101 Bakgat maniere. R.R. Ryger. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: R.R. Ryger
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800696
Скачать книгу
van “daar is soveel teorieë, ’n mens weet nie watter een om te glo nie,” en het vir ons nog ’n bier uit die yskas gaan haal.

      Jacques se probleem was dat hy nog altyd te maklik op loop gegaan het met iets. Die grootste deel van die tyd is hy ’n Christen wat in Jesus Christus en God die Vader glo, maar dan hoor hy weer iets anders en raak die kluts kwyt.

      En daarmee bedoel ek dat hy dan die nuwe teorie vir ’n dag aanhang, of ’n week, ’n maand, soms selfs ’n jaar of wat, voor sy Jesus-geïndoktrineerde brein weer skuldig begin voel en hy dramaties op sy knieë val en sy sondes bely, en dan is hy vir minstens ’n week weer ’n model-Christen.

      Ek het ook van daardie boeke oor die Sumeriese geskrifte gelees, veral dié geskryf deur David Icke, en ek het dit baie interessant gevind. Die manier waarop Icke die dinge beskryf, verskil natuurlik heelwat van Jacques Olivier se his­terie.

      Icke draai egter nie doekies om nie en skryf sommer dat voormalige wêreldleiers soos George Bush en Bill Clinton, die koninklikes van Engeland, en nog baie ander, pedofiele, sataniste en/of shape-shifter aliens is. Icke reken hulle is lede van die antieke wêreldorde, die Illuminati, en dat hulle reptiele is. Vandaar die shape-shifting teorie – die ouens beweeg tussen frekwensies en afhangende van die frekwensie sien jy hulle as reptiele of as mense.

      Om Icke se boeke in enkele paragrawe op te som sal afbreuk doen aan sy werk. Ek het dit baie geniet en vind baie van dit wat hy skryf uiters prikkelend, en selfs hier en daar geloofwaardig. Maar ek het byvoorbeeld nog nooit self die sogenaamde Sumeriese geskrifte gelees nie (en as ’n mens Icke kan glo, sal ek ook nie, want die Amerikaanse soldate het glo in opdrag van George Bush alle artefakte uit daardie tyd vernietig – vandaar die oorlog teen Irak en die verdwyning van antieke artefakte uit die museums wat gebombardeer is). Ek ag my ook nie ’n profeet, siener of kenner van die ontstaan van die mens nie.

      Ek ag myself wel ’n baie skeptiese en siniese mens wat sy tande geslyp het op die werke van Norman Mailer, veral dié waarin hy skryf oor spioenasie en teen-spioenasie; en dus glo ek nie sommer enigiets wat ek in boeke, tydskrifte en veral koerante lees nie.

      Die telefoon onderbreek my mymeringe. Dis die landlyn. Ek antwoord nie.

      Die oproep word deur die antwoordmasjien opgeneem.

      “Uhhh, meneer Steynnn, dissss … Josef Staal hier … ek … uh … wou net hoor of jy al enige nuusss … vir my oor Maria het. Bel my asseblief so gou as moontlik. Dankie. Tot siensss.”

      Ek vee die boodskap uit en bel Warren Jevon.

      “Maria is alweer weg,” vertel ek hom, en skielik voel ek leeg. “Sy was gisteraand hier en nou is sy alweer weg.”

      Jevon lag. “Is dit al?”

      “Wat bedoel jy?”

      “Wat van Duane?”

      “Duane?”

      “Mis jy hom nie ook nie?”

      “Ja, hy is ook weg.”

      “Nee, hy is nie. Hy is hier by my.”

      Honde

      Klassieke musiek in die kar. Ek ken nie die stuk nie. Dis swaar en skep ’n kriewelrige atmosfeer, want buite is dit donker. Ek ry stadig. Hoekom mag ek Jevon nie in die dag sien nie? Is hy dalk ’n vlermuis? Slaap hy in die dag?

      Daar is net die stukkie pad voor my ligte. Dan is daar nog iets. Ek slaan my hak op die rempedaal. Dis ’n dooie hond. Iets swaar moes oor die dier gegaan het. Seker ’n groot lorrie. Die hele agterlyf is plat. Dis ’n bloederige gemors, maar die kop … dit is nog perfek, sonder enige letsel, regop, en die oë kyk na my en die dik tong hang by die bek uit.

      Ek sit my hazards aan en klim uit. Hierdie spektakel moet ek van naderby beskou. Dit is ongelooflik. Dit is ’n kunswerk wat iewers uitgestal moet word. As ek my kamera by my gehad het, het ek nou foto’s geneem.

