Met wye oë en droë lippe staar Deon na die verwronge gesig voor hom. Sy is nie normaal nie, skiet dit deur hom. Irma was reg. Sy moet weggevat word. Twee maande in ’n kliniek, en sy sal weer reg wees. Hy weet, daar was eenkeer ’n huismoeder met die probleem, en sy was gou-gou weer haar ou self. Maar wát is Matilda se ou self, en hoe lyk dit?
Eindelik wurg sy die woorde uit en sien hom, selfs in die dowwe lig, verbleek tot aan die lyn van sy hare. “As jy met my meisiekind lol, maak ek julle altwee dood!”
Haar stem is ’n hees, duister fluistering. Toe loop sy met lang treë weg in die nag.
8
Dit het vir Deon dwingend noodsaaklik geword om sake met Irma te bespreek. Hy soek onsuksesvol na ’n geskikte geleentheid.
Reeds die dag na haar besoek aan sy rondawel word dit vir hom duidelik dit Matilda die dreigement in ’n ernstige lig beskou. Sy het, doelbewus, verhinder dat hy alleen by Irma of Tillie kom. Enersyds was dit ’n verligting, omdat hy self vir Tillie wou vermy, maar andersyds ’n struikelblok, omdat hy met Irma moet praat. Dringend. Sy moet hom help besin oor die saak waarvoor hy geen oplossing kan sien nie. Na die vreesaanjaende verskyning van Matilda, soos ’n voorbode uit die nag, het hy met skok die erns van die situasie besef.
Doodmaak … “As jy met my meisiekind lol, maak ek julle altwee dood.”
Hy het geweet sy is daartoe in staat – op daardie oomblik het hy dit onvoorwaardelik geweet. Hy moet vir Tillie waarsku om nie teenoor hom op te tree op ’n wyse wat Matilda se gramskap sal kan verwek nie. Maar hy kan dit nie doen nie. Sy sal dink hy soek verskonings. Hy sien nie kans om die pyn en teleurstelling weer te sien aanswel in die oë wat so moeisaam herstel het van die skok wat Bennie Martin haar toegedien het nie. Dae aaneen het hy haar vermy, haar slegs aangespreek as dit noodsaaklik was; en hy sien die vraag in haar blou kykers groei. Hoe kan sy weet van die dreigement wat so onverhoeds na hom geslinger is? En hoe kan sy weet dat Irma die een vir hom is, dat dit altyd maar Irma was en sal wees?
Dit is Irma wat vir Tillie tot versigtigheid moet maan, wat haar moet inlig aangaande Matilda se dreigement. Maar voor dit moet hy eers vir Irma apart sien, alles aan haar verduidelik. En dit bring weer die risiko mee dat hy haar sal moet vertel van sy eie gevoelens vir haar, ’n vooruitsig wat hom beurtelings met vreugde en huiwering vervul.
Eenkeer oorweeg hy dit selfs om sy paar goedjies in te pak en oornag te verdwyn. Gespanne kyk hy in sy rondawel rond. Klere en boeke, ’n batteryradio. Dis hoe ver sy verbondenheid aan hierdie plaas strek. Dan dink hy weer: nou wil ek maak soos my ouers gemaak het: ’n hekkie wat toeklap, ’n seer hart wat agterbly, en die probleem is uit die weg geruim. Dit bring sy gedagtes terug na Irma, met wie hy dringend moet praat.
Een oggend tref hy haar op die voorstoep aan. Sy het pas vir Tillie klaar gehelp om te bad en aan te trek, en sit solank buite en lees terwyl Tillie tydsaam haar hare versorg.
“Irma, ek moet met jou praat.” Sy stem is dringend.
“Wat verhinder jou?” Sy is effens koel, waarskynlik omdat hy nie meer so spontaan teenoor haar is as voorheen nie.
“Daar is dinge waarvan jy nie weet nie.” Hy het sag gepraat, op sy hoede teen Matilda.
“Ek kan saam met jou lande toe gaan.”
“Ek weet nie of dit verstandig sal wees nie.” Hy het onmiddellik daaraan gedink dat Tillie dan alleen sal wees. Alhoewel hy oortuig is dat Matilda nie sonder voldoende rede haar dreigement sal uitvoer nie, kan sy vir Tillie op allerlei maniere terroriseer. Hy wil sy weiering aan Irma verduidelik; hy kan haar vertel dat hy vir Tillie nie alleen wil laat nie, dat Matilda in ’n sorgwekkende gemoedstoestand verkeer. Hy kyk egter net na Irma met oë wat haar probeer oortuig van sy erns.
