Liefde
is vir altyd
’n Gids tot die verryking van die huwelik, die mooi van seksualiteit en die heelmaak van verhoudings |
Daniël Louw
Lux Verbi
Opgedra aan Hermien, wat my lewe verryk
Inleiding
Smoorverlief:
wat maak regtig saak?
Liefdesintimiteit begin altyd met die sprokiesverhaal van die prins op die wit perd en die prinses in die kasteel. Hulle is smoorverlief, trou, en toe? Wel, al hoe minder vier saam ná vyftig jaar hul “goue bruilof”. Of die verhouding is teen daardie tyd in elk geval so verslete of reeds verbreek dat min nog saak maak. Hulle het toe nie vir altyd gelukkig saam gelewe nie.
Wat maak dan saak in liefdesintimiteit?
Hoe sinvol is liefde tussen twee mense wat lewenslank trou aan mekaar gesweer het?
En tog, liefdesintimiteit kan ook sinvol en lewensvervullend wees.
Wie verwonderd staan oor die genadige guns om sinvol op ’n menswaardige wyse saam te leef en getroud te wees en hul dáárop toelê om die liefdeskuns te bemeester, kan inderdaad die sleutel tot liefdesvreugde ontdek.
Die punt is: mense kan mekaar verryk, verhoudings kan groei en verslete huwelike kan weer nuut raak.
Dit is waaroor hierdie “verhoudingspadkaart” en “huweliksgids” gaan. Verloofdes wat gaan trou, kan dit in hul wittebroodtasse pak. Getroudes kan dit op die bedkassie bêre en gereeld daaruit lees en werk. Mense wat ’n permanente verbintenis van trou aan mekaar gesweer het en opreg bedoel om toegewy aan mekaar te lewe, kan die boek gebruik om mekaar se lewens te verryk. Selfs ná veertig of vyftig getroude jare kan ’n mens met so ’n boek weer die liefdesvlam hoog blaas en opgewonde raak oor nuwe moontlikhede vir die bou van verhoudings.
Ten spyte van die feit dat jy soms oor jouself onseker voel, wonder of die verhouding ooit gaan uitwerk, indringende vrae het oor seks en seksualiteit, selfs oor die aard van die liefde en jou maat se motiewe skepties is, interessant genoeg, die Bybel wil mense se lewens verryk anderkant die begrensings van menslike potensiaal, kultuur, openbare klassifikasies en die vooroordele van diskriminasie en stigmatisering.
Vanuit ’n Christelike geloofsperspektief: wat maak regtig saak as jy binne ’n vaste verhouding sê: ons hou van mekaar, ons is lief vir mekaar, ons sweer trou aan mekaar? Wat jy dan sê, is: die huwelik is ’n kuns van die liefde en ’n guns van Gods genade.
Wat regtig saak maak, is wie ons in Christus is, en hoe ons hierdie verstaan gebruik om tot volwassenheid te groei en die lewe, asook die lewens van ander mense, mooi en heel te maak, te bemagtig en te verryk.
Is die liefde noodwendig lekker?
Die liefde vra nie en eis nie. Die liefde gee en reik uit sonder om iets terug te verwag. Die liefde offer op sonder selfmarteling en verwyte. Die liefde kan dus soms ook pynlik wees. Dit is ook nie altyd “lekker” om lief te hê nie. Dit waarborg ook nie kitsgeluk nie.
Die liefde belê genade in die lewe van ’n ander omdat dit die ander nie wil rehabiliteer nie, maar wil afrond en heelmaak sodat hy of sy in jou teenwoordigheid menswaardigheid kan ontdek; kan groei tot geestelike volwassenheid; sin in die lewe kan ontdek. Dit is hoekom ’n mens trou.
Die liefde is nie altyd “lekker” nie, maar kan wel verrykend, mooi en helend wees.
Die liefde stigmatiseer en diskrimineer nie. Anderkant die grense van menslike vooroordele, selfs ten spyte van menslike beperkinge en tekortkominge, ontsluit die liefde in die ander ’n ervaring van “ek is uniek en onvervangbaar en waardevol”. Dit is hoekom ’n mens getroud bly.
Maar, so sou jy kon vra: is die rede waarom die liefde soms ’n pyn is, nie die onbeskoftheid van buffel-man en die gekyf van Liewe Heksie-vrou nie? As ons mans kon verander in gentlemen en vroue in Mej. Heelal, sou die prentjie van liefdesintimiteit nie radikaal verander kon word nie?
