Uit die beek 2014. Attie van Wijk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Attie van Wijk
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796313492
Скачать книгу
het deur op Hom te wag.

      Maandag 24 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 37:17-29

      Een kosbare eenheid

      Al hierdie voorwerpe is uit vier en dertig kilogram suiwer goud gemaak. – Eks 37:24

      GESELSVRAAG:

      Wat het ons wat van suiwer goud gemaak is?

      “Die kontakpunte van hierdie kabel is met goud oorgeblaas om goeie kontak te verseker; daarom kan jy verseker wees van ’n goeie beeld,” verduidelik die verkoopsman by die elektroniese winkel. Omdat goud nie oksi­deer nie, is dit die beste manier om oksidasie te voorkom; daarom word die gesig­skerms van die helms wat ruimtevaarders dra ook met goud oorgeblaas. Dit is om hul oë teen direkte sonstrale te beskerm. Goud is egter ’n baie sagte materiaal; daarom word dit gewoonlik met ander metale gemeng om dit sterker te maak.

      Slegs die egte dinge is egter goed genoeg vir die diens van die Here. Die kandelaar is nie van hout gemaak en met ’n dun lagie goud oorgetrek nie. Dit is uit soliede suiwer goud gemaak. Wee die arme Leviet of priester wat hierdie stukkie gereedskap oor die lang woestynmyle moes dra. Dit was swaar! Dit was egter ’n kunswerk – jy het seker opgelet hoe pragtig dit versier is. Niks is vasgeskroef of vasgeplak nie. Alles is aanmekaar gesmee om ’n eenheid te vorm. Dit was gebou om te hou.

      Kom ons dink nou aan ons eie gawes aan die Here. Gee ons ook ons beste en suiwerste? Is ons self deur en deur aan die Here toegewy, of is ons dalk net met ’n lagie vroomheid bedek? Hoe lyk ons waar mense nie kan sien nie?

      GEBED:

      Here onse God, ek wil my beste volledig aan U wy.

      Lees vanaand in Eksodus 38:1-8 hoe Besaleël volstoom begin werk het om te doen wat die Here hom voorgesê het.

      Dinsdag 25 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 38:9-20

      Gordyne

      Al die gordyne rondom die voorhof was van goed geweefde linne. – Eks 38:16

      GESELSVRAAG:

      Wat is die doel van die gordyne in ons huis?

      “’n Gordyn is maar net daar vir versiering, of om tydelik die uitsig te keer. Dit is nie klankdig nie en kan niks of niemand uithou nie. Dit is nie veilig nie.” Julle het seker al so iets onder mekaar besluit. Sommige gordyne is feitlik deursigtig, soos ’n kantgordyn. Dit help sodat mense nie so maklik kan inkyk deur ons vensters nie. Swaar gordyne kan darem die lig redelik demp, maar ook nie heeltemal nie.

      Die tabernakel is gemaak om draagbaar te wees. Dit was maar net ’n tent. Niks was vas nie. Maar dit moes die woestynwinde kon weerstaan. Die pilare is dus met tentpenne stewig gespan sodat hulle nie kon omval nie. Die gordyne was nie liggewig nie, maar goed geweef om privaatheid en sterkte te verseker. Hulle doel was om te keer dat die werk van die priesters in die openbaar geskied. Dit was eers baie later dat die tabernakel deur ’n stewige tempel vervang is.

      So word ons tydelike liggame ook met ’n tent vergelyk: “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan” (2 Kor 5:1). Ons moet dus nie te vas raak aan hierdie tydelike liggaam nie. Wat wel belangrik is, is dat ons moet lewe soos Hy dit wil (2 Kor 5:9).

      GEBED:

      Here, ek sien uit na my ewige woning daar by U.

      Lees vanaand in Eksodus 38:21-31 die indrukwekkende statistieke van die tabernakel.

      Woensdag 26 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 39:1-14

      Ampsklere

      […] Soos die Here vir Moses beveel het, het hulle vir Aäron ampsklere gemaak en dit gewy. – Eks 39:1

      GESELSVRAAG:

      Wat is die nut van ampsklere in die kerk?

