Ook Deon word altevol ’n meneertjie. Sy het hom al die jare fyn dopgehou, maar sy kon nooit uitvind dat hy met die dogters probeer lol nie. Maar hy is nie meer die beteuterde kind nie, en met Irma ook hier, hou hy hom danig vooraan. Dis nie meer net vir dophou nie. Sy voel magteloos. Sy kan tog nie elke uur van elke dag die meisies dophou, hulle inkamp soos ’n roosbedding nie. Dit is dan beter dat Irma terug Sodom toe gaan, en dat Tillie aan die bed gekluister bly. Of aan ’n rolstoel, dan. Ten minste begryp Tillie seker nou ietwat meer van haar ma se predikasies oor sonde op ongehoorsaamheid. Dat sy, onmondig, in die nag gaan rondflenter het met ’n onbekende niksnuts, ’n padloper kan jy amper sê.
So broei en maal Matilda aanhoudend terwyl hulle hulle goedjies inpak om plaas toe te gaan. Sy sou nie so maklik by hierdie reëling ingeval het, as sy nie die voordeel daarvan raakgesien het nie: hoe minder Tillie in die geselskap van die ander twee jonges verkeer, hoe beter. Halfpad uit die dorp oormeester haar gevoelens haar toe hulle by Bennie Martin se woonwa verbyry. As die duiwel self nie die vuilgoed hierheen gestuur het, uit watter deel van die land ook al, om Tillie se gemoed en goeie naam te beswadder nie, sou hulle nie nou in hierdie soort ellende gesit het nie.
“Dis nog ’n vent wat liewer moes gebly het waar hy was,” ontplof sy.
“Watter ander vent dan nog, tante?” vra Deon skynbaar goedgehumeurd. Waar sy voor langs hom op die ruim kussing sit, blik sy grimmig na die broekspype wat om sy sterk bobene span en dis ’n antwoord op sigself.
Miskien móés ek liewer gebly het waar ek was, dink Deon gelate. Het ek dan gedink dat ek iewers op aarde aanvaar sal word? Dat my skimme sal wyk? Die “antie”, soos hy haar in sy gedagtes noem, is nou nog minder as ooit tevore van plan om hom deel van die gesin te maak. In die begin was hy ’n onderwerp van liefdadigheid, mettertyd het hy ’n handlanger op die plaas geword.
Hy kyk in die spieëltjie na Irma wat agter langs haar pa sit en hy knipoog. Sy knipoog bemoedigend terug. Dis goed om haar hier te hê. Hy sal dit haat as sy moet teruggaan, maar sy sal. Daardie Adonis wag immers op haar.
Dis vieruur toe hulle tuiskom. Irma kyk rond. Ek is tuis, dink sy en ’n pynlike knop vorm in haar keel. Tuis … maar ook nie tuis nie. Behalwe vir haar ma se graf, is daar geen plek op die plaas waarheen haar hart altyd sal bly trek nie.
“Welkom tuis,” sê Deon toe hy sien hoe sy staan en rondkyk; sy mondhoek trek na bo in ’n spottende gebaar.
Styf stap Matilda vooruit. In die kamer verwyder sy haar hoedespeld en haal die verweerde hoedjie versigtig af. Sy het nooit afgeleer om hoed te dra nie, en dis dieselfde een, jaar na jaar na jaar. Kerk toe en dorp toe, waarheen ook al.
“Nou moet ons gou ry,” beveel Deon toe al die tasse en pakkies afgelaai is. “Jy wil mos nog dat ons gaan?”
“Natuurlik.”
“Hy is skynbaar nog in die veld. Die woonwa het verlate gelyk.”
“Ons sal vir hom wag,” besluit Irma. Laat Matilda dink wat sy wil. Sy kan maar dink hulle is lande toe, al is die lande nou kaal afgeoes.
“Klim dan sommer weer in. Ek gaan net vir jou pa sê.”
Ja, haar pa kan maar weet. Dalk jeuk sy hande self vir Bennie Martin se strot. Sy sien hoe Deon wegstap om haar pa te soek. Toe hy terugkom en hulle oor die stil plaaswerf terug grootpad toe ry, slaak sy ’n sug van verligting. Dis aangenaam om ’n oomblik rustig te wees en jou oor te gee aan die streling van die laatmiddagson. Bevrydend is dit veral om weg te wees uit die kille, gespanne atmosfeer van Matilda se teenwoordigheid.
