Skrapnel. Irma Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Irma Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798162579
Скачать книгу
Hy loop na my toe en vat my hand waar dit roerloos langs my sy hang.

      Weer kyk ek na my ma. Sy sit doodstil op die bank, haar oë vasgenael op my pa se halfvol glas.

      Ek ken daardie kyk. Sy gaan nou niks beteken nie. Dan is dit beter om saam met hom te loop en te hoop hy raak gou verveeld.

      Ek volg sy onvaste treë oor die digte gangmat, verby die skildery wat hy twee weke gelede gekoop het. Ek onthou ’n tyd toe ons minder gehad het, en toe skielik meer. Ek verlang na minder, want toe het hy nie so baie gedrink nie.

      Mense moet verbied word om te drink as hulle kinders het.

      In die studeerkamer beduie hy ek moet agter sy lessenaar op sy leerstoel gaan sit. Die naambord op sy lessenaar sê Hendrik Kroon. Ek weet nie hoekom nie, want die meeste mense noem hom Henry.

      Hy loop na die boekrak en haal ’n paar boeke uit tot die dowwe metaal van die kluis wys. Hy draai na my en beduie ek moet anderpad kyk. Ek maak so, al weet ek wat die kode is. Mense kies baie keer hulle eie verjaarsdag, veral mans. Dis wat my boeke sê. Buitendien, ek het hom dit eenkeer sien intik, en ek vergeet nie sommer nie.

      Ek wens soms ek kon. Twee weke gelede het hy my ma geslaan toe hulle al twee gedink het ek slaap. Ná die tyd het sy in my kamer kom sit en huil. Ek het net daar gelê en gemaak asof ek slaap, te bang vir nog ’n prentjie wat ek nie kan vergeet nie.

      Dit gaan al jare lank so aan. Ek moes ’n boetie gehad het, maar my pa het hom van ons – van my – weggevat. Met drie skoppe.

      Dalk is dit beter so. Wie sal in hierdie huis wil grootword?

      Hoekom het my ma ons nie al lankal hier weggekry nie? ’n Mens sou dink dit was genoeg toe sy die baba verloor het, maar selfs dit het niks verander nie. Sy het net baie blomme gekry, ’n nuwe rok en parfuum en toe is alles weer nes dit was.

      “Hier.” My pa sit iets voor my neer. ’n Kleinerige, plat rooi boksie.

      Ek beweeg nie. Dis baie keer moeilik om te weet wat die regte ding is om te doen.

      Hy wys na die boksie met ’n ongeduldige vinger. “Maak dit oop.” Draai om na die drankkabinet in die hoek waar hy ’n nuwe glas volmaak.

      Ek wens hy wil stop. Kan ek nie eerder dit kry as hierdie boksie nie? Dat hy ophou. Ophou drink. Ophou kwaad wees.

      En hoekom sal ek ’n geskenk kry? My ma kry altyd goed as hy vir ’n ruk weg was, of haar geslaan het. Nie ek nie.

      Hy buk langs my. “Komaan, dis ’n present.” Sy asem ruik suur. “Jy moet dankie sê.”

      Ek staar na die boksie. Ek wil niks van hom hê nie.

      “Moet jy nou net so moeilik soos jou ma wees?” sê hy toe ek nie be­weeg nie. Hy slaan met die plathand op sy lessenaar. Brandewyn mors op my pajamahemp. “Maak dit oop!”

      In stede van oopmaak glip ek van die stoel af, anderkant toe, weg van hom.

      “Isabel!”

      Ek hardloop deur toe, maar hy is vinniger. Hy slaan dit toe dat die klank deur die huis weergalm.

      Iewers hoor ek haastige voetstappe. My ma wat wegkom?

      “Was is dit fokken met jou? Jy’s net so donners ondankbaar soos jou ma.”

      Hy ruk my aan my arm nader en sleep my lessenaar toe. Dit maak seer.

      “Los my.” Ek probeer onder sy greep uitdraai, maar sy vingers wil nie los nie. “Jy maak my seer!” roep ek weer.

      Sy gesig vertrek. Hy skud my arm.“Ek’s jou pa. Jy praat nie so met my nie.”

      Ek ruk my kop weg, maar ek is te stadig om sy vuis te mis. Dit ontplof teen my skouer. Dis soos met my ma. Hy slaan waar hy dink niemand sal sien nie.