Verrassend, maar tog ook vreemd in terme van ons menslike, natuurlike en sosiale vooroordele, verklaar Paulus in Galasiërs 3:28 “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”
Dit is natuurlik moeilik vir mense wat vanuit die raamwerk van kultuurkwalifikasies oor manlikheid en vroulikheid dink, om in die eerste plek nie oor mekaar te dink uit die oogpunt van manwees en vrouwees nie, maar uit die oogpunt van menswaardigheid en lewenswysheid. Kort-kort herinner die media ons aan mans as ruwe sporthelde en kragtige, dominerende, Zeusagtige figure. Mans moet gespierd en sterk wees en nie sommer huil nie. “Cowboys don’t cry.” Voorblaaie van vrouetydskrifte wys opgemaakte vroue sonder plooie en rimpels. Vroue moet verleidelik glimlag, subtiele halslyne hê en soos mooi prikkelpoppe en opgemaakte, weerlose mannekyne optree. Advertensies maak mense kunsmatig mooi. Films projekteer kitsseks en Hollywoodagtige romantiek.
Die Christelike beginsel vir sinvolle menswees is egter nie status, ras, kultuur of seksuele oriëntasie nie, maar wie ek en jy reeds in Christus is. “Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is” (Gal 6:15). In Paulus se tyd was die harde neut vir die kerk om te kraak die vraag of besnydenis ’n kwalifikasie is vir Christenskap al dan nie. Hieroor het die vroeë Christelike kerk verskriklik gestry en selfs die eerste sinode bymekaar geroep.
Waarom gaan dit dan eintlik in ’n Christelike spiritualiteit en in sinvolle menseverhoudings? Wat maak dan nou eintlik saak wanneer twee mense mekaar ontmoet en in ’n omhelsing sê: ek sal jou vir altyd liefhê?
In ’n Christelike verstaan van die huwelik is die kernvraag, wie is jy as jy sê: ek het jou baie lief? Jou identiteit en integriteit plaas jy dan op die spel. Want liefde beteken dat iemand jou woorde glo en jou vertrou; liefde wil vir altyd wees.
Ek dink die basiese vertrekpunt en kernvraag is: leef jy anders en nuut? Nuwe mense maak die lewe leefbaar en kan mekaar in verhoudings koester, vertroetel en verryk. Befoeterde mense wat so beduiweld kan raak dat hulle vloek, skel en raas, maak die lewe onleefbaar en breek dikwels verhoudings af. “Beduiwelde mense” en aggressiewe mense verkrag, rand aan en breek huwelike op. Die wysheid van die Bybel wil egter die lewe leefbaar, heel en mooi maak. Dit is waaroor dit in lewensverryking, verhoudingsbou en huweliksgroei gaan.
Nog ’n boek oor verhoudings, liefde en die huwelik?
Om teleurstelling te voorkom, moet ek versigtig waarsku.
(a) Die boek bied nie ’n kitsresep vir “huweliksgeluk” en “suksesvolle verhoudings” nie. Dit is nie geskryf met die bedoeling dat die deurlees van die inhoud ’n gelukkige verhouding gaan waarborg nie.
Geluk in die lewe bestaan in elk geval nie. Die meeste mense soek geluk. Tog kan geluk nie “gekoop” word nie. ’n Mens kan nie na ’n inkopiesentrum stap en in ’n plastieksak geluk gaan koop nie. In die sogenaamde “geluk” wat mense in verhoudings soek, gaan dit ten diepste om die vraag van lewensvervulling en die sin van menswees. As jy ’n ongelukkige mens is, gaan jy ook ander mense “ongelukkig” maak. Jy gaan jou verhouding misbruik as stortplek vir al die ongelukkige ervarings wat jy tot dusver opgedoen het. En die huwelik is nie die stortplek of asblik vir al die emosionele vullis wat ’n mens in jou ronddra nie. Jou maat is nie ’n stofsuier wat al jou lewensvullis moet opsuig en jou moet verdra nie.
Selfs versoening is nie ’n vinnige opwasmiddel nie; vergifnis werk nie blitsvinnig soos Omo in ’n wasmasjien nie. Liefde en trou is “harde werk”. Die woord “huwelik” spel verantwoordelikheid en lewensroeping. Respondeo ergo sum: ek is verantwoordelik en ver-antwoord-baar; daarom is ek. Ek kan sinvol respondeer (antwoord gee) op die feit dat daar iemand bestaan wat vir my gesê het: ek het jou lief vir altyd.
Die eintlike vraag in verhoudings is: wie is ek? Is ek ’n wyse mens met insig in die liefde of ’n kortsigtige dwaas met ’n onversadigbare sug na die liefde?
Om in ’n vaste verhouding te gaan, moet ’n mens eers jouself uitpluis. Mense met “unfinished business” moet nie trou en dan verwag die huwelik moet hul lewensprobleme uitpluis