Die vraag duik nou op: maar gaan dit dan nie in die huwelik om die gevoel van liefde en die sensasie van “ai-dit-is-baie-lekker” nie? Liefde, hou van, verlief wees, omhelsing, liefkosing en seksualiteit moet tog immers aangenaam en lekker wees?
Die behoeftepool (omdat) en saakpool (sodat) van die huwelik
Dit wat ons “die huwelik” noem, behels meer as net lekker saamleef en hou van mekaar. Huwelikstrou en huweliksliefde is ten diepste ’n etiese daad van toewyding aan mekaar. Dit beteken: ek het vir my maat JA gesê en mag nooit weer NEE sê nie. Jy kan natuurlik nee sê as jy wil, maar jy behoort nie. Dit is die uitdaging van huwelikstrou. Verhoudingsvolhoubaarheid is direk afhanklik van die integriteit van trou sweer en die beginsel van “my woord is my eer”.
Die raamwerk vir dit wat ’n mens die spiritualiteit en Christelike karakter van die huwelik kan noem, beskryf wat bedoel word met verhoudingsvolhoubaarheid. Nes ’n nasionale pad ’n roetekaart het met heelwat bordjies om mense in te lig oor die roete sodat die roete sinvol voltooi kan word, besit die huwelik twee sulke roetebordjies: die sodat-rigting en die omdat-spoed. Die roetebordjies beskryf die twee pole van dit wat ’n mens ’n Christelike huwelik noem.
Elke huweliksverhouding bestaan uit twee pole:
(a) Daar is die behoeftepool,. Die behoeftepool kan ook die omdat-pool van die verhouding genoem word. Omdat ons mekaar liefhet en van mekaar hou; omdat ons aangetrokke tot mekaar voel …
Die behoeftepool werk soos vonk in sjampanje en soos rek in kougom. Konstruktiewe behoeftes en sinvolle behoeftevervulling saam met realistiese verhoudingsverwagtinge skep ’n ruimte van omgee vir mekaar. Wanneer iemand aanvaar en begryp voel in ’n verhouding, skep dit ’n gesindheid van deel (sharing) en behoort aan. Dit dra by tot ’n houding van plooibaarheid. Dit verskaf soepelheid wat nodig is vir opofferings en begrip vir mekaar. Die behoeftepool word verder onder andere bepaal deur elkeen se rolverwagtinge en ideale vir mekaar. Hierdie pool is herkenbaar aan uitdrukkings soos die volgende: Ek verkies dat jy …, Ek hou daarvan as jy …, Ek wil hê dat jy …, Ek verwag van jou …, Ek voel in jou teenwoordigheid …, Dit is vir my lekker en aangenaam as jy …, Ek wil graag vir jou …
(b) Dan is daar ook die saakpool. Die saakpool kan ook die sodat-pool van die huwelik genoem word. Sodat ons twee saam die volgende deur ons verhouding kan bereik … Sodat ons mekaar kan liefhê. Of, soos in die geval van gelowiges: sodat ons God in en deur ons verhouding kan verheerlik; sodat ons ander mense se lewens kan verryk en na ander se nood en behoeftes kan uitreik.
Die saakpool werk soos ’n anker, boei en kompas. Dit bind vas, red en gee koers en rigting aan die verhouding. Benewens die feit dat sekere behoeftes in ’n huwelik vervul word, is die Christelike huwelik ook ’n objektiewe, etiese saak. Die saakpool van die huwelik hou verband met die vrae: Wat is liefde en hoe behoort ’n mens in die huwelik op te tree? Wat is huweliksmaats se verantwoordelikheid teenoor mekaar? En as julle werklik toegewy is aan God, duik die vraag op: wat is God se wil vir die huwelik?
So sê die Bybel byvoorbeeld dat die Christelike huwelik onverbreekbaar is (Matt 19:6), en dat huweliksmaats wederkerig aan mekaar onderdanig/diensbaar moet wees uit eerbied vir Christus (Ef 5:21). Christene weet dat die huwelik nie net van “binne-faktore” afhanklik is, byvoorbeeld die willekeurigheid van emosies en die wisselvalligheid van seks nie. Daar is ook ’n “buite-faktor” ter sprake. Van “buite af” word ’n mens vasgehou deur die troue liefde van die Here; van “buite af” word ’n mens aangespoor: hê mekaar lief soos Christus. Daarom is ’n huweliksluiting tussen twee gelowiges eintlik ’n verbondskontrak wat bindend vir albei is solank hulle lewe.
