Die boek van toeval en toeverlaat. Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen). Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798160018
Скачать книгу

      Ingrid Winterbach

      Die boek van toeval en toeverlaat

      Human & Rousseau

      Vir Liesbeth-Helena Gouws

      Hoofstuk 1

      In Maart aan die einde van die somer begin ek werk as Theo Verwey se assistent. In Oktober in die lente word hy dood aangetref in sy kantoor. Ek is die een wat om halfsewe die aand op hom afkom. Ek maak die deur agter my toe en beweeg versigtig vorentoe, maar daar is ’n drumpel wat ek nie kan oorsteek nie.

      Almal is ontsteld oor sy dood; Matroos die opsigtelikste van almal. Dae lank is sy oë rooi gehuil en hy sê vir my: Hy was soos ’n vader vir my.

      Matroos sit by my in die kantoor. Sy een lang been hang oor die armleuning van die stoel. Onder sy arms is groot sweetvlekke. Sy hare is deurmekaar. Sy gesig is rooi van die emosie. Selfs in hierdie ontredderde toestand sien hy daar besonder goed uit. Freddie staan in die deur. Agter hom staan die skropvrou. (Sy lyk na ’n verloopte skropvrou, maar sy is eintlik ’n kenner van fossiele, meer spesifiek fossiele uit die Kambriese Tydperk.)

      Matroos sê: “Dis daai Indiese hond.”

      “Watter Indiese hond?” vra ek.

      “Die margarienmagnaat,” sê Freddie in die deur.

      “Dis sy pa,” sê Matroos.

      “Wie se pa?” vra ek.

      “Die hond se pa,” sê Matroos.

      “Die margarienmagnaat?”

      “Ja, hy het sy geld met margarien en kookolie gemaak,” sê Freddie in die deur.

      “Wie is nou die Indiese hond?” vra ek.

      “Dis die hond se konterige seun,” sê Matroos.

      “Matroos dink hy het Verwey afgepers,” sê Freddie, en trap sy sigaret onder sy hak dood.

      “Geblackmail,” kerm Matroos.

      “Sleg,” sê die skropvrou.

      “Hy is stinkryk,” sê Freddie.

      “Hulle het ’n TV-screen so groot soos ’n muur in hulle huis,” sê Matroos, “met sitplekke soos ’n bioskoop.”

      “Hoe weet hy dit?” vra ek vir Freddie, want Matroos word deur ’n nuwe vlaag trane oorval.

      “Hoe weet jy dit?” vra Freddie vir Matroos.

      “Ek was dáár,” kerm Matroos.

      “Gatver,” sê die skropvrou, en sy steek ook ’n sigaret aan.

      “Het die pa of die seun hom afgepers?” vra ek.

      “Die pa,” sê Freddie kopskuddend.

      “Nee, die kont self,” sê Matroos.

      “Is die kont die seun?” vra ek.

      “Ja, die moerskont,” sê Matroos, “met sy lekker Indiese hol!”

      Ek en Theo Verwey het na musiek geluister terwyl ons werk. Mahler, Schubert, Cimarosa, Gluck, Strauss, Schütz, Mozart. Ek het Theo Verwey gehelp met sy projek. Hy het alle woorde byeengebring wat in Afrikaans in onbruik verval het of selde meer gebruik word.

      ’n Paar dae ná sy dood kom mevrou Verwey haar ont­slape eggenoot se besittings uit sy kantoor verwyder. Ek help haar om die boeke in bokse te verpak.

      Sien jy kans om hierdie taak namens hom te voltooi? vra sy my. Die projek was sy lewenslange droom, sê sy, en Theo het die grootste respek gehad vir jou kundigheid. Met my rug na haar toe, terwyl ek met ’n stapeltjie boeke in my hand buig oor ’n boks, sê ek vir haar: “Ek sal daaroor moet dink; ek weet nie hoe lank ek nog van plan is om hier te bly nie.”

      Hoofstuk 2

      In die laaste week van Mei, byna drie maande nadat ek in Maart as Theo Verwey se assistent begin het, word daar by my tuinwoonstel ingebreek. Toe ek laatmiddag by die huis kom, is die woonstel deurmekaar. Die kaste en laaie is oop, die inhoud daarvan deurmekaar, asof iemand inderhaas daar­in na iets gesoek en dit toe teruggebondel het. In die kamer is die beddegoed omgewoel – afgestroop, lyk dit, en toe teruggegooi. Ek gee nie om wat daar gesteel is nie, ek doen nie eens die moeite om te kyk nie – wat my hart breek is my skulpe!