      “As ’n swart pak met ’n wit das goed genoeg was vir Jesus en sy apostels, is dit goed genoeg vir my!” skerts iemand toe ons oor ampsgewade gesels. En dit laat ’n mens dink. Jesus en sy apostels het dit nie nodig gevind om ongewone klere te dra nie. Hulle het soos al die ander mense aangetrek. Miskien is dit daarom dat die “sweetpak” (toga) al hoe minder in die erediens gesien word. Die meeste kerkraadslede trek deesdae nes gewone mense aan. Dit gaan nie meer oor eie eer nie, maar oor die Here. Sedert die tyd van die hervorming was die toga ’n teken van geleerdheid – maar wat het dit met die kerk te doen?

      “Toe ek ons lidmate in Jaffna gaan besoek het, het ek die kleed van ’n Roomse priester-vriend geleen om aan te trek in die hoop dat die terroriste nie op my sal skiet nie,” vertel ds. Rajakumar Thurairajah van Sri Lanka. Dit het waarskynlik gehelp, want hy het die huisbesoek in die tyd van die burgeroorlog oorleef. Ampsdrag het dus wel waarde. ’n Verpleegster kan aan haar uniform uitgeken word, en ’n polisieman of soldaat ook.

      Die Christen se uniform lyk anders, maar ons het dit net so nodig. God het ons ’n wapenrusting gegee om ons staande te hou in tye van versoeking (Ef 6:13-18). Kom ons dra dit vandag.

      GEBED:

      Here, help my om voor elke stryd my wapenuitrusting aan te trek.

      Lees vanaand in Eksodus 39:15-31 hoe indrukwekkend die drag van die priesters in daardie tyd was.

      Donderdag 27 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 39:32-43

      Gehoorsaam aan die wette

      Die Israeliete het alles gemaak net soos die Here vir Moses beveel het. – Eks 39:42

      GESELSVRAAG:

      Watter wette kom jy na?

      “Omdat ek die ma is, dis hoekom,” staan op ’n vriendin se T-hempie geskryf. “Maak soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie,” het ’n ander een vir haar kinders vertel. “As almal Christene was, het ons geen polisiemanne en verkeerskonstabels nodig gehad nie,” het ’n studentevriend verklaar. “Dit help nie om wette te maak as jy dit nie kan toepas nie,” skryf iemand in die koerant.

      Die hoofboodskap van die Ou Testament is dat ons gehoorsaam moet wees. Ongehoorsaamheid lei tot ellende. Maar juis omdat gehoorsaamheid onmoontlik is, soos my een kleinseun gesê het, was dit vir Jesus nodig om te kom. Die wette en regulasies van die Ou Testament het net die pad voorberei vir die boodskap van God se genade in die Nuwe. Ons lees min dat die volk gehoorsaam was. Selfs in die beste tye was daar nog steeds probleme. Dink maar wat ons oor die konings lees. In eie krag kan ons nie doen wat die Here ons beveel het nie.

      Maar ons hoef nie bedruk op ’n hopie te gaan sit nie. Daar is ’n ander pad vir ons oopgemaak. Ons hoef nie meer ons redding te probeer verdien deur wette na te kom nie. Jesus het dit alles vir ons gedoen. Ons hoef net God se genadegawe te ontvang (Rom 3:23-24, 6:23). Wat ’n verligting!

      GEBED:

      Hoe kan ek vandag vir U wys hoe dankbaar ek is, Here?

      Lees vanaand in Eksodus 40:1-15 hoe die tabernakel opgerig en ingewy is.

      Vrydag 28 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 40:16-33

      Daders van die Woord

      En Moses het alles gedoen presies net soos die Here hom beveel het. – Eks 40:16

      GESELSVRAAG:

      Wat moet ons vandag vir die Here doen?

      “Wanneer jy God se Woord lees, moet jy altyd vir jouself sê: ‘Dit praat met my, en oor my,’” het Søren Kierkegaard geskryf. God praat vandag nog met ons deur sy Woord. “Om die Bybel te lees sonder om daaroor te mediteer, is soos om te eet sonder om te sluk,” het iemand anders gesê. Mark Twain skryf: “Die meeste mense is bekommerd oor die gedeeltes van die Skrif wat hulle nie kan verstaan nie; die gedeeltes wat my pla, is dié wat ek wel verstaan!” “Jy kan maar net sowel die