Onder die radar. Dana Snyman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Dana Snyman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Книги о Путешествиях
Год издания: 0
isbn: 9780624062288
Скачать книгу
lyk nie of hulle met mekaar gesels nie. Hulle sit met hul rûe teen die bakkie se kajuit en hulle kyk agtertoe. Hulle gaan by ’n huis of op ’n bouperseel werk, weet jy – heeldag lank gaan hulle verf of messel of kruiwa stoot, en vanmiddag gaan hulle weer in die teenoorgestelde rigting agterop hierdie selfde bakkie op hier­­die selfde snelweg ry, terug township toe.

      Elke dag sien jy mense agterop bakkies ry.

      Soms is daar sommer agt of tien agterop die bakkie, en dis meest­­al mans. Dikwels is daar ’n leer of ’n kruiwa saam met hulle op die bak. Dan moet party staan of op die bak se rand sit, want ín die bak is nie genoeg plek vir almal om te sit nie. Hulle moet aan die bakkie vasklou en oppas hul pette waai nie van hul koppe nie.

      Partykeer sien jy ’n pet op die snelweg lê. Dit lê daar in die lin­ker­­baan op die teer, en die karre ry daaroor. Wanneer die wind waai, sal die pet ’n entjie die lug in fladder, voor ’n volgende kar kom en dit weer plat trap.

      Jy sal na daardie pet kyk en weet dit het van iemand wat agterop ’n bakkie was se kop gewaai.

      Dalk was dit ’n jong man uit die Oos-Kaap wat in die Kaap werk kom soek het se pet. Miskien was dit sy eerste dag agterop ’n bakkie saam met ander werkers, en toe hy weer sien, gryp die wind die pet van sy kop af. Nadat die wind sy pet afgewaai het, het hy dalk vergeefs vir die bestuurder geskreeu om stil te hou terwyl die ander werkers vir hom lag.

      Niemand hou graag stil vir ’n dêm werker agterop ’n bakkie wie se dêm pet afgewaai het nie.

      Op die platteland sien jy ook soms ’n pet in die pad lê en dan sien jy dadelik ’n prentjie in jou verbeelding: Dit is ’n skildery wat nog nie geskilder is nie – die een van die werker agterop die boer se bakkie. Die werker ry dikwels saam dorp toe om die hekke op pad oop te maak. Die hele oggend sit hy in die heklose dorp ag­ter­op die bakkie terwyl die boer by die bank en die Spar en die koöperasie ingaan.

      Partykeer sal die werker afklim, en dan sal daar ’n repie koerant­papier en die oranje van ’n pakkie BB-twak in sy hand wees.

      Die platteland is vol desperate mense agterop desperate bakkies. Die mans het dikwels nie oorpakke aan nie. Hul hemde fladder soos verslete vlae aan hul lywe in die wind. Soms sal hulle ’n bottel wat in ’n papiersak toegedraai is vir mekaar aangee en een vir een ’n sluk daaruit vat.

      Ander kere sal daar tussen die mense agterop ’n bakkie ’n vrou wees, met ’n doek om haar kakebeen gebind, op pad na ’n kliniek waar die seer tand getrek sal word.

      Soms sien jy oumas agterop bakkies, soms kinders, soms moe­ders met babas in hul arms.

      Mense agterop bakkies kyk omtrent altyd agtertoe. Hulle kyk byna nooit na waar hulle heen gaan nie. Hulle kyk na waar hulle vandaan kom.