      Ek het sewe en dertig van my mooiste skulpe met my saamgebring hierheen. Versigtig soos porselein het ek hulle verpak vir die reis, selfs die robuuste konusse. Een en twin­tig van hulle was in drie rye op die tafeltjie langs my bed opgestel, die ander sestien was op die tafel in die sit­kamer. Die tafeltjie langs my bed is leeg. In die sitkamer lê ’n paar skulpe op die grond. Ek sak op my hurke af. Net vyf het oorgebly. Die drie Harpa majors is weg. Die peri­glyptas! Die meeste van die konusse. (Die onvervangbare konusse!) Die helmskulp waarvan Frans gesê het die kleur lyk soos sy eikel as hy lank in die water gelê het. Die twee dramatiese murekse. Die rare terebras. Ek het hierdie skul­pe nie een of twee middae langs die see opgetel nie, ek het hulle oor die jare met groot om­sigtigheid uitgekies en aangekoop. Ek hoor my eie stem kerm: Ek kan dit nie gló nie! Die geluid kom diep uit my keel, uit ’n plek waar woorde nie ge­woonlik gevorm word nie; ek voel hoe my keel vernou en die klein beentjies in my strottehoof pynlik teenmekaar aandruk. Is ek veronderstel om hieruit ’n les te leer? dink ek in die verbygaan.

      Al my besittings sien ek as aardse goed, alles vervang­baar – maar nie die skulpe nie. Die skulpe is hemelse boodskappers! Die skulpe versamel ek al ’n leeftyd. Hulle is my kosbaarste besittings. Ek het die afgelope jare (met enkele uitsonderinge) meer plesier van my skulpe gehad as van mense. (My gewese man het my daarop gewys. Jy is soos die keiserin-weduwee Tz’u-hsi het hy gesê, wat meer ge­steld was op haar sywurmkokonne as op haar onderdane.)

      Ek beweeg radeloos deur die huis, van die een vertrek na die ander. Hóére, dink ek. Wie dit ook al gedoen het. Barbare.

      In die klein agterkamer is daar ’n groot nat kol op die mat, asook ’n groot stuk menslike ekskrement. Ek deins terug van die reuk en van die substansie van die uitwerpsel. Iemand het waaragtig op die mat geürineer en ontlas! Die uitwerpsel lyk gevaarlik – stewig, blink, swart, opgerol soos ’n slang. (Wat moet iemand inneem om so iets te produseer! Watter meedoënlose gedagtes kan so ’n drol ríg?) Dreigend lê dit daar, ’n waarskuwing: wees versigtig, of jy kry met mý te doen, en ek toon geen genade nie. Die vernedering hiervan, die naakte intimidering van hierdie daad!

      My eie geestelike nood is hoog. Ek handhaaf al lank hier­die hoë vlak van psigiese nood, en dit neem heelwat energie om dit in stand te hou. Meditasie op die skulpe is een ma­nier om my te sentreer en my angsvlakke te verlaag. Hulle is vir my ’n bron van oneindige skoonheid en ver­wondering. Op die skoonheid van hierdie skulpe kan ek peil trek, ek kan daarop reken dat dit my van my eie kwel­linge en onbehaaglikheid sal aflei.

      Ek gaan in hoogste versnelling; ’n soort histerie, sekerlik. Ek tel die uitwerpsel versigtig met ’n pak tissues op en spoel dit af in die toilet. Ek week die mat in Dettol. Die water in die bad word ’n troebel swart. (Dit is ’n mat waarvan ek baie hou, ek het dit gekoop in ’n tyd toe ek en my gewese man en die kind nog saam was.) Ek kan nie bekostig om my deur ’n drol of twee te laat intimideer nie. Pas nadat ek dit gedoen het, wonder ek of hulle nie dalk deesdae tegnieke het om die identiteit van misdadigers van hulle ekskrement af te lees nie. Te laat daarvoor. Ek bel die polisie. Ek moet alles seker laat soos dit is, maar kry dit nie oor my hart om die onteerde skulpe op die grond te laat lê nie. Ek pak hulle op die eet­kamertafel uit.

      Die deurklok lui. Twee konstabels meld hulle aan, ’n kon­stabel Modisane en ’n konstabel Moonsamy. Konstabel Mo­di­sane maak ’n simpatieke klikgeluid met die tong terwyl hy die ramptoneel in oënskou neem. Hy is die jongste van die twee. Hy het gladde, jeugdige wange en ’n hoogronde voor­kop.

      “Do you like these things?” vra hy en beduie na die skul­pe op die tafel.

      “Yes,” sê ek.

      Hou ek van hulle?! Meneer Modisane, konstabel, hoe kan ek begin sê hoe ek hierdie skulpe bejeën? Ek het nie ’n be­wonderenswaardige lewe gelei nie, en daar kan ek nie veel aan verander nie. Ek was onverantwoordelik