Hy bly nog in die stoel langs haar sit. Sy het nie weer gepraat nie, maar staar in die sterwende vuur totdat hy haar ooglede sien swaar word. Toe trek hy haar op en stap met die kers voor haar uit kamer toe.
“Goeienag,” sê hy, maar hy hoor haar nie antwoord nie. Hy stap weer by die agterdeur uit na buite, waar hy tien minute in die koue nag staan en opkyk na die uitspansel. Dan stap hy terug na Irma se kamer, waar die deur nog oop is en die kerslig in die gang val. Hy bly in die deur staan toe hy sien dat sy reeds slaap.
Versigtig stap hy nader. Die foto van Johan staan nog op die kassie langs haar bed. Sy het daarna gekyk voordat sy aan die slaap geraak het, weet hy. Ook hy kyk nou lank daarna.
“Jou mooi vark,” sis hy onhoorbaar terwyl hy sy kake oudergewoonte op mekaar klem. “As ek jou en Bennie Martin na ’n eiland kon verban.”
Hy blaas die kers dood en plaas dit binne haar bereik. Toe hy in sy koue rondawel kom, voel dit vir hom asof hy van ’n ver reis teruggekom het.
6
Tillie doen haar bes om te sterwe. Sy is seker dat mens jou eie dood kan wíl. Aangesien die motorongeluk dit nie kon regkry nie, kan die verlamming van haar bene dalk genoegsame rede wees om haar te laat wegkwyn totdat die asem haar net verlaat. Maar sy vind dat dit nie so maklik is nie. Die mens, gees en liggaam, neig altyd na herstel toe. Teen sin en wil begin sy die sonskyn deur die venster raaksien, hoor sy die voëls in die bome buite.
Die hoop om Bennie Martin weer te sien, het nooit regtig in haar hart bestaan nie. Behalwe dat haar ma hom nooit weer binne sigafstand sou toelaat nie, kon sy die waarheid lees uit die houding van Deon en Irma.
By tye is dit vir haar selfs moeilik om te glo dat daar wel so ’n persoon bestaan as die man aan wie sy haar liefde gegee het; die een met die glanswit hare en die oop glimlag. Hy is die een wat haar versaak het; dus moet hy wel bestaan.
Die nag van onheil toe die motor duisend keer gerol het, toe haar deur oopgeskiet en sy magteloos vasgepen was voordat sy haar bewussyn verloor het … dit sou ’n onwerklikheid geword het, as die dowwe vorm van haar lewelose bene en voete nie soos ’n stomgeworde herinnering onder die beddegoed afgeteken was nie.
Uur na uur lê sy daarna en kyk, soms ook in die nagte as die nagliggie haar kamer dof verlig: die vae vorm onder die beddegoed. Die spits punte van haar tone, soos dié van ’n mummie. Dit was soms moeilik om te glo dat hulle nog daar is.
En tog het sy gewonder watter verskil dit eintlik sou maak? Of hulle daar is en of hulle nie daar is nie; dood, nutteloos, haar eens volmaak gevormde en flink werkende bene … dag na dag sal hulle van nou af afgetakel word, uitteer tot nuttelose tentakels.
Na twee weke kan sy huis toe gaan. Aangesien sy geen opvolgsorg wil aanvaar nie, is daar geen rede om langer hier te bly nie. Maar om huis toe te gaan, kan aan haar geen verskil maak nie. Irma is daar, maar sal teruggaan na haar werk, haar lewe, haar geliefde. Bennie is weg; hy het uit eie beweging weggegaan. So asof sy hom sou terughou.
Toe sy oor die ergste skok van sy verraad was, het sy berus. Dit is die beste so, en verkieslik bo ’n langsame afkoeling van sy kant af. Dis beter dat hy weg is. Sy is tevrede daarmee. Maar sy is nie tevrede om te lewe, om te moet teruggaan na ’n lewe van verwyt by haar ma nie. Maar nou lewe sy in elk geval, en sy kan vandag huis toe gaan. Haar droom om agter Irma aan te trek, werk in Johannesburg te kry, lê in skerwe. Al sou sy werk kon kry, sy kan Irma nie met soveel sorge opsaal nie.
Nee, sy gaan plaas toe, huis toe, waar sy sal moet vaskyk teen dieselfde skaduwee in Irma se oë. Irma wou dit vir haar wegsteek en het die ring bly dra. Maar toe sy vir Irma sien, het sy dadelik geweet, want in haar eie hart was dieselfde verslaenheid en verlange wat sy in Irma se oë sien lê het. Hulle het haar gehelp om aan te trek, twee verpleegsters met fris kuite onder die nousluitende uniforms. Hulle het baklei om haar lang hare te kam. Giggelend blaas die rooikop die aftog en verlaat die kamer vir haar volgende taak.
