Uit die beek 2014. Attie van Wijk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Attie van Wijk
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796313492
Скачать книгу
hoe die hoëpriester se klere moes lyk. Die 1983-vertaling praat van ’n goue blom. Die ander vertalings praat deurgaans van ’n goue plaat, met een uitsondering wat van ’n roset praat. Maar die belangrike ding is dat die woorde “Aan die Here gewy” oftewel “Heilig aan die Here” daarop gegraveer is. Hierdie versiersel was vir die tulband van die hoëpriester bedoel. In vers 38 word verduidelik dat hy die volk verteenwoordig het. Die volk moes aan die Here gewy wees. Dit was die teken dat die Here teenoor hulle goedgesind is.

      Kom ons wy onsself met alles wat ons het hierdie week aan die Here. Ons behoort volledig aan Hom, want Christus het ons deur sy eie bloed vrygekoop, sodat ons Hom voluit kan dien.

      GEBED:

      Ek wy myself, my gesin en besittings aan U, Here.

      Lees vanaand in Eksodus 29:1-14 hoe die priesters hul aan die Here gewy het.

      Dinsdag 11 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 29:15-28

      Geheilig vir die Here

      […] Dan sal hy en sy klere, en sy seuns en hulle klere gewy wees. – Eks 29:21

      GESELSVRAAG:

      Wat verstaan jy onder die woord “heilig”?

      “Heilige Dawid” was die bynaam van wyle prof. Dawid de Villiers. Hoe sou jy daarvan hou as mense jou die bynaam “Heilige (jou naam)” sou gee? Sou dit gepas wees, of sou hulle dit tong-in-die-kies gebruik? As ons vandag sê iemand “hou hom heilig” dan bedoel ons waarskynlik dat hy ’n huigelaar is. Hy is nie eg nie. Hoe anders as wat die Here dit bedoel het.

      Ons het vandag gelees hoe Aäron en sy seuns vir hul amp afgesonder is. Die hele seremonie moes wys dat hierdie mense volledig in die Here se diens staan. Die bloed was die teken dat hulle sondes deur die offers weggeneem is, sodat daar niks tussen hulle en God sou wees nie. Nou kon hulle met vrymoedigheid vir die volk gaan intree.

      Maar wat bedoel die Here wanneer Hy sê: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet 1:16)? Beteken dit sondeloos? In God se geval is dit waar, maar dit is net in Christus dat ons ooit dit kan waag om te sê dat ons sondeloos is. “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees,” vermaan Petrus ons (1 Pet 1:15). Ons moet volledig aan die Here gewy wees. Ons staan vandag in sy diens, net so volledig soos wat Aäron in daardie tyd aan die Here gewy was.

      GEBED:

      Here, leer my hoe om waarlik aan U toegewy te wees.

      Lees vanaand in Eksodus 29:29-37 hoe voorsiening gemaak is vir die opvolgers van die eerste hoëpriester en priesters.

      Woensdag 12 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 29:38-46

      Lewensveranderende ontmoeting

      Dáár sal Ek die Israeliete ontmoet en daar sal hulle geheilig word deur my magtige teenwoordigheid. – Eks 29:43

      GESELSVRAAG:

      Watter ontmoetings het ons lewe verander?

      “Here, ek sal Sondag kerk toe gaan, maar moet tog niks van my vra nie en moet niks in my lewe verander nie.” Daar is seker min van ons wat so bid voordat ons kerk toe gaan. Tog is daar min van ons wat kerk toe gaan met die verwagting dat die Here ons gaan omkeer. Ons hou mos van die status quo. Ek is goed genoeg, dankie.

      In vandag se Skriflesing het die Here Moses vertel hoe Hy die volk wou ontmoet. Daar by die ingang van die tent van ontmoeting sou God met Moses praat (Eks 29:42). Maar meer nog, as enigeen van die Israeliete ook daar opdaag en ’n ontmoeting met die lewende God verlang, sou dit gebeur. Hulle sou geheilig word deur daardie ontmoeting. Hulle sou aan Hom gewy wees. Hulle sou in sy diens staan en aan Hom gehoorsaam wou wees. Hulle sou besef dat Hy hulle God is en dat Hy tussen hulle woon.