Die saakpool is nou gekoppel aan die kerk. Die Bybel gebruik vir die kerk die beeld van die liggaam van Christus. Wat dus vir die liggaam van Christus geld, geld ook vir alle menseverhoudings. So byvoorbeeld sê Paulus in Kolossense 3:14: “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat tot julle tot volmaakte eenheid saambind.” Die mekaar-tekste in die Bybel is ’n aanduiding van die verlossingsfeit: Christus het met my plekke omgeruil en in my plek gesterwe. Die vir-mekaar is nou op tussen-menslike vlak die neerslag van die heilsfeit: Christus het my verander en my met God versoen. Alle menseverhoudings, veral binne die gemeenskap van gelowiges, moet op hierdie model geskoei wees. Daarom dat mens kan sê dat die huwelik soos ’n mini-gemeente werk: ons doen aan mekaar en leef saam met mekaar op die beginsel van die versoeningsmodel. Ons is dus bereid om gereeld plekke met mekaar om te ruil; ruimte vir mekaar te maak; mekaar onvoorwaardelik te aanvaar en te vergeef. Met verwysing na Kolossense 3:15 kan ’n mens sê dat die huwelik ’n roeping is. Hierdie roeping tot die huwelik beteken om in vrede met mekaar saam te lewe en dankbaar vir mekaar te wees. “Wees altyd dankbaar.”
Die huwelik is inderdaad ’n kuns van die liefde en ’n guns van Gods genade.
Huweliksmaats wat besef dat die saakpool van die huwelik rigting moet gee aan die huweliksverhouding, is daarop bedag dat behoeftes en emosies nooit voorskriftelik en voorwaardelik kan wees vir die duursaamheid van die huwelik nie.
Dit is nou duidelik waarom die N.T.-lyn ’n gevaarsone vir die minimum huwelik is. As een party op dié punt sou besluit om die saakpool prys te gee, sou die norm, waarde en etiese betekenis van die huwelik daarmee saam verlore gaan. En wie so ver gekom het, het eintlik klaar boedel oorgegee. Dan het jy die huwelik bankrot verklaar en soek jy nou na ’n beter alternatief. Opsies soos onttrekking aan die verhouding en selfs egskeiding kom by jou op. Jy voel gedemp, gekrenk, verneder en minderwaardig in jou huwelik. As jy nou nee sê, is dit nie net nee vir jou maat nie, maar nee vir die huwelik self. Jy begin jou posisie as so onuitstaanbaar ervaar dat jy besluit om uit die huwelik weg te breek. Niemand en niks kan jou dan nog oortuig om te verander of terug te keer nie. Om op hiérdie punt aan die huwelik self te probeer werk, is by voorbaat tot mislukking gedoem.
Hoe kan jy voorkom dat jou huwelik deur die N.T.-lyn breek en die afdraande pad na algehele verbrokkeling en skeiding inslaan? Wat is ’n groeiende en volwasse huwelik? Hoe gemaak om te verhoed dat teleurstelling plek maak vir openlike weerstand en vyandigheid? Wees ’n slag eerlik met mekaar! Kyk met oop oë na jul huwelik en probeer die vraag beantwoord: wat is die huwelik? Miskien moet ek die vraag meer spesifiek maak: wat is ’n volwasse huwelik?
Wat is die huwelik?
Hoe lyk die prentjie van die huwelik? Wat is die karaktertrekke van dit wat ons ’n volwasse huwelik noem?
Die eerste wat ons van die huwelik kan sê, is dat dit ’n lewenslange proses is. Dit werk nie soos ’n skakelaar wat op ’n Saterdagmiddag aangeskakel word in die kerk of ’n landdroskantoor nie. Dit lyk soos ’n “sirkel” – jy weet nie waar en wanneer dit begin nie. Netso weet jy ook nie wanneer en waar dit eindig nie. ’n Ring het geen einde en geen begin nie.
Die tweede wat ons kan sê, is dat die huwelik permanent is. Dit is duursaam en vertoon die karaktertrek van ’n verbond; dit wil sê dit is ’n ooreenkoms wat vir Christene gekoppel is aan die duursaamheid van God se trou. God se verbondstrou lui: Ek sal vir jou ’n God wees; Ek sal jou nooit in die steek laat nie.
Die derde eienskap van die huwelik is dat twee individue ’n ons-ruimte (maatskap) betree waarin hulle mekaar verryk, bemagtig en ondersteun; met ander woorde hulle is nie net maar bevriend nie. Hulle word lewensmaats vir mekaar.
Die vierde eienskap is dat hulle liefde ’n binding van intimiteit skep. Met intimiteit word bedoel dat twee mense vir mekaar sê: “Ek aanvaar jou onvoorwaardelik vir wie jy is sonder dat jy ooit die angs vir verwerping mag hê, want verwerpingsangs vernietig die wese van die huwelik.” ’n Mens kan net menswaardig in ’n verhouding leef as jy onvoorwaardelik aanvaar word vir wie jy is sonder die angs vir verwerping. Die volwasse huwelik is ’n menswaardige