Ek frommel die pakkie Stuyvesants in my linkerhand. “Hierdie is omtrent die enigste ding wat nog sin maak. Kyk,” wys ek, “asem in. Blaas uit. In. Uit. Net dit.”
Om ons kom mense tot stilstand. Hulle staar van my na Ranna en skielik voel ek weer soos Hardy. Of was Laurel die kort een? Ek kan nie onthou nie.
“Jy reis nie baie nie.”
Dit klink nie soos ’n vraag nie, so ek antwoord nie.
Ranna vou haar arms, min gepla oor die mense wat om ons saamdrom. Nie dat dit saak maak nie. Niemand hier sal Afrikaans verstaan nie.
“Jy’t nog nie geduld geleer met dit wat jy nie ken nie. En met dit wat jy nie kan verander nie.” Ranna sit haar hande op haar heupe. Ek kan sweer daar is ’n skadu van ’n glimlag om haar lippe. “Jy moet ontspan. Dinge geniet. Hierdie is die sagste mense wat jy ooit sal teëkom.”
“Nee, ek het nog nie baie gereis nie. Reis is nie maklik vir mense wat in die tronk was nie.”
“Jy was net nog nooit lus nie.” Nou lag sy openlik. “Ek’s seker jy’s nie juis mal oor die idee van klein vliegtuie en klein hotelkamers nie.”
“Daar is min plekke wat ’n rekenaar nie kan bykom nie.” Ek wil nie vir haar sê sy is reg nie. Die Taj Mahal kos my ’n fortuin. Ek het die grootste kamer geneem wat die hotel beskikbaar gehad het.
“Hoeveel keer was jy al buite Suid-Afrika?”
“Tel Lesotho?”
“Nee.”
“Twee keer. Hierdie is die tweede keer.”
“Wat was die eerste keer?”
“Lagos. Agter jou aan.”
“Lagos?” Sy lig haar wenkbroue. “Okay, dan verstaan ek bietjie beter. Lagos is nie die beste advertensie vir reis nie.” Sy wys na ’n winkel agter haar. “Rook klaar. Ek koop solank water, voor ons dehidreer.”
4
Die kafee oorkant Jagan se winkel is koel. Twee waaiers werk volspoed om die vierkantige hokkie vol koeldrank en kruideniersware af te koel. Die linoleumvloer en die toonbank is lankal nie meer wit nie, maar vir ’n verandering pla dit my nie. Al wat saak maak, is die tien grade verskil tussen hier binne en daar buite. En dat ek in die kafee mag rook.
Ons drink Coke terwyl ons vir Nikhil wag. Ranna het my na die selfoonwinkel gestuur om hom te soek, maar ek kon niemand sien wat aan haar beskrywing voldoen nie: korterig, rond, met ’n kuif wat in sy oë hang, jeans wat te laag sit en ’n houding wat sê elke vrou sal vir hom val. Die enigste mens in die winkel was ’n vriendelike ouer man met ’n baard. Hy wou weet of ek ’n selfoon wil hê om my ma te bel. Sodra ek by die huis is, gaan ek ’n paar swart stiletto’s koop.
Ranna drink uit die koeldrankblikkie in haar hand. “Vertel my van Alex. Wat het gebeur?”
Sy sit terug in die rooi plastiekstoel, die een in die hoek van waar sy die hele vertrek kan sien, en kyk na my met waaksame oë. Sy vertrou my steeds nie, en toegegee, ek sou ook nie. Ek was net te bly om van haar ontslae te raak verlede jaar. ’n Mens vergeet nie so gou nie.
“Alex het ’n reeks stories in Welkom gaan doen. Onwettige myners, Zama-Zamas. Sindikate wat goud uit ou mynskagte haal, so iets.”
“En toe?”
“Soos ek verstaan, het hy ’n kontak by Shafts gaan ontmoet – ’n bar met ’n slegte reputasie. Iemand het hom laat die aand gebel en gevra hulle moet daar ontmoet. Die kroegman sê dit het gelyk asof Alex vir iemand wag, maar niemand het opgedaag nie. Hy het blykbaar ’n bier gedrink en toe geloop. Niemand het hom weer daarna gesien nie.”
“Hoe weet jy dit? Was jy in Welkom?”
