“Het oom-hulle al iets gekry?”
“Niks nie, ou maat.”
Saans het Pa en Ma met gedempte stemme om die oefeningboek waarin hulle hul geldsake neergeskryf het by die kombuistafel sit en praat. Oom Doepie moes betaal word vir elke voet wat hy die aarde in geboor het, ongeag of daar water is of nie.
Soms, laatmiddag, wanneer oom Doepie-hulle klaar vir die dag geboor het, het ek daar by die boormasjien gaan rondhang. Jakkals, oom Doepie se helper, se tent het ook daar opgeslaan gestaan.
Eenkant het ’n swartgebrande ketel op ’n vuurtjie gesing en op ’n riempiestoeltjie het oom Doepie gesit, met sy stories: Hoe hy in Egipte gaan boor het, ook hoe hy in sy jong dae kwansuis in Siberië gewerk het. In ’n snuifmyn.
Jakkals het dikwels by ons gesit, met sy dowe ore. Hy en oom Doepie het oor die jare heen hul eie vingertaal met mekaar leer praat.
Miskien is dit op ’n manier maar beter om doof te wees as jy dag na dag in al daardie lawaai by die bek van ’n nuwe boorgat moes staan, met jou hand om die kabel waaraan die boorpunt is, wat al dieper die aarde in stamp.
Dit was Jakkals se werk: hy moes daar staan met sy hand om die kabel om seker te maak daar word nie skeef geboor nie.
Een of twee keer per dag het oom Doepie-hulle ook so ’n metaal-skepding in die gat laat afsak wat ’n bietjie grond onder uit die gat na bo gebring het.
Ná drie dae se boor het die grond wat boontoe gekom het darem so klammerigheidjie ingehad.
Oom Doepie-hulle het ná ses, sewe dae se geboor ook ’n watertjie daar langs my duiwehok raakgeboor. Dit was nie veel nie, maar dit was genoeg om die asbestenk weer nou en dan vol te maak.
Ek sal die blydskap nooit vergeet toe oom Doepie kom sê: “Ons het die aar gekry.” Pa en Ma wat oor die werf draf, Ma sommer met haar voorskoot aan. Met ou Souf, wat in die kombuis gewerk het, agterna. Oom Andries wat ’n ruk later daar in sy Opel stilhou, want sulke nuus het gou versprei op ons dorpie.
Nog mense het gekom, en oom Doepie het die boormasjien afgeskakel, en almal het by die boorgat probeer inloer. En eenkant, eenkant het oom Doepie alleen na almal staan en kyk, met ’n glimlaggie op die gesig.
Net daar het ek besluit ek wil eendag ’n boorman word. Ek wil Siberië en Egipte sien. En Prieska en Sterkaar en Uitkyk. En ek wil vir mense water bring.
Reën
En dan kom die reën.
In die oggend sal daar ’n wind wees, maar dit sal nie ’n moedelose wind wees wat los papiere straataf laat warrel nie. Dit sal ’n warm wind wees wat die sterte van die dorp se windpompe noord laat draai en dit daar hou.
Oom Andries van langsaan sal op sy voorstoep uitstap en hy sal nie frons nie. Hy sal kyk na die vaal wolkbank wat soos ’n verlore belofte op die horison talm en sê: “Nou moet hierdie wind net hou.” Want soms draai die wind en begin uit die weste te waai, en dan waai dit die wolke weg.
By oom Osche se winkel sal ’n nota teen die deur wees: Kom binne. Deur toe weens wind. En in die winkel sal almal versigtig oor die wind praat, want almal weet in die Noord-Kaap kan selfs ’n verkeerde woord die wind laat draai.
By die koöperasie sal oom Flippie sy tiervelhoed afhaal en op die toonbank neersit. “Voel julle die vog in die lug?”sal hy vra en die sweet met ’n plat hand van sy bleek voorkop vee.
Daar sal nog tekens wees, behalwe die sweet op oom Flippie se voorkop en die wolke en die wind. Op die grond langs die huis en op die stoep en teen die buitekamer se muur sal strepies-strepies rysmiere beweeg, en naby die slagpale sal ’n skilpad oor die pad stap, in die kliprantjies se koers.
In die ooste sal ’n flou strepie maan skuins in die lug hang, en Pa sal daarna wys en sê: “Het julle gesien, die maan gooi uit?” Maar Ma sal nog nie vir ou Souf aansê om al die huis se vensters toe te maak nie.