Sy en Deon gesels geen woord totdat hulle by die woonwa kom nie. Daar is niemand tuis nie, soos hulle vermoed het. Hulle wag egter skaars tien minute, of ’n dreuning kom met die veldpaadjie langs aan. “Ons is gelukkig; dis hy,” sê Deon toe die bakkie sigbaarword. Toe die voertuig tot stilstand kom, spring die bestuurder rats uit. Hy het die motor nog nie agter die woonwa gewaar nie en skrik sigbaar toe Deon nader stap.
“O, dis jy, Barnard,” sê hy dan beheers en gee hand. Irma merk sy oop, ongedwonge, seunsagtige glimlag. Sy wou hom haat en verwens, maar dis meteens moeilik.
Hy nooi hulle nader. Binne-in die woonwa is dit beknop, maar knus. Die son het die hele dag daarop neergestoof. Hulle sit skaars, of Deon val met die deur in die huis; die beste taktiek, meen Irma, voordat die witkop dalk kans kry om ’n verhaal te prakseer.
“Jy was nog nie by Tillie nie,” sê-vra hy.
Die jong man is dadelik op sy hoede, hoewel hy dit probeer wegsteek. “Ek het darem nog my lewe lief. Ekskuus, juffrou, dat ek so pront praat.”
“Vergeet van Tillie se ma,” keer Deon. “Dit gaan nou om Tillie self. Sy het jou nodig. Dit lyk asof sy … verlam gaan wees.”
Dis so goed of hy het ’n emmer yswater uitgeskiet in die jong man se gesig. “Nooit!” roep hy verslae uit. “Julle kan my mos uitroei as julle wil.”
“Nie een van ons het geld nodig nie. In elk geval nie geld wat deur Tillie in ons sak gesit word nie.” Daar kom ’n gevaarlike gloed in Deon se oë.
Irma spring op. “Ek hoef nie hierna te luister nie. Ek dink ons kan maar gaan, Deon.”
Die witkop plaas sy regtervoet op sy linkerknie, en haal sy sigarette uit. Hy steek een aan, sê dan kalm en besadig: “Verstaan nou goed, Barnard. Jy is self ’n man. Die man is die jagter, nie die vrou nie, of hoe? Nou ja, Tillie het in die eerste plek baie opsigtelik agter my aangeloop. Nie dat daar iets gebeur het nie, niks enduit nie, danksy my vernuf om moeilikheid ver te sien aankom. Maar sy’s ’n warmer dingetjie as wat julle sal glo.”
“Slaan hom,” sis Irma onbeheers.
Toe Deon dit nie doen nie en Bennie Martin slegs met nougetrekte blou oë deur die rooksluier na haar staar en dan sy blik verder oor haar liggaam laat gly, vlieg sy op hom af en klap hom dat sy kop met ’n smak agteroor ruk. Verblind van woede, soek sy met haar voet na die treetjies en onthou slegs vaagweg hoe die blou oë in skrik wyd oopgerek het onder die brandende aanslag van haar hand.
5
Hulle besoek Tillie eers die volgende namiddag weer. Matilda het self agterin geklim, asof sy haar van die twee jongeres wil isoleer.
Op pad dorp toe sien Deon en Irma tegelyk dieselfde ding en hy kyk met ontnugtering in sy oë na haar. Sonder ’n tweede gedagte bring hy die motor tot stilstand en klim uit.
“Wag vir my,” beveel Irma en gooi haar motordeur oop.
“Is julle besete? Bly weg van daardie vuilgoed af,” gil Matilda agter hulle aan.
Dis ’n ander woonwa, dink haar man verbaas waar hy stil langs haar sit. Laat Matilda dit maar self agterkom.
Asof sy nooit gepraat het nie, stap Deon en Irma aan na waar twee kindertjies in die skaduwee van die woonwa sit en speel. Die jong vrou in die tent kom haastig orent en stryk vlugtig oor haar kortgeknipte hare.
“Waar is meneer Martin?” vra Deon toe hulle klaar gegroet het.
“O nee, my man is nou in sy plek. Hy het ’n motorongeluk gehad en het siekteverlof ingesit. Ons moes net spring om hier te kom.”
“Ons weet van die ongeluk,” sê Deon. “Vir hoe lank is hy weg?”
“Eintlik het hy ’n verplasing aangevra. Ek sal glad nie omgee om hier te bly tot die werk klaar is nie; dis naby die dorp. Ons was al op godverlate plekke.”
Toe hulle terugstap, sê Deon met ’n grimmige stemklank: “Jy moes die ander wang ook geklap het.”
“As ek dit net kon bykom. Hy het dit nie aangebied nie.”
“En nou, voorwaarts. Reguit na Tillie toe,” merk hy bitter op. Hulle swyg toe hulle binne hoorafstand van die motor kom.
“En toe, het julle klaar die duiwel kos gegee?”