      Waar is God vandag? As jy antwoord “in die hemel” is jy seker reg, maar dit is nie al nie. Hy is mos alomteenwoordig. Hy is ook nou daar by jou waar jy in hierdie boek sit en lees. En as jy alles van jouself aan Hom oorgegee het, is Hy ook in jou. Jesus sê die Drie-enige God kom woon in ons (Joh 14:17, 20). Hy wil vandag met jou werk toe en skool toe gaan. Hy wil jou verander en deur jou ander mense se lewens verander.

      GEBED:

      Wees U die Koning van my hele lewe, Here Jesus.

      Lees vanaand in Eksodus 30:1-10 oor die rol van die altaar – wat ná Christus se kruisdood nie meer nodig was nie.

      Donderdag 13 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 30:11-21

      Almal gelyk

      Die ryke moet nie meer en die arme nie minder as die offergawe van ses gram silwer vir My bring as versoeningsoffer vir sy lewe nie. – Eks 30:15

      GESELSVRAAG:

      Hoe verskil ons optrede teenoor rykes en armes?

      “Toe ek nog klein was, het dit ’n slag sleg met ons geldsake gegaan, en die ACVV-tannies het vir ons kos voorsien. Hulle het dit só gedoen dat ons daardeur verneder is,” verduidelik ’n medestudent waarom hy niks met liefdadigheid te doen wil hê nie. Ons besef nie altyd hoe ons onnadenkend mense seermaak terwyl ons hulle help nie. Dit is so menslik om ryk mense en arm mense verskillend te behandel.

      Die versoeningsoffer waarvan ons gelees het, was bedoel om die lopende uitgawes van die Tent van Ontmoeting te dek. Die diens was vir almal bedoel, en daarom moes almal gelyk bydra. Die rykes kon nie aanspraak maak op beter diens of ander voorregte nie. Voor die Here is alle mense gelyk. Dit moes baie duidelik wees by die plek van aanbidding.

      Hierdie beginsel het ons land al lankal vergeet, veral in die tyd toe apartheid nog die reël was. So baie swart en bruin mense is erg verneder en seergemaak deur die optrede van mense tydens eredienste en begrafnisse. Mag die Here ons daarvoor vergewe! Dalk is dit ook nodig om ver­skoning te vra by die mense wat deur ons liefdeloosheid seergemaak is.

      GEBED:

      Vergewe ons ons liefdeloosheid, God van liefde.

      Lees vanaand in Eksodus 30:22-38 hoe die wierook en mirre spesiaal vir die Here se diens afgesonder moes word.

      Vrydag 14 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 31:1-18

      Vaardigheid

      […] Aan elke vakman het Ek vaardigheid gegee sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het […] – Eks 31:6

      GESELSVRAAG:

      In watter soort werk is vaardigheid nodig?

      “Wat maak julle hier?” vra ’n besoeker aan ’n groep mans wat klippe kap. “Ons kap elke dag net klippe,” sê die eerste een. “Ons swoeg hier in die hitte om vir ons gesinne te sorg,” antwoord die tweede. “Ons bou ’n katedraal vir die Here,” kondig die derde trots aan. Jy kan raai hoe die gehalte van werk waarskynlik verskil het. Vir die Here is net die beste goed genoeg.

      Die Here het Besaleël en Oholiab lank reeds vir hierdie groot werk voorberei. Hulle het jare lank as vakleerlinge gewerk en moes by die eenvoudigste en nederigste werk begin. Maar nou was hulle meesters in hul vak. Hulle het presies geweet hoe om die ingewikkelde boumateriaal vir die tabernakel voor te berei sodat elke stukkie presies op sy plek kon pas. Hulle was kunstenaars uit eie reg, wat weefwerk en kunsnaaldwerk van die hoogste gehalte kon lewer. Hulle kon met kosbare metale toor om die pragtigste voorwerpe te skep. Hulle kon trots wees op hul werk.

      Met elke ding wat ons vandag gaan doen, is vaardigheid nodig. Die manier waarop ons dit doen, en ons gesindheid gaan mense na Christus toe aantrek of afstoot. Onthou, dit is die Here wat jou toerus om jou werk goed en reg te doen. Moenie Hom teleurstel nie. Jou werk is ook jou getuienis.

      GEBED:

      Laat my werk vandag tot u eer wees, Here.

      Lees vanaand in Eksodus 32:1-10 hoe vinnig die volk die Tien Gebooie vergeet het en amper vir dié rede uitgewis is.

      Saterdag