      Blye versekering

      Bang? Nee wat, my oom. Oom het niks om voor bang te wees nie. Hoe sê hulle in die Bybel? Wees nie bevrees nie. By my is oom se geld in veilige hande. Kyk my in die oë, oom. Ontspan, oukei? Relax net, soos hulle sê. Ek weet mos oom het hard gewerk op die plaas vir die geld. Kom ek vertel oom ’n ding: Oom se R800 000 is veiliger hier by my as in die bank. Kyk maar wat gebeur op die oomblik in Griekeland en in Amerika. Jy kan die banke nie meer vertrou nie. En ek gee oom amper dubbeld die rente wat die bank gee. Binne ses maande maak ek oom se R800 000 vir oom meer as ’n miljoen! Waar anders gaan oom dit kry? Ek sê altyd: As kin­ders van die Here mekaar die dag nie meer kan vertrou nie, wie kan dan? Daar’s baie skelms in hierdie bedryf, my oom. Oom sien self die stories in die koerante. Die ouens kom met hul slimpraatjies, en dan môre, oormôre verdwyn hulle met die beleggers se geld – onskuldige mense soos oom s’n. Oom weet wat met Krion gebeur het, en met Fidentia, en met Realcor. Ek is nie een van daais nie, my oom. Ons werk net met wettige markinstrumente. Ons vat oom se R800 000 en sit dit in ’n fonds. Dan werk ons met daai geld, ons wérk met daai geld. Ek het mannetjies hierso wat 24/7 voor die computers sit en die markte dophou en met daai geld werk – als wettig. Als wettig. Ons het ook baie geld ingestoot in die kanola-aanleg wat hulle by Malmesbury gaan bou. Dis eintlik nog ’n geheim, maar ek kan dit maar vir oom sê: Hulle gaan die kanola-olie met ’n pypleiding van Malmesbury af Kaap toe pomp en uitvoer. Kanola is die goud van die toekoms, my oom. BMW in Duitsland is klaar besig om ’n model te ontwikkel wat op kanola gaan loop. Hier is als, ek kan vir oom als wys, swart op wit. Oom kan rustig teruggaan plaas toe en gaan boer; ek sal mooi na oom se geldjies kyk. Ek gaan nie vir oom jok nie. Dis nie altyd maklik nie. Die markte is deesdae geweldig wolletiel, geweldig. Maar ek weet waar my krag vandaan kom, oom. Ek sê altyd: Die Here wil nie hê ons moet arm wees nie. Ek dink baie dae kyk Hy na hierdie land, en dan huil Hy oor al die armoede wat Hy sien. Ek is nie skaam om te sê ek leef goed nie. Ek het my huis teen Kanonberg, ek het my strandhuis, ek het my plaas in die Karoo, ek het my karre en my goed. Maar weet oom wat maak my die gelukkigste? Om iemand soos oom se geldjies te vat en binne ses maande ’n miljoen daar­van te maak – dít maak my happy. Ek prys die Here daarvoor! Oom is verniet bang. As oom dan net hier onderaan die bladsy vir my oom se handtekeningetjie kan maak, net hiér. Dit beteken maar net oom gee toestemming dat die geld uit oom se rekening na myne oorgeplaas word. Teken maar net hier. So, ja. Piekfyn. Oom gaan nooit spyt wees nie. Die Here hoor my. Dit kan ek oom belowe.

      Herderloos

      Dominee Bennie is nie meer ons dominee nie. Hy het uit die Kerk bedank en uit die pastorie getrek.

      Dominee Bennie is nou ’n eiendomsagent, hy verkoop nou huise.

      Ons weet steeds wat in dominee Bennie se lewe aangaan, want dominee Bennie plaas gereeld posts op Facebook. Ons hoef nie meer oor dominee Bennie te skinder nie, hy skinder nou oor hom­self, en ons kan alles lees.

      Nou die dag het iemand ’n foto van dominee Bennie op Facebook geplaas. Dominee Bennie het ’n glas wyn in die hand op die foto en dit lyk of hy op iemand se stoep sit, tussen ander mense. Hy het nou ’n stoppelbaard en sy hare is gejel en hy dra ’n rolnek­trui.

      Soms plaas dominee Bennie gedigte op Facebook – gedigte wat hy self skryf. Gedigte wat nie rym nie. Vrye verse vol woede en angs.

      Dominee Bennie gee ook graag sy mening op Facebook oor seks en verhoudings. Hoekom word prostitusie nie gewettig nie? vra hy. Jesus het hom dan self oor ’n prostituut ontferm. En hoekom moet ’n gay man of vrou eers seks afsweer voor hy of sy ’n predikant in die Kerk kan word?

      Ons leer nou ’n kant van dominee Bennie ken wat ons nie ge­weet het bestaan nie.

      Ons het nooit geweet dominee Bennie is so kwaad nie. Hy is pal kwaad. Hy is kwaad vir die Kerk en die Kerk se gesagsfigure. Hy is kwaad vir almal wat steeds in die Kerk is. Hy is kwaad vir rugby. Hy is kwaad oor apartheid en sy hele verlede: Sy onderwy­sers, sy offisiere in die army – almal wat hom geleer het die Afrikaner het ’n Goddelike roeping hier aan die suidpunt van Afrika.

      Eintlik preek dominee Bennie steeds vir ons – veral laat in die aand. Op Facebook. En op die Kuberkerk se gespreksforum. Die internet is nou dominee Bennie se kansel. Maar, anders as toe hy nog in die Kerk was, probeer dominee Bennie ons nie meer met sy preke tot ’n goeie, verantwoordelike lewe roer nie. Dikwels pro­beer dominee Bennie ons skok. Of só lyk dit. Hy sê die Bybel maak nie meer vir hom oral sin nie. Die Bybel se Jesus en die historiese Jesus is nie dieselfde mens nie. Hy sê ons moet in die wetenskap vir antwoorde op die dieper vrae van die lewe gaan soek: Die skep­ping het met die Big Bang begin en alle lewe het deur die evo­lusie­proses ontwikkel. Dominee Bennie gebruik nou Einstein en Dawkins se name soos hy eens op ’n tyd koning Salomo en Paulus se name gebruik het.

      Dominee Bennie gebruik allerhande hoë woorde. Hy sê ons het ’n nuwe meesternarratief nodig. Hy sê die Heidelbergse Kategismus is verouderd en uitgedien. God is toe nooit wie ons gedink het Hy is nie. Ons lewe in ’n postmodernistiese, gebroke werklikheid waarin daar nie meer absolute waarhede is nie.

      Dominee Bennie is nou net so herderloos soos ons.

      Kerkbasaar

      Die Saterdagoggend ry ek deur ’n dorp in