“Nee. Ek het die foonrekords nagegaan. Polisieverslae. Koerante. Al daai goed. Dit was vir lank ’n groot storie. Veral oor sy verhou- … verbintenis met jou.”
Ranna se wenkbroue word vraagtekens. “Ek verstaan nie. Hoekom is jy dan hier? Die polisie is tog betrokke, en hulle is baie beter met dié tipe ding as ek. Wat kan ek doen wat hulle nie kan doen nie?”
Ek voel die ongeduld na bo borrel. “Baie. Jy’s lief vir hom, Ranna, al sit jy hier soos ’n koue vis.”
“Was.”
“Was wat?”
“Was lief vir hom. Op die ou einde is hy net nog ’n man wat my als gekos het.”
“Ek glo jou nie.”
“Nes jy wil.”
Ek wens ek kan die ongeërgdheid uit haar skud, maar ek weet ek sal verloor. En dis nie hoe ek baklei nie.
“Kyk wat het jy verlede jaar vir hom gedoen, Ranna. Onthou jy nog? Jy het alles opgegee sodat hy kon aangaan met sy lewe. Sodat niemand sou weet hy was by toe Tom jou aangeval en jy hom doodgemaak het nie. Of dat Alex jou gehelp het om van die lyk ontslae te raak nie.”
Ek sit die Coke hard neer en druk die Stuyvesant dood. Byt op my tande voor ek kalmer sê: “Vir die cops is hy net nog iemand wat verdwyn het. Maar nie vir jou of vir my nie. En ek het nog nooit iemand so hardkoppig soos jy ontmoet nie. Jy sal nie opgee nie.”
Ek sluk die laaste van die louwarm koeldrank en steek nog ’n sigaret aan, onseker of sy enigsins genoeg belangstel om te antwoord.
Ranna weier om uitgelok te word. Sy kruis haar bene stadig, doelbewus, en bestudeer my dan soos iets wat sy deur die lens van haar kamera waarneem. So met afgetrokke belangstelling, asof sy wonder watter lig my die beste sal pas.
“Die koerant waar hy werk moes groot lawaai gemaak het. Hulle kyk goed na hulle mense,” sê sy uiteindelik.
“Hulle het, maar dis nou al ses weke later en daar is nog geen nuus nie. Al wat hy nou is, is ’n weeklikse voetnota op bladsy agtien. Sy arme ma. Sy wonderlike loopbaan. Sy lakenatletiek met jou. Blah-blah-blah.”
Uiteindelik. Ranna sit regop. Haar oë word sag, haar lyf hard. Lang vingers klem om die koeldrankblikkie.
Dan is dit asof sy doelbewus probeer ontspan. Ontknoop. Die emosie wat haar verraai het, afstroop.
“Ses weke is ’n lang tyd. Jy’t nie gesê dis só lank nie.”
“Ek soek al meer as ’n maand na jou.”
“Hoekom kan jý Alex nie opspoor nie? Ander mense kry om jou te help nie? Jy moet nog kontakte hê van jou tyd in die tronk.” Sy rol haar oë effens en probeer glimlag. “Van die werk wat jy steeds doen.”
Dis een vraag wat ek verwag het. Ek hoop ek kan goed genoeg jok.
“Ek ken nie mense wat deure kan oopskop nie, net ’n spul kommin witboordjiediewe. Jy laat dinge gebeur, face dit. En buitendien, jy’s klaar …” Skielik raak my woorde op.
Ranna vryf moeg oor haar voorkop en glimlag weer, warmer hierdie keer. “En ek’s in elk geval ’n krimineel, ek het reeds twee moorde gepleeg, so ek sal nie gewetensbesware hê om te doen wat nodig is nie?”
In my kop het dit beter geklink. “Ja, so iets,” gee ek onwillig toe.
“Moenie worry nie, ek weet dit. Ek het geleer, en vinnig geleer. Dis hoe mens oorleef.”
“Wat bedoel jy?”
Sy skud haar kop vlugtig. “Maak nie saak nie.” Sy speel met die strooitjie in die koeldrank voor haar. “So, in hierdie grênd plan van jou, wat moes ek doen?”
Ek hou nie van die verlede tyd in haar sin nie. “Die polisie het vir alle praktiese doeleindes aanbeweeg. Hulle is klaar oorwerk. Maar ek het ’n lead oor