voordat ons daarvan bewus word dat ons in ons eie dramas speel, speel ons reeds op hul verhoë. Ons maak hul drome waar sonder dat ons dit eens besef.
My eie “roeping” was nooit iets anders as ’n vaste wete en oortuiging dat ek predikant moet word nie. Ek vermoed my geboorteverhaal het baie bygedra tot my kinderlike oortuiging dat ek predikant wou word.
Op ’n November-middag in 1946 was my ma in barensnood. Dit was erger as normaal en terwyl die dokter vir moeder en kind se lewe gevrees het, is ek met instrumente die wêreld ingehelp. My ouers was so getraumatiseer dat hulle in hul oomblik van nood met God in onderhandeling gegaan het. Die seuntjie sou as ’n klein “Samuel” grootgemaak word, ’n seun vir die tempel en vir God uit dankbaarheid vir lewens wat gespaar is.
Soos ek groter geword het, het hierdie verhaal my in brokke en stukke bereik. Ek kan nie onthou dat dit ooit direk gebruik is om enige druk op my uit te oefen nie. Tog moet dit ’n rol gespeel het in my gerigtheid op dit wat ek as die “heuning” van my lewe beskou het. Ek onthou dat ek eendag saam met my pa in die mielieland geloop het. Die vaal grond was sag en sanderig tussen my tone en die jong, blougroen mielieplante was so kniehoogte. Alles was onweerstaanbaar gul en geil: die sekuriteit van my pa se teenwoordigheid en die geure en kleure van die mielieland. Op daardie oomblik wou ek ’n boer word, soos my pa. Tog het daardie gedagte gou weer vervaag.
Benewens die impak van my geboorteverhaal moet daar nog redes gewees het waarom ek reeds as klein seuntjie so ’n diepe oortuiging gehad het van wat my lotsbestemming is. Dít lê moontlik in ’n sekere familiestorie of -wysheid wat van generasie tot generasie opgebou en oorgedra word – ’n verhaal oor wat goed en sleg is, oor wat in die lewe betekenis het en wat nie, oor wat die moeite werd is om na te jaag en wat nie.
My ouers was albei in die plaasbestaan gewortel. Dit was ’n sukkelbestaan, maar ’n edele bestaan. Hul skoling was hoofsaaklik plaas- en boerewysheid. Dit het daaroor gegaan om van die hand in die tand te lewe en tog verstandig met die Bybel in die hand vir die dag van môre voorsiening te maak. Ek het hierdie waardes van hulle gekry en geleer om dit deur eenvoudige gelofies en gewoontes voort te sit: Jy maak jou skoene skoon, al is hulle ook deurgeloop. Jy kan maar arm wees, maar jy moenie versleg nie. As jy iets het, dan trek jy dit nie deur nie. Jy pas wat jy het op en jy maak reg as dit breek. Jy laat Gods water nie oor Gods akker loop nie. Dit het vir materiële goed en vir geestesgoedere gegeld.
Heelwat later, toe ek al predikant in my derde gemeente, Universiteitsoord, was, het ’n ouderling eendag by ’n kerkraadsvergadering vir my net die regte woorde vir hierdie lewenswaarde gegee. Dit het in die