      Dit tref my dat ek lankal nie meer met my kamera in my kar rondry nie en dis eintlik snaaks, want vir baie jare was dit my gewoonte. Dit was in die jare toe ek nog met Jacques Olivier vir die vlieënde pierings gewag het. Dit was in die tyd van die fliek Close Encounters of the Third Kind en boeke geskryf deur Erich von Däniken. Ons het daardie tyd gereeld gaan bergklim, langs damme uitgekamp, in die hoop om ’n vlieënde piering te sien. Dit was ons oortuiging dat ons spesiaal was, dalk geheime agente van die aliens, en dat hulle ons sou oppik en dat ons dan met medaljes beloon sou word vir ons werk. Wat ons werk nou eintlik was, het ons nie geweet nie. Ons het soms bespiegel dat daar moontlik kameratjies of mikrofoontjies in ons geplant is wat die aliens in staat gestel het om meer van die mensdom te leer. Of so iets.

      Dit was ook Jacques se wens dat, indien hy dan nie ’n geheime agent vir die aliens was nie, daar ten minste seks-eksperimente op hom uitgevoer sou word, soos ons gelees het op sekere plaaswerkers iewers in Suid-Amerika gedoen is.

      Ek het opgehou om die mik-en-druk in die kar te hou toe ek na my troue ’n duurder kamera gekoop het. Roelien het daarop aangedring dat ek die kamera in die kluis bêre wanneer ek nie uit was op ’n storie nie. Mettertyd het ek minder foto’s begin neem en meer van vryskut-fotograwe gebruik gemaak.

      Ek dink Roelien het die kamera later sommer vir ’n vriendin se laaitie gegee. Hopelik is hy intussen deur aliens opgepik en in die hol genaai.

      Nog honde by Jevon se plek. Die twee dobermans is vriendelik, dus neem ek aan die dwerg is op die stoep.

      Ja, hy staan daar met sy monnikpakkie in die deur, en ek sweer, vannag voel ek kunstig, ek is regtig spyt dat ek my nie op fotografie toegespits het nie, want ook dit sou ’n treffende foto gewees het. Daar is ’n dowwe oranje lig wat agter die dwerg skyn. Dit laat hom nog korter lyk in die deur se raam. En jy sien nie die dwerg se gesig nie. Net die figuur wat daar staan, roerloos.

      Hy lag seker onderlangs, want ek dink hy weet my hart klop nou vinnig.

      Ek praat met die honde en ek praat met Arnold, maar niemand antwoord my nie. Die honde steek tong uit en draai om my en die dwerg draai sy rug op my. Ek volg hom die huis in. Hy klop aan ’n deur.

      “Kom maar in!” Dis Jevon.

      Arnold beduie aan my om in te gaan. Ek kyk na sy gesig. Ek wil weer sy tandjies van nader beskou, maar sy mond is toe. Sy krokodilagtige vel laat my ril. Hy stink.

      Dis ’n luukse sitkamer waarin ek my nou bevind. Daar is ’n dik oranje mat op die vloer. Groot stoele en ’n enorme bank. Duur goed, dit kan selfs ek sien, en ek weet niks van meubels nie. Lekker sag, maar dit lyk stewig. ’n Lae tafeltjie in die middel van die vertrek. Bottels wyn en glase. Kerse. ’n Kaggel teen die een muur. Hoeveel kaggels is daar in hierdie huis?

      By die tafeltjie, op die mat by Jevon se voete, sit Duane. Dit het my ’n rukkie geneem om hom te herken, want sy hare is nou geel. ’n Gelerige wit, en dit staan sulke puntjies. Ek weet nie of dit met haarsproei of met jel so gevorm is nie, ek weet net dit kan nie vanself so staan nie, behalwe as dit baie vuil is, en dit lyk nie vuil nie. Daar is donker oogomlyner om sy oë en sy lippe het sweerlik ’n gekleurde lipstiffie aan. Hy druk sy lippe uit, asof hy ’n soentjie soek.

      Pruil Duane vir my? Ek sal hom wragtig ’n snotklap gee!

      Ek is nogal verward. Aan die een kant het ek dadelik die situasie opgesom en besluit Duane het na Jevon toe weggehardloop vir dwems en … wat? Homo-liefde? Ek voel teleurgesteld. Duane is so swak.

      Aan die ander kant wonder ek – vlugtig – of hy nie, wel, getoor is nie …

      Hy lyk bleek. Sy oë is blou, maar niemand is tuis nie – soos die sanger David Bowie iemand anders se oë in die lied “Scary Monsters” beskryf.

      Ek dink die mannetjie is definitief op drugs. Hy rus met sy regterarm en kop oor Jevon se bene. Die satanis is die ene glimlaggies, weereens in swart sodat sy hande en sy kop helder vertoon. “Hoe gaan dit, my vriend? Sit gerus.”

      Ek wil vir hom sê dat ek nie sy vriend is nie, maar ek kry nie woorde uit nie. Ek sak in die stoel verste van hulle