Louisa du Toit Omnibus 7. Louisa du Toit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Louisa du Toit
Издательство: Ingram
Серия: Louisa du Toit-omnibus
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624057901
Скачать книгу
se naam oorbrug egter plotseling die kloof wat dit laat voel het asof hulle vreemdelinge vir mekaar is. Daar is weer ’n sprankie van die ou vertroulikheid wat deur soveel jare gegroei het.

      “Het dit gisteraand gebeur?”

      Hy knik.

      “Dan is dit al byna ’n volle dag. Kan hulle nog niks sê nie?”

      “Dit het nie gelyk of daar ’n noodoperasie nodig is nie. As sy net nie so deurmekaar was nie. Onrustig. Sy het nog nie haar bewussyn ten volle herwin toe ek daar weg is nie.”

      “Miskien teen hierdie tyd?” vra sy dringend, en besef dan die belaglikheid daarvan om hom so iets te vra. “Ag natuurlik, jy weet self ook nie. Ons kan dadelik ry. Darem seker eers koffie. En iets eet, ek het klaargemaak. Of moet ek dit in ’n koelsak pak?”

      “Dis dalk goed as ons iets eet. En as ek kan stort of bad, sal ek bly wees. Ek het darem onthou om skoon klere in die kar te gooi.”

      “Ek moes self daaraan gedink het. Ek haal ’n skoon handdoek uit.” Sy merk opnuut hoe moeg hy daar uitsien.

      “Net ’n kleintjie,” keer hy.

      Sy het vergeet dat hy iemand is wat nooit moeite probeer veroorsaak nie.

      “Ek lyk seker sleg,” maak hy verskoning toe hy haar blik bemerk. “Ons het verlede nag nie geslaap nie.”

      “En nou?” vra sy verwonderd toe hy skielik ophou met praat. Hy staar haar aan asof hy ’n gesig gesien het. “Nee, ek sien maar net jy dra ’n ring. Is jy verloof?”

      “Ja,” erken sy verleë en hou haar hand op dat hy beter kan sien. “Ek het nie juis daaroor huis toe geskryf nie. Jy weet hoe dit is.”

      “Ek weet hoe dit is,” antwoord hy sinies. “Dit kon Tillie se ongeskonde gemoed besoedel, en dalk die manlike dier in my wakker gemaak het. Iets so boos soos ’n verlowing.”

      Sy glimlag stram by die herinnering aan dit wat sy probeer ontvlug het.

      “Wie was saam met Tillie in die motor?” vra sy die groot vraag.

      “ ’n Vriend.”

      “Wie is hy?”

      “Bennie Martin. Hulle ken mekaar reeds ’n maand of twee en is oënskynlik verlief; of miskien moet ek sê ‘was’.”

      “Is hy dood?”

      “Hy het baie lig daarvan afgekom; maar Matilda het hom daarna onder hande gehad. Daarom dink ek dat hy moontlik nie meer verlief is nie. “

      Sy moet glimlag vir die wrange humor. “Hoe het die ongeluk gebeur?”

      Hy stap saam met haar na die afgeskorte kombuisie. “Dis die ergste. Hulle was op pad dorp toe met sy motor. Die pad was baie nat en glad, en die motor het gegly en ’n paar keer gerol.”

      “Was Tillie sonder toestemming uit?”

      “Dit was eintlik ’n soort sameswering. Matilda het niks geweet van die romanse nie. Hannah Thirion het altyd vir Tillie oorgenooi na hulle plaas, waar die ontmoetings plaasgevind het.”

      “Werk hy op die dorp?”

      “Nee, hy is ’n landmeter; sy woonwa staan tussen ons plaas en die Thirions s’n.”

      “Die oortréding …” Irma spoeg die woord feitlik uit, “. . . is groter as wat ek ooit kon droom. Laat ons gou maak; ek moet by Tillie kom. Sy het my nodig.” As buffer veral, buffer tussen haar en Matilda, dink sy.

      “Ja, sy mompel aaneen jou naam. Maar sy sal jou nog nodiger hê as sy dalk gesond word.”

      Vraend kyk Irma op vanwaar sy besig was om die vleis en slaai uit die yskas te haal.

      “Na die ongeluk het Matilda ’n brief aan jou in Tillie se handsak gekry.”

      “En dit gelees … soos ’n rower op ’n ongelukstoneel. Hoe gemeen.”

      “Ja, sy het dit gelees. Tillie wou hê jy moet vir haar hier werk kry. Sy wou dan jou woonstel deel. Dan kon Bennie haar minstens kom besoek. Nou sien ek jou woonstel is maar klein.”