Sy begryp tog in ’n mate, al weet sy nie waaroor dit gaan nie. “Ek het nog van daardie pilletjies wat jy vir my by die suster gekry het,” sê sy skerpsinnig.
Hy knik.
“Ons sal sien,” belowe sy sag.
Toe hoor hulle gedempte voetstappe vanuit die huis en Matilda kom te voorskyn.
“Maria, gaan kyk asseblief dat die melk nie oorkook nie,” beveel sy.
Toe Irma weg is, kyk sy skerp na Deon: “Jy en Maria gesels graag.”
“Ek is gewaarsku om vir Tillie uit te los,” antwoord hy.
“Dit geld Maria ook; dit is duidelik dat sy die boodskapper tussen jou en Tillie is. Ek het julle deur die venster dopgehou. Ek kan net raai watter planne julle in die mou voer,” vervolg sy. ‘Ek sal sorg dat julle nie hier wegkom nie.” Sy swaai om en stap na binne, terwyl hy haar ongelowig agterna staar. Is dit wat sy vermoed? Dat hulle vir Tillie wil ontvoer?
Sal hy dokter Buys kontak en sy raad vra? Dan deins hy egter daarvan terug. As Matilda agterkom dat hulle planne beraam om haar hier weg te kry vir behandeling kan sy desperaat raak en iets onverantwoordeliks doen. Hy weet nou dat ’n algehele geestelike ineenstorting soos die swaard van Damokles oor Matilda se kop hang, en gevolglik oor die hele huis. Maar wie sal hom glo, behalwe Irma miskien, as hy beweer dat Matilda op die rand van kranksinnigheid huiwer? Dis slegs deur haar nagtelike besoek aan hom en deur haar woorde van flus, dat hy self besef het hoe ver sy heen is. Andersins is sy haar gewone self, ongenaakbaar en vyandig, maar dis hoe hulle haar deur die jare leer ken het. Haar huislike take kom sy stiptelik na en daar kom steeds goeie kos op tafel.
Irma stel hom nie teleur nie.
Dieselfde middag na ete glip sy by sy rondawel in en wys hom die pilletjie in haar ruim roksak. “Ek sal dit die res van die dag met my saamdra tot vanaand,” lig sy hom in.
Terwyl hulle aan tafel sit vir aandete, staan Irma op om tee te skink. Sy laat die pil gly in die koppie wat sy voor Malilda neersit, talmend, sodat dit intussen kan oplos. Dit sal verseker dat Matilda ’n paar uur lank vas slaap.
Dan kan sy na Deon gaan om te hoor hoe hulle die saak moet aanpak.
Sy trek nie uit nie, maar sit in haar kamer en lees nadat sy ’n bietjie by Tillie gesels het. Toe sy seker is dat Matilda aan die slaap moet wees, blaas sy haar kers dood en sluip deur die donker huis na buite. Ook onder Tillie se deur skyn geen lig meer nie.
Hiervoor moes ek terugkom, dink Irma; om soos ’n dief in die nag rond te sluip omdat vryheid van beweging verbode is. En dit is my tuiste …
Deon is nie verbaas toe sy binnekom nie. Hy het immers vir haar gewag.
“Ons moet liewer gaan stap,” besluit hy. “Enigiemand kan ons hier aantref.”
“Is dit so erg?” vra sy byna geamuseerd.
“Miskien.” Sy lyk bleek, dink hy; en seker nie sonder rede nie. Die buitelug sal haar goed doen. Hy blaas die lig dood en stap saam met haar na buite. Die nag is stil en maanloos. Sy haak by hom in vanweë die koelte, en voel meteens sy warmte teen haar.
Noudat hy die geleentheid het om met haar te praat, weet hy nie hoe om te begin nie, wens hy eerder dat sy iets moet sê om hom aanleiding te gee. Hy is salig bewus van haar warmte teen hom. Sy moet haar arm liewer wegvat, dink hy, maar hoop terselfdertyd dat sy die hele aand so langs hom wil stap, styf teen hom, in stilte.
“Matilda was ’n paar aande gelede by my rondawel,” begin hy. “Sy vermoed dat daar iets tussen my en Tillie aangaan.”
“Ek vermoed ook so. Dis nogal baie duidelik as ’n mens na Tillie kyk.” Sy handhaaf nog ’n ligte toon, onbewus van wat gaan volg.
“Laat ek jou dan tot erns skok as jy dit so verkies,” sê hy ergerlik. “Sy het gedreig om my en Tillie albei dood te maak as ek haar nie uitlos nie.” Oombliklik voel hy haar verstyf van skrik. Onwillekeurig klem sy sy arm vaster.
“Is dit waar?” Sy dwing hom tot