Irma steek haar hand uit en tant Bets beskou die ring van alle kante. “En wanneer is die plan?”
“Nog geen vaste plan nie, tant Bets.”
“En het Deon jou vertel van Bennie Martin?”
“So ’n ietsie. Het tannie hom geken?”
“Hulle was een of twee keer hier aan.”
“En waar is hy nou?” vra Irma versigtig. Die idee dat hy nie veel besorgdheid oor Tillie toon nie, begin hinderlik by haar posvat.
“Ek sou my nie gou weer naby waag as ek hy is nie,” meen tant Bets onomwonde. “Toe hy uit die hospitaal kom nadat hulle hom klaar ondersoek het, het Matilda hom by sy motor ingewag …”
Irma sidder en voel ’n geregverdigde simpatie met die vreemdeling. “Ek twyfel buitendien of hy en Tillie sal trou,” mymer sy swaarmoedig. “Dis nog drie jaar voor sy mondig is.”
“In ander lande is dit agtien,” klik Bets spytig. “Maar sodra daardie dag aanbreek, moet jy haar help om ook hier weg te kom.” Bets se lippe trek ferm.
“Vir seker!” Irma ledig haar tweede koppie tee nadat ’n tweede skon met dik botter na binne verdwyn het. Sy staan op. “Verskoon my, ek sal graag nou gaan bad. Ek is haastig na Tillie toe. Slaap die ander nog?”
“Ek dink so. Maak maar saggies en gou, anders wil Matilda sekerlik saamgaan.”
As ek en Tillie maar by haar kon grootgeword het, dink Irma met ’n gevoel van warme toegeneentheid. Miskien sou Tillie dan nie nou … Maar nee, dit kan ’n mens nie beweer nie.
Sy beskou haar gesig in die badkamerspieël. Haar vel lyk verwaarloos en haar hare dof. Die warm water verdryf egter die laaste greintjie moegheid uit haar gestel. Hierna skoon aantrek en dan uit in die vars lug, dink sy byna opgewek.
Sy was vinnig haar hare en blaas dit droog, sodat dit vanself ’n sagte omraming vir haar gesig vorm. Terwyl sy vinnig en geoefen grimering aansit, dink sy geamuseerd aan die dae toe sy so moes grimeer dat Matilda niks agterkom nie.
Die nag wat verby is, voel soos ’n vae nagmerrie waaraan sy nie vattigheid kan kry nie. Tillie sal gesond word, jubel dit in haar. En as Tillie regkom, sal alles regkom. Sy sal mondig word en ’n nuwe lewe binnegaan. Watter probleem is nou eintlik onoorkomelik? Deon sal sy graad kry, en dit sonder die hulp en aansporing van sy eie mense wat hom weggesmyt het, soos hy sê.
En sy en Johan sal trou. Hulle kinders sal gewieg word aan die moederlike boesem van ouma Matilda, in wie die vuur van haat en wantroue mettertyd sal uitbrand.
Irma glimlag oor haar vergesigte toe sy ’n sagte, songeel wolrok oor haar kop gooi.
Sy tref tant Bets in die voortuin aan. “Kan ek tante se motor leen?”
“Seker, my kind. As jy nie skaam is nie, ek is nie.”
Toe die motortjie met die nodige lawaai vat en Irma versigtig agteruit ry uit die motorhuis, verskyn Matilda in die voordeur. Heftig beduie sy dat Irma vir haar moet wag, terwyl sy krampagtig met die een hand haar kamerjas toehou. Joviaal wuif Irma terug en glimlag breed terwyl sy wegry. Wonderlik dat sy nie meer vir Matilda bang is nie. Vir Tillie sal daardie dag ook kom. Wat haar pa betref, die huwelik was immers sy eie keuse.
By die hospitaal word sy dadelik na Tillie geneem. “Spesiale vergunning, omdat sy na u gevra het,” verduidelik die nuwe suster aan diens. “Dokter wil andersins nog geen besoekers by haar toelaat nie.” Die manier waarop hy dit sê, laat vir Irma die waarheid besef: die ongewenste besoeker is Matilda, Tillie se eie ma.
Tillie glimlag vermoeid toe Irma binnekom. “Ek was so bang dat ma dalk sou saamkom,” erken sy onbeskaamd. Haar stem is nog skaars meer as ’n fluistering, sodat Irma vooroor moet buig om alles te hoor wat sy sê. “Van nou af sal my lewe ’n volmaakte hel wees.”
Irma luister ontsteld na die moeë verbittering. “Alles sal nou regkom, sussie,” troos sy hulpeloos.