“She’s a walking, talking Chinese doll …” sing sy vrolik-neurieënd.
“Walking …” Die woord slaan soos ’n golf van pyn teen Tillie vas. In elk geval kry hulle haar darem nie jammer nie, dink sy gelate. Hulle is aan alles gewoond. Hulle het haar geleer hoe om vanuit die rolstoel op die toilet te kom, maar dis ’n gesukkel.
“Hier is hulle nou,” sê Tillie na tien minute.
“Hoe weet jy?” Die verpleegster staan terug om haar handewerk te betrag. Tillie het lekker hare om mee te werk, dit koek en strengel nie.
“Ek ken teen dié tyd die motor se dreuning teen die steilte op.”
“Dan bly ek nog ’n rukkie om in julle weeskind se mooi swart oë te kyk.” Sy lag ondeund.
Tillie bly bewegingloos sit en glimlag skaars merkbaar.
“Die stoel,” beveel Matilda toe hulle uitklim. Die stoel is nuut bestel en afgehaal, deeglik verpak in ’n karton in die kattebak.
“Miskien moet ons dit by die huis eers uithaal en aanmekaarsit, tante. Dit sal vir haar swaar wees as sy dit die eerste keer sien,” reken Deon.
“Hulle karwei haar hier dan ook maar in ’n rolstoel.”
“Ja, maar dis nie haar eie … permanent nie,” tree Irma toe.
“Julle oordeel verkeerd,” stoom Matilda voort. “Ek het vir Tillie goed dopgehou. Sy het berus en is tevrede om haar lot te dra.”
“Ek sal daarbinne besluit en dit kom haal as dit nodig is,” onderneem Deon. Hy het die motor teenaan die ingang getrek.
Dis weer ’n nuwe reëling, dink Matilda gebelg. Sy het juis die stoel bestel as ’n verrassing vir Tillie; om haar te wys dat haar eie moeder die hand wil uitsteek en haar uit die modder van haar eie keuses wil ophelp. Tog, omdat hulle haar geen keuse laat nie, stap sy saam na binne. Deon kyk om en wag totdat Irma langs hom is.
Dis ’n koue, bewolkte dag en ’n triestige windjie sny deur haar winterjas. Wat ’n dag vir ’n tuiskoms, dink sy met ’n gevoel van verwesenheid.
Tillie het ’n dik, warm trui aan, maar selfs onder die los lyne daarvan is dit oombliklik duidelik hoeveel gewig sy verloor het. Sy sit hulle beheers en inwag, lyk met die eerste oogopslag eerder na ’n pop in ’n uitstalvenster as na ’n mens.
“Het Vader nie gekom nie?” vra sy omdat sy aan geen ander opmerking kan dink nie.
“Hy het gebly, sodat daar vir jou plek kan wees om te lê,” antwoord Matilda.” En toe, waar is nou ’n rolstoel? Jy was danig slim, Deon. Hoe kry ons haar buite?” vervolg sy.
“In die gang om die hoekie is ’n stoel,” merk Irma op, “maar ek dink die maklikste sal wees as Deon haar dra.” Met genoeë sien sy hoe die voorstel vir Matilda skok.
Deon buk sonder seremonie voor Tillie en hou sy arms uit. Vir een hulpeloos verwarde sekonde kyk sy na hom op, dan steek sy haar arms uit en plaas dit om sy nek. Hy skuif sy een arm onder haar bene in, die ander onder haar arms deur en lig haar sonder veel moeite op.
“Jy is lekker warm,” sê sy en lê vermoeid haar kop teen sy skouer.
“Van nou af die stoel en niks anders nie,” fluister Matilda in die gang aan Deon, versigtig om nie aandag op die onrespektabele vertoning te vestig nie.
Die rooikoppie kom van voor af verby en glimlag intiem in Deon se oë. “Kan ons nie plekke ruil nie, ou ding?” vra sy vir Tillie.
“My voorreg,” troef laasgenoemde haar.
So moet ons haar behandel, dink Irma. Soos die verpleegsters; doodgewoon en selfs onverskillig. Maar Matilda … hoe om dit by haar tuis te bring. Dit sal ’n verspilling van logiese redenasie wees.
Agter in die motor maak hulle vir Tillie gemaklik. Sy lê met haar kop op Irma se skoot. “Eintlik hoef ek mos nie te lê nie,” protesteer sy. Maar onder die gewieg van die motor raak sy aan die slaap.
Een