      Dis die eerste keer dat hy my slaan.

      Die trane wil-wil in my oë opstoot, maar ek knip dit weg. Ek gaan nie huil nie.

      Hy skreeu op my. Sy neus is rooi. Sy oë is rooi. Die los vel om sy nek bewe met elke woord.

      Ek fokus op die kant van sy kop. Daar waar ’n mens se slaap is.

      Slaap.

      Slaap.

      Slaap.

      Agter ons gaan die deur stadig oop.

      My pa draai om. “Wat is dit nou? Hoekom pla jy ons?Jy meng ook altyd in waar jy nie moet nie.”

      “Ek het koffie gemaak.”

      My pa lag. “Koffie! Gaan drink jy jou koffie. Ek en Isabel is besig.”

      My ma vat-vat aan haar hare, dan aan die oorbelle wat hy vroeër vanaand vir haar gegee het. Uiteindelik sê sy sag: “Nee.”

      Dié enkele woord laat my pa van my vergeet. Hy draai om na haar, sy hande op sy heupe, sy voete uitmekaar. “Wat sê jy?”

      “Los vir Isabel. Ek kan dit vat, maar jy raak nie aan my dogter nie.”

      “Jóú dogter?”

      Ek luister nie verder nie. Ek glip weg, dieper die vertrek in. Waar kan ek wegkruip? Agter die stoel. Onder die lessenaar. Dalk is alles netnou verby. Ek kan my oë toemaak, stil wees, dat hulle vergeet ek is hier.

      Dan sien ek dit: die kluis staan nog altyd oop. Dit staan nooit oop nie, want daar is gevaarlike goed in, sê my pa altyd. Goed soos sy rewolwer.

      Ek kyk van die kluis na my ma en pa. Hulle staan in die middel van die kamer op die groen mat waarvoor sy so lief is.

      Dit bly snaaks om hulle saam te sien, want my ma is baie langer as my pa. Ek trek op haar en my ouma. Op elf is ek al net so lank soos my pa. My ma sê hy het eers daarvan gehou dat sy so lank is, en toe skielik nie meer nie, maar sy weet nie hoekom nie.

      Ek staan op. Hulle het van my vergeet.

      Ek trek my hemp se mou oor my hand. Trek my arm in.

      Net gister het ek ’n boek klaar gelees. Daar was ’n hele hoofstuk in oor hoeveel foute hierdie vrou gemaak het wat haar man vermoor het. Sy was nie naby genoeg nie. As jy nie naby genoeg is nie, is die merke nie die régte merke nie. En die hoek kan verkeerd lyk.

      Ek loop na die boekrak toe en leun vorentoe, op my tone. Ek haal die rewolwer uit die kluis.

      ’n Rewolwer moet net oorgehaal word, niks meer nie. Dis wat ek gelees het.

      Die klank is sag en metaalagtig, en nie een van hulle kyk om nie. Daarvoor is hulle te besig om op mekaar te skree.

      Ek loop nader. Nog ’n bietjie. Die rewolwer is swaarder as wat ek gedink het.

      My pa se regterhand vou om my ma se keel. Sy linkerhand is teruggetrek in ’n vuis. Sy sak op haar knieë neer. Sy huil.

      Ek swenk na sy ander kant toe. Hy is links. Nes ek. Ek het amper vergeet.

      Niemand sien my nie.

      Ek gee lang treë, die mat soos wol onder my voete. Ek lig die rewolwer tot teen sy slaap – téén sy slaap – en trek die sneller.

      2

      Ek word wakker.

      Ek lê vir ’n oomblik stil in die halfskemer kamer. Soek na my asem. Ewewig. Enigiets bekends. Iets om aan vas te hou. Ek knip-knip my oë tot ek die buitelyne van die TV uitmaak. Die gordyn. Wag tot ek die sagte dreuning van die lugversorger hoor. Die wit lakens wat ritsel wanneer ek my voete roer.

      Die droom was helder, asof dit gister gebeur het. Té helder.

      Wanneer sal ek vergeet? Is dit moontlik om te vergeet dat jy jou pa geskiet het?

      Ek kyk van die breë hotelbed na die ligkring waar Sarah steeds voor haar rekenaar sit. Sy rook. Die kamer ruik na sigarette en die spul stompies wat in die asbak langs haar lê. Sy het net na ete begin werk en nog nie opgehou nie.

      Ek