“Alles sal nie regkom nie, Irma!” Tillie sluit haar oë en die trane pers onder die willose ooglede deur. “Daar is iets verskrikliks met my aan die gang …”
“Tillie, wat sê jy!” roep Irma gesmoord uit.
“Nie wat jy dink nie, Irma. Ek het dit nog vir niemand gesê nie, hoewel die suster al gewonder het hoekom my bene so lui is.”
“Lui? Wat probeer jy vir my sê, Tillie?” vra Irma met ’n onrustige voorgevoel.
“My bene en voete is dood, Irma. Morsdood.”
4
Enkele oomblikke lê die skok onverbloem in Irma se oë voordat sy dit met inspanning probeer onderdruk. Toe glimlag sy, maar dis ’n patetiese poging waarmee haar stram, droë lippe nie wil saamwerk nie.
“Dit sal natuurlik oorgaan,” paai sy met ’n kwalik verborge bewing in haar stem. “Dis as gevolg van die skok …” Maar net nadat sy die woorde uitgespreek het, verwyt sy haar oor haar onmag en die leegheid van haar halfhartige vertroosting.
Hulle is albei onbewus daarvan dat die suster binnegekom het. Sy wend haar vermanend tot Irma. “En die huilerigheid? Ons wil nie ons pasiënt ontstel nie,” waarsku sy in ’n stem wat outoriteit spel, hoewel nie onvriendelik nie.
Dit kan nogal so lyk, dink Irma. Ja, as mens na Tillie kyk, kan dit nogal so lyk. Asof tot die dood toe moeg, lê die meisie roerloos met geslote oë, terwyl trane onkeerbaar opwel en uitstoot, langs haar slape af rol en in haar hare verdwyn.
“Toe maar, ek gaan nou,” sê Irma wesenloos.
“En haar net so hartseer hier los?” weifel die suster.
“Sê vir Ma … vertel vir Ma van die straf op my sonde van ongehoorsaamheid …”
“Wat se praatjies is dit?” Die streng gesig onder die wit kap word na Irma gedraai. “Ek is bevrees ek hou nie van wat hier aangaan nie.”
Sonder die minste drang of krag om haar te verontskuldig, begin Irma aanstap na die deur. Voordat sy uitstap, hoor sy nog die onseker klanke van Tillie se stem: “Ons gesels sommer oor die feit dat my bene dood is. Dis tog seker nie verbode nie, is dit? Suster het dan self gevra hoekom my bene so lui is.”
Oomblikke later skarrel die witgeklede figuur in die gang by Irma verby. Met ’n fronsende gesig steek sy haar kop by die eerste oopstaande deur in: “Steyn, is dokter Buys al hier?”
Toe Irma buite kom, is die glans weg uit die skoongewaste dag. Soos ’n haelsteen op die handpalm het alle vreugde en hoopvolle vooruitsigte tot niks versmelt. Die koestering van die warm winterson op haar bleek stadswange gaan by haar verby en en sy sien die glinstering van die dag asof deur ’n bleek newel. Agter die stuur van tant Bets se motortjie bly sy ’n lang ruk roerloos sit.
Dan ry sy tot by die poskantoor, bel met rinkelende muntstukke vir meneer Langley en sê dat sy gebruik gaan maak van sy aanbod van jaarlikse verlof. Sy meegevoel oor die “komplikasies” is versterkend. Oor Johan wik en weeg sy langer. Sy sal liewer aan hom skryf. Om met hom te praat, sal haar ontsteltenis verraai, en hy reageer nie altyd gunstig op haar meer negatiewe emosies nie. Sy het nou eerder vir Deon nodig, en hy is op die plaas.
Sy laat die motor voor die hekkie staan en stap voordeur toe in die hoop dat sy ongehinderd in haar kamer sal kan kom. Haar hoop vervaag toe sy stemme uit die sitkamer hoor, maar sy probeer verbystap sonder om eers op te kyk.
“En jy ry sowaar sonder …” begin Matilda verbete, toe tant Bets se stem haar soos ’n sweepslag stilmaak: “Stil, mens. Kan jy nie sien daar’s groot fout nie?” Verskrik blik die drie mekaar aan. Vader vind Matilda se oë op hom en besef wat sy verlang. “Sal ek gaan hoor?” gehoorsaam hy onwillig en staan op. Dis weer eens tant Bets wat die situasie red. “Los haar,” beveel sy in ’n stemtoon wat te kenne wil gee: dis my huis en hier voer ek bevel … “Los haar tot sy self kom vertel of totdat Deon terugkom.”
“Deon,