      “ ’n Bachelor’s, ja. Maar Deon, Tillie is skaars agtien. Matilda sou haar kon dwing om terug te gaan huis toe.”

      “Die arme kind was desperaat. Sy wou enigiets probeer.”

      “Ek dink nie jy hoef meer te vertel nie. Laat ons eet, dan kan jy bad solank ek opruim.”

      Terwyl sy afdek, die paar skottelgoedjies was, vensters toemaak en laaste takies verrig soos voor enige afskeid, gaan hy sy tas haal. Sy laat intussen sy water inloop en sit tog ’n skoon handdoek reg met die ou, diepgewortelde gevoel van toegeneentheid.

      Sy en Tillie het altyd gewedywer om gunsies aan hom te bewys; gunsies wat hy hom met manlike vanselfsprekendheid laat welgeval het.

      Aanvanklik het hulle wellewendheid gespruit uit jammerte omdat hy uit ’n kinderhuis afkomstig was. Later, egter, en omdat hy nie regtig bejammerenswaardig is nie, het ’n spontane gevoel van vertroue en kameraadskap tussen hulle ontwikkel.

      Deur bemiddeling van hulle predikant het mense van die omgewing een Kersvakansie op groot skaal kinders uitgenooi vir die paar weke. Matilda wat nog altyd ’n goeie beeld in die samelewing probeer voorhou, het besluit om ook deel te neem aan die skema. “Veral ’n seunskind kan handig wees met werkies,” het sy hoopvol besluit. “Die meisiekinders wil mos kamtig nie buitewerk doen nie.” Waarmee sy eintlik “vuilwerk” bedoel het.

      Tillie en Irma sou natuurlik ’n dogtertjie as maat verkies, maar Matilda het gereken: “Twee van julle is genoeg om my grys hare te gee. En moenie dink ek vat hom as gesel­skap vir júlle nie. Julle bly van hom af weg. Daarvoor sal ek sorg.”

      So was dit dus Deon wat by hulle beland het. Hoe ver lê daardie vakansie nou in die verlede. Twaalf jaar … Tog onthou sy in besonderhede die dag toe hulle hom op die stasie gaan haal het. Dit was broeiend warm. Agter in die kar, waar sy en Tillie gesit het, was dit ondraaglik. Voor het vader gesit met die stuurwiel in sy hande. Ironies genoeg is dit die enigste gebied waarop hy ooit die leiding geneem het sedert sy tweede huwelik. En langs hom Matilda, die mooi vrou. Die gevreesde. ’n Straatengel maar ’n huis­duiwel, weet Irma nou.

      Vader het stadig gery, soos altyd. En toe hulle op die stasie kom, was die trein al daar en was die meeste van die kinders reeds gulhartig in ontvangs geneem deur die betrokke ouers. Daar was op die perron ’n los gemaal van ouers en kinders met tassies, terwyl die vrou wat hulle begelei kliphard besig was om, lysie in die hand, orde te probeer skep.

      Toe is Deon aan hulle uitgewys waar hy in effense afsondering by sy tassie gestaan het; gevoude arms en met effens verweerde sokkies wat span om sy gladde, bruin kuite; ruie, donker hare en ’n besonderse gesiggie met die effense bulterigheid langs sy mondhoeke, asof hy voortdurend besig is om sy kake op mekaar te klem.

      Matilda, meegevoer deur haar dramatiese denkbeeld van ’n weeskind wat boonop bereid sou wees om vuilwerk te doen, en ook bewus van talle oë op haar, het hartlik Deon se hand geskud en hom in ’n hoë, onnatuurlike stem welkom geheet. Soos ’n engel des ligs, het Irma destyds gedink. Sy moes ook dink aan ’n valk wat ’n mossietjie in ’n krampagtige greep het.

      So het Deon sy tydelike intrek by hulle geneem. Hy was fluks en gehoorsaam en skaam vir die meisiekinders, wat vir Matilda grootliks geval het. Irma se pa het hom nogal aan die seun geheg, en dit moet die rede wees waarom sy teenwoordigheid tydens vakansies ’n vaste instelling geword het. Teenoor Irma en Tillie het Deon meer vrymoedig geraak, en dit moet wees dat sy ordentlikheid vir Matilda gerus gemaak het, want sy het hulle nie meer so opgepas nie. Hy het vir hulle vertel dat hy nie sy familie onthou nie, omdat hy te klein was. “Julle is nou maar soos my familie,” het hy gesê. Hy het erken dat hy bang is vir “die antie”, maar dat sy lekker kos maak. En dis nogal waar. Ook dat Deon se porsies mettertyd groter geword het: “Hy is ’n seun, hy werk hard en hy groei vinnig,” het Matilda feitlik verskoning gemaak … asof dit ’n oortreding is