Dan, iewers in die namiddag, sal daardie wolkbank van die horison af lig en afsonderlike wolke word wat oor die oopte aankom. Die wind sal nou koeler wees en oom Andries sal weer op sy stoep gaan staan. “Die wolke moet nou net nie afkoel nie, anders kry ons vandag hael,” sal hy sê, en iewers sal ’n hoenderhaan kraai.
Die wolke sal laag oor die dorp skuif en daar sal nie ’n gedonder en geblits van weerlig wees nie. Daar sal net so ’n vae gerammel in die wolke wees, asof iemand stoele in een van die hemel se agterste kamers rondskuif.
Dan sal daar ’n druppel op die huis se sinkdak val – net een druppel. Jy sal daardie druppel duidelik hoor, dan sal daar ’n oomblik se stilte wees, soos in die kerk net voor Dominee die seën uitspreek. Dan sal daar nog ’n druppel val, en nog een. Dan sal daar baie druppels wees, en gou sal jy iets in die lug ruik, so ’n varserige, gronderige reuk – die reuk van genade.
Ons sal deur die huis hardloop en vensters toemaak, en Ma sal ’n ou handdoek bring en dit oprol en dit voor die kombuisdeur gooi sodat die water nie van die agterstoep af by die kombuis instroom nie.
Later sal oom Andries met ’n reënjas oor sy skouers by sy agterdeur uitkom en krom na die reënmeter draf wat aan ’n paal in sy jaart hang. Ma sal begin praat van pannekoek bak en nog later sal die telefoon lui. Hoeveel het al daar by julle geval? Hier by ons het ons al 12 millimeter gehad.
Dit sal reën, o, dit sal reën.
Nuwe waarhede uit ou woorde
Op Kersoggend besluit ek om tog maar weer ’n slag kerk toe te gaan. Dit is darem Kersfees, sê ek vir myself. Op sulke plattelandse dorpe gaan ook die afvalliges op Kersdag kerk toe.
Die diens begin om halftien, maar toe ek net ná kwart oor nege tussen die bakkies en die karre by die NG kerk in die hoofstraat stilhou, hang die geluid van mense wat ’n psalm saam met ’n orrel sing reeds in die lug.
Die kerkgebou is hiér nog nie omring deur ’n palissadeheining soos op soveel ander plekke in die land nie, maar agter die kerk, aan die konsistorie se kant, staan ’n gedenkmuur met rye marmerstene daarin gemessel.
’n Mens sien deesdae al hoe meer sulke gedenkmure by Afrikaanse kerke: Party lidmate verkies dit om veras te word en hier geplaas te word, eerder as om te gaan rus in ’n begraafplaas wat nie meer deur die munisipaliteit in stand gehou word nie, waar die kakiebos die grafte toegroei en die hek en die heinings weggedra word.
In die kerk se voorportaal lê ’n paar ouerige Bybels en twee of drie Liedboeke op ’n tafel.
Die kerk is byna vol. Ek stap tussen die banke en die singende stemme deur, en terwyl ek stap, voel dit of ek by ’n plek in myself instap waar ek bang is om te kom.
’n Paar rye van agter is vir twee mense sitplek, agter ’n man, ’n vrou en ’n dogtertjie. Ek skuif daar in, en toe ek gaan sit, buig my kop byna instinktief vooroor. Vir ’n paar oomblikke sit ek net so, met my oë toe. Toe ek ’n kind was, het ek altyd gekyk hoe die ooms en die tannies die kerk instap, en hoe hulle gaan sit en hul koppe so laat sak; en toe het ek dit ook maar begin doen. “Help my, Here,” sê ek in my gedagtes en maak my oë weer oop.
“Kom laat ons jubel voor die Heer,” sing die mense steeds. “Laat ons Hom toesing lof en eer . . .”
Die lied se woorde word op ’n skerm teen die muur langs die preekstoel gewys, maar eers sing ek nie saam nie. Eers bekyk ek alles rondom my. Alles is so bekend: die blokkiesvloere, die rooi tapyt in die gangetjie tussen die banke, die preekstoel met die kanselkleed waarop ’n prentjie van ’n herder met ’n staf en ’n paar skape geborduur is. Die nagmaaltafel met die rangskikking affodille en krisante daarop. Die doopvont.
Ek het in ’n plattelandse NG gemeente soos dié grootgeword. Ek is in só ’n kerk gedoop. In só ’n kerk het ek Kinderkrans toe gegaan, en Sondagskool toe; en in só ’n kerk is ek een Sondagoggend