Onder die radar. Dana Snyman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Dana Snyman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Книги о Путешествиях
Год издания: 0
isbn: 9780624062288
Скачать книгу
pa kyk in die toonbank se rigting waar twee of drie kelners borde en koppies en glase op en van skinkborde af pak. “Waar bly die waiter?” vra hy, lig sy arm en klap sy duim en wysvinger geluid­loos. Dit is ’n Vrydagaand en die lughawegebou is vol mense.

      Kleinsus haal ’n selfoon te voorskyn. Haar duim ken die pad oor die knoppies al goed.

      ’n Kelnerin kom nader.

      “Do you serve beer?” vra die pa.

      “Yes, we do, sir,” antwoord die meisie en sit drie spyskaarte op die tafeltjie neer.

      “I need a beer now. Bring me one Castle.” Die pa kyk na die ma. “Koffie vir jou, Ma?”

      “I’ll take a filter coffee,” sê die ma vir die kelnerin en plaas haar hand op Kleinsus se arm. “Iets vir jou, sus?”

      Kleinsus kyk ’n oomblik van die selfoon af op. “Filter coffee,” sê sy. “With hot milk.”

      Die pa wikkel ’n pak Winston-dertig uit sy roomkleurige hemp se bosak en sit dit voor hom neer, byna soos ’n kaartspeler wat sy laaste troef speel. Die bekommernis lê in ’n keep tussen sy oë.

      Die ma kyk op haar horlosie. “Hulle sal ons goed gou moet bring,” sê sy. “Dis al kwart voor.” Sy sit haar hand weer op Kleinsus se arm. “Is jy nou seker ons sal met jou kan praat as jy daar oorkant kom, sus?”

      Kleinsus kyk na die ma. “Hoeveel keer moet ek nog vir Ma sê: As ek daar oorkant kom, koop ek net vir my ’n ander SIM-kaart.”

      “Jy moet dadelik vir ons ’n SMS stuur,” sê die pa. “Ons wil weet jy is veilig.”

      “Ek sal fine wees, Dad.”

      By een van die ander tafeltjies hou twee hande ’n Engelse koe­rant in die lug. Germiston couple killed in robbery, lui een van die op­skrifte.

      Die kelnerin bring die koffie en die bier. “Is there nowhere in this building I can smoke?” vra die pa vir haar toe sy die blikkie bier en die glas voor hom neersit.

      “I’m afraid not, sir. Sorry.”

      Die pa mompel iets onhoorbaars. Die ma skeur ’n pakkie suiker oop en lees die spreuk agterop die pakkie, maar sy deel dit nie met die pa en Kleinsus nie. ’n Kurt Darren-rige selfoondeuntjie begin speel. Dis haar selfoon. Sy kyk op die skermpie. “Dis my ma,” sê sy en antwoord. “Hallo, Mammie. Als reg daar? Ja. Ja. Op die lug­hawe, ja.”

      Die pa drink sy bier en kyk na die mense wat skaduweeloos ver­bystap. Dalk het hy twintig, dertig jaar gelede, toe hy pas agttien of negentien jaar was, ook so saam met sy ouers iewers op ’n trein­stasie gesit en afskeid neem voordat hy op ’n militêre trein geklim het om sy nasionale diensplig iewers te gaan doen.

      “Nee, Mammie, sy sit hier,” sê die ma vir die ouma oor die foon en kyk na Kleinsus. “Ons gaan haar amper groet, sy moet amper ingaan. Ja. Ja. Oukei. Hier’s sy.” Die ma hou die selfoon uit na Klein­sus toe. “Ouma wil gou met jou praat.”

      Kleinsus neem die selfoon traag uit die ma se hand. “Hallo, Oumie,” sê sy. “Ja, Oumie. Ja. Ja. Ek sal. Ek sal. Ja. Thanks. Ja. Ek het onthou, ja. Ja. Hy is in. Genuine. Dankie, Oumie. Ek sal. Ek sal.”

      Die pa se bier is op. Die ma kyk weer op haar horlosie. Nadat hulle Kleinsus afgesien het, sal hulle moontlik in stilte terugry na hul dorp of hul woonbuurt, stil terug na ’n leë huis toe, terwyl die pa se sigaretkooltjie in die donker motor gloei.

      “Bye, Oumie. Lief vir Oumie,” sê Kleinsus, druk die foon dood en gee dit weer vir die ma.

      “Ons is amper laat,” sê die ma en kyk na die pa. “Het jy die reke­ning gevra?”

      Die pa waai met ’n lang arm vir die kelnerin.

      “Wat wou Ouma weet?” vra die ma vir Kleinsus.

      “Sommer niks nie, Ma. Ons is laat.”

      “Ek wil weet wat wou Ouma weet.”

      “Sy wou net weet of ek ’n Bybel ingepak het.”

      “Het jy?” vra die pa.

      “Ja, Pa. Ek het.”

      “Is jy seker?”

      “Chill net, julle. Jeez.” Kleinsus kyk op haar horlosie.

      Die kelnerin bring die rekening. Die pa kyk daarna en haal ’n volstruisleerbeursie uit sy sak. Kleinsus kom regop.

      Oor minder as vier-en-twintig uur sal sy in Londen wees. Sy sal Big Ben kan hoor lui en dalk sal sy ’n foto van haarself saam met Elton John in die Madame Tussaud-museum laat neem, en een nag sal ’n dronk Engelsman haar dalk in ’n nou straatjie probeer vasdruk en soen.

      Die kelnerin bring die kleingeld, twee of drie bruin note. “You can keep it all,” sê die pa vir haar en kom orent.

      “Thank you. Thank you so much,” sê die kelnerin. “Are you travelling abroad?”

      “No,” antwoord die pa. “Only my daughter.”

      “On holiday?” vra die kelnerin.

      Die pa kyk na Kleinsus wat al begin aanstap het, met haar rugsakkie oor die skouer.

      “No, she’s going to work as a waitress.”

      Roikappiki

      Eendag lnk, lnk glede wa da i meisiki. Ha naam wa Roikappiki. Sy en ha ma en ha pa bly in i hys lngs i bos.

      Ha ouma bly anni anniknt vanni bos.

      Op i dag tu sê Roikappiki se ma vi ha: “Roikappiki, di ga hektiek met Ouma, sys lonely en depro. Vat vi ha snacks en ga visit ha en chat me ha.”

      “Cool,” sê Roikappiki. “Ek luv Ouma. Ouma is gr8.”

      “Pas nt op vi perverts inni bos,” sê ha ma. “Muni vanni paiki af ganni.”

      “Relax nt, Ma. Ok?” sê Roikappiki vi ha ma. “Ek sa fine ws.”

      Tu trek Roikappiki ha cool roi jas en kappi an en grut ha ma: “Luv, Ma. Mwah! Mwah!”

      Tu vat Roikappiki di manki mt ha Ouma se snacks en stap oppi paiki inni bos in. Sy sie alli pretty blmme inni bos en plk vi ha ouma vanni blmme. Late tu ga sy vanni paiki af, agte di blmme an.

      Inni mean time cruz Wolf ok da rond. Wolf sien vi Roikappiki en prbr ha opchat. “Luv u’r flowers,” sê Wolf vi ha. “Vi wie plk jy dit?”

      Dit freak Roikappiki biki uit. “Get lost, dude,” sê s vi Wolf. “Ek ga na my ouma tu. M ouma i sk.”

      Maar Wolf los ha ni yt ni. “Jys awesome,” sê hy vi Roikappiki en stp agte ha an. “Kom ons ga chill biki iewers. Suk jy n spliv?”

      Tu freak Roikappiki totally uit en hrdlp vi Wolf weg en vdwl inni bos.

      “Cool,” dnk Wolf, en ga na Roikappiki se ouma s hys tu. Hy klp anni deur. “Ga weg!” skr Roikappiki se ouma va binne af. “Hie issi werki! Ga terug na jou land tu! Jille ko steel net ons gud!”

      “Eks vanni kerk, my anti,” antwrd Wolf. “Ek ko vi anti bid.” LOL.

      Roikappiki se ouma maki deur oop.

      “Howzit, my anti,” sê Wolf vi ha. “Welcme to the nw Sth Afrca.” LOL.

      Roikappiki se ouma freak soos in totally, totally, totally uit tu sy sie dis Wolf. Sy wi 911 bel, ma Wolf grp ha.

      “Chill net, my anti,” sê Wolf vi Roikappiki se ouma en goi ha inni kas. Tu trek hy Roikappiki se ouma se pjms an en klm i ha bed en wa vi Roikappiki.

      Roikappiki suk en suk en kry ltr wee di paiki yt di bos yt. Sy ko by ha ouma se hys an. Dis funny, dnk sy tu sy sie di deur is oop. Tu sy inni kamr ko, sie sy ha ouma is inni bd. Maar ha ouma lyk biki uitgefreak.

